Blomkool is kool met ‘n kollege-opvoeding. Mark Twain het die spyker op die kop geslaan – ek dink blomkool het ‘n draai by ‘n afrondingskool gemaak, terwyl haar aardse, kaalvoet nefie die kopkool eerder ‘the school of life’ aandurf.
Tog, aan tafel beland blomkool – haar verhewendheid ten spyt – meer dikwels onder ‘n laag kaas-witsous, deel van daai lekker kosgenre wat ons as ‘kookkos’ ken. Hoeveel van ons het al ‘n heel geroosterde tandoori blomkool met kruisement bedien of geroosterde blomkool gegeur met komyn, koljander en amandels opgedis?
Ek maak in die winter graag blomkoolsop met ‘n streep vuurwarm gesmelte botter waarin ek heel mosterdsade en rissievlokkies geflitsbraai het, maar dit was omtrent die kulinêre hoogtepunt van my en die koolkop met die blom in haar blondehare se kookeskapades. Maar nou, vandat blomkool weer op my radar gekom het (aangevuur deur die groente-revolusie en Meatless Monday-eksperimente) kan ek nie genoeg rondspeel daarmee nie.
Die draaipunt weg van net kookkos-blomkool het destyds vir my gekom deur die Siciliaanse manier om brosgeroosterde blomkool met kappertjiesade, rosynes en tuisgemaakte broodkrummels voor te sit. Dit, deur pasta geroer en afgerond met geroosterde dennepitte is heerlik.
Die klassieke Siciliaanse pasta con le sarde kombineer blomkool met allerlei heerlikhede soos saffraan, vars sardiens en wilde vinkel. Goue sultanas, knoffel, lourierblare, rooiwyn asyn, pecorino en pietersielie dra verder by tot ‘n hemelse soet-suur kombinasie.
Ek soek blomkoolkoppe, Woolies – nie size zero modelle nie
Laat ek net eers ‘n gripe uit my uitkry. Wat se oormatige petite-pieperigheid is dit deesdae met blomkool? Het jy gesien hoe klein die koppe deesdae is, of is dit maar die Woolworths-sindroom, dat net die size zero blomkoolmodelle dit tot op hul loopplank – ag, ek bedoel hul groenterak – haal. Hoekom moet groente net kleuterskoene dra deesdae?
Ek moes nou die dag drie blomkooltjies koop om ‘n slaairesep te maak wat 600g blomkool gevra het. Genade. Gee my ‘n blomkool wat sy man kan staan met sy kollege-opleiding: waarmee ek blomkool steaks kan maak met olyf-relish en tamatiesous. Daarvoor moet die blomkool in dik, groot skywe gesny word om in die pan te pan verbruin tot dit karameliseer.
Petite groente vat dit soms net te ver. Dit lyk my hoe minder kinders mense het, hoe meer vertroetel ons die groente – baba worteltjies, baba-dit en baba dat. Goed, daar het ek die kla nou uit my uit. Kyk onder aan die skrywe vir mates en gewig van blomkool soos dit hoort.
Terug by die lekker blomkoolresep
Die slaai wat ek tans die graagste op my tafel sit is ‘n aanpassing van ‘n Midde-Oosterse slaai en ‘n Siciliaanse warm bykos.

Roxy Laker het Sondag hierdie mooi foto van my slaai geneem by ons Chicks That Chow ‘supperclub’ ete by Huiskok HQ
Boekverslaafdes wat Jerusalem van Yotam Ottolenghi en Moro deur Sam en Sam Clark in die rak het, sal dit herken aan die gebruik van speserye soos kaneel , saffraan of wonderpeper, kwistige gebruik van olyfolie asook soetigheid soos esdoringstroop, granaat of rosyntjies om die grasie van blomkool te verhoog.
Geroosterde blomkool met haselneute en sultanas
1 koppie sultanas
Groot kop blomkool
3-4 E olyfolie vir sprinkel
Sout + peper + neutmuskaat
100 g haselneute (of amandels of dennepitte)
2 selderystingels, dun teen die skuinste gesny
Jong selderyblaartjies, gropgekap + handvol pietersielie, fyngekap
Slaaisous:
60 ml olyfolie
5 ml kaneel
5 ml komyn
30 ml sjerrieasyn
15 ml esdoringstroop (of 10 ml heuning)
Sout + peper
Verhit die oond tot 220°C. Week sultanas in bietjie water en hou eenkant. Breek blomkoolkop in klein stukkies, besprinkel met sout, peper en olyfolie. Sprei dit uit op ‘n bakplaat, rasper vars neutmuskaat oor. Plaas op die hoogste rak in die oond, bak minstens 25 minute tot die blomkool goudbruin is en plek-plek swart raak op die punte. Haal uit en hou eenkant.
Verlaag die oondhitte na 170°C. Plaas haselneute op ’n bakplaat en rooster 10-15 minute. Haal uit, laat effe afkoel en kap die neute grof.
Maak slaaisous: Skud saam – olyfolie, kaneel, komyn, sjerrieasyn, esdoringstroop of heuning. Geur met sout en peper. Roer die neute, slaaisous en gedreineerde sultanas by die blomkool. Strooi seldery, blare en pietersielie oor. Bedien teen kamertemperatuur.
- Dit is lekker saam met enige vleis, van braaivleis tot braaistuk, van hoender tot volstruis of lamskouer. Dis so lekker dat jy dit sal oorweeg om die hele bak alleen op te eet.
Hoeveel koppies in ‘n blomkoolkop? (opgeskote blomkole, nie kleuters nie)
1 kopkool = 4 koppies
Medium kopkool = 900g
Groot blomkool = 1, 3 kg
450g voorbereide blomkool (dus buiteblare en stronk verwyder) lewer sowat 1 ½ koppies blomtakkies (florets)
280g bevrore blomkool = 2 koppies
Kyk mooi na jou blomkool
Stoor so: verkieslik moet blomkool ongewas en onbedek of in n geperforeerde plastieksak in die yskas gehou word – vir hoogstens 5 dae. Dit vries baie goed, breek dit in 2.5 cm stukkies, was goed en blansjeer vir 3 minute. Plons in yswater, dreineer, plaas in sakkies en vries.
Gesondheid in die rondheid
Het jy geweet: Blomkool is ‘n goeie bron vir Vitamien C, foliensuur en vesel. om die meeste voedingswaarde te behou, is dit die beste om blomkool in die mikrogolf gaar te maak. Stoom is ook ‘n goeie metode, terwyl kook in water die minste vit. C behou volgens ‘n studie deur die Cornell Universiteit.
- Stoom blomkool vir sowat 12 – 15 minutes
- Mikrogolf – 8-10 minute.
- Hou blomkool wit deur 5 ml suurlemoensap in die water te gooi.
(Bron: http://www.cooksinfo.com)
Dit was ‘n voortreflikke slaai. Dankie ook vir al die lekker ekstra inligting oor blomkool!
Amper so lekker soos jou chorizo en chickpea slaai!
Ek het hierdie slaai geeët en dit was HEERLIK! sal dit beslis baie keer die vakansie maak vir ons kuiers saam met pa en ma op die Hermanus stoep!
Jy kan dit ook, soos Ottolenghi maak, eerder granaatpitte gebruik as die sultanas. Dit lyk natuurlik baie mooi, maar ek hou van die sultanas (of rosyne) omdat dit meer Siciliaans is. Ek lus nou jou Sirloin met daai hierdie groen sous van Sondag.