Huiskok se Gemmerkoekies met witsjokolade

3 Dec

Een van die wonderlike kombuisrituele waarna ek verlang, is die volmaak van die koekblikke.  My ma het dit op ‘n skaal gedoen wat in my kindergemoed ons huis in ‘n koekiefabriek omskep het.

Gemmerkoekies soos my ma dit gemaak het.

Gemmerkoekies soos my ma dit gemaak het.

Dan is die koekblikke uitgehaal en vol kleinkoekies met die mooiste name gevul soos anyskoekies, soentjies, konfythartjies, skurwejantjies en die kroonprinses van die koekblik: die outydse soetkoekie. Maar die koekie waarop ek my oog gehad het, was wat Ma eintlik vir die grootmense gebak het: die gemmerkoekie. Soos die jare aangaan speel ek met maniere om ekstra byt aan die koekie te gee, want ek glo as jy in ‘n gemmerkoekie byt moet hy terugbyt! Tintel, nie brand soos rissie nie. Ek het al die gemmer opgezoep met wonderpeper, naeltjies en selfs mosterdpoeier. Natuurlik ook vars, fyngerasperde gemmer t en ekstra versuikerde gemmerstukkies.

Gemmerkoekies met 'n sjokolade-wang

Gemmerkoekies met ‘n sjokolade-wang

Met hierdie resep haal ek die peperpot uit.  Die witpeper saam met die gemmer verklap iets van die koekies se roemryke verlede – en die tyd in die Middeleeue wat peper werklik peperduur was. Vandag  maak ek die outydse lekkerte byderwets deur dit in gesmelte witsjokolade te doop. En ja, met ‘n knippie peper by. gemmerkoekies op houtbord

GEMMERKOEKIES MET GESMELTE WITSJOKOLADE

Maak 8 dosyn koekies (gesmelte witsjokolade genoeg vir 4 dosyn koekies)

Bestanddele

  • 500 ml suiker
  • 375 ml sonneblom- of canola olie
  • 2 eiers
  • 125 ml  molasse
  • 1 kg koekmeel
  • 15 ml fyn gemmer
  • 2,5 ml  varsgerasperde neutmuskaat
  • Mespunt fyn witpeper
  • 10 ml fyn kaneel
  • 5 ml sout
  • 20 ml bakpoeier
  • Suiker, vir rol

Doopsel: (genoeg om 4 dosyn koekies halfkant te doop)

  • 200 g witsjokolade, in stukkies
  • 15 ml smeer (vegetable fat) soos Holsum of Wooden Spoon (nie botter of margarien nie)

Metode

  • Verhit oond tot 180C. Voer bakplate met bakpapier uit.
  • Meng die suiker en olie goed saam in ‘n groot mengbak. Voeg die eiers beurtelings by en meng goed deur na elke byvoeging. Meng molasse by.
  • Gebruik ‘n aparte mengbak en sif die droë bestanddele saam; meng dit dan geleidelik by die eier-suikermengsel in tot goed ingewerk.
  • Vorm okkerneut-grootte balletjies met die handpalm en rol in die suiker. Plaas die bolletjies op die bakplaat met 5 cm spasies tussenin.  (Dit sprei uit as dit bak). Bak sowat 12-15 min tot goudbruin. Die koekies moenie bleek wees nie. Die koekies sal krakerig bo-op lyk. Dis baie sag as dit uit die oond kom, maar die buitekant sal bros raak wanneer dit afkoel. Laat sowat 2 minute in die pan staan en plaas dan op die afkoelrak.

Doopsel:

Smelt sjokolade en die Holsum oor lae hitte in ‘n dubbelkoker. Moenie ‘n deksel opsit of stoom laat inkom nie. Roer deurentyd tot gesmelt. Doop die koekies halfpad in die sjokolade, laat oortollige sjokolade afdrup en plaas op afkoelrak of op waspapier tot sjokolade geset is.

Volg gerus my koskwetters by @huiskok en my weeklikse kosrubrieke in Die Burger Versnit-bylaag. Ek praat ook gereeld op RSG kosgeite wat die nuuskierigheid prikkel.

3 Responses to “Huiskok se Gemmerkoekies met witsjokolade”

  1. Narina Housego December 21, 2020 at 12:45 am #

    Hi hoop dit gaan goed .
    Kan ek molasse vervang met goue stroop en ek het al my koekmeel opgebruik en will maar uir winkels bly ..
    Maar ek het bruismeel… gee asb raad

  2. Hester December 4, 2014 at 3:29 am #

    Alles altyd lekker!

    • huiskok December 4, 2014 at 9:15 am #

      Dankie. En Di maak lekker baie dat mens kan uitdeel ook.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: