Somer, son en steenvrugte. So lief is ek vir pruime, perskes en nektariens dat ek dit aan die Kersboom sou hang as dit nie reeds bestem was vir die slaaibak, poedingbak en as peuselkos nie.

Vonkelwyn-geposjeerde perskes word op die trifle gestapel, met die posjeerstropie wat in perskejellie omskep word; selfs die perskeblare word gebruik om die tuisgemaakte vla te geur. Vars perskes met ingedampte melk, perskekonfyt wat afdrup van warm skons, onderstebokoeke en frummelpoedings deurtrek van pruime se aangename soetsuur. pruim-Ek maak spesiaal steranys-gegeurde compote omdat die pers strepe wat dit in die ontbytjogurt maak die toon van die dag aangee.
Die waarde van ons somervrugte strek verder as net mooi en kleurvol, dis ook ‘n heilsame teenvoeter vir al die ander kosvergrype in die feestyd. Dis propvol anti-oksidante en Vit, C, asook vesel as jy die skil ook eet.
Steenvrugte se veelsydigheid lê ook in die vrugte se vriendskap met soutgeregte. Ek beplan reeds om Oukersaand my groenboonslaai met spesery-amandels, geroosterde perske, klambiltong-flertse en gestampte pienkpeperkorrels voor te sit; of anders die sappige nektarienslaai met sagte bolletjies fior de latte, geskeurde basielkruid en kwistige spatsels van my beste olyfolie.
‘n Ander steenvrug-met-sout-gunsteling is om hoenderdytjies in die oond te bak saam met pruimhelftes, brandrissie, vars gemmer, knoffel, en sojasous. Bak eers die gegeurde hoenderstukke ‘n halfuur by 200°C, roer die rissie, gemmer en knoffel deur, bak 10 minute en pak dan die pruimhelftes om die hoender, bespat met spojasous en rooster dit ‘n kwartier of so. Die heerlike sout-soet-suur spulletjie eet jy met vars koljander en noedels of rys.
Justine Drake en Zola Nene is twee bekende sjefs en televisie-persoonlikhede wat my geesdrif vir steenvrugte deel. Hier deel hulle van hul gunsteling maniere om die goeie deugde van steenvrugte in hul kos in te span. Gaan loer gerus by die webwerf www.juicydelicious.co.za of @juicydelicioussa op Instalgram in vir nog steenvrug-resepte.
Wenk: bere steenvrugte verkieslik met hul steelkant na onder, en by kamertemperatuur. Vrugte wat nog hard is kan in ‘n kardoessak geplaas word vir ‘n paar dae. As dit volryp is, kan dit in ‘n plastieksak in die yskas gehou word.
Zola se brosgebraaide calamari met pruim- en rissiesalsa
4 porsies
Vir die calamari:
600g – 800g calamari-ringe
½ suurlemoen
Sout en peper
2 eiers, geklits
500 ml koekmeel
60 ml speserymengsel van jou keuse
Olie vir braai
Vir Salsa:
4 pruime, in blokkies gesny
1 klein ui, fyngekap
30 ml gekapte vars koljander
½ suurlemoen
Sout en peper
- Druk die halwe suurlemoen uit oor die calamari en geur met sout en peper. Meng die meel, speserymengsel en 2.5 ml sout in ‘n bakkie.
- Doop die calamari in geklitse eier, dan in die meel. Skud oortollige meel af en braai vir 2 -3 minute in die warm olie tot bros.
- Meng die salsa-bestanddele in ‘n bakkie saam. Bedien dit saam met die warm calamari en suurlemoenwiggies.

Maak so:
Zola se Iphalishi (mieliepap) met geroosterde pruime
4 porsies
Vir die pruime
4 rype pruime, in die helfte gesny
15 ml jenewerbessies
2 steranys
60 ml heuning
60 ml water
750 ml water
Vir die iphalishi (pap)
5 ml sout
250 ml melk
250 ml mieliepap
Maak so:
- Voorverhit oond na180̊ C.
- Plaas die pruimhelftes, jenewerbessies, steranys en water in ‘n oondpan, bedruip met de heuning, bedek met foelie en rooster vir 20 minute.
- Verwyder die foelie, bedruip met die kookvloeistof, en rooster nog 20 minute.
- Om die pap te maak, verhit die water en sout tot dit begin kook. Maak die pap aan met die melk en klits dit by die kokende water in. Verlaag die hitte en prut dit met die deksel op vir 45, roer nou en dan.
Justine se perse- en parmesaan somerslaai

Vir slaai
3 perskes, in wiggies
1 rooi ui in halfmane gesny
125g bakkie sneeu-ertjies, in die lengte deurgesny, of geblansjeerde petit pois
60ml geroosterde pampoensade
Rocketblare
Parmesaanskaafsels
Slaaisous
1 vet knoffelhuisie
3ml gerasperde gemmer
60ml wit balsemiekasyn
125ml olyfolie
Sout en peper
Maak so:
- Meng die perske, ui en ertjies saam. Rangskik die rocketblare op ‘n slaaibord en stapel die perskemengsel bo-op.
- Klits die slaaisousbestanddele saam, giet oor die slaai en rond af met pampoensade en parmesaanskaafsels.

Justine se mini-Pavlovas met nektarien en gebrande suikerskerwe
8 klein of 1 groot pavlova
Meringue
4 eierwitte
Knippie kremetart
200g (250 ml) strooisuiker
7ml vanielje-essens
Bolaag
4-6 nektarien
Sap van 1 groterige lemoen
15-30ml lemoenlikeur, opsioneel
250 ml room, geklits
Kruisementblare
Gebrande suikerskerwe
30 ml water
180 ml suiker
Maak so:
Meringue
- Voorverhit die oond na 100C. Voer ‘n bakplaat met bakpapier uit.
- Klits die eierwitte en kremetart tot medium-stywe punte vorm. Klits elke paar minute ‘n lepel suiker by. Die suiker moet heeltemal opgelos wees voor jy die volgende lepel byklits. Dis reg as dit blink, dik en glad is.
- Skep hopies van die meringue op die bakpapier, met genoeg spasie tussenin.
- Maak ‘n holte in elke meringue-hopies met die agterkant van ‘n teelepel.
- Bak vir 1 uur en laat heeltemal afkoel in die oond.
Bo-laag
- Sny die perske in dun snytjies en masereer vir hoogstens 30 minute in die lemoensap en likeur.
- Skep die geklopte room in die nessies, stapel die perske in die holte en versier met suikerskerwe en kruisementblare.
Suikerskerwe
- Voer ‘n bakplaat uit met bakpapier.
- Plaas die water en suiker in ‘n kastrol en laat oplos oor matige hitte, sonder om te roer. Sodra die suiker opgelos is verhoog die hitte en kook tot donkerbruin. Giet die karamel in ‘n dun lagie op die bakpapier. Laat afkoel.
- Breek of kap in skerwe. Stoor in ‘n lugvaste houer tot benodig, maar moenie in die yskas plaas nie.


Gelukkig het ek sopas ‘n armsalige ou winkelkoekie verorber, anders was ek nou rasend van die belustiging!