Toortisserie en plomp tjips – oondhoender vat die langpad

21 Mar

Dis tyd vir ‘n oondhoender-makeover

My langafstand hoendertjie met sy aartappel drafmaats. Ian het die foto geneem. Die ou bruin Lieberman bak het my ma in die sewentigs as geskenk gekry. Sy het dit min gebruik en was liewer vir Pyrex. Ek het weer gedink die bruin erdeware was die mooiste denkbaar.

My langafstand hoendertjie met sy aartappel drafmaats. Ian het die foto geneem. Die ou bruin Lieberman bak het my ma in die sewentigs as geskenk gekry. Sy het dit min gebruik en was liewer vir Pyrex. Ek het weer gedink die bruin erdeware was die mooiste denkbaar.

Dieselfde ou haarstyl, dieselfde tint lipstiffie, dieselfde blosser, jaar in en jaar uit. Jy kan dit toe oë doen. Net soos met die voorkoms-groef wat jou laat vashaak in die 80’s of 90’s – of wanneer ook al jý jonk was, kan dit met die hoender in jou pot gebeur. Die  selle ou storie. Oor en oor  dieselle ou roast chicken– die manier van gaarmaak wat jy maar altyd doen.

Ek loop in Bon Appetit ‘n resep raak vir  hoender wat drie ure in die oond deurbring.  Wanneer ek  hoender in die oond rooster gaan ek gewoonlik hoog en ek gaan vinnig : 200°C, 50 minute, Bob’s your uncle. Noem dit maar die 100 m hoender-sprint.  Nee, hierdie nuwe resep vat dit lank en laag – soos ‘n lang-afstand atleet.  Net hier in die laaste pylvak piets jy hom met die roosterelement.

Met bonkige wiggies aartappels as drafmaats pak hierdie hoendertjie ook nie die pad alleen aan nie. Hulle kom saam bros, goud ge-‘tan’ en deurtrek van smaak anderkant uit.  Net nou en dan vra hulle ‘n watergat pitstop, ‘n omdraai sodat hulle bietjie sous kan kry. Kom ons noem dit Toortisserie hoender, ‘n kamma-weergawe van die Woolies- rotisserie hoender,  sonder ‘n draaispit.

Toortisserie hoender met plomp tjips 

1 hoender

15 ml vinkelsade (fennel)

1 E gekapte tiemieblare + 2 takkies

1 E vars marjolein, gekap + 2 takkies

5 ml sout

½ t peper

3 E olyfolie

1 kleinerige suurlemoen, in kwarte

1 heel knoffelbol, middeldeur gesny

6 aartappels, geskrop en in kwarte gesny

Metode:

Voorverhit oond tot 150°C.

Maak vinkelsade fyn in stamper en vysel. Gooi kruie, sout en peper en 2 E van die olie by, stamp fynerig om ‘n smeer te vorm. Sit hoender in die oondpan en smeer goed in met die mengsel.  Sout en peper die holte van die hoender deeglik, druk die suurlemoen en knoffel in die holte; steek die marjolein- en tiemietakkies ook in die holte.  Bind die pootjies mooi kuis met kombuistou toe.  Rangskik aartappelwiggies om die hoender in die oondbak, sprinkel olyfolie oor die aartappels en geur goed met sout en peper.  Wikkel bietjie deurmekaar.

Bak 3 ure in die oond. Draai elke 40 minute of so die hoender en die tjips om sodat dit met die pansouse gegeur word. Om ‘n lekker kleurtjie aan die hoender te gee en die aartappels goed bros te kry, plaas sowat 10 minuut onder die gloeiende roosterelement.

Ek sit dit voor met blomkool en witsous, asook groenbone, tamatiesmoor en ‘n mozzarella-kombers wat ek in my platboom-swartpot saam in die oond sit.  Maar as jy net mengelslaai wil voorsit – ook reg.

Oorpeinsing: Ek doen hierdie inskrywing vandag op Menseregte Dag.  Dit laat my dink aan  ‘n saghartige Franse koning wat ‘n visie gehad het van ‘n hoender in elke pot – dat daar in elke Franse huishouding, tot die armstes ‘n hoender in die pot sal wees. Terwyl ek oor hierdie hoender skryf, dink ek aan huise in ons eie land waar ‘n hoender in die pot selde, indien ooit, op die tafel verskyn. Laat ons saam ons deel doen om iemand in nood ‘n hoender te gee, vir wie dit ‘n koshoogtepunt van die jaar sal wees.

Resepbron: Bon Appetit, Maart 2014

7 Responses to “Toortisserie en plomp tjips – oondhoender vat die langpad”

  1. Hanlie March 30, 2014 at 8:57 am #

    Nina

    Ek maak vandag jou hoenderresep, die seuns kan al klaar nie wag vir die Toortisserie-hoender nie! Moet se, dit lyk heerlik!

    Jy het nogal n slag met woorde ook. Lekker!i
    Groete.
    Hanlie

    • huiskok March 30, 2014 at 9:08 am #

      Ek maak dit ook vandag weer!

  2. Louis B. Grobbelaar March 24, 2014 at 6:39 pm #

    Ek stem volkome saam met Nina… jy het jou roeping gemis D. Jou artikel laat my mond water, en my tone omkrul van lekker lees. Mooi so!

  3. nina March 21, 2014 at 10:31 am #

    Jy toor nie net met kiepies nie, jy toor met woorde ook!!

    • huiskok March 21, 2014 at 6:05 pm #

      Liewe Nina, jy is dierbaar. Dankie.

Trackbacks/Pingbacks

  1. Toortisserie en plomp tjips – oondhoender vat die langpad | dalenatjie se sketsblad - March 24, 2014

    […] Toortisserie en plomp tjips – oondhoender vat die langpad. […]

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: