Karringmelkbeskuit

Ma Inez en die VLV tantes met Karringmelkbeskuit

As daar een ding is wat verklap dat jy ‘n Suid-Afrikaner is, is dit jou vermoë om presiés te weet hoe lank jy jou beskuit in die koffie kan druk voor dit ‘plop’ afbreek.

Ek het die grootste versameling Afrikaanse beskuitresepte denkbaar, almal uit kookboeke van die kerktannies: beskuit vir beginners, blitsbeskuit vir die dag wat mens haastig is, kondensmelk beskuit wat soos koek proe, en maklike anysbeskuit wat “so tussen die werkies gemaak kan word”.

Ek het resepte vir landelike boerbeskuit met soetsuurdeeg ingerys wat Baie deeglik geknie moet word. ‘Windbeskuit’ weer hang af van aartappel suurdeeg. ’n Resep vir ‘jongbruidbeskuit’ uit 1961 wys hoe tye en vaardighede verander het – dit het koekiesuurdeeg en baie knie nodig gehad, maar is as ‘maklik en vinnig’ beskryf.

Die een resep wat sekerlik elke huisgesin het is vir karringmelkbeskuit.Dit maak maklik aan, en jy het nie veel vernuf of suurdeeg nodig nie, net karringmelk (of suur- of dikmelk).

Karringmelkbeskuit se lewenslustigheid spruit uit die vermoë om aan te pas by die tye en die begeerte om gesonder te leef – ’n verkleurmannetjie wat enigiets kan word. Brekfisbeskuit soos Pronutro-, Allbran- of Weetbix-beskuit, en gesondheidsbeskuit met muesli, semels, sonneblomsade, hawermout, klapper en volgraanmeel sus die gewete leed terwyl ons nog ’n stukkie in die oggendkoffie druk.

Die foto van die tannies in die blik beskuit is van my Ma Inez (met die hoed op) omring deur VLV lede van Touwsrivier in 1957.

“Dankie, Ouma”- karringmelkbeskuit

LEWER 2 panne beskuit

1 kg bruismeel

300 g suiker

5 ml sout

7 ml bakpoeier

250 g botter of margarien, gerasper

400–500 ml karringmelk of amasi

2 eiers, geklits

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer 2 broodpanne van 22 x 9 x 6 cm met botter.

Sif die meel, suiker, sout en bakpoeier in ’n groot mengbak. Vryf die botter met die vingerpunte in die meelmengsel tot ’n fyn krummel.

Klits 400 ml karringmelk en die eiers, voeg dit by die meel- mengsel en meng tot ’n sagte deeg. Voeg nog karringmelk by indien nodig.

Vorm klein bolletjies en pak dit in die voorbereide panne. Smeer jou hande met olie sodat die bolletjies makliker lostrek nadat dit gebak is. Bak 30 minute. Stel die hitte laer na 150 °C en bak nog 30 minute.

Laat die beskuit 5 minute staan en keer dan uit op ’n afkoelrak. Laat effens afkoel en breek elke bolletjie in die helfte (gebruik twee vurke hiervoor).

UITDROOG

Stel die hitte laer na 100 °C. Pak die beskuit op bakplate en droog die beskuit uit. Die oond se deur moet effens oop staan – plaas ’n lepel of vurk in die deur.

Resep uit my boek Saam.

Stilering: Hannes Koegelenberg

Foto: Ian Du Toit

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.