Die kweper is op die oog af ‘n suurknol, hardekoejawel introvert. Maar gee dit geduld, ‘n paar uur in die oond en ‘n smaakmaat soos kaneel of steranys en jy word beloon met parfuumgeure waarmee geen appel of peer kan meeding nie.
Dis ‘n les om niemand op sy baadjie te takseer nie. ‘n Gestoofde kweper, die vleis en stroop ‘n diep koraalpienk is mooi genoeg vir ‘n Vogue-voorblad. Met geklopte room, tuisgemaakte vla of Griekse jogurt, ‘n strooisel geroosterde neute oorrompel dit die kieskeurigste genotsoekers. Selfs ‘n kommetjie sussende vaalkos soos ryspoeding, melksnyselfs of hawermoutpap word sensueel as dit vergesel word deur ‘n bloospienk kweperwang en stroop.
As ek my jaarlikse meevaller kwepers van Diemersdal kry maak ek heelwat van hulle op hierdie maklike manier, geen geskillery of klokhuis uitsnyery nie. Dit hou twee weke in die yskas, net reg vir ontbyt, bykos of nagereg. Die orige stroop kan by sodawater of vonkelwyn gevoeg word vir ‘n lieflike pienk drankie.
Blosende oondgestoofde kwepers, die lui manier
8 – 12 kwepers, afhangende van grootte
900ml warm water
350g suiker
Paar repe suurlemoenskil en/of lemoenskil
- Kies 1 of 2 van die speserye na keuse: vanieljepeul, kaneelstokkie, heel wonderpeper, lourierblare, naeltjies, steranys.
Maak so:
Voorverhit die oond na 160°C. Was die kwepers en vryf die donsies af. Sny die kwepers in die helfte of hou dit heel as die kwepers aan die kleiner kant is.
Plaas die kwepers in ‘n oondpan, giet die water oor en sprinkel dan die suiker oor. Voeg die speserye en suurlemoenskil by. Bedek goed met aluminiumfoelie en bak sowat 3 – 4 ure tot die kwepers doeksag is en die stroop ‘n diep robynrooi.
Haal uit die oond. Giet die stroop deur ‘n sif en verkoel voor dit in die yskas geplaas word.
Opdieningsvoorstelle:
Bedien met jogurt of hangkaas en gekapte pimperneute. Vir ‘n Turkse geur voeg ‘n druppel of twee goeie rooswater by. Ook heerlik met geklopte room, vla of vanieljeroomys.
Gebakte kweper vir inlê:
Bak drie groot heel kwepers onbedek in die oond teen 160 °C vir 2½ – 3 ure tot die vel blase maak. Laat afkoel tot hanteerbaar, sny deur, verwyder die skil en pitte en sny in dik skywe.
Terwyl die kwepers in die oond bak, maak jou stroop: giet 300 ml warm water en 20 ml in ‘n medium kastrol, los 300 ml suiker daarin op. Voeg geurmiddel soos vanieljepeul, pypkaneel, wonderpeper, steranys, kardomom, vars gemmer of lourierblaar by. Kook tot stroperig. Voeg die kweperskywe by en prut vir 10 minute in die stroop. Pak die vrugte in gesteriliseerde flesse en vul met die stroop (een op ‘n slag) en seël dadelik met gesteriliseerde deksels.
Foto’s en stilering: Ian en Errieda du Toit

Ai, hoe verlang ek nou na my pa se ingelegde kwepers…
Dis ‘n groot verlange. Xxx
Dis die grootste verlang. Xxx, Errieda