
Murgpampoentjie is een van die skaam kinders van die groentewêreld. Gee dit ‘n paar lekker geurmaats as geselskap , ‘n broodpannetjie en soet botter – die resultaat is hierdie besondere gebak. Vir ‘n plaaslike variasie van die Ierse kosskrywer Diana Henry versoet ek die botter met fynbosheuning of moskonfyt.
Die keramiekbak is deel van my versameling handgemaakte erdeware uit Mervin Gers Ceramics se ateljee.
Murgpampoentjie-roosmarynbrood met vinkel-en-koljander heuningbotter
3-4 murgpampoentjies (sowat 345 g), grofgerasper
2 groot eiers, liggies geklits
80 ml olyfolie
80 g botter, gesmelt
45 g sagte ligbruinsuiker
Heelwat vars gerasperde neutmuskaat ( ¾ van ‘n heel neutmuskaat)
Fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
1 takkie roosmaryn, fyngekap en 3 roosmaryntakkies vir bo-op
5 ml sout
2,5 ml bakpoeier
4 ml koeksoda
255 g koekmeel
30 g gekapte amandels of pekanneute
Vinkel-en-koljander heuningbotter:
2,5 ml koljandersade
2,5 ml vinkelsade
6 swart peperkorrels
5 ml droë rissievlokkies
10 ml geroosterde sesamsade
225 g botter, kamertemperatuur
30 ml loperige heuning
Maak so:
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n broodpan (20 cm x 10 cm) goed.
Meng die murgpampoentjies, eiers, olie, botter, suiker, neutmuskaat, suurlemoenskil, gekapte roosmaryn goed saam in ‘n groot mengbak. Roer sout by. Voeg bakpoeier, koeksoda, meel en neute by en meng deur. Skep in die gevoerde broodpannetjie, maak gelyk bo en plaas roosmaryntakkies bo-op. Bak 50-60 minute tot ‘n toetspen skoon uitkom.
Koel af in die pan en keer versigtig uit.
Vinkel-en-koljander heuningbotter:
Rooster die koljandersade, vinkelsade en peperkorrels in ‘n droë pan tot geurig. Maal in ‘n stamper en vysel, maar nie tot ‘n poeier nie. Voeg hierdie mengsel saam met die rissievlokkies en geroosterde sesamsade by die botter in, en werk die heuning geleidelik by. Skep in ‘n bakkie of vorm ‘n worsie in waspapier. Verkoel. Bedien met die brood.

- Errieda du Toit is die skrywer van Saam en Suidooster Kombuis.
- Haar man Ian du Toit neem die kos foto’s.
Heerlik! Ek beplan beslis om hierdie broodjie te maak!
Ronesca Cloete
Geniet!
Ek hoop jy verslind elke krummel
Skaam groente. Oulik beskryf. Ek gaan beslis probeer.