Terwyl ek lê en dink oor ons lewens se vreugdes en verliese, pyn én sy pret, draai my nag-gedagtes by Forrest Gump se Life is a Box of chocolates. So onthou ek die swietstoonbank by OK Basaars in Voortrekkerweg, Parow. Dit was laat-sestigs, vroeë sewentigs en OK was ‘n grand winkel, ‘n bestemmingswinkel met als van materiaal en kos tot lang onderbroeke vir mans; negligees , hakskoen-pantoffels met vere en strikkies vir Ma en ‘n groot lekkergoedtoonbank vir kinders en suikerbekke.
By die nuwerwetse lekkergoed-toonbank was die groot soet skouspel: rakke en emmers pick-n-mix – ‘n karnaval van elke maak en smaak. Dit was voor die Mall-lekkergoed-superettes, maar in die 60’s + 70’s was die pick-n-mix-konsep über-progressief, die begin van self-help in die goue era van die afdelingswinkel. Jy het self jou lekkers in ‘n emmertjie geskep. Baie anders as die kafee of dorpswinkels waar jy net na die fles kon wys en die toonbanktannie dit dan uitgehaal het.
Die Pick-n- Mix emmertjie en skoppie het my grootmens laat voel. Ek kon kies ÉN skep. Tot die tannie in haar OK-jurkie by die kasregister my na die werklikheid teruggebring het. Die Quality Street sjokolades en die peanut clusters mòès teruggesit word. Weeg te swaar en te duur vir my sakgeld of Ma se goedgunstigheid. Die witgepoeierde malvavissies, liquorice All-Sorts en run-of-the-mill lekkers kon bly, Ek moes altyd baie lekkers terugsit om een van die coconut-clusters te behou. COCONUT-CLUSTER! Daardie kraak van die klapper tussen die so-so valerige sjokolade hoor ek steeds in my ore. Die feit dat daar na die tyd so ‘n vetterige lagie op die verhemelte agtergebly het van die goedkoop sjokolade het geen duit verskil gemaak aan my klapper-nirvana nie.
Toe kom matriekdae, studentedae en eerste werk. Die gedagte aan pick-n-mix en klapper wat kraak in my kake verdwyn voor meer gesofistikeerde eetgoed. Tot Sherral en Johan Herholdt, Johannesburg-vriende ons in die vroeg-negentigs voorgestel het aan kakao-, klapper- en hawermoutkoekies, hul gesinsgunsteling. Die kinders was nog jonk en iets wat in een bak aangemaak kan word en mikrogolf-vinnig gemaak kon word, was baie begeerlik. Dis nie al nie – die Heroldts het hulle familienaam vir die koekies POEFKOEKIES met ons gedeel – dit het die vriendskap finaal gesement (Een van die kleingoed het seker gereken dat dit soos miniatuur beesblertse lyk; dalk ‘n seunskind want hulle hou van gross goed.
Op navraag ken baie mense die klapper, kakao hawermoutkoekies – die name verskil: party party hou by Kakao-klapper-klontjies, ander praat van beesblertse, en self kalkoen***. In Amerika en Kanada staan hierdie koekies bekend as haystacks, amper so beskrywend soos die, uhmmm, beesbolle soos soos FB vriendin Karin Hunter dit noem). Dalk ís hooimied-koekies meer respektabel. Maar o, in my hart – can a rose by any other name, smell so sweet? Poefkoekies kan nooit so lekker smaak met ‘n respektabele, maar generiese naam wat niks vertel van vriendskap, en hoe kinders sêgoed my oorreed het om tog maar ‘n mikrogolfoond aan te skaf nie.
HUISKOK SE HOOIMIED-KOEKIES (Aka Poefkoekies, Beesblertskoekies of die respektabele klapper-sjokolade-oatskoekie
Die Herholdts het die poefkoekies sy naam gegee. Ons het die resep hieronder iewers afgeskryf en mettertyd aangepas. My man Ian maak dit gewoonlik en is so ongeduldig dat dit in die vrieskas afgekoel word. So eet ons altyd die poefkoekies in ‘n halfpad-bevrore toestand. Selfs dán is dit vreklekker. Dit kan ook in blokkies gesny word – soos wannebe-brownies!
- 250 ml suiker
- 250 ml klapper (geroosterde klapper nog lekkerder)
- 250 ml hawermout
- 50 g (60 ml botter)
- 20 g (50 ml) kakao
- 50 ml volroommelk
- 2 ml vanieljegeursel (of 5 ml brandewyn vir die grootmens-weergawe
- Knippie sout (vir inmeng)
- Soutvlokkies (vir bo-op strooi)
METODE
- Mikrogolf al die bestanddele (buiten die soutvlokkies vir strooi) vir 4 minute onbedek by 100% krag in ‘n diep, mikrogolfvaste bak, 2 liter volume.
- Berei die pan voor: smeer ‘n bak of pan met botter of kleefvrye sproei. Nou kan jy een van twee dinge doen:
- Vir hooibale: Skep die mengsel in die bak en maak gelyk. Laat die afkoel en sny dan in klein blokkies of stafies wanneer dit koud is.
- *My gunsteling manier: skep lepels vol van die koekies op die plaat – jy kan dit effe netjies vorm of dit net so natuurlik laat set. Dis nou die ware poefkoekie, wat jy kan hooimied-koekies noem as jy sensitief ingestel is oor hierdie tipe goed.
Die kosstorie is in herinnering van ons liefste kat Mr Jones. Jonesie ons wolhaarkind, jy was die buurt se gentleman. Ons sal jou so onthou iewers in ‘n sonkolletjie
Mr Jones in die son op Ian se lessenaar. Die craft-kunswerkie se kleure het die kosfoto’s geinspireer.
ANDER SNAAKSE NAAM-FAMILIEGUNSTELINGE VLGS MY FACEBOOK-PELLE
- Flemmingtons vir Lamingtons (Liza Louw)
- Melksmytsels (Melksnysels, via Petro Bee)
- Posadder (beesstert, na aanleiding van pofadder omdit dit vir ‘n kleintjie soos slang gelyk het. (Ansa Reyneke)
- Doodgooi vir dumplings (Mienkie Koekemoer Vorster)
- Pot krenaaitjie vir kookvleis met aartappels, wortels en uie
- Knoplyfpastei (vleispastei met bene in) Theresa de Vries se skoonma
- Papgooi – Sanette Henning se papballe met kaas en biltong en sous oor
- Maanrotsies (rotskoekies)
- Ekspensi fours – vir petit fours (Antoinette de Greeff)
- Voete – brooddeeg-bolletjies met gemaalde varkvleis gegeur, in sirkels gemaak dan toegevou. (Theresa Willemse Paulik)
- Honnevoete – Theresa de Vries se verteling van Tannie Hanna Zandberg wat 4 km plaaspad gestap het soggens om vir die bure outydse soetkoekies te bring – as die koekies te groot was, dan is dit honnevoete genoem, nie vleiend in haar boek nie!
- Bokdrolletjies – Die Engels is nie so beskrywend nie – soos Marietjie Koekemoer Swanepoel skerts – In Karoo Engels sou dit ‘Buck Drools’ wees. Wynmaker Karin de Villiers is pittig met ‘Bambi Candy’.
- Goudsmoppies: Zahn Puren Cilliers se ma se koekerige-beskuit. (Ek het die resep afgebedel by haar.)
- Annatjie Reynolds vertel van ‘n tannie op Richmond wat my poefkoekies op sy grofste manier doen – en dit het met Kalkoene te doen. Gross, net soos jong seuntjies daarvan sal hou!
- Foefolhoender: Hoender wat op ‘n stellasie in die oond gesit word. Henriette Gilbert.
- Steak-pypies vir boerewors: RSG-luisteraar
Ek is baie bly vir die resep. Het dit geken as dropsies. En êrens het my ma nog post toasties ook bygevoeg. Gaan net kleinseun kosgee en dan maak!! Betyds vir koffie vanmiddag!
Dropsies is ‘n mooi naam! Hou dit so! Laat weet hoe dit gekom het en wat jou kleinseun daarvan dink. Ja, Post Toast ook lekker. Die Amerikaners breek ook pretzels by!
Errieda, dankie vir jou poefkoekie resep. Ek het ook grootgeword met die beskrywende naam van poefkoekies :-). My oupa het altyd Ideal melk poeding fëetjiepoefie genoem, maar my dogtertjie (toe 6 jaar oud) het besluit dat fairy dust baie beter klink. Dankie vir jou stories agter die resepte.
O hoe Geniet Ek nou jou feëtjie Poefie! Dankie vir die kommentaar. Lekker kook.
Dankie vir al jou wonderlike geselsies en resepte laat my voel my kleintjietyd was soos gister en kan ek nooit anders as om net so n groot lekkerte in my hart te voel nie Plaasgroete M
Sent via my BlackBerry from Vodacom – let your email find you!
Martie, baie dankie. Dis so lekker om terugvoering te kry. Vertel meer van jou plaaslewe! Jy kan my mail by errieda@edtpr.co.za