Kos is ryk aan rituele, seremonie en bygelowe om die rug te keer op die jaar wat verby is en hoopvol vorentoe te kyk. En wie kan nie doen met ‘n bietjie ekstra geluk vir die Nuwe Jaar nie, soos ‘n lemoenkoek met ‘n kroon van toffielemoen-‘muntstukke’ nie.
Net om ‘n paar te noem wat jy dalk vanjaar wil beproef:
Die Nuwejaarsgebruik van twaalf druiwe is veral in Spaans-sprekende lande gewild, ook in Portugal en Kuba. Elke druif verteenwoordig ‘n klokslag, maar ook ‘n maand van die jaar. Soos elke druiwekorrel proe, so sal jou maand wees. En jy hou duim vas daar is nie te veel suur korrels tussen die klomp nie. Jy kan ook, soos in Portugal gemaak word, ‘n wens maak saam met elke korrel wat jy eet.
Die eet van groenblaar-groente, soos kool, spinasie en boerkool is ook gewild omdat dit simbolies is van papiergeld: groen note – en hoe meer groen blaargroente jy eet op Nuwejaar, hoe meer note sal jy in die jaar vorentoe op jou pad kry!
Die keuse van vleis is ook belangrik oor Nuwe Jaar – so word daar tradisioneel onder bygelowiges weggebly van hoender en kalkoen op die dag, want pluimvee skrop na agter as hulle pik-pik kos soek. Varkvleis is weer baie gewild omdat ‘n vark vorentoe ploeg as hy skrop vir kos en nooit agtertoe kyk nie. Die bygeloof is ook dat vetter vleis, soos met varkvleis, simbolies is van ‘n jaar van oorvloed. Bly egter weg van kreef of krap, wat agtertoe loop – op Nuwejaar wil jy net vorentoe kyk.
Ronde vrugte wat muntstukke verteenwoordig beloof ook goeie geluk, veral as dit ‘n goue kleur het soos lemoene of mandarin. Granaatpitte word ook dikwels in beursies rondgedra dwarsdeur die jaar om goeie geluk te bring.
Wat soetgoed aanbetref is die Grieke se Nuwejaars-tradisie wat met vasilopita-brood verband hou iets spesiaals. Die soetbrood word gebak met ‘n muntstuk wat weggesteek is. Teen middernag word die ligte afgeskakel (of kerse doodgeblaas) en die hoof van die huishouding sny die koek en deel dit uit: die familielid wat die munt in die koek kry kan dan verseker wees van goeie geluk reg deur die komende jaar. In Frankryk is die Kings Cake baie gewild – en het ‘n muntstuk of ‘n klein keramiekvoorwerp in. Ronde gebak soos oliebolle wat in ringvorm is, simboliseer dat die ou jaar volsirkel gekom het.
Hoe sal my Nuwejaarsete lyk?
Varknek bedien op groen lensies
Druiwe, blomkool en cheddarslaai
Spek en spinasieslaai
Gelukbringer-klapperkoek met ‘n muntkroon van toffielemoene
DRUIWE, BLOMKOOL EN CHEDDARSLAAI VIR NUWEJAARSGELUK
Sorg dat jy 12 druiwe vir elke gas in die slaai het – sodat hulle kan voorspel hoe soet of suur elke maand vorentoe gaan wees – ‘n bietjie pret op die Nuwe Jaar.
1 groot kop blomkool (900 g) of twee kleineres, in happie-grootte blomkoppies gebreek
90 ml olie
30 ml sjerrieasyn
5 ml Dijonmosterd
½ t heuning
30 g rosyne of sultanas
40 g neute, verkieslik haselneute, gerooster en grofgekap
100g pitlose swart druiwe, halveer
80 g beleë cheddar, grof gekrummel of gerasper
20 g pietersielie grofgekap
Sout en peper
- Verhit die oond tot 220°C
- Meng die blomkool met die helfte van die olie, sout na smaak en swart peper. Plaas op bakplaat en rooster 20-25 minute, roer dit so twee keer gedurende die roostertyd deurmekaar tot goudbruin en haal dan uit om af te koel.
- Om die slaaisous te maak: klits die oorblywende olie, asyn, mosterd, heuning en stewige knippie sout. Voeg die rosyne of sultanas by die slaaisous en laat minstens 10 minute mariner.
- Net voor opdiening, plaas die blomkool in ‘n groot mengbak saam met die res van die bestanddele, giet die rosyn-en slaaisous oor, roer deurmekaar en bedien op ‘n groot bord.
*Uit Plenty More, Yotam Ottolenghi.

Gelukbringer-lemoen is elke dag van die jaar ‘n heerlike koek om voor te sit. Dis glutenvry en bly lekker klam.
GELUKBRINGER-KLAPPERKOEK MET TOFFIELEMOENE (glutenvry)
Hierdie glutenvrye koek word met amandelmeel, gougaar mieliemeel en droë klapper gemaak. Die x-faktor is die gekookte, verpulte lemoen wat by die beslag geroer word – en die goue kroon van toffielemoenringe wat soos blink goue munte bo-op die koek lê.
Vir koek:
2 lemoene
1 k (100 g) amandelmeel
½ k (90g) gougaar-mieliemeel of kitspolenta
½ k (45g) fyn klapper (desiccated coconut)
½ t (2,5 ml) bakpoeier
3 eiers, by kamertemperatuur
¾ k (165g) strooisuiker
1 ½ t vanielje-ekstrak
Vir toffie-lemoen
3 lemoene, geskil, in dun ringe gesny
1 k (220g) strooisuiker
Maak koek:
- Plaas lemoene in ‘n medium kastrol, bedek met water en laat kook minstens 45 minute tot baie sag. Dreineer en hou eenkant.
- Voorverhit oond tot 160°C. Voer ‘n losboompan (20 cm deursnit) se bodem en sye uit met bakpapier.
- Sny die gekookte lemoene in kwarte, haal die stam en alle pitte uit en verpulp in ‘n versapper. Hou puree eenkant.
- Voeg die amandelmeel, polenta of mieliemeel, klapper en bakpoeier in ‘n bak en roer om dit goed te meng.
- Klop die eiers, suiker en vanielje met ‘n elektriese klits tot baie dik en ligkleurig, sowat 4 minute. As jy die klitser oplig sal die mengsel linte vorm. Vou die lemoenpuree by die eiermengsel in tot net deurgemeng en vou dan die meelmengsel by tot alles goed deurgemeng is.
- Gooi die mengsel in die voorbereide pan en stryk die bokant glad met die agterkant van ‘n lepel.
- Bak 40-45 minute tot die koek ferm voel en ‘n toetspen skoon uitkom. Koel die koek 5 minute in die pan af, verwyder die ring en laat die koek op die basis heeltemal afkoel.
Maak toffielemoene:
- Voer ‘n groot bakpan of skinkbord met bakpapier uit. Rangskik die lemoenringe in ‘n enkellaag op die skinkbord.
- Plaas die suiker saam met 1/3 koppie (80 ml) water in ‘n kastrolletjie oor medium hitte, en roer – sonder dat dit kook- tot die suiker opgelos het. Bring tot kookpunt, SONDER OM TE ROER, en kook tot goudbruin (7 tot 10 min). Terwyl dit kook borsel die binnekante van die kastrol met ‘n nat kwassie om enige suikerkristalletjies wat mag vorm, af te was.
- Haal van die hitte af en drup die helfte van die toffie mooi eweredig oor die lemoenskywe. Plaas lemoene opsy om af te koel.
- Voeg ¼ k (60 ml) water by die oorblywende toffie en roer om ‘n dik stroop te vorm. Giet die warm toffiestroop oor die koek en laat afkoel.
Bedien die koek met die toffielemoene bo-op gerangskik en room of mascarpone in ‘n aparte bakkie.
*Delicious Maak dit met manderyn-lemoene.
Leave a Reply