Tag Archives: vrugte

Wingerdkoek vir ‘n geluksgodin (ook bekend as Cleopatra-koek)

1 Jan

Ons het almal ‘n bietjie geluk aan ons kant nodig. Hoekom nie ‘n snytjie koek wat belofte inhou van voorspoed, geluk en oorvloed nie? Hier is ‘n koek wat ek opdra aan Abuntia, die Romeinse godin van oorvloed. Druiwe, wat dikwels in nuwejaarsvierings gebruik word om voorspoed te lok, skitter soos Robyne bo-op.

Dis eintlik bekend as Cleopatra-koek – die rede vir die naam bly ‘n raaisel. Majestieus is dit wel, maar nie juis mooi nie; daarvoor maak die oordadige druiwekroon op. Wat so interessant van die koek is, is dat ‘n suikerkors en die druiwe bo-op die beslag geplaas word eers nadat die koek 20 minute gebak het.

Die resep het oorspronklik as Vineyard-cake verskyn in die nou-gesneuwelde Gourmet-tydskrif, en is na Cleopatra-koek herdoop in Yotam Ottolenghi en Helen Goh se bakboek Sweet.

Nota: die koek word in ‘n tuitpan gebak (waarin suikerbrood of chiffonkoek gebak word).

Die oorspronklike resep vra vir gefortifiseerde Franse soetwyn Carte Or Muscat de Beaumes de Venise – ek het ‘n bottel plaaslike wit muskadel gebruik.

 

Wingerdkoek

Maak 12 snye                                                          

500 g koekmeel, plus ekstra vir oorsif

10 ml bakpoeier

2,5 ml koeksoda

4 ml sout

340 g strooisuiker

175 g sagte botter, plus ekstra vir smeer

75 ml fyn olyfolie

Fyngerasperde skil van 2 suurlemoene (10 ml)

Fyngerasperde skil van 1 lemoen (10 ml)

Uitgekrapte sade van ½ vanieljepeul

4 eiers

450 ml gefortifiseerde soetwyn soos wit muskadel of edel laatoes

100 g pitlose swart of rooi druiwe, gewas en in lengte deurgesny

Bolaag

70 sagte botter

70 g strooisuiker

100 g pitlose swartdruiwe, gewas en in lengte deurgesny

Maak so:

  1. Voorverhit oond tot 210°C. Smeer ‘n 25 cm (10 cm diep) chiffonkoekpan (tuitpan), bestrooi liggies met meel, skud oortollige meel af.
  2. Sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam in ‘n bak. Hou eenkant.
  3. Plaas suiker in die bak van ‘n staanmenger met die spaanhegsel aan. Voeg die botter, olyfolie, suurlemoenskil, lemoenskil en vanielje by en meng vir 2 minute op medium-hoë spoed tot glad en donsig.
  4. Voeg eiers beurtelings by, klits goed na elke byvoeging, verminder die spoed tot laag en voeg 1/3 van die meelmengsel en ½ van die wyn by; herhaal met nog ‘n 1/3 van die meel en die res van die wyn, en eindig met die laaste 1/3 van die meel terwyl jy dit steeds op lae spoed meng. Wanneer gemeng, giet in die koekpan en versprei 100 g druiwehelftes mooi eweredig bo-oor. Bak vir 20 minute.
  5. Terwyl die koek bak maak die bolaag: voeg die botter en suiker in ‘n bakkie en klop met ‘n houtlepel tot dit ‘n dik pasta vorm. Na die koek vir die 20 minute gebak haal die koek vinnig maar versigtig uit en skep klonte van die suikerpasta bo-op. Strooi 100 g druiwehelftes bo-op en plaas terug in die oond. Draai onmiddellik die temperatuur af na 180°C en bak 35-40 minute of tot ‘n toetsnaald skoon uitkom. Haal uit die oond, laat 30 minute afkoel voor dit uitgekeer word. Die koek kan dadelik geëet word of in ‘n lugdigte houer gelaat word.

Foto’s en stilering Errieda en Ian du Toit

Pavlova Kerskrans

19 Dec

Hierdie nagereg gaan die ‘oo’s en die ah’s uitlok by enige geleentheid, maar veral as pronkstuk op die poedingtafel In Feestyd. Ek het dit verlede jaar gemaak vir ‘n vroeë familie-Kersete. (My bydrae op Kersdag self was ‘n perske-trifle-pavlova wat soveel meer werk was as hierdie eenvoudige pavlova-krans.) Ek het dit afgerond met roosknoppies tot Ma Inez se groot genot. Rose was haar ding! As jy die Kersversiering ‘n stappe verder wil neem, strooi eetbare silwer balletjies op.

 

Party mense is banger vir meringue-maak as vir Brolloks en Bittergal. Dis totaal onnodig, want makliker kan dit nie. Volg die resep noukeurig en wees maar net versigtig om nie enige eiergeel In die eierwit te kry nie (enige vetterigheid veroorsaak dat die eierwit nie styf gaan klits met goeie volume nie). Die suiker moet ook behoorlik opgelos world, maar volg net die instruksies en jy’s veilig.

As jy naby die see is, of daar’s baie vog in die lug kan meringue bietjie nukkerig wees.

PavlovaKerskrans

Witte van 6 groot eiers, kamertemperatuur

7,5 ml wit asyn

330 g (375 ml) strooisuiker

10 ml mielieblom

Versiering: vrugte na keuse, soos vars ontpitte kersies, frambose of aarbeie.

250 ml room, styfgeklits 

Eetbare silwerballetjies of eetbare glansstof

Voorverhit oond na 150°C. Trek ‘n 22cm sirkel op bakpapier en plaas dit op ‘n bakplaat met die potloodkant na onder. 

Plaas die eierwitte in die mengbak van jou staanmenger en klits teen vinnige spoed tot stywe punte vorm. Voeg nou die strooisuiker lepel vir lepel met 30 sekonde tussenposes by terwyl jy aanhou klits tot blink en styf. Skraap die kante en klits tot styf en blink, sowat 6 minute. Voeg die asyn en mielieblom by en klits nog 2 minute. 

Skep die meringue in 12 hopies aan die binnekant van die bakpapiersirkel om die krans te vorm. Verminder die oondhitte tot 120°C en bak sowat 1 uur tot bros buite. Draai die oond af en laat die pavlova afkoel in die oond met die oonddeur toe. 

Plaas die pavlova-krans op die dienbord, skep styfgeklopte room op, versier met vrugte en rond af met silwerballetjies indien gebruik.

Pavlova – die prima-donna van somerpoedings

18 Oct

Pavlova, oordadig gevul met vars vrugte en bollings geklopte room is ‘n poeding-ikoon. Dis ook ‘n deel van my kombuis-rituele. Sodra aarbeie in oorvloed is,  maak ek Pavlova om die seisoen van somerpoedings in te lei.

IMG_0594

Geoordeel aan die ywerige saampraat op Facebook deel my kosvriende my soet sentiment (met ‘n tikkie surigheid meestal). Ek en smulpaap Pieter du Toit sit beslis aan dieselfde poedingtafel. So beskryf hy sy pavlova-liefde:

My nagereg-ultimatum: pienk, geel, rooswater, sjokolade, neute, cheap, duur, windgat of eenvoudig! Anders as my melktert voorkeure sal ek ENIGE pavlova eet. ENIGE! En enige tyd van die jaar: winter somer, lente, herfs en sommer tussen die seisoene ook.”

Vir mense wat so aardsnuuskierig oor die stamboom en oorsprong van geliefde geregte is as ek stel Pavlova nie teleur nie. Hierdie somerpoeding is gegeur met intrige, mite, twyfelagtige herkoms en vele kostuum-veranderings.

‘The truth is far more interesting than the vagueries of a myth. The pavlova is an artifact of history and a phenomena. It is linked through name to the Russian ballerina, Anna Pavlova, but it existed in form well before she was born – in fact, the cake we call pavlova today, was already a high-occasion extravaganza during the late 18th and early 19th centuries’. (Annabel Utrecht, pavlova-deskundige)

Die elegante nagereg met sy meringuebasis, gevul met vrugte en room is vernoem na die beroemde Russiese ballerina Anna Pavlova. Sy was ‘n superster en die eerste prima ballerina wat op ‘n wêreldtoer gegaan het. Swan Lake, ‘n intense ballet oor die broosheid en vlietendheid van die lewe sal vir altyd met haar verbind word.

Dis maar net nog altyd aanvaar dat die Pavlova wat aan die ballerina opgedra is in die Suidelike Halfrond ontstaan het. Die Kiwis en die Aussies kibbel al jare onder mekaar oor wie die soet ikoon geskep het. Nou onthul twee kosspeurders na jare se in-diepte navorsing hul verrassende bevindings dat nie een van hierdie lande op vaderskap kan aanspraak maak nie, en dat die gereg al bestaan het lank voor die Russiese ballerina gebore is.

Dr Andrew Paul Wood, ‘n akademikus van Nieu-Zeeland en Annabelle Utrech, vervaardiger van dokumentêre films het vasgestel dat die Pavlova in Duitsland begin het as ‘n skuimtert (schaumtorte). Vandaar het dit saam met immigrante die kontinente oorgesteek tot in die VSA. Die Amerikaners het begin om mielieblom by te voeg, ‘n kenmerk van die hedendaagse pavlova, en dit sy moderne vorm gegee.

‘Die vrugtegevulde meringue nagereg soos ons dit vandag ken, is maar een van die sowat 50 ode-geregte wat aan haar opgedra is,’ vertel Annabel my. ‘Dit sluit die 1926-Australiese Pavlova in van 4 lae jellie, ‘n resep wat ook in 1927 in Suid-Afrika aangeteken is.’

Die vroegste ode-nagereg wat hulle kon opspoor is die Aarbei-pavlova uit 1911, ‘n elegante ysgereg (glacé), gemaak met rooi bessies. ‘Al het nie een van hierdie nageregte ‘n meringue of roomkomponent nie, is dit geldig om die naam te dra.’

Wat ‘n aangename ontmoeting. Die vrugte-glacé is ‘n ode-juweel in die kroon van geregte wat die ballerina se naam dra. Na 108 jaar is dit nog net so sjarmant en verfrissend.

Annabelle beklemtoon dat hulle navorsing-resultate nie hul landgenote se kospatriotisme vir die ode-poeding met die meringue-basis, vrugte en room demp nie.  ‘Al is ons nie die skeppers nie, is ons die bewaarders. Pavlova is deel van ons kospsige, ons het dit omhels en ons eie gemaak.’

Waaroor hulle seker steeds sal stry is wie se pavlova die lekkerste is: met grenadilla en geklitste room soos die Australiërs of met kiwivrug soos die Nieu-Zeelanders.

IMG_0529

KLASSIEKE PAVLOVA MET AARBEIE (EN SWARTPEPER AS JY WIL)

Maklik. Die klassieke pavlova se meringue-dop word gekenmerk deur hoë, geplooide kante wat herinner aan die van ‘n tutu.

Bedien 6

  • 5 groot eierwitte, kamertemperatuur
  • 250 g strooisuiker
  • Knippie sout
  • 7,5 ml witwynasyn
  • Versiering: geklitse room, aarbeie of vrugte na keuse. gekraakte peperkorrels opsioneel.
  1. Voorverhit oond tot 120°C. Trek ‘n 20 cm sirkel op bakpapier en plaas op ‘n bakplaat.
  2. Voeg die eierwit in ‘n skoon mengbak en klits vir 15 sekondes met ‘n elektriese klitser of staanmenger se ballonklitser, op die laagste spoed. Gooi sout by en verhoog die spoed geleidelik tot hoog terwyl jy die suiker stadig byvoeg.
  3. Hou aan klits tot die meringue glansend is en ‘n stywe punt met groot selfvertroue aan die onderpunt van jou klitser vorm. As jy die mengsel tussen jou vingerpunte vryf moet jy nie suiker kan voel nie. Vou die asyn versigtig met ‘n metaallepel in om die volume te behou.
  4. Skep bollings meringue binne die sirkel op die bakpapier, smeer in opwaartste bewegings om ‘n  koepel te vorm.
  5. Bak vir 1 uur en 15 minute, skakel af en laat afkoel in die oond.

Versiering (net voor opdiening)

  1. Plaas die onversierde pavlova versigtig op die opdienbord.
  2. Klits 250 ml koue room tot dit sagte punte vorm, versoet na smaak.
  3. Skep bollings room bo-op en hou die kante skoon. Versier met vrugte soos vars aarbeie.

WENK: om die bessies te verglans, smelt aarbeikonfyt tot loperig en smeer aan met ‘n kwas.

Edit Resize - 0411

IMG_05271911 AARBEI PAVLOVA GLACÉ (YSGEREG)

Bedien die ysvormpies met vars bessies soos op die foto, of maak granita daarvan en bedien bo-op vrugte-gevulde meringue-nessies. Ek dra my weergawe op aan Annabelle Utrecht en Dr Wood wat deur hul navorsing hierdie ysjuweel aan die wêreld teruggegee het.

  • 1 liter vars bessies
  • 250 ml suiker
  • 250 ml framboossap (ek het vars beet en appel versap)
  • Ekstra bessies vir bediening.
  1. Maak die suikerstroop: Voeg suiker in ‘n pan met 500 ml kookwater, roer tot opgelos en kook vir 5 minute. Laat afkoel.
  2. Verpulp die bessies. Voeg die suikerstroop en framboossap by en vryf die mengsel deur ‘n sif. Skep in ‘n bak en vries tot hard. Skraap los met ‘n roomyslepel en pak dit in ‘n vorm of individuele vormpies. Net voor opdiening, keer uit en versier met vars bessies.IMG_0561

PAVLOVA-KENNER VERTEL MEER

Ek korrespondeer die afgelope twee jaar met Annabelle Utrecht, die Australiese pavlova-ekspert, oor haar en Dr Wood se navorsing. Haar terugvoering op my vrae is baie insiggewend.

What first triggered your quest to research the origins of Pavlova?

  • I’d love to say that my interest in history, geopolitics and world-cuisine drew me into researching the origins of the pavlova – but it would be untrue. The truth is, it was a chance conversation on Facebook with Dr Andrew Paul Wood, a New Zealand academic, author, art historian and cultural critic which started it all. I use the word ‘conversation’ advisedly, because it was more of a disagreement. I was born in Australia and grew up understanding the pavlova to be an Australian creation. Andrew on the other hand, being a New Zealander, declared it most certainly wasn’t. He understood the pavlova to be New Zealand’s achievement and pointed to the publication of a 1929 “Pavlova Cake” recipe as proof of New Zealand’s ownership. Our dispute over the pavlova’s origins came from deeply held patriotic narratives. Resolved to prove each other wrong, our Facebook disagreement was concluded. A few days later however, we connected again – but not to argue. We’d both stumbled upon evidence which contradicted any southern hemisphere creation claim. What we’d discovered, had never been documented and it changed everything in terms of the pavlovas beginnings.

Why is it important to separate fact from myth. Some would say, ah, it’s just a pudding.

  • AU: The short answer to this question is because the truth is far more interesting than the vagueries of a myth. The pavlova is an artifact of history and a phenomena. It is linked through name to the Russian ballerina, Anna Pavlova, but it existed in form well before she was born – in fact, the cake we call pavlova today, was already a high-occasion extravaganza during the late 18th and early 19th centuries.
  • Casting the pavlova as an antipodean “invention” is an injustice to its true creators and recipe protectors – the master chefs, cooks and women who penned recipes long ago. The question is no longer who invented the pavlova, it is who rebranded a cake already in existence as a tribute to the ballerina, Anna Pavlova – and after years of researching and collecting evidence, Dr Wood and I might just have the answer.

What are the main criteria for a dessert to be called a Pavlova? When does it stop to be a pavlova, but rather just a meringue-based dessert.

  • AU: This is a great question. First of all, the Oxford English Dictionary define a pavlova as “A dessert consisting of a meringue base or shell filled with whipped cream and fruit.” Architecturally, any dish that presents in this format could be labelled a pavlova – although this is quite problematic given cakes identical to pavlova existed under alternate names a century or more before the term pavlova was applied.
  • Another issue with using the Oxford English Dictionary’s definition to benchmark what is, or isn’t a pavlova, is the presence of so many pavlova-named culinary homages. From 1911 to 1929 there were at least two dozen ‘pavlova’ food tributes – including the 1926 Australian “Pavlova” (a four layer ribbon jelly) which was also present in South Africa by 1927. Another example is the 1911 “Strawberries Pavlova” dessert (a red berry glacé). Neither of these have a meringue or cream component, but they are legitimate pavlovas.

Is there a ‘classic pavlova’?

  • With regard to the classic pavlova, invested Australians would argue it should be topped with whipped cream and passion-fruit. Patriotic New Zealanders would probably suggest whipped cream and kiwifruit. Historically however, the first known recipe for “Pavlova Cake” (published in New Zealand in 1929) reveals it was topped with whipped cream, chopped nuts and cherries!

Nieu Zealand and Australia have fully embraced Pavlova as part of the countries’ culinary heritage: Do they accept the findings or continue the myths?

  • : Our biggest discoveries will be the subject of a comprehensive book about the pavlova and all the other Pavlova-named homage dishes. What we have chosen to disclose so far though, has changed the nature of the pavlova-debate. Most food writers and culinary historians are receptive to an expanded pavlova story which takes into account the cakes presence in the northern hemisphere – long before it arrived in Australia or New Zealand. Our greatest hurdle however, has been the old myths themselves, which continue to flourish – some without evidence. Challenging long held beliefs is not easy, but when skeptics are given the opportunity to see old cookbook recipes, something shifts. The old “we invented it” arguments no longer feel relevant and a deeper analysis of the cakes history is possible.

You must have tasted so many different variations on Pavlova – do you have a favourite?

  • I’ve baked so many variations on the pavlova and I absolutely delight in finding long-forgotten recipes, attempting them and sharing the results with family and friends. I don’t have a favourite meringue pavlova recipe yet (they’ve all tasted pretty good). My least favourite pavlova is the 1935 Western Australian Pavlova Cake recipe by Bert Sachse (so low in sugar, bordering on unpleasant). Having said that, I absolutely adore the 1911 “Strawberries Pavlova” glacé – it is light and refreshing and perfect for summer.  

What will you be making next?

  • AU: This week I’m looking forward to baking an early 19th century meringue torte which was topped with lemon ice-cream and plum preserve – something very different.

Any new projects in mind?

  • AU: Dr Wood and I have one goal and that is to complete our manuscript. When we started this venture neither of us understood the project’s scope would be so broad. We had no idea there were so many undocumented northern hemisphere pavlova recipes, or historic meringue presentations. To obtain an accurate picture, we have had to access undigitised materials held in libraries all over the world, and translate works written in Latin, Arabic, French, Portuguese, German, Spanish and Dutch – it’s been a huge undertaking, but an endeavour we can’t wait to publish!

Volg die Pavlova-navorsers op Twitter @docandthefrock

IMG_0368PAVLOVA-GESELSIES OP FACEBOOK:

  • Mynhardt Joubert: Meringue en roosgegeurde room met nastergalkonfyt en baie bessies. Kersieseisoen ook amper aan die gang. Du Toit’s lewer selfs af.
  • Estelle Rauch: Lemon meringue-vulsel met somervrugte
  • Ilza Roggeband: Nigella se lemon meringue pavlova. Maar ‘n gewone meringue met baie aarbeie en room is ook nie te versmaai nie. Het een gemaak met bruinsuiker en toe appelliefies en pekanneute gebruik. En room.
  • Anel Franken Filby: Room, bessies, aarbeie en granadillapulp
  • Karen Ellis: Swartwoud-pavlova
  • Snowy J. Kruger: Chai inspiration: Ginger preserve with cardamom infused cream, crushed ginger biscuits and a dash of cinnamon.
  • Carolie de Koster: Tiramisu pavlova.
  • Riana Maritz: Ingelegde perske met vars room vulsel en vars grenadella
  • Moryn Hanzen: Gemmer/Vy/Bloukaas
  • Kari Vorster: Mixed berry Coulis and cream cheese filling, tangy fresh berries
  • Gezina En Hennie Gouws: Ek het die mees ongelooflikste Pavlova’s ge-eet in New Zealand. Hulle bring stapel in die winkels in begin Desember. Almal eet pavlovas, dit in ‘n sagte spons dwarsdeur, en ‘n koekpan groot.
  • Veralda Schmidt: gekapte grondboontjies in die paplova, vulsel van piesangroom met spekkrummels en esdoringstroop
  • Billie Lambrechts: 1. Vars perskes en framboo curd 2. Jamie se gestoofde pere met donkersjokoladee en amandels 3. Vervang room met klapperroom, granadilla curd en baie mango.
  • Jaco Wheeler: My winter weergawe is donkersjokolade pavlova, ek meng kakao met eierwit en suikermengel, paar druppels haselneutlikeur, stukkies donker chocolate word ingevou.
  • Valerie Slabbert: Ek bly ‘n sucker vir die suur-soet kombinasie. Lemmetjie of suurlemoensmeer.
  • Lynette Van Rooyen: Met lemon curd beplak, dan geklopte room met geroosterde amandels bo-oor.
  • L’lize JvRensburg: Ek was skoon liries geinspireer na al die liplekker kommentaar. Moes net gaan bak!
  • Anita Lemmer: Die Foodfox se bruinsuiker- en espresso-pavlova met vye en neuter
  • Lizette Louw: Britse Eaton mess pavlova.
  • Nicolene Burger: klits room styf en met dieselfde hoeveelheid Griekse jogurt by, mengsel vars bessies, Bar One-sous oor bedruip. Vir Kersfees, maltballe met goue stof gesprinkel.
  • Christian Smit: Dark chocolate ganache and black cherries. Almond crème anglaise with raspberries.
  • Carin Maidment: Pistachio en roosblaar meringue, kardamonroom met Griekse jogurt, vars granaat en druipsel granaatmolasse.
  • Judi Dyer: Fresh guava and banana.
  • Nissa Vosloo: frambose, mandarynsegmente, grenadellasous (nie vars nie – te suur, maar iets soos baie vloeibare grenadellabotter. Enigiets met kiwivrugte, vars vye, granaatpitte en geroosterde pekanneute.
  • Sonia Cabano: Toe ek ‘n kind was mag ons op ons verjaarsdag elke en enige kos gekry het wat ons harte begeer. My versoeknagereg vir aandete was haar Meringue Surprise. Anders ook met Lemon curd, vars frambose en room met geroosterde amandelvlokkies bo-op.
  • Sabine Human: Eenvoud – net met room en bessies.
  • Andries Kemp: My gunsteling is vars vye, geglasuurde groenvye en ryp vye konfyt, op styf geklopte room. Ek klop my room styf met ‘n bietjie ROLKEM dyocell, dit behou die vorm, en behou die vog sodat die meringue nie smelt nie. Bedrup met ‘n nougatsous.
  • Carina du Preez: Styfgeklopte room, vars bessies, aarbeie, kiwivrug baie dun gesny.

IMG_0433

Stilering en fotografie: Errieda en Ian du Toit

 

Kwepers vir die groot onthou

25 Jun

‘They dined on mince, and slices of quince Which they ate with a runcible spoon; And hand in hand, on the edge of the sand, They danced by the light of the moon.’

{Edward Lear, The Owl and the Pussycat}

Kwepers kom na na 6 ure stiltetyd in die oond te ruste in die mooi glasbak wat Daleen een jaar vir my verjaarsdag gegee het. (Foto: Roxy Laker)

Kwepers kom na na 6 ure stiltetyd in die oond te ruste in die mooi glasbak wat Daleen een jaar vir my verjaarsdag gegee het.

Kwepers het ‘n romantiese sy, sy bulterige baadjie ten spyt.  In Antieke tye sou ‘n Griekse bruid eers aan ‘n kweper knibbel voor sy die bruidskamer betree het, reg vir ‘n soet-gegeurde soen. Dis die goue appel, ‘n geskenk van een mitiese god aan ‘n ander. Ons liefdesverhouding met hierdie kiewe-saamtrek vrug deur die eeue glo ek is deels verwondering dat iets so onaansienlik-knoetserig, frank en hardekwas omgetoor kan word in iets so adellik en edelsteen-mooi soos ‘n bloeiselpienk of robynrooi gebakte kweper – afhangende hoeveel stiltyd dit in die oond gegun word.

Gee kweper aandag en jy word beloon met die smaak van liefde en ‘n parfuumgeur wat jou lighoofdig laat. Om ‘n kweper van lelike-eendjie tot swaan te verander maak van die kok ‘n alchemis, ‘n towenaar in die kombuis.

Ek is gelukkig om kwepers met my kinderdae te kan verbind. Darem nie die kweperlat wat menige stout knape se bas laat brand het nie. Kweperlanings, eens ‘n bekende gesig aan die ou Kaap is egter presies dit – iets van die verlede, maar hier en daar word kweperlanings nog wel aangetref, soos op die plaas Diemersdal, nie te ver van waar ek woon nie. Kwepertyd is dit gewoonlik waar ek gaan bedel.

Hierdie jaar het ek my kwepers van die platteland af aangery, uit Robertson se kontrei. Die kattebak was volgepak, want ek het altyd baie planne vir kwepers. Verkwik deur die ryk geel skil en knoetserige wange skep ek stillewes en pak ek my koperbakke vol daarmee. Turkoois-blou bakke ook, want min dinge skep so ‘n mooi prentjie saam.

Sondagskenkel en kwepers, met ekstra kwepers in botter tot neutbruin gebraai, /die turkooisbak is deur die keramiekkunstenaar Diana Ferreira.

Sondagskenkel en kwepers, met ekstra kwepers in botter tot neutbruin gebraai, /die turkooisbak is deur die keramiekkunstenaar Diana Ferreira.

So verknog raak ek aan die spatsels geel in my sit- en eetkamer dat ek aanvanklik ‘n tikkie skeidingsangs ervaar om die kwepers kombuis toe te vat. Teen die tyd dat ek uiteindelik ingee, is daar een of twee wat my uitstel nie oorleef nie, dan moet ek kneusplekke en swart kolle met ‘n messie uitsny. Min het ek voorsien dat my vrag kwepers vanjaar salf sou word vir die pyn en skok van ‘n geliefde ouboet se skielike sterwe. Dis na kwepers wat ek uitgereik het in die oomblik van ongeloof, en die vaal donsies afgevryf het om net iets anders met my hande te doen as trane afvee.

Dis die ding van kwepers: dis ‘n vrug met karakter en inbors. Dit dra nie sy deugde op die bors soos ‘n ryp vy of sappige geelperske nie. Arbeid adel. Selfs om ‘n kweper in stukke te sny, of die klokhuis uit te haal vat werk en mesvaardigheid. Kweper kan rou geniet word, ja, soos toe ons as kinders sout oorgestrooi het en so verbaas was dat dit die suur laat verdwyn. Nou nog is rou kweper – grootmens-gemaak met ‘n paar byvoegings ‘n onthou-smaak.

Daarom moes ek net  tydens die eerste reeks van Kokkedoor (waarby ek agter die skerms betrokke is) Tannie Poppie se kwepersambal-resep by haar afbedel: 2 groot of 3 kleiner kwepers,  1 ui, knippie sout, 125ml asyn, 1 rooi rissie. Skil die kweper af rasper dit fyn, meng met fyngekapte uie en rissie, strooi sout en peper oor, roer die asyn in, gooi in bottel, sit in yskas tot gebruik.

Die filosoof Martin Versfeld wy in ‘Food for Thought’ ‘n hoofstuk aan kwepers – en het ook ‘n goeie slag met sambal: Rasper ryp kwepers, sout dit liggies en laat staan ‘n uur vir die vloeistof om uit te drup. Meng dan met ‘n bietjie bruinsuiker, olie, groen brandrissie, peper en asyn – of, beveel hy aan selfs ‘n bietjie tamarynsap en kruisement.

Dis seker met Versfeld se beskrywing van ‘a dish of ripe, yellow quinces on the table, amongst which you have propped a few scarlet hibiscus blooms’, dat ek ‘n donkerpers fluweellap uit my stinkhout-linnekas gaan opdiep het en die geel vrugte in glasbakke opgestapel het om lig na die lanferkleed oor my hart te bring.

Op my spensrak is nog ‘n fles of twee van laasjaar se spesery-kwepers (ek gee onder weer die resep), en ook ‘n flessie of twee kweperjellie (die is as geskenke gekry – ek het nie die hand om kweperjellie so helder of geset genoeg te kry nie). My kweper-odyssey neem my na soet plekke, na soet-suur, soet-sout-suur-plekke en die suur-suur van piekelkwepers. Ek soek na nuwe smake, met ‘n skeut van die bekende.  Nie kweperbredie nie (Peter Veldsman en Johan Odendaal maak die beste, ek gaan eet dit by Emily’s); ook nie my ma se  ingelegde kwepers uit ‘n glasfles en dun vla nie, dit laat my te veel verlang na die oudae toe ons almal nog kind was. Eers die vleise:

Kwepers as bykos kan 'n slag lekker bruin gebraai word in botter. Lekkerder as tjips. Goeie maats met patats.

Kwepers as bykos kan ‘n slag lekker bruin gebraai word in botter. Lekkerder as tjips. Goeie maats met patats.

Sondag-lamskenkel met kwepers op twee maniere In hierdie gereg word kwepers behoorlik gevier. Nie net word kwepers saam met die skenkels tot murgsag geprut nie; daar word ook botter-gesoteerde kweperskywe saam met dit bedien. Ek het ook patats in die oond gesit, maar dis heeltemal jou keuse. 4-6 ruim porsies Vir kweper-skenkels

  • 30 ml olyfolie (ek gebruik hiervoor Olive Pride se gemengde olyf- en saadolie)
  • 2 groot uie, in agstes gesny
  • 3 groot kwepers, geskil en in kwarte of agstes gesny
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap of gemaal
  • 3 lourierblare
  • 250 ml lam, groente of hoenderaftreksel
  • 30 ml fyn appelkooskonfyt
  • 10-15 ml paprika (gebruik 15 ml as jy baie goeie paprika het, anders minder)
  • 15 ml rooiwynasyn
  • 15 ml fyn koljander
  • 15 ml fyn komyn
  • Sout en peper

    Kwepers word halfpad deur die gaarmaak by die skenkels gesit.

    Kwepers word halfpad deur die gaarmaak by die skenkels gesit.

Metode:

  • Verhit oond na 150C.
  • Geur die skenkels met sout en peper. Verhit die olie in ‘n oondvaste dikboomkasserol-bak (bak met ‘n deksel) en verbruin die skenkels aan alle kante. Werk in twee sarsies om te verseker dat dit mooi verbruin en nie begin stoom nie. (Pak dit in twee lae opmekaar indien nodig).
  • Meng die volgende saam in ‘n bakkie: aftreksel, asyn, konfyt, paprika, koljander, komyn en knoffel; giet dit oor die skenkels. Pak die uie en lourierblare om die skenkels, sit die deksel op en bak in die oond vir 90 minute. Pak nou die kweperskywe rondom die skenkels, bedek weer en bak ‘n verdere 90 minute.
  •  *Indien verkies, kan jy 2-3 groot patats ook in die oond bak (net geprik) om later saam met die ander kwepers in die pan te braai.

Neutbruin-gebraaide kweperskywe Die kwepers word eers sag geprut en dan liggies in botter gebraai. Dis iets nuuts vir my wat ek beslis weer sal maak. Die idee kom van Diana Hendry, ‘n Ierse kosskrywer wat ek baie bewonder. Sy pak  egter haar gebraaide kwepers terug in die pot met vleis, terwyl ek Dit apart bedien.  As jy wil kan jy gaar skywe patat ook in die botter bruin braai en saam met die kwepers bedien. Dit kan ook met ander vleise voorgesit word.

  •  1 groot kweper of 2 medium kwepers
  • 2-4 stroke suurlemoenskil
  • Sap van 1 suurlemoen
  • 2 eetlepels heuning
  • 25 ml botter

Metode:

  • Skil die kwepers, sny in kwarte en verwyder klokhuis. Plaas in kleinerige kastrol met net genoeg water om dit te bedek. Voeg die lemoensap- en skil en die heuning by. Bring tot kookpunt en verminder dan die hitte. Prut tot sag. Haal uit die vloeistof.
  •  Net voor opdiening, sny die kweperkwarte in dunner skywe. Verhit die botter tot sissend en soteer die kweperskywe tot goudbruin. Bedien saam met die skenkel-en kwepergereg.

 *Indien verkies kan jy saggekookte kwepers en gaar patat saam fynmaak soos kapokaartappels.

Weeksaand kweper en amandel hoender

Weeksaand kweper en amandel hoender

Weeksaand kweperhoender met amandels en komyn Betekenisvolle toeval. Gourmet Traveller het hierdie maand ‘n hele artikel ‘Quince Essential’ tot oorlopens toe vol met kweper-idees. Hierdie resep is ‘n wonderlike manier om nuwe fut te gee aan die middel-van-die-week se hoendergereg. Die heel amandels se krakerige neuterighed pas perfek by die sagte kwepers. Die kwepers word vinnig gestoom, wat dit ‘n ligter smaak gee as die lang-bak tegnieke.

  •  1 groot kweper of 2 kleineres
  • 1 suurlemoen, gehalveer (rasper eers die skil af en behou)
  • 50 g botter, met 15 ml olie Plus 50g botter
  • 1 hoender, in stukke opgesny of ‘n pak dye en boudjies
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 60 g amandels (met skil aan, nie vooraf gerooster en gesout nie)
  • 1 kaneelstokkie
  • 15 ml heuning
  • 5 ml elk fyn komyn en gemmer
  • Peper
  • 7,5 ml borrie
  • 125 ml water

Opdiening: rys of couscous Metode:

  • Skil die kwepers en sny in kwarte. Smeer oral oor met die suurlemoenhelftes om te voorkom dat dit verkleur.
  • Stoom die kwepers oor ‘n kastrol lig-kokende water tot vurk-sag (sowat 25 minute). Laat afkoel en sny in dunner skywe.
  • Verhit die olie en botter in ‘n kasserolbak en braai die hoenderstukke bruin (sowat 5-7 minute). Haal hoenderstukke uit.
  • Braai die uie goudbruin in dieselfde pot vir sowat 5 minute – roer nou en dan. Voeg die amandels, kaneelstokkie en borrie by en braai liggies vir sowat 4 minute tot die amandels gerooster is. Skep uit en hou eenkant.
  • Verhit die orige botter in die kastrol, voeg die heuning by en roer tot die heuning begin karamelliseer, voeg die gestoomde kwepers en borrie by en braai 3-4 minute tot goudbruin. Skep uit.
  • Skep nou die hoender en uie terug in die kastrol, voeg water en suurlemoenskil by en kook tot die hoender sag is vir sowat 40 minute. Plaas die kwepers terug in die pan en kook vir nog 20 minute. Geur met sout en peper, asook suurlemoensap.

Bedien met rys of koeskoes.

Stadig gekook met diep geure en donker kleur. Bedien met crème fraiche, Griekse jogurt of looproom, of of of.... (foto Roxy Laker)

Stadig gekook met diep geure en donker kleur. Bedien met crème fraiche, Griekse jogurt of looproom, of of of….

Stadig-gebakte – regtig stadig gebakte – robynrooi kwepers in vanielje-wynstroop Dit is ‘n naweek-projek, want jy het enigiets tussen 6 tot 9 ure (en selfs oornag as jy wil diep-dieper-diepste rooi gaan) nodig vir die kwepers om  donkerrooi te kleur in die oond en vir die geur om te verdiep. As jy jou kwepers egter net roospienk wil hê of net 2 ure het om hierdie paradyslike nagereg te maak, verskaf ek daarvoor ook ‘n resep. Bedien 6

  •  800 g strooisuiker
  • 1 liter water of wyn van jou keuse. Ek het rosé gebruik.
  • 1 vanieljepeul, oopgesny
  • Dun afgesnyde skil van halwe  suurlemoen
  • 1 pypkaneel
  • 2 steranys
  • 3 groot kwepers

Metode:

  • Voorverhit die oond tot 130C. Plaas die suiker en 1 liter water in ‘n wye oondvaste skottel en verhit tot kookpunt. Voeg die vanieljepeul, suurlemoenskil en kaneelstokkie by.
  •  Intussen, skil die kwepers (behou die skil), sny in kwarte en verwyder die klokhuis (alhoewel ek hou die pitte in). Plaas die kwepers in die stroop soos jy aangaan, saam met die skil, om te keer dat dit verkleur. Bedek die pot met ‘n stuk bakpapier of waspapier, verhit tot dit net liggies begin kook. Sit die deksel op en plaas die bak in die oond. Bak tot die verlangde tekstuur en kleur:

5-6 ure vir ‘n medium robynrooi; 7-9 ure vir diep-rooi. As jy dit nog donkerder wil kry, skakel die oond na 9 ure af en laat oornag in die oond afkoel. Kwepers wat so in stroop gekook word hou tot ‘n maand in die yskas – as jy dit nie dan alreeds verslind het nie. Ek sal dit bedien met zabaglione of creme fraiche. My kosvriende beveel ook aan:

  • Looproom (Rosa de Klerk)
  • Lekker dik vla (Gerdie van Zyl)
  • Woolies se ‘Extremely Creamy Madagascan roomys (Sonja Dreyer)
  • Belgiese sjokolade roomys met ‘n skeut brandewyn (Sonia Cabano)
  • Room waarby ‘n skeutjie brandewyn ingeklits is (Liza Louw)
  • Rooibos vla (Lorraine Swanepoel)
  • Mascarpone (Ellen Marais)
  • Volroom Griekse jogurt (Norman McFarlane)
  • Vanielje malvalekkerroom (Cobus Bekker)
  • Room en neute (Annatjie Reynolds)
  • Heuning (Annalize Visser)
  • aaa slow poached 2de glasbak IMG_6190 Small

Oondgestoofde kwepers met steranys en kardemom Van lelike eendjie tot swaan. Met hierdie metode kry jy ‘n rosige pienk kweper. Die verhouding tussen suiker en water maak ‘n dikker stroop, sodat die kwepers in ‘n korter tyd kan verkleur. Ek bedien dit in roospienk vintage glaskoppies met ‘n Italiaanse zabaglione sous. Speserye word ingespan om ‘n dieper geur aan die kwepers te gee, maar vir ‘n meer delikate geur, halveer die hoeveelheid peule of vervang dit met 1 pypkaneel. Bedien 6-8 Bestanddele

  • 5 groot (7 klein) kwepers, geskil, gehalveer of in skywe, pitte en klokhuis verwyder
  • 1 L water
  • 1 kg suiker
  • 4 steranys peule
  • 4 kardemom peule
  • Sap van een suurlemoen

Metode Voorverhit die oond na 160ºC. Plaas suiker, steranys en water in ‘n kastrol en bring tot kookpunt. Roer suurlemoensap by. Plaas die kwepers in ‘n oondvaste bak, bedek met suikerstroop (hou steranys in) en bedek met foelie. Bak sowat 2 ure tot die kwepers pienk word en sag is. Haal uit die oond en laat die kwepers afkoel in die stroop. Bedien. Die kwepers kan in gesteriliseerde flesse geplaas word; bedek met suikerstroop en seël. Wenk: Die kwepers kan ook op die plaat gekook word, pleks van dit in die oond te bak, prut dit in die suikerstroop vir sowat 45-60 minute tot pienk en sag. Jy kan ook die kweperhelftes stowe en daarna in netjiese skywe sny. Grootjie se piekelkwepers Soms het mens net lus vir ‘n suur-suurtjie kweper. Hierdie piekel is heerlik saam met wildsvleis, koue vleise, kaas en kerries. Ek het die resep by Hetta van Deventer-Terblanche gekry, wat dit weer op haar beurt uit ‘n ou tydskrif-bêreboekie oor oudae se resepte gekry het. Jy het nodig:

  • 6 kwepers
  • Vir die stroop:
  • 250 ml asyn
  • 80 ml suiker
  • 2 stukke pypkaneel
  • 4 naeltjies
  • 2 steranys
  • 1 rooi brandrissie, ontpit en opgesny
  •  Sny die kwepers in kwarte en verwyder die pitte en harde dele. Stoom vir ongeveer 15 minute oor kookwater.
  • Berei die stroop intussen deur die asyn en suiker oor lae hitte te roer tot die suiker opgelos is. Bind die pypkaneel, naeltjies en steranys in ’n moeseliendoekie toe en voeg by die stroop. Verhoog die hitte en laat kook. Voeg die kwepers by en prut vir 20 minute. Voeg die brandrissie by. Skep in gesteriliseerde bottels en verseël dadelik.

Nota: Piekel verwys na groente of vrugte (of ’n mengsel daarvan) wat in ’n speseryerige asynsous ingelê word, teenoor pekel, wat ’n soutoplossing is wat byvoorbeeld vir ham gebruik word.

Opgedra aan my ouboet Theo Espost. 1949-2014

Opgedra aan my ouboet Theo Espost. 1949-2014

Bronne: Gourmet Traveller, Junie 2014 Diana Henry, The Telegraph.co.uk Facebook-gesprekke The Owl and the Pussycat, Edward Lear / Wikipedia.org Swart- en wit kunsfotografie van Madonna – waarop die glasbakkies met donker kwepers met groot versigtigheid neergesit is, is deur Samarie Smith.

  • Errieda du Toit is die inhoudsvervaardiger:kos van Kokkedoor en skrywer-samesteller van die Kokkedoor-kookboeke. Besoek haar blog by huiskok.com, volg haar op Twitter (@huiskok) en luister Woensdae net ná 09:15 na Huiskok en die Kos wat ons Ken op RSG.

Babel se ontbyttert

16 Jan

…Sekerlik die mooiste ontbytgereg wat ek nog ooit gemaak het!

Ontbyt sal nooit weer dieselfde wees nie. Foto: Errieda du Toit

Ontbyt sal nooit weer dieselfde wees nie. Foto: Errieda du Toit

As jy soos ek vanjaar goeie voornemens gehad het om meer vars vrugte en groente te eet EN om ontbyt te eet, dan gaan hierdie resep jou uit jou vel laat spring.  As jy bietjie afgedwaal het, sal die resep vir ‘n vrugte-ontbyttert met ‘n muesli-kors en witsjokolade-jogurt jou weer op koers kry.

En wie sou kon dink dat jy iets soos jong geelwortjies saam met vrugte kan bedien, ‘n idee uit die Babel kookboek van die plaas Babylonstoren.

BABEL SE ONTBYTTERT

Basis:

Meng 250 g granola of muesli of geroosterde hawermout  en 100 ml sagte botter (verkieslik ongesout). Voer ‘n losboom tertpan met kleefplastiek uit dat die rante oorhang en druk die mueslibottermengsel op die boom vas, vou die kleefplastiek se punte oor en plaas in die vrieskas.

Witsjokolade jogurt:

Smelt 100g witsjokolade in ‘n dubbelkoker, laat dit afkoel en roer dit by 1 – 2 koppies ongegeurde jogurt. Klits dit tot glad en hou dit in die yskas. Ek vind dat die jogurt nie te koud moet wees as jy die gesmelte sjokolade byroer nie, anders maak dit klontjies. Sorg ook dat die gesmelte sjokolade behoorlik afgekoel het.

Vrugte-bolaag: enige kombinasie soos appelkosies, nektariens, lietsjie, pruim, papierdun skyfies appel, frambose en bloubessies. Vir verrassing, gebruik ook babaworteltjies baie liggies gekook. Papierdun skyfies rou beet sal kleur en kraak gee.

Opdiening: 

‘n Paar minute voor bediening haal jy die gevriesde muesli-tertkos uit, sit op ‘n groot opdienbord en stapel  die vrugte en babawortel  bo-op. Rond af met ‘n streepsel heuning of esdoringstroop.  Die kors sal bietjie verkrummel as jy dit opskep, maar dit maak nie saak nie.

Pofomelet uit Prins Albert en Appelkoospoffertjies uit my onthouspens

25 Jan

Dennhof collage met pofomelet

{WONDERWOLK VAN ‘N OMELET}

Ek het tot ‘n paar dae gelede gedink ek kan ‘n omelet maak – ‘n redelike goeie een – tot ek met die moeder van alle omelette kennis gemaak het by ‘n gastehuis in die hartjie van die Karoo. Dit was tydens ‘n kosbesoek aan Prins Albert en ons by Dennehof Karoo Gastehuis oorgeslaap het.

Die vorige aand al het Mark en Paul, reisgenote, vertel dat ek nie moet uitmis op brekfis nie, want die omelet is glo legendaries. Toe die kelner trots die pofomelet voor my neersit het ek eers in oooo’s en aaaaa’s uitgebars voor ek aan die eet kon kom.  Dis nie ‘n omelet nie, eerder ‘n wonderwolk. ‘n Geelbruin jas wat uit sy nate uit bars van die wolk wat uit hom uitbeur.

Die Karoo-mense deel mos graag en sommer in die stap terug kar toe vertel Ria Steyn, eienaar-kok, hoe om die wonderwolk aan mekaar te slaan. Die eerste oggend terug by die huis moes ek dit net probeer: en het weer verstom gestaan vir die manjifiekheid van my vroegoggend-skepping. Maar dis spog met ‘n ander man se kalwers. Dankie Dennehof dat julle my omelet-horison verbreed het.

Dennehof se pofomelet, of te wel die Wonderwolk' soos ek dit gedoop het

Dennehof se pofomelet, of te wel die Wonderwolk’ soos ek dit gedoop het

DENNEHOF SE POFOMELET

Ek doop hierdie omelet ‘Dennehof se Wonderwolk’. 

Skei twee eiers, klits die eierwit goed styf, klits die eiergeel (ek gooi  1 eetlepel kraanwater by). Geur eiergeel met sout en peper. Smelt botter in die pan, gooi die geklitste eierwit in die pan en giet dan die geklitste eiergeel bo-oor. Net dit – jy roer nie, jy staan net in verwondering hoe die eiergeel sy lê kry onder die wolk van eierwit in. Bak dit tot goudbruin onder en die eierwit gestol maar nog wolkerig. Gooi jou omelet-vulsel oor die een helfte, vou oor en glip dit uit die pan tot op jou mooiste brekfis bordjie.

{POFFERTJIES UIT MY ONTHOUSPENS}

Die laaste ryp appelkose het my so uitdagend gelê en loer: “Maak iets lekkers met ons.”  Ek het die somer reeds ‘n Midde-Oosterse jogurt- en appelkooskoek gemaak, maar het nie veel bestanddele in die huis gehad vir fency goed nie.  Dis toe wat ek dink aan my ma wat altyd so woeps-waps vrugtepoffertjies aanmekaar kon slaan al was daar net ‘n appel of piesang in die die vrugtebak oor.

appelkose op hul eie

My ryp appelkose is in my ma se poffertjie-beslag gedoop en goudbruin gebraai – en omdat die hart van die poffertjies so soetsuur van die appelkose was, het ek nie net die kaneelsuiker nader getrek nie, maar ook esdoringstroop wat ek met ‘n paar druppels lemoenbloeiselwater gegeur het….. net om die surigheid te tem.

poffertjies mooi

 Appelkose hou ook van spesery soos kardomom en word baie gevlei deur amandelgeure. Marsepein en appelkose klink vir my na ‘n forever-after paartjie; nie iets wat my ma saam met haar vrugtepoffertjies sal bedien nie, maar sy het ‘n avontuurlike dogter grootgemaak.

 VRUGTEPOFFERTJIES

Die beslag kan gebruik word om stukkies vrugte in te doop. Bedien dit tradisioneel of maak ‘n eksotiese stropie.

120 g  (250 ml) koekmeel

5 ml bakpoeier

Knippie sout

25 ml suiker

1 eier, geklits

75 ml melk of bietjie meer

12,5 ml gesmelte botter

Vrugte van jou keuse: soos appel, appelkoos, perske, pynappel, piesang,

Metode:

Sny die vrugte van jou keuse in gerieflike stukke gesny. Sprinkel suurlemoensap oor vrugtestukke wat kan verkleur, soos appel en piesang) – ek het appelkose in kwarte gesny.

Sif droë bestanddele saam en maak met die eier, melk en botter tot ‘n glad beslag aan.

Voeg nog ‘n bietjie melk by as dit te styf is. Moenie te slap maak nie, anders sal die poffertjies nie fatsoen hou nie.

Verhit olie in kastrol. Gebruik ‘n vurk en doop voorbereide vrugtestukke in doopbeslag, dreineer effe. Braai in warm olie (170°C) tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier.

Strooi kaneelsuiker of strooisuiker oor. Loperige heuning of esdoringstroop, gegeur met ‘n paar druppels lemoenwater is ook lekker, veral met ‘n surerige vrug.

Kontakdetails: Dennehof Karoo Gastehuis

Tel 023 5411 227

http://www.dennehof.co.za

%d bloggers like this: