Tag Archives: blomkool

Gelukbringer druiwe, blomkool en kaasslaai + toffielemoenkoek vir Nuwejaarsgeluk

31 Dec

Kos is ryk aan rituele, seremonie en bygelowe om die rug te keer op die jaar wat verby is en hoopvol vorentoe te kyk.  En wie kan nie doen met ‘n bietjie ekstra geluk vir die Nuwe Jaar nie, soos ‘n lemoenkoek met ‘n kroon van toffielemoen-‘muntstukke’ nie.

Glutenvrye klapper, polenta en amandelmeelkoek met toffielemoene (fotos Ian + Errieda Du Toit)

Glutenvrye klapper, polenta en amandelmeelkoek met toffielemoene                                               ( fotos Ian + Errieda Du Toit)

Eet twaalf druiwekorrels vir elke maand van die nuwe Jaar in hierdie heerlike geroosterde blomkool, druiwe, neute en cheddar slaai.

Eet twaalf druiwekorrels vir elke maand van die nuwe Jaar in hierdie heerlike geroosterde blomkool, druiwe, neute en cheddar slaai.

Net om ‘n paar te noem wat jy dalk vanjaar wil beproef:

Die Nuwejaarsgebruik van twaalf druiwe is veral in Spaans-sprekende lande gewild, ook in Portugal en Kuba. Elke druif verteenwoordig ‘n klokslag, maar ook ‘n maand van die jaar. Soos elke druiwekorrel proe, so sal jou maand wees. En jy hou duim vas daar is nie te veel suur korrels tussen die klomp nie. Jy kan ook, soos in Portugal gemaak word, ‘n wens maak saam met elke korrel wat jy eet.

Die eet van groenblaar-groente, soos kool, spinasie en boerkool is ook gewild omdat dit simbolies is van papiergeld: groen note – en hoe meer groen blaargroente jy eet op Nuwejaar, hoe meer note sal jy in die jaar vorentoe op jou pad kry!

Die keuse van vleis is ook belangrik oor Nuwe Jaar – so word daar tradisioneel onder bygelowiges weggebly van hoender en kalkoen op die dag, want pluimvee skrop na agter as hulle pik-pik kos soek. Varkvleis is weer baie gewild omdat ‘n vark vorentoe ploeg as hy skrop vir kos en nooit agtertoe kyk nie. Die bygeloof is ook dat vetter vleis, soos met varkvleis, simbolies is van ‘n jaar van oorvloed. Bly egter weg van kreef of krap, wat agtertoe loop – op Nuwejaar wil jy net vorentoe kyk.

Ronde vrugte wat muntstukke verteenwoordig beloof ook goeie geluk, veral as dit ‘n goue kleur het soos lemoene of mandarin. Granaatpitte word ook dikwels in beursies rondgedra dwarsdeur die jaar om goeie geluk te bring.

Wat soetgoed aanbetref is die Grieke se Nuwejaars-tradisie wat met vasilopita-brood verband hou iets spesiaals. Die soetbrood word gebak met ‘n muntstuk wat weggesteek is. Teen middernag word die ligte afgeskakel (of kerse doodgeblaas) en die hoof van die huishouding sny die koek en deel dit uit: die familielid wat die munt in die koek kry kan dan verseker wees van goeie geluk reg deur die komende jaar.  In Frankryk is die Kings Cake baie gewild – en het ‘n muntstuk of ‘n klein keramiekvoorwerp in. Ronde gebak soos oliebolle wat in ringvorm is, simboliseer dat die ou jaar volsirkel gekom het.

Hoe sal my Nuwejaarsete lyk?

Varknek bedien op groen lensies

Druiwe, blomkool en cheddarslaai

Spek en spinasieslaai

Gelukbringer-klapperkoek met ‘n muntkroon van toffielemoene 

DRUIWE, BLOMKOOL EN CHEDDARSLAAI VIR NUWEJAARSGELUK

Sorg dat jy 12 druiwe vir elke gas in die slaai het – sodat hulle kan voorspel hoe soet of suur elke maand vorentoe gaan wees – ‘n bietjie pret op die Nuwe Jaar.  

1 groot kop blomkool (900 g) of twee kleineres, in happie-grootte blomkoppies gebreek

90 ml olie

30 ml sjerrieasyn

5 ml Dijonmosterd

½ t heuning

30 g rosyne of sultanas

40 g neute, verkieslik haselneute, gerooster en grofgekap

100g pitlose swart druiwe, halveer

80 g beleë cheddar, grof gekrummel of gerasper

20 g pietersielie grofgekap

Sout en peper

  • Verhit die oond tot 220°C
  • Meng die blomkool met die helfte van die olie, sout na smaak en swart peper. Plaas op bakplaat en rooster 20-25 minute, roer dit so twee keer gedurende die roostertyd deurmekaar tot goudbruin en haal dan uit om af te koel.
  • Om die slaaisous te maak: klits die oorblywende olie, asyn, mosterd, heuning en stewige knippie sout. Voeg die rosyne of sultanas by die slaaisous en laat minstens 10 minute mariner.
  • Net voor opdiening, plaas die blomkool in ‘n groot mengbak saam met die res van die bestanddele, giet die rosyn-en slaaisous oor, roer deurmekaar en bedien op ‘n groot bord.

*Uit Plenty More, Yotam Ottolenghi.

Gelukbringer-lemoen is elke dag van die jaar 'n heerlike koek om voor te sit. Dis glutenvry en bly lekker klam.

Gelukbringer-lemoen is elke dag van die jaar ‘n heerlike koek om voor te sit. Dis glutenvry en bly lekker klam.

GELUKBRINGER-KLAPPERKOEK MET TOFFIELEMOENE (glutenvry)

Hierdie glutenvrye koek word met amandelmeel, gougaar mieliemeel en droë klapper gemaak. Die x-faktor is die gekookte, verpulte lemoen wat by die beslag geroer word – en die goue kroon van toffielemoenringe wat soos blink goue munte bo-op die koek lê. 

Vir koek:

2 lemoene

1 k (100 g) amandelmeel

½ k (90g) gougaar-mieliemeel of kitspolenta

½ k (45g) fyn klapper (desiccated coconut)

½ t (2,5 ml) bakpoeier

3 eiers, by kamertemperatuur

¾ k (165g) strooisuiker

1 ½ t vanielje-ekstrak

Vir toffie-lemoen

3 lemoene, geskil, in dun ringe gesny

1 k (220g) strooisuiker

Maak koek:

  • Plaas lemoene in ‘n medium kastrol, bedek met water en laat kook minstens 45 minute tot baie sag. Dreineer en hou eenkant.
  • Voorverhit oond tot 160°C. Voer ‘n losboompan (20 cm deursnit) se bodem en sye uit met bakpapier.
  • Sny die gekookte lemoene in kwarte, haal die stam en alle pitte uit en verpulp in ‘n versapper. Hou puree eenkant.
  • Voeg die amandelmeel, polenta of mieliemeel, klapper en bakpoeier in ‘n bak en roer om dit goed te meng.
  • Klop die eiers, suiker en vanielje met ‘n elektriese klits tot baie dik en ligkleurig, sowat 4 minute. As jy die klitser oplig sal die mengsel linte vorm.  Vou die lemoenpuree by die eiermengsel in tot net deurgemeng en vou dan die meelmengsel by tot alles goed deurgemeng is.
  • Gooi die mengsel in die voorbereide pan en stryk die bokant glad met die agterkant van ‘n lepel.
  • Bak 40-45 minute tot die koek ferm voel en ‘n toetspen skoon uitkom. Koel die koek 5 minute in die pan af, verwyder die ring en laat die koek op die basis heeltemal afkoel.

Maak toffielemoene:

  • Voer ‘n groot bakpan of skinkbord met bakpapier uit. Rangskik die lemoenringe in ‘n enkellaag op die skinkbord.
  • Plaas die suiker saam met 1/3 koppie (80 ml) water in ‘n kastrolletjie oor medium hitte, en roer – sonder dat dit kook- tot die suiker opgelos het. Bring tot kookpunt, SONDER OM TE ROER, en kook tot goudbruin (7 tot 10 min). Terwyl dit kook borsel die binnekante van die kastrol met ‘n nat kwassie om enige suikerkristalletjies wat mag vorm, af te was.
  • Haal van die hitte af en drup die helfte van die toffie mooi eweredig oor die lemoenskywe. Plaas lemoene opsy om af te koel.
  • Voeg ¼ k (60 ml) water by die oorblywende toffie en roer om ‘n dik stroop te vorm. Giet die warm toffiestroop oor die koek en laat afkoel.

Bedien die koek met die toffielemoene bo-op gerangskik en room of mascarpone in ‘n aparte bakkie.

*Delicious Maak dit met manderyn-lemoene.

Broccoli kamma-couscous slaai met lieflike kruie

14 Oct

Broccoli en Brusselse spruite. Nie juis iets wat op die lys van “Lekkerste Dinge Ooit” sal verskyn nie. Ek het nie veel fiemies as kind gehad nie en het geëet wat op my bord was. Maar selfs al het my ma dit onder ‘n kombers van kaassous verberg, het ek langtand deur dié groen goed gewroeg. “Monsters se kos,” het ek gedink.

Van bitter-groengoed tot broccoli kamma-couscous-slaai

Van bitter-groengoed tot broccoli kamma-couscous-slaai

Ons fiemies is nie altyd logies nie. Ek het blomkool verslind. Selfs spinasie het van my bord verdwyn sonder aanmaning van Ma of Pa. Hoe dit ook al sy, ek het gelukkig my nonsens laat staan en uit my fiemies gegroei. Maar ek verstaan die kleintjies wat kerm. Ek onthou nog die media-storm wat losgebars het om die kop van President George Bush destyds toe hy verklaar het:  “Ek hou nie van broccoli nie. Ek hou van my kleintyd nie daarvan nie ; my ma het my dit gemaak eet. En nou is ek die President van die VSA en ek gaan NIE meer broccoli eet nie.” (Obama sou daarvoor opmaak deur te verklaar dat dit sy gunsteling groente is.)

Die geleerde mense skryf die fiemies van sommige mense vir sekere groente soos brocolli toe aan genetika; ‘n spesifieke geen  (TAS2R38) wat jou persepsie van bitter smaak beinvloed.

‘n Ander verklaring is dat ons deur evolusie gekondisioneer is om instinktief bitter plante te vermy, omdat bitterheid ‘n aanduiding kan wees dat ‘n plant toksies is, vertel ‘n navorser aan die Universiteit van Pennsylvania in die Huffington Post.  “Of, dalk is dit net sommer omdat groente te lank gekook is in water tot dit pap en onaptytlike vaal is!” Dis dan seker instinktief dat ek altyd op die uitkyk is vir opwindende maniere om groente voor te sit. Soos nou weer vir hierdie resep vir broccoli-‘couscous’, ‘n kraakvars slaai wat met gerasperde rou broccoli gemaak word.

Krakerig. Vars. Geurig van die kruie. Harmonie tussen soet, suur, bitter en sout.

Krakerig. Vars. Geurig van die kruie. Harmonie tussen soet, suur, bitter en sout.

Dit het my oog gevang omdat dit my laat dink het aan ‘n slaai wat ek maak met broccoli, druiwe en pekanneute. Wat die broccoli-couscous slaai besonders maak is dat die rou broccoli fyngerasper word vir ‘n heerlike tekstuur. Die kombinasie van handevol fyngekapte pietersielie en kruisement, tesame met rosyne en geroosterde dennepitte is ‘n wenner. Dit het selfs vinniger van die bord verdwyn as die lamstjoppies!  Die geure van die kruie veral herinner my ietwat aan die Midde-Oosterse tabbouleh. Dankie Ma en Pa dat julle deurgedruk het om ons bloot te stel aan soveel verskillende smake. Vandag pluk ek die vrugte daarvan.

Brocolli kamma-couscous met lamsrak.

       Brocolli kamma-couscous met lamsrak is ‘n perfekte smaakkombinasie.

BROCCOLI KAMMA-COUSCOUS MET KRUISEMENT EN PIETERSIELIE

Heerlik met lamsvleis.

Bedien 4

 1 groot kop broccoli, goed afgewas en gedreineer (hou heel)

40 – g rosyne, geweek in warm water tot uitgeswel (ek verdubbel dit en gebruik ook soms geweekte bosbessies/cranberries(

40 g geroosterde dennepitte (kan ook amandels, pekanneute of okkerneute gebruik) Ek gebruik meer vir ‘crunch’

40 g fyngekapte vars kruisement

40 g fyngekapte pietersielie

Sap en skil van 1 suurlemoen

125 ml olyfolie

5 – 10 ml suiker (proe om seker te maak vir die balans)

Sout en peper

Metode Rasper die broccoli se groen dele tot net op die stingel. (Jy kan dit ook in twee sarsies verwerk met  ‘n voedselverwerker – pols versigtig tot die tekstuur soos couscous lyk. Plaas in in slaaibak en gooi die rosyne, neute, kruisement en pietersielie by. In ‘n flessie, skud die suiker, suurlemoenskil, suurlemoensap en olie saam en giet oor die slaai. Geur met sout en peper.

Variasies:

  • Voeg gerasperde appel, gedroogte bosbessies en okkerneut by die broccoli-couscous en bedien met ‘n romerige joghurt- en mayo slaaisousie.
  • Breek broccoli in stingels op en voeg rooi druiwe, pekanneute en rooi uie by. Bedien met ‘n mayonnaise slaaisousie, gegeur met wit of rooi balsamiese asyn en ‘n bietjie suiker vir die soet-suur balans.
  • Geskaafde brusselse spruite met pecorino en amandel.

                                          Geskaafde brusselse spruite met pecorino en amandel. (uit Bottega)

 ‘N LEKKER IDEE MET ROU BRUSSELSE SPRUITE

 Skaaf die brusselse spruite versigtig op ‘n mandolien in dun skaafsels (hou dit aan die stingels vas). Meng dit met:

  • Hardgekookte eiers, deur ‘n sif gedruk
  • Geroosterde amandels, fyngekap
  • Gerasperde pecorino
  • Sout en peper
  • ‘n Vinaigrette van suurlemoen, lemoen, fyngekapte salotte of rooi uie, en heelwat vars gemaalde swart peper.

Laat ‘n rukkie in die yskas staan en bedien koud.

Bronne:

“Why do some people love broccoli and others hate it?” www.Huffingtonpost.com

Smashing Plates, Maria Elia. Kyle Books.

Bottega, Michael Chiarello. Chronicle Books.

Geroosterde blomkoolslaai met haselneute en goue sultanas

9 Nov

Blomkool is kool met ‘n kollege-opvoeding. Mark Twain het die spyker op die kop geslaan – ek dink blomkool het ‘n draai by ‘n afrondingskool gemaak, terwyl haar aardse, kaalvoet nefie die kopkool eerder ‘the school of life’ aandurf.

Kunsfotos plaas blomkool op ‘n pedestal

Tog, aan tafel beland blomkool – haar verhewendheid ten spyt – meer dikwels onder ‘n laag kaas-witsous,  deel van daai lekker  kosgenre wat ons as ‘kookkos’ ken.  Hoeveel van ons het al ‘n heel geroosterde tandoori blomkool met kruisement bedien of geroosterde blomkool gegeur met komyn, koljander en amandels opgedis?

Ek maak in die winter graag blomkoolsop met ‘n streep vuurwarm gesmelte botter waarin ek heel mosterdsade en rissievlokkies geflitsbraai het, maar dit was omtrent die kulinêre hoogtepunt van my en die koolkop met die blom in haar blondehare se kookeskapades.  Maar nou, vandat blomkool weer op my radar gekom het (aangevuur deur die groente-revolusie en Meatless Monday-eksperimente) kan ek nie genoeg rondspeel daarmee nie.

Die draaipunt weg van net kookkos-blomkool het destyds vir my gekom deur die Siciliaanse manier om brosgeroosterde blomkool met kappertjiesade, rosynes en tuisgemaakte broodkrummels voor te sit. Dit, deur pasta geroer en afgerond met geroosterde dennepitte is heerlik.

Die klassieke Siciliaanse pasta con le sarde kombineer blomkool met allerlei heerlikhede soos saffraan, vars sardiens en wilde vinkel. Goue sultanas, knoffel, lourierblare, rooiwyn asyn, pecorino en pietersielie dra verder by tot ‘n hemelse soet-suur kombinasie.

Dis mos blomkole. Nie pieperige kooltjies in kleuterskoene nie.

Ek soek blomkoolkoppe,  Woolies – nie size zero modelle nie

Laat ek net eers ‘n gripe uit my uitkry. Wat se oormatige petite-pieperigheid is dit deesdae met blomkool? Het jy gesien hoe klein die koppe deesdae is, of is dit maar die Woolworths-sindroom, dat net die size zero blomkoolmodelle dit tot op hul loopplank – ag, ek bedoel hul groenterak – haal. Hoekom moet groente net kleuterskoene dra deesdae?

Ek moes nou die dag drie blomkooltjies koop om ‘n slaairesep te maak wat 600g blomkool gevra het. Genade. Gee my ‘n blomkool wat sy man kan staan met sy kollege-opleiding: waarmee ek blomkool steaks kan maak met olyf-relish en tamatiesous. Daarvoor moet die blomkool in dik, groot skywe gesny word om in die pan te pan verbruin tot dit karameliseer.

Petite groente vat dit soms net te ver. Dit lyk my hoe minder kinders mense het, hoe meer vertroetel ons die groente – baba worteltjies, baba-dit en baba dat.  Goed, daar het ek die kla nou uit my uit. Kyk onder aan die skrywe vir mates en gewig van blomkool soos dit hoort.

Terug by die lekker blomkoolresep

Die slaai wat ek tans die graagste op my tafel sit is ‘n aanpassing van ‘n Midde-Oosterse slaai en ‘n Siciliaanse warm bykos.

Roxy Laker het Sondag hierdie mooi foto van my slaai geneem by ons Chicks That Chow ‘supperclub’ ete by Huiskok HQ

Boekverslaafdes wat Jerusalem van Yotam Ottolenghi en Moro deur Sam en Sam Clark in die rak het, sal dit herken aan die gebruik van speserye soos kaneel , saffraan of wonderpeper, kwistige gebruik van olyfolie asook soetigheid soos esdoringstroop, granaat of rosyntjies  om die grasie van blomkool te verhoog.

Geroosterde blomkool met haselneute en sultanas

1 koppie sultanas

Groot kop blomkool

3-4 E olyfolie vir sprinkel

Sout + peper + neutmuskaat

100 g haselneute (of amandels of dennepitte)

2 selderystingels, dun teen die skuinste gesny

Jong selderyblaartjies, gropgekap + handvol pietersielie, fyngekap

Slaaisous:

60 ml olyfolie

5 ml kaneel

5 ml komyn

30 ml sjerrieasyn

15 ml esdoringstroop (of 10 ml heuning)

Sout + peper

Verhit die oond tot 220°C. Week sultanas in bietjie water en hou eenkant. Breek  blomkoolkop in klein stukkies, besprinkel met sout, peper en olyfolie. Sprei dit uit op ‘n bakplaat, rasper vars neutmuskaat oor. Plaas op die hoogste rak in die oond, bak minstens 25 minute tot die blomkool goudbruin is en plek-plek swart raak op die punte. Haal uit en hou eenkant.

Verlaag die oondhitte na 170°C. Plaas haselneute op ’n bakplaat en rooster 10-15 minute. Haal uit, laat effe afkoel en kap die neute grof.

Maak slaaisous: Skud saam – olyfolie, kaneel,  komyn, sjerrieasyn, esdoringstroop of heuning. Geur met sout en peper. Roer die neute, slaaisous en gedreineerde sultanas  by die blomkool. Strooi  seldery, blare en pietersielie oor. Bedien  teen kamertemperatuur.

  •  Dit is lekker saam met enige vleis, van braaivleis tot braaistuk, van hoender tot volstruis of lamskouer. Dis so lekker dat jy dit sal oorweeg om die hele bak alleen op te eet.

    Die haselneute en seldery gee kraak, die blomkool ‘n romerige brosheid (dis moontlik!) en die soetsuur slaaisous en sultanas maak dit amper Siciliaans.              Foto Roxy Laker.

Hoeveel koppies in ‘n blomkoolkop? (opgeskote blomkole, nie kleuters nie)

1 kopkool = 4 koppies

Medium kopkool = 900g

Groot blomkool = 1, 3 kg

450g voorbereide blomkool (dus buiteblare en stronk verwyder) lewer sowat 1 ½ koppies blomtakkies (florets)
280g bevrore blomkool = 2 koppies

Kyk mooi na jou blomkool

Stoor so: verkieslik moet blomkool ongewas en onbedek of in n geperforeerde plastieksak in die yskas gehou word – vir hoogstens 5 dae.  Dit vries baie goed, breek dit in 2.5 cm stukkies, was goed en blansjeer vir 3 minute. Plons in yswater, dreineer, plaas in sakkies en vries.

Gesondheid in die rondheid

Het jy geweet: Blomkool is ‘n goeie bron vir Vitamien C, foliensuur en vesel. om die meeste voedingswaarde te behou, is dit die beste om blomkool in die mikrogolf gaar te maak. Stoom is ook ‘n goeie metode, terwyl kook in water die minste vit. C behou volgens ‘n studie deur die Cornell Universiteit.

  • Stoom blomkool vir sowat 12 – 15 minutes
  • Mikrogolf – 8-10 minute.
  • Hou blomkool wit deur 5 ml suurlemoensap in die water te gooi.

(Bron: http://www.cooksinfo.com)

%d bloggers like this: