Blomkool in die koekpan

28 Oct

Vir almal wat in die era van die souttert grootgeword het is die klemverskuiwing van souttert na soutkoek ‘n opwindende een! Soutkoek klink dalk baie trendy, maar die Franse bak dit al lank: gateau sale. Oral in boulangeries word soutige koeke verkoop wat met ‘n slaaitjie as ligte ete geniet word.

Verbeeldingryke geurkombinasies is byvoorbeeld:

wortel + feta +komyn

bokmelkkaas + rosyne + neute

ham + olywe + tiemie

bokmelkkaas + pruimedant + pistachioneut

En nou is daar Blomkool, rooi-ui, parmesaan en sesamsaad-koek waaroor ek mal is. Glo my – dit gaan jou nuwe gunsteling vir die somerstafel ook word. Wat hierdie soutkoeke van soutterte en quiche onderskei is dat die beslag soos koekbeslag gemaak word, en nie ‘n vla of ‘n witsousbasis het soos tipies van soutterte en quiches nie. Dit word ook in koekpanne gebak en die sykante bedek met neute of sade.

Blomkoolkoek met sy mooi kragie van sesamsade en die rooi uieringe as versiering.

Blomkoolkoek met sy mooi kragie van sesamsade en die rooi uieringe as versiering.

Mark Twain het destyds blomkool bestempel as kool met ‘n kollege-opvoeding. Hierdie heersende Keiser van die Groenteryk handhaaf goeie verhoudinge met neute soos amandel, pekanneute of okkerneute, en met soet speserye soos neutmuskaat. Blomkool beland selfs saam met sjokolade en piesang in twee-laag koeke! Ek sal maar eerder hou by ‘n skepping van my kosheld Ottolenghi, uit sy nuutse boek Plenty More. Omring met ‘n kragie van wit sesamsade en swart nigellasade, ‘n pragtige geel kleur van al die eiers en borrie en kunstige sirkels rooi uie op die bo-kors, sal dit ‘n sieraad op jou somerstafel wees.

Hierdie blomkoolkoek vra net 'n kruieslaai.

Hierdie blomkoolkoek vra net ‘n kruieslaai.

Blomkoolkoek

 ‘n Heerlike alternatief tot quiches en soutterte. Sit voor as ‘n ligte ete met ‘n eenvoudige komkommer- en kruieslaai.

Bedien 4 – 6 persone.

Bestanddele

1 medium blomkool, 650 g – 700 g

1 groot rooi ui geskil

100 g olyfolie

½ teelepel fyngekapte roosmaryn

10 medium eiers (vrylopend)

20 g basielkrud, gekap (of 30 ml pesto)

2½ teelepel bakpoeier

½ teelepel borrie, fyngemaal

120 g (1 koppie) koekmeel, gesif

220 g Parmesaankaas, gerasper of enige ander verouderde kaas

Sout en swartpeper

Gesmelte botter om mee te smeer

30 ml sesamsaadjies

15 ml swart uie saadjies (nigellasaad) of swart sesamsaad
Metode

Voorverhit die oond tot 180ºC.

Berei jou pan voor: Gebruik bakpapier om ‘n 24 cm losboom ronde koekpan mee uit te voer. Borsel die kante met gesmelte botter, plaas die gemengde sesam- en uiesaadtjies in die pan en kantel die pan sodat die saadjies aan die kante vassit.

Breek die blomkool op in medium grootte blommetjies. Plaas in ‘n kastrol met ‘n teelepel sout, bedek met water en kook stadig vir 15 minute, tot redelik sag maar nie pap nie. Dreineer en laat vir ‘n paar minute in die vergiettes staan tot goed droog.

Berei die beslag voor terwyl die blomkool kook. Sny ‘n paar 0.5 cm ringe aan die een kant van die ui en hou eenkant (dit gaan op die bo-kant van die koek kom); kap die res van die ui grof op. Verhit die olie in ‘n pan en braai die gekapte ui en roosmaryn oor lae hitte vir 8 minute. Verwyder van die stoof en laat afkoel, voeg die eiers en basielkruid by en klits met ‘n ballon-klitser.

Sif die meel, bakpoeier en borrie saam in ‘n groot mengbak. Voeg die Parmesaankaas, 1 ½ teelepel sout en baie varsgemaalde swartpeper by. Voeg die eiermengsel by en klits met ‘n ballon-klitser om van al die klonte ontslae te raak. Voeg die blomkool by en meng saggies om dit nie uitmekaar te breek nie.

Voeg die blomkoolmengsel in die pan en rangskik die uieringe bo-op. Bak die koek in die middel van die oond vir 45 minute, tot goudbruin en gestol is. Bedien warm of by kamertemperatuur.

. Errieda du Toit het ‘n kosrubriek op RSG en is inhoudsvervaardiger: kos van Kokkedoor en Koekedoor. Hierdie bloginskrywing is ‘n uittreksel uit haar korubriek in Die Burger Naweek.

10 Responses to “Blomkool in die koekpan”

  1. Ilze Labuschagne December 2, 2014 at 12:59 pm #

    Het self gewonder oor die meel, want daar word melding van 180g meel gemaak by die basielkruid ? Dan weer verder 120g.
    Sal ook graag wil weet of mens die koekmeel kan vervang met klappermeel?

    Baie dankie vir al die mooi stories om die resepte en natuurlik die resepte. Ek is ‘n groot “fan” !

    • huiskok December 2, 2014 at 1:16 pm #

      Hi Ilza. Dit is wel 120g meel. Ek het dit nog nie self met klappermeel gemaak nie en is huiwerig om te sê voor ek Dit nie getoets het met gluten rye meel nie.

  2. sonja October 29, 2014 at 8:42 pm #

    klink baie interessant! en ek het blomkool, maar nou het ek net een vraag: tien eiers…kan ek minder gebruik of gaan dit die resep beinvloed?

    • huiskok October 29, 2014 at 9:30 pm #

      nie minder as 8 eiers nie.

      • sonja October 30, 2014 at 7:36 am #

        baie dankie….ek sal jou die uitkoms laat weet…ek waardeer die antwoord…

  3. Antoinette Louwrens October 29, 2014 at 11:02 am #

    Dit lyk heerlik! Kan nie wag om dit te probeer nie! Baie dankie vir al die oulike resepte! Antoinette

    • huiskok October 29, 2014 at 11:50 am #

      dis die lekker van bak en kook – om oulike resepte te deel!

  4. Net Ek October 29, 2014 at 7:36 am #

    Ek eet glad nie blomkool nie, maar sal beslis die probeer!

    • rieta November 5, 2014 at 5:28 pm #

      Hoeveel meel by blomkool resep? asb

      • huiskok November 5, 2014 at 6:53 pm #

        Dit is 120 g koekmeel 1 koppie, gesif

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: