Tag Archives: gebak

Dimpelbrood

4 Nov

Brood bly  ‘n wonderwerk –  gebou op graan, gis, water en tyd.

Of dit nou die plaasbrode en soetsuurdeegbrode uit ons eie koskultuur is, of brode soos baguette, focaccia of ciabatta waarvoor ons lief geraak het, is daar ‘n geestesband met brood wat dieper gaan as net om ons honger te stil.

foccacia blokkie uit

Vars gebakte brood bly steeds sekerlik een van die maklikste, en mees ekonomiese maniere om ‘n aardse genoegdoening aan die dag te gee. Dis jammer dat die idee van deeg knie mense afskrik van hul eie brood bak. Daarom hierdie heerlike broodresep vir dimpelbrood wat nie geknie word nie.

Dimpelbrood is natuurlik nie die amptelike naam vir foccaccia, die platbrood met sy kenmerkende holtetjies nie.  Die dimpels wat met die vingerpunte in die deeg gedruk word, lok my uit om dit te vul met geurmiddels, van groen olywe tot okkerneute. Terloops, focaccia se naam is afgelei van die Latynse word ‘focus’ – wat verwys na die vuurhert.  Die dimpels is ook nie net vir die mooi nie; bakkers gebruik hul vingerpunte om die rysborrels wat tydens die gisting ontstaan te laat ontsnap. Die lekkerte van focaccia of te wel dimpelbrood is dat dit olyfolie so goed absorbeer.

 

foccacia vol

 

DIMPELBROOD

Ek het ‘n lekker broodresep gesoek vir die Sondagbraai en toe op hierdie platbrood uit Sense of Taste van sjef Peter Ayub besluit. Soos altyd kon ek nie die versoeking weerstaan om die dimpels te vul met ‘n pikante geurmiddel nie, in hierdie geval ‘n tuisgemaakte spesery- en kruiemengsel.  Dis nie ‘n brood wat te veel ander bestanddele op die bo-laag nodig het nie; tradisioneel nie meer as 1 krui en 1 ander bestanddeel nie.  Ek het wel vir die lekkerte parmesan oorgerasper ‘n paar minute voor dit uit die oond uit kom, en dit voorgesit met vars basielkruid.

Bestanddele

375 g koekmeel

2.5 ml fyn sout

500 ml warm water

10 g ( ½ koevertjie) kitsgis

½ t (2.5 ml) strooisuiker

350 g witbroodmeel

2 T (30 ml) ekstra suiwer olyfolie

30 ml gemengde *speserye soos braaispeserye, dhukka of za’atar

roosmaryn-blaartjies

1 ½ t (7,5 ml) Maldon sout

Metode

Sif die koekmeel en sout in mengbak en voeg warm water, gis en suiker by. Meng tot ‘n slap spons en laat 30 minute rus.

Voeg die broodmeel by en werk deur tot ‘n gladde, sagte deeg vorm. Plaas die deeg in ‘n geoliede bak en bestryk met van die olyfolie. Laat rys vir 1 uur of tot dit verdubbel in volume.

Knie die deeg af. Bestrooi ‘n diep, reghoekige pan met ‘n speserymengsel soos dukkah of selfs braaispeserye. Druk die deeg met jou kneukels in die pan en maak dimpels met jou vingerpunte.  (Ek smeer ook hier ‘n bietjie olyfolie olie oor om te keer dat die deeg uitdroog). Strooi braaispeserye in die dimpels en plaas twee roosmarynblaartjies in elke dimpel.

Laat weer rys tot dubbel die volume, sowat ‘n uur. Hou jou oog op die deeg, want dit kan gouer reg wees.

Bak in ‘n voorverhitte oond teen 200°C vir 15-20 minute tot goudbruin. Haal uit die oond, laat effe afkoel, sprinkel olyfolie oor die brood en strooi growwe sout oor.

Sjef wenk: Vars kruie soos roosmaryn kan ook by die meel ingemeng word, maar moenie ‘n swaar hand gebruik nie – die kruie moenie oorheers nie.

foccacia 3

Maak jou eie spesery- dimpel en doopmengsels

Maak jou eie mengsels om in die dimpels en onder in die pan te gooi, en selfs ook om die brood in te druk saam met olyfolie:

Midde-Oosterde kruie-mengsel (ook genoem za’atar)

20 ml sesamsaad

60 ml fyngekapte vars oreganum

20 ml gedroogte marjolein

20 ml fyn sumac (of vervang met 10 ml paprika en skil van 1 suurlemoen)

5 ml sout

5 ml peper

20 ml fyn komyn

Rooster die sesamsaad in ‘n droë pan vir 1-2 minute. Plaas al die bestanddele in ‘n versapper of voedselverwerker tot fyn. Plaas in die yskas vir tot ‘n week.

Dukkah-doopspesery

60 ml haselneute

30 ml sesamsaad

15 ml koljandersaad

15 ml komynsaad

15 ml vinkelsade

10 ml fyn rissievlokkies

10 ml droë kruisement

5 – 10 ml sout

Droogrooster die haselneute in ‘n dikboompan tot jy die neuterigheid kan ruik. Vryf die skilletjies af en stamp die neute fyn in ‘n stamper en vysel. Droogrooster die sesamsaad, koljander, komyn, vinkelsaad en rissievlokkies tot die geure vrygestel word en voeg by die haselneute. Maak liggies fyn in stamper en vysel tot goed gemeng. Hou een deel growwer en ‘n ander deel baie fyn.

 Ander smaak-kombinasies vir bo-laag (onthou die tradisionele riglyn van  1 krui + 1 bestanddeel as bo-laag)

  •  Druiwe, vars roosmaryn en dennepitte
  • Kersietamaties en vars basielkruid
  • Groen olywe en tiemie
  • Sondroog tamaties, parmesaan en pesto
  • Oondgeroosterde knoffel en pietersielie
  • Okkerneut, bloukaas of  peer
  • Salie en spek

Erkenning: Die resep vir die brooddeeg is aangepas uit die nuwe kookboek Sense of Taste van Peter Ayub wat pas op die rak verskyn het. Dit word deur Human & Rousseau uitgegee en is propvol idees wat Peter in sy 22 jaar as hoofsjef en spysenier vir die sterre opgedoen het. Ek sien uit daarna om sy resepte as inspirasie in te span.

 

Kolwyntjies, kultuurkoekies en cupcakes

21 May

Of dit nou die kolwyntjie van die kinderpartytjie is of die grootmens-verleiding van die moderne couture cupcake,  hierdie kleinkoekies met hul gekartelde kraag is een van die bakwêreld se grootste suksesverhale. Dit was vir my so ‘n heerlike ontdekking dat kolwyntjies al so ‘n lang pad saam met ons kom – en iets is waarop ons baie trots kan wees. En hoekom van ‘n cupcake praat as ons die kolwyntjie se familie kan uitlê tot veel verder terug as ons oumagrootjies.

Brandewyn en coke kolwyntjies 'n kultuurkoekie met 'n Kaapse knertsie. Foto: Ian du Toit.

Brandewyn en coke kolwyntjies ‘n kultuurkoekie met ‘n Kaapse knertsie. Foto: Ian du Toit.

Die ster van kinderpartytjies het ontpop in die soet ikoon van ons tyd, ’n onstuitbare simbool van popkultuur. Só haute het kolwyntjies geword dat daar selfs gedebatteer word of die naam kolwyntjie nie dalk net te prakties en ouderwets is vir iets so sexy nie.

Van wanneer af het die soet kolwyntjie met sy bont kleurstrooisels sy stout sy begin wys en op spykerhakke begin rondtrippel? Die cupcake-manie het in die laat-1990’s begin toe Carrie en Miranda van Sex and the City in een toneel aan cupcakes voor die Magnolia Bakkery in New York gesmul het. Die versiersuiker was ‘n duim dik en in ‘n vuurwarm cerise-pienk.  Net daar trek die onskuldige Shirley Temple-kolwyntjie die stoute skoene aan en herontwaak as die Marilyn Monroe van kleingebak.

Oornag word kinderjare se bont-versierde koekies in hul papiernessies die simbool van grootmens-bederf en ontketen ‘n koekie-ontploffing wat van Manhattan tot Moorreesburg, van Dubai tot Durbanville ‘n stewige sewe op suikertande se Richterskaal registreer.  Meer as 700 miljoen cupcakes word jaarliks in die VSA verkoop, met geen aanduiding dat die koekies se heerskappy aan die taan is nie.

Weird en wonderlik:

Daar’s lae GI-nommertjies, sjokolade- en koffie kolwyntjies vir vegans, gluten-vrye jogurt skeppings en ‘way-out’ smaakkombinasies vir die mees avontuurlike eters, soos:

Drop en peppermint; marmite en karamel; donkersjokolade en gerookte spek; witwortel en esdoringstroop; bier en sauerkraut fudge; appel-spesery cupcakes met okkerneute en bloukaas; avokado en poppiesaad; groen tee en aarbei en selfs sjokolade-kerriekolwyntjies. En hemel behoede ons – tamatie-ketchup cupcakes; ‘meatloaf’-cupcakes met kapokaartappel-versiersel; cupcakes met Mountain Dew en Doritos…

Strooi neute oor, versuiker, gesout en gerooster. Foto: Ian du Toit

Strooi neute oor, versuiker, gesout en gerooster. Foto: Ian du Toit

Wat is vanjaar die ‘nuwe cupcake’?

Kosprofete voorspel  jaar na jaar dat ‘n nuwe gier dit gaan onttroon. ‘n Trend wat met mening in die kolwyntjie se kartelkraag probeer blaas het is die macaroon, modeprinses wat uithang in Parys se  sjiek koek-boetieks.   Doughnuts, whoopie-pies, petit fours en bruintjies het almal vergeeefs probeer om die  kolwyntjie se ster te laat verskiet.  Hoekom kolwyntjies op hul troon sal bly?

  • Kolwyntjies bied eindelose moontlikhede vir self-uitdrukking.  Ek wat nie kan hekel, brei of borduur nie, of enigsins kranig met handvlyt-projekte is nie, kan ‘n kolwyntjie bak. Dis maklik. Hulle is te ougat-vir-woorde en daar is voortdurend is nuuts op die mark om ons belangstelling te behou.
  • Kolwyntjies se porsie-beheer is ingebou en die klein vergrype miniatuur genoeg om die dieet-stemmetjie te flous. Anders as  ‘binge’ op ‘n hele koek, kan jy met ‘n kolwyntjie die sosiale taboo oorbrug en ‘n hele een verorber; selfs twee.
  • En in gedempte ekonomiese tye kan jy ook die beursie flous, want dis steeds ‘n bekostigbare luukse. Veral as jy dit self maak kan jy iets pragtig optower op ‘n beperkte begroting.
  • Kolwyntjies is soos verkleurmannetjies – dit kan of baie deftig en dekadent wees of iets onskuldig en kinderlik. Dit kan so bekend wees soos suurlemoen of vanielje, of heeltemal over the top soos spek-karamel. Dit vra niks meer as kleursprinkels nie, maar tof netso graag op met blinkers, goudstof, eetbare pêrels en strikke van versiersuiker.

a p blou bord sonder oranje

BRANDEWYN-EN-COKE SJOKOLADE-KOLWYNTJIES MET VERSUIKERDE PEKANNEUTE

Ek het grootgeword met kolwyntjies by kinderpartytjies, maar wou iets maak wat die grootmens-partyskoene aantrek. Toe ek lees dat ‘caketails’ of te wel cocktail-gegeurde cupcakes, soos klappergegeurde Pina Colada en Aarbei Daiquiri  nou so trendy is, het ons eie gebruike as inspirasie gedien. Brandewyn, saam met die cola gee aan die diep, donker, klam kolwyntjie ‘n knertsie ekstra Kaapse kultuur. As jy dit wel vir kinders wil maak, of vir ‘n persoon wat nie alkohol gebruik nie, vervang die brandewyn in die ganache en neutmengsel met sterk moerkoffie.

Maak 12-14 medium kolwyntjies

 Kolwyntjies

250 mℓ Coca-Cola (nie Tab of enige lae-suiker variasie nie)

125 mℓ onversoete kakao  (gesif na afgemeet)

60 mℓ ongesoute botter, in blokkies

160 mℓ witsuiker

62,6 mℓ bruinsuiker, goed vasgedruk in die maatbeker

250 mℓ koekmeel

3 mℓ koeksoda (bicarbonate of soda)

2,5 mℓ sout

1 eier, liggies geklits

Metode:

  1. Voorverhit oond na 180°C. Plaas kolwyntjiepapier-vorms in kolwyntjiepan.
  2. In ‘n kleinerige kastrol verhit Cola, gesifte kakao en botter oor matige hitte tot die botter gesmelt het. Voeg bruinsuiker en witsuiker by en klop tot suiker gesmelt het. Verwyder kastrol van die plaat en laat afkoel.
  3. In ‘n mengbak, sif meel, koeksoda en sout saam en meng deur met houtlepel. Voeg liggies geklitste eier by die afgekoelde kakaomengsel tot goed gemeng en roer dan meelmengsel met ‘n ligte hand by kakaomengsel in.
  4. Gebruik ‘n ¼ koppie-maatbekertjie om beslag in kolwyntjie-papiervormpies te gooi.
  5. Bak 25 minute. Om te kyk of dit gaar is, druk een liggies in die middel – as dit terugspring is dit gaar. Laat afkoel – moenie eers dink daaraan om die ganache oor te skep voor die kolwyntjies heeltemal afgekoel het nie.

 Brandewyn-ganache

150 g donkersjokolade, fyngekap

½ koppie (125 ml) room

12,5 ml brandewyn (of sterk moerkoffie as jy nie alkohol gebruik nie)

Maak die ganache só:

  1. Plaas die sjokolade en room in ‘n klein kastrol oor lae hitte en roer aanhoudend tot gesmelt en glad is. Voeg die brandewyn by en meng goed. Laat afkoel tot kamertemperatuur.
  2. Smeer oor die AFGEKOELDE kolwyntjies en plaas die versuikerde soutneute bo-op.

Soutige versuikerde neute

100 g pekanneute of okkerneute

70 g witsuiker

5 ml soutvlokkies soos Maldon-seesout

10 ml brandewyn

Maak die versuikerde neute so:

  1. Meng die neute, suiker, sout en brandewyn en strooi dit uit op meng en uit te strooi op ‘n bakplaat met kleefvrye bakpapier uitgevoer. Bak vir 15 minute of tot goudbruin by 180°C.
  2. Laat afkoel en kap die neute – nie te fyn nie.
    Kokkedoor kolwyntjies - Hetta van Deventer-Terblanche.

    Kokkedoor kolwyntjies – Hetta van Deventer-Terblanche.

     

Kolwyntjies is ons eie kultuurkoekie – ‘n kykie terug in die verlede:

Hetta van Deventer-Terblanche, Kokkedoor-beoordelaar het die geskiedenis van die kolwyntjie nagegaan en wys uit dat dit deel van ons Hollandse koserfenis is. “Die woord is ‘n vervorming van kolombjintje, wat al vir honderde jare in die Lae Lande gebak is. Dit is reeds in 1740 opgeteken in Gerrit van den Brenk se resepteboek Zaamenspraaken tusschen een Mevrouw en Banketbakker. Die teorie bestaan ook dat ‘n suikerbakker  dit al in 1677 aan die hof van die stadhouer gebak het.”

Hetta vertel ook dat die koekies deur die jare so gewild gebly het in Holland dat ‘n kolombijntjieklub vroeg uit die 20ste eeu in die amptelike dokumente van die Hollandse banketbakkersvereniging aangeteken is.

Hoekom dan die naam cupcake? Die Amerikaners steek graag hul kleim op die cupcake af. Hulle baseer dit op ‘n cupcake-resep wat in 1796 in American Cookery gepubliseer is. Die teorie steun daarop dat alles vir die tipiese sponskoek-resep in ‘n koppie maat afgemeet is en dan in klein koppies gebak is. En nog is die storie van kolwyntjies en cupcakes nie klaar vertel of al die raaisels opgelos nie.

Vir Hetta se heerlike vertelling oor die storie van kolwyntjies, gaan lees gerus meer op haar lekkerlees-blog http://www.kossestorie.co.za/stories/geskiedenis/kolwyntjies-waar-pas-die-stukkies-van-die-legkaart/

Die donker kant

Psigo-analiste het ‘n eiertjie van ‘n ander geur te lê oor cupcakes se ‘aanbidding’. “Mense smag daarna omdat hulle eintlik smag na ‘n drukkie,” reken een. ‘n Ander reken dat die cupcake-manie net nog ‘n manier is waarop die moderne samelewing uitdrukking gee aan hul selfbeheptheid. ‘The favourite greedy treat of the me-generation’ het The Guardian dit genoem in ‘n artikel ‘The rise of the cupcake’.

Paul Hokemeyer, ‘n psigoterapeut wat in The Washington Post se artikel oor die sielkundige agter cupcakes aangehaal is, hap venynig na die cupcake-beheptheid wat veral deur die internet versprei word:

“Cupcakes represent the mythical pool into which Narcissus fell and drowned. Through cupcakes, seemingly innocent little ‘treats,’ we can project fantasies of who and what we desire to be. Instead of connecting us to others, however, cupcakes keep us separate and add to our sense of isolation. In addition, cupcakes evidence the narcissism born of the Internet by feeding us in shallow and un-nutritious ways. Similar to the way we cruise the Internet looking for bite-size and delicious bits of information, cupcakes enable us to cruise the sugary world of self-indulgence.”

Daarom dus – my pa se goeie raad: ‘hou matigheid voor oë, en alles wat ‘n té bykry, eindig altyd met maagpyn.”

Op my boekrak:

  1. Martha Stewart’s Cupcakes.
  2. The Hummingbird Bakery Cookbook deur Tarel Malouf, geskoei op die sukses van Hummingbird Bakeries in London wat 80 000 kolwyntjies per maand verkoop.
  3. Cupcake Heaven met soveel sondige kolwyntjies dat die boek na my mening ‘n ouderdomsbeperking regverdig.

Bronne:

  1. Ten out of Control Cupcake Flavours; Nikki Vivian, Honest Cooking.com
  2. ‘Whiskey-spiced sweets,’ Donna Hay, Junie-Julie 2014
  3. SprinkleBakes.com
  4. The Psychology of Cupcakes, Andrea Adleman, The Washington Post, 7 Februarie, 2012
  5. The rise of the cupcake, Zoe Williams, The Guardien, 8 Januarie 2009

 

Peerkoek met Pinotage stroop en kersiekonfyt

2 Aug

Die  Peer. Die filosoof se vrug, die middelboom van die antieke Grieke se vrugteboorde. Heilig vir Afrodite, die gevalle aristokraat van La Varenne, die arm familielid van die appel.

Gesny en geskep. (Foto Ian).

Gesny en geskep. (Foto Ian).

Om te weet hoe peerboomhout ruik is om die parfuum van goue dou te kan verbeel. Om die eerste bloeisels aan die tak te sien is om die belofte van lente in die lug te snuif.

Om pere te ruik is om te verbeel hoe goue dou ruik (Foto: Errieda)

Om pere te ruik is om te verbeel hoe goue dou ruik (Foto: Errieda)

Pere is ‘n simbool van ‘n geseënde lang huwelik, hul knoetsige stamme staan vir ‘n lang lewe. Daarom het die Duitsers glo ‘n peerboom geplant as ‘n dogtertjie gebore is om haar vrugbaar en sterk te maak; haar huwelik en haar lewe lank te laat hou. Dis ook wys om by die Chinese kers op te steek wat glo dat minnaars nie saam aan dieselfde peer moet eet nie, want dit bring skeiding.

Minnaars moenie saam aan 'n peer eet nie: dit bring skeidng glo die Chinese. Foto: Ian

Minnaars moenie saam aan ‘n peer eet nie: dit bring skeiding glo die Chinese. Foto: Ian

 Peergebak uit die boek uit

Pere is een van my gunsteling vrugte vir nageregte en koek, soos duidelik uit my vorige blog-inskrywings te lese is: pere in die oond gebak met esdoringstroop, so ook die  formidabele peerkoek met die stingeltjies uit Yvette van Boven se Home Made Winter.

Ek het verder gesnuffel en ‘n resep uit Diana Henry van Noord-Ierland se nuutste book Food from Plenty gekry vir ‘n peerkoek duisend. Ek het dit Suid-Afrikaans gemaak deur pinotage vir die stroop te gebruik en heel kersiekonfyt uit ‘n vriendin se spens te bedel.

Pere in Pinotage; kersies uit die spens, amandel- en vanieljegeure: wat is NIE lekker aan hierdie koek nie! (Foto Errieda)

Pere in Pinotage; kersies uit die spens, amandel- en vanieljegeure: wat is NIE lekker aan hierdie koek nie! (Foto Errieda)

PEERKOEK MET PINOTAGESTROOP EN KERSIEKONFYT

Stroop:

350ml rooiwyn (ek gebruik Diemersdal se Pinotage)

200g strooisuiker

2 brëe stroke suurlemoenskil en sap van ½ suurlemoen

6 pere, geskil, halveer en klokhuise verwyder

 Koek:

200g botter

200g geelsuiker

75g fyngemaalde amandels

7,5 ml bakpoeier

300g koekmeel, gesif

4 eggs, liggies geklits

10 ml vanielje geursel (ek gebruik die ware Jakob)

125ml karringmelk

Versiering: 1 flessie kersiekonfyt

 Metode

 Begin om die pere in die rooiwyn sag te kook: Gebruik ‘n kastrol wat groot genoeg is dat die pere in ‘n enkellaag daarin kan pas. Plaas die wyn, suiker, suurlemoenskil en sap daarin en bring stadig tot kookpunt en roer om die suiker op te los. Draai die hitte laer en sit die pere in (mooi in ‘n enkellaag).

Prut die pere saggies, draai na 10 minute om en prut verder tot sag (altesaam sowat 20 minute).

Wenk: die pere kan oornag in die stroop om die kleur van die pere te verdiep.

 Maak nou die koek:

Voorverhit die oond tot 170°C. Smeer ‘n losboompan (23 cm) baie goed met botter.

Haal die pere uit die stroop met ‘n gaatjieslepel en plaas die pere op die bodem met die gesnyde kant na onder – in ‘n sirkel soos wielspeke. Wissel die steelkant en lyfkant af.  (Behou die stroop – dit word later oor die gaar koek gegooi.

 Room die botter en geelsuiker tot lig en romerig. Meng die amandels met die gesifte meel en die bakpoeier. Voeg die eiers geleidelik by die geroomde botter en suiker en klop goed na elke byvoeging. (Wenk: as dit lyk of die mengsel skif, sprinkel ‘n bietjie meel oor).  

Meng die vanieljegeursel en die karringmelk by en vou die meel-bakpoeier-amandelmengsel by. Skep die beslag bo-op die pere. Bak vir 50-55 minute. Gebruik ‘n toetspen in die middel van die koek om te bepaal of dit gaar is – dit moet skoon uitkom sonder ‘n geringe sweempie van deeg.

 Maak die koek versigtig van die koekpan se rand los met ‘n mes en keer die koek uit. Moenie skrik as enige van die pere aan die koekpan vassit nie – woel dit liggies los en plaas terug op hul plek.

Nou vir die stroop se gooi: Sowat ‘n koppie stroop sal oorbly. Steek gate in die koekgedeelte wat tussen die pere uitsteek, gooi die stroop oor die hele koek. Laat afkoel. Skep (eerder as smeer) kersiekonfyt in hopies in die die middel van die koek.

Nou vir die bediening: Bedien met room, of ‘n mengsel van room en jogurt of crème fraiche. Die surigheid daarby is heerlik.

 {Laaste peer-gedagtes – uittreksel uit ‘n vorige blog-post}

‘n Peer in elke vrou

Soos vrouelywe ook kom pere in vele vorms. Daar’s die lang, dunnekkiges, soos die geel-groen beurre bosc, of die eiervorm beurre hardy met growwe skil maar ‘n hoogsheerlike aroma.  Packham met die onreëlmatige lyf en groen kleur eet jy die oomblik wat jy voel daai stingeltjie begin mee gee – sy wil nie ge-eet word as sy geel is nie, want dit beteken sy’s melerig.

Bon chretien met die liggeel spikkelskil is ovaal van lyf. Al laat haar kort nekkie haar kort voor beeldskoon, is sy sag en sappig …. Ietwat van ‘n dienende Marta. Bruin Forelle is ook so ‘n spikkelpeer; op haar soetste wanneer sy ‘n blos op die wang het. Die lekkerse peer vir net so eet is die Comice – nou wel nie die mooiste peer in die boord nie, maar die soet, fluweelsagte tekstuur op die tong maak op vir haar windverwaaide voorkoms.

Pere hou van ander geure

Pere laaik appels en appelkosies, kersies, bosbessies, sjokolade, dennepitte, okkerneute, suurlemoenskil, kaneel, gemmer, naeltjies en vanielje. Aan die sout kant, span dit in saam met roquefort, roket, port, parmesaan, bokmelkkaas, pinotage, pancetta en prosciutto.

 

Pimperneut en amandel jogurtkoek met roosblare, witsjokolade- en kardomom-versiersel. S

8 Feb

stop shot jogurt koek mooiste RESIZE

Ek dood oor ‘n koek met vars rose. Om roosblare op ‘n eetding te gebruik moet jy weet waar jou blare vandaan kom; dat daar nie giwwe op gesprei is nie; dat dit met liefde versorg is, anders kom steek ‘n doring jou.

Toe ek onlangs in my ma se tuintjie staan en sien hoe haar rose onder haar hand gedy, het ek met nuwe ywer gesoek na ‘n koekresep wat haar rose waardig is. Die dag was die rooi rose op hul mooiste, maar dit was ‘n pienke wat my oog gevang het: donkerpienk om die randjie wat na roospienk en uiteindelik tot ‘n gelerigheid versag. Moenie my die naam vra nie; ek is sleg met sulke goed, maar my ma sal weet.

Ek kon uiteindelik my vintage-breekgoed uithaal vir 'n koek wat perfek daarby pas, alhoewel ek het neet 4 kleinbordjies, 4 pierings en 3 koppies!

Ek kon uiteindelik my vintage-breekgoed uithaal vir ‘n koek wat perfek daarby pas, alhoewel ek het net 4 kleinbordjies, 4 pierings en 3 koppies!

My soektog het my eers geneem na die kookboek vol Persiese resepte Pomegranates and Roses. Dit het die geur van belofte in sy titel gedra, maar naas ‘n wonderlike resep vir morabayeh goleh sorkh (roosblaar konfyt); kwartels gestop met roosblare en verskeie resepte vir geregte met rooswater, het dit nie ‘n koek vir die pienk roosblare opgelewer nie. Die reis deur Ariana Bundy se boek het my wel deur ‘n wandeling geneem deur ‘n Persiese roostuin en die spesiale verhouding wat Iranese met rose het – van hul kuns tot hul kos.

Daarna het ek Silvena Rowe, my liefling skrywer oor Midde-Oosterse kos (naas Greg Malouf, Claudia Roden en Diane Henry natuurlik) se boek Purple Citrus and Sweet Perfume getakel. Weereens lieflike resepte (haar resep vir die roosblaar konfyt skryf juis pienk rose voor). Ek word vir ‘n oomblik verlei deur haar roosblaar roomys; roos- en sjampanjejellie met gekristalliseerde roosblare; okkerneut- en rooswater baklava; klein pimperneut, rooswater en heuning ma-amoul koekies. Ek oorweeg ook vir ‘n wyle om weg te beweeg van my soetlus na die verkilde ertjie- en bronskorssop met roosblaarroom op die boek se voorblad. Nee, koek moet dit wees. Iets soets vir my Valentyn.

Dis in Silvena se nuutste boek Orient Express waar ek die koek van my roosgetinte drome raakloop: pimperneut- jogurtkoek met witsjokolade en kardomom-versiersel. Dit word bedien met roosblare.

Ek herhaal: pimperneut- jogurtkoek met witsjokolade en kardomom-versiersel! Dis werklik een van die resepte wat jou verhouding met jou koekpanne verander.  Ten goede.

halfkoek mooi RESIZE

Ek het haar resep bykans woordeliks gevolg (iets wat nie in my natuur is nie want ek neuk altyd in my eie rigting en lek my wonde daarna) want met koekbak moet mens maar by die voorskrifte hou. Waar die resep 200g gemaalde pimperneute (pistachios) voorgeskryf het, het ek 100g gepelde amandels en 100g pimperneute saamgemaal. Paar redes; minder neute om af te dop; amandels is goedkoper en ek wil ook nie die koek te groen hê van die pimperneute nie.

{Waar haar resep voorskryf dat ek die pan met bakpapier moet uitvoer sal ek byvoeg dat jy dit nie self hoef te doen nie; maak soos ek en vra jou Valentyn as hy of sy goed is met meet en pas. Dis egter maklik, ek is net soms te lui.}

Alhoewel die koek net so liggies met versiersuiker bestrooi word, het ek ‘n papierdoilie nader getrek om ‘n patroon te vorm en in die sirkel van die neute en repies van die roosblare gestrooi. Ek dink die Persiërs sou daarvan hou.

Hier dan:

Die lekkerste bestanddele wat van koekbak 'n plesierigheid maak.

Die lekkerste bestanddele wat van koekbak ‘n plesierigheid maak.

PIMPERNEUT- EN AMANDEL JOGURTKOEK MET WITSJOKOLADE EN KARDOMOM VERSIERSEL

8-10 snye

Vir die koek:

200 g pimperneute, gemaal (of gebruik die helfte fyngemaalde amandels)

½ t gemaalde kardomom (ek maal die peule in ‘n koffiemaler en sif dit om net die grootste blaarstukkies te verwyder)

150 g ongesoute botter, blokkies gesny

225 g bruismeel

185 g strooisuiker

3 eiers

125 ml ongegeurde jogurt (verkieslik volroom – ek het Griekse jogurt gebruik)

Vir die versiersel:

100 g wit sjokolade, gekap

200 g roomkaas (ek verkies Simonsberg s’n vir die veerligte tekstuur wat makliker is om geurmiddels deur te roer)

½ t rooswater

1 eetlepel versiersuiker

¼ t gemaalde kardomom

Roosblare van 1 of 2 klein eetbare rose, afgewas

1 eetlepel versiersuiker vir oorstrooi

Metode:

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 20 cm koekpan en voer uit met bakpapier (bodem en kante).

Gebruik ‘n voedselverwerker en meng die gemaalde neute, kardomom, botter, meel en suiker tot dit die tekstuur van broodkrummels het. Gooi dit uit in ‘n mengbak en meng met die eiers en jogurt. Gooi die mengsel in die voorbereide koekpan en bak 1 uur. Bedek die koek halfpad deur die bakproses met tinfoelie. Laat afkoel.

Versiersel:

Smelt die sjokolade in ‘n bak oor ‘n kastrol met lig-kokende water en laat afkoel. In ‘n aparte bak meng die roomkaas met die rooswater en voeg die afgekoelde sjokolade by. Sif die versiersuiker by en sprinkel die kardomom oor. Meng goed tot jy ‘n gladde room het. Bedien die koek met skeppies van die versiersel, strooi roosblare oor en sif versiersuiker oor.

OPGEDRA AAN MY VALENTYN

My Valentyn

My Valentyn, in die boekwinkel die dag wat ons Silvena Rowe se Orient Express gekoop het.

 *Dankie vir die inloer. Kyk uit vir my boek TUISTAFEL en my weeklikse rubriek in Die Burger Versnit op Woensdae.    Twiet saam @huiskok of lees my kosstories in Sarie Kos, Die Burger en Beeld. 

Foto’s: Ian en Errieda Du Toit

Sagopoeding met steranys aka ‘Fritz se Gunsteling’

6 Sep

Sagopoeding. Die woord gaan een van twee dinge doen:

-of jy gaan hand op die hart verlang na jou ouma en jou ouma se ouma; na die goeie ou dae en blommerige poedingbakkies;

-of al daai nare herinneringe van jou koshuisdae gaan oor jou spoel met die sjarme van die skool-boelie.

Ek bak sagopoeding op ‘n lenterige  Sondag

Gelukkig val my sago-ervaring in die aangename nostalgie-kamp, selfs al het my ouer broers my probeer treiter  met hul krete:  “Padda-eiers, Piekies eet padda-eiers!” (my familie noem my steeds op my Piekies-bynaam). Hierdie strategie om  my uit te gross het nooit gewerk nie, en het my – die suikerbekkie van die gesin – eerder harder laat klou aan my poedingporsie.

Met goeie rede, want sagopoeding soos my ma dit gemaak het was  iets wat uit die winterhemele neergesak het. Die meringue bolaag was die sneeu uit een van my Europese kinderboeke.

Wat vir my broers soos paddaeiers gelyk het, het vir my nes pêrels gelyk. Dan die sweempies kaneel en soet-surerige appelkooskonfyt.

As jy dink sagopoeding is ‘n kook-rompslomp; dat die sago oornag geweek moet word;  dat die melk maklik aanbrand en en en…. ontspan. Dis ‘n eenvoudige poeding,  selfs ‘n kind kan dit doen. Nooi hulle kombuis toe en laat hulle ook verwonderd staan terwyl die wit korrels miniatuur deurskynende albastertjies raak, met hier en daar ‘n korrel wat dwars trek en ‘n stippeltjie wit in die middel behou.

Jy hoef ook nie skeppend te raak met dinge soos klappermelk en ander eksotiese bestanddele nie; die ou manier van doen is perfek.  As  jy soos ek steranys by alles wil gooi, doen dit.  Jy kan dit in individuele koppies bak (soos ek met die karringmelk-poeding gemaak het). Of bedien dit met allerhande eksotiese strope en rome (sien onder vir ‘n paar idees). Of volstaan met die oumense se manier van doen.

Sagopoeding-maak is okkasie genoeg om ‘n blom-geborduurde lap  van my ouma uit die linnekas te gaan haal.  Ouma Gerrieda het blommetjierokke gedra, mooi ou borsspelde met pêreltjies  en kantsakdoekies voor by haar boesem ingedruk.

Dis een van daai poedings wat ‘n instelling is – die jaar mag nie verbygaan sonder sagopoeding nie. Vanjaar het die dag gekom op ‘n Sondag in die vroeë lente. Ek het oranje ranonkels, perses,  bottergeel  freesias en fyn loof  in eierkelkies gerangskik en saam op die poedingtafel uitgestal. Elkeen skep self op.

Terwyl ek met die skeplepel staan verwag ek enige oomblik dat een van my broers om die hoek van die eetkamer op my gaan afpyl….”Piekies eet padda-eiers, Piekies eet padda-eiers!”

“Piekies eet paddaeiers”, het my broers gejil in ons jongdae om my af te sit sodat hulle meer sagopoeding het om te eet.

Fritz se Gunsteling – Sagopoeding met Steranys

Oorgenoeg vir 4 porsies en seconds ook. Maar hoekom ‘Fritz se Gunsteling’? Wel, ek het dit in drie kleiner bakkies gebak – een was bedoel vir die bure wat toe nie die dag by die huis was nie. Toe nooi ons  vir Fritz Brand, die man agter http://www.realmencancook.co.za om vir hom ‘n bak soet poeding te kom haal. Ons raak aan  die kuier om daai sago en kort voor lank word ‘n diep  band gesmee; sommer so half taai van die appelkoosjam. “Sommige breek brood; ons breek sagopoeding.” sê ek.

1 k sago (die klein korreltjies, nie tapioka nie – dit maak dalk die kinders bang)

Kaneelstokkie

3 kardomonpeule, opsioneel

2 steranys, opsioneel

4 koppies volroommelk (afgeroomde melk ook okay)

125 ml suiker (bruinsuiker kan ook interessant wees)

30 ml botter

Knippie sout

3 eiergele, liggies geklits

2 eierwitte, styfgeklits tot dit puntjies vorm

Appelkooskonfyt om te stip

Fyn kaneel (opsioneel)

Vir meringue

5 eierwitte

160 ml strooisuiker

Knippie sout

Metode

Verhit die oond tot 180°C. Kook die sago, melk en speserye saam oor lae hitte terwyl jy roer tot die korrels deurskynend is.  Verwyder die speserye. Roer suiker, botter en knippie sout by. Roer ‘n paar lepels van die warm mengsel by die geklitste eiergele (dit  voorkom ‘scramble’ eiers!). Haal kastrol van die hitte af en roer die eiergeelmengsel  by. Vou nou die styfgeklitste eierwit by die mengsel in (nie almal doen dit so nie – ek verkies dit om die mengsel minder ‘taai’ en meer pofferig te maak).

Skep in ‘n gesmeerde bak. Stippel met appelkooskonfyt.  Strooi kaneel oor.

Maak die meringue: Klits eierwit tot dit puntjies vorm, klits suiker bietjie vir bietjie by en knippie sout. Stapel meringue bo-op die sago en bak sowat 25 minute tot die vla gestol is en die meringue goudbruin is

Die poeding kan ook koud bedien word. Dan is dit baie lekker met ‘n vrugtestroop of coulis.

Wegbreek van tradisie

Koue somer-Sagopoeding van ‘n Finse webwerf. – ek hou van die inmaakflessie. http://www.dinmat.no

Alhoewel ek van my sagopoeding ou-skool hou, het ons soveel makliker toegang tot ‘n verskeidenheid bestanddele dat mens die geleentheid moet gebruik om ons kostradisie te verryk en rond te speel met smake.

  • Bedien met gestoofde gemengde droëvrugte (ook lekker koud)
  • Wissel die speserye af met Chinese 5-speserymengsel.
  • Drup gemmerstroop oor voor die meringue-laag opgesit word.
  • Wissel die appelkooskonfyt af met frambooskonfyt, suurlemoenmarmalade of appelliefiekonfyt (iets suurs is die lekkerste).
  • Kook  gedroogte nartjieskil saam met die sago en die melk – veral lekker in die winter.
  • Kook sultanas saam met die melk en die sago; bestrooi met gekapte kasjoeneute  of geroosterde amandelvlokkies of pistasieneute.
  • Lente-idee: Vir ‘n Persiese noot, roer ‘n paar druppels rooswater of lemoenekstrak by die melkmengsel (gebruik spaarsamig anders kan dit oorweldigend wees); dien op met versuikerde roosblare.
  • Somer-idee: skep die koue sagovlamengsel versigtig in klein Consul-glasflessies om individuele poedings te maak, giet ‘n lagie gesmelte bessiekonfyt oor  en bedek met Italiaanse meringue. As jy ‘n blaasvlam het, verbruin die meringue daarmee.
  • As jy jou sagopoeding modepop wil maak bak dit in cupcake vormpies – goeie idee van Huisgenoot.

    sagopoeding hoofbestanddele

     

Gemmerkoekies goed ge-gemmer

13 Jul

Al was die goue era van groot musiek- en dansflieks verby teen die tyd wat ek my tande gesny het, dink ek aan Ginger Rodgers aan Fred Astaire se sy as ek die woord ‘gemmer’hoor. Ginger het vir dans gedoen wat gemmerkoekies vir die koekblik doen.  Betowerend. Nooit skandalig en dekadent nie, maar tog vol chutzpah.

Ginger Rogers in gemmer getooi in die goue era van silwerdoeksterre

Maar eers dink ek aan my liefste gemmerkat Kerneels – tussen ons kattekroos die jong mannetjie. Kordaat. Vol vuur en altyd reg vir ‘n relletjie. Ek hou van gemmerkoekies ook so. Vol vuur en vol vlam. Nie speletjies-gemmerkoekies wat jou skaars laat proe wat sy pa en sy ma se herkoms is nie. Nee, as jy in ‘n gemmerkoekie byt, moet hy terugbyt.

Kerneels bak in die wintersonnetjie terwyl ek gemmerkoekies bak

My man hou van gemmerkoekies deurbros – krakerig met elke byt. Ek weer hou van ‘n effe gooeyrige binnekant. Donker van die molasse en baie speserye.

die lekkerte van gemmerkoekies bak is die mooigeit van die bestanddele en die lekkerte van Instagram

Daar’s natuurlik ‘n magdom lekker gemmerkoekie-resepte – party sweer by wonderpeper, ander dat daar naeltjies moet in. Jy kan selfs mosterdpoeier bysit vir nog byt. Met of sonder ingelegde gemmer.  As ek met myne klaar is lyk dit so:My gemmerkoekies vars van die afkoelrak af

2 1/4 koppies koekmeelblom

5 ml koeksoda

10 ml fyn kaneel

5 ml fyn naeltjies

2,5 ml neutmuskaat (ek rasper myne vars)

2,5 ml fyn gemmer

varsgemaalde peper

15 ml vars fyngerasperde gemmer

3/4 koppie ingelegde of gekristalliseerde gemmer in stukkies gesny

1 ml sout

250 ml bruinsuiker

62,5 ml sonneblomolie

1/3 koppie swaelvrye molasse

1 ekstra-groot eier

Gewone witsuiker, vir rol

Verhit die oond tot 180 °C. Voer 2 bakplate met bakpapier uit.

Meng die meel, koeksoda, kaneel, naeltjies, gemmer, sout en peper goed saam in ‘n mengbak. In ‘n aparte mengbak klits die bruinsuiker, olie en molasse vir sowat 5 minute. (Gebruik ‘n elektriese klitser) Verlaag die spoed en voeg die eier by. Klits nog 1 minuut. Skraap die kante van die bak skoon met ‘n spatula en klits nog ‘n minuut. Voeg nou die droë bestanddele bietjie vir bietjie by terwyl die menger loop en klits nog 2 minute. Voeg die gekristalliseerde gemmer en die vars gemmer by. Meng deur.  Gebruik ‘n roomysskepper om bolletjies deeg te skep. Vorm ronde bolletjies met die hand en druk die koekies effens plat. Rol die koekies aan albei kante in witsuiker, plaas op die bakplaat. Op hierdie punt kan jy die deeg sowat 25 minute in die yskas plaas, wat die koekies nog meer sal laat kraak as dit gebak word.

Bak  14 – 16 minute. Roteer die panne halfpad deur die baktyd. Die koekies sal krakerig bo-op lyk. Dis baie sag as dit uit die oond kom, maar die buitekant sal bros raak wanneer dit afkoel. Laat sowat 2 minute in die pan staan en plaas dan op die afkoelrak.

My behoorlik-gegemmerde gemmerkoekies duidelik tuisgemaak

*Laat die koekies behoorlik afkoel voor dit in lugdigte houer gepak word.

*As die koekies darem vir jou net te gemmerig is, los die vars gemmer en die gekristalliseerde gemmer uit.

*As jy die hitte verder wil opjaag, vermeerder die gemmer (fyn en vars) en voeg ook 2.5 ml mosterpoeier by.

*Vir ‘n heerlike grootmens-bederf, bedien die gemmerkoekies met camembert- of brie. Dis ook lekker met lemoenkonserf en ‘n glasie potketelbrandewyn.

Twitter: volg gerus my koskwetters by @huiskok en luister saam elke Vrydag op RSG om 9h15 wanneer ek en Francois op Huiskok Glanskok oor kos praat.

Oomblikke met Madeleine

29 Jun

Nuwe byvoeging tot blog-inskrywing: Ek het hierdie insiggewende kommentaar van Peter Veldsman ontvang na die plasing van hierdie blog oor madeleines, dat ek graag dit wil begin met sy woorde. Lees dan die res met sy wysheid in gedagte!

 Liefste Erieda – Lees vanoggend dat een van die sonnigste mense wat ek bevoorreg was om te ken, Coto Meaker, oorlede is. Terwyl ek dit lees, lees ek ook ‘n ou Gourmet – die heengegane kostydskrif – toe kom jou stem oor RSG en gemmerkoekies. Ek blaai die Gourmet om en Proust se madeleintjies is daar. Om by jou gegewens te voeg: Proust plaas die bron van sy koekies in die Rue Saint-Jacques in die huis van tante Léonie in die dorpie Illiers. Die straat staan deesdae bekend as Rue du Docteur-Proust en die dorpie as Illiers-Combray. Sowat 113 km vanaf Parys op die Oostelike autoroute (roete N10), indien iemand wil gaan kyk. Nog iets – die resep vir madeleines het nooit vanielje bevat nie. Lemoenbloeiselwater en gerasperde lemoenskil om dit te versterk is gebruik.

Liefde
Peter

Madeleines, die eg-Franse koekies met die suurlemoensmakie en skulpie-voorkoms is meer as net koekies. Soos vele ander koswoordenaars kan ek nie oor hierdie koekies berig sonder verwysing na Marcel Proust en sy ‘Madeleine Oomblik’ nie: daardie herinneringe wat soos uit die niet verskyn deur iets te proe.

”I raised to my lips a spoonful of the tea in which I had soaked a morsel of the cake. No sooner had the warm liquid mixed with the crumbs touched my palate than a shudder ran though me and I stopped, intent upon the extraordinary thing that had happened to me.”  Uit: Remembrance of Things, Marcel Proust.

Ek maak van madeleines-bak ‘n ritueel. Beplan die maak daarvan. Dis ‘n koekie van alledaagse bestanddele wat deur haar mooi storie (en ewe mooi skulpievorm) uitstyg bo die skons, muffins en cupcakes van ons dag.  Die bakster (bakkers ook) het nie fancy geite nodig nie, maar wel  ‘n madeleine-koekpannetjie om eenvoud na skoonlief te omskep, sodat sy een kant riffelstrepe het en effense boggelruggie aan die ander kant.

{Madeleines vol belofte}

Ek vermoed dis nie my laaste storie oor madeleines hierdie nie, want elke keer as ek dit maak kry ek ook die lus om te kyk watter ander smaakmoontlikhede  nog in haar wag:

Madeleines gegeur met rooibostee. Of om soos Kobus van der Merwe van Oep ve Koep in Paternoster my van vertel het – om dit met wildeheuning te maak soos die madeleines wat hy van Parys onthou.  Jy kan met sjokolade of met speserye speel – fyn gemmer, kaneel, naeltjies en ‘n bietjie swartpeper; jy kan die witsuiker met bruinsuiker vervang; die een helfte in gesmelte sjokolade doop. Of ‘n lepel kitskoffie by die mengsel roer vir mocha-madeleines. Jy kan selfs soutige madeleines maak. ‘Hey, don’t knock it before you try it.’

{Madeleines maak is maklik}

Vir ‘n eerste kennismaking begin gerus by die basiese madeleine. Madeleines is maklik, ongeag die show wat sommiges daaroor opsit –  asof die Proust-verwysing iets verhewe daarvan maak; asof dit net vir literati-elite-geleerdes is.

Ek gebruik ‘n resep uit Bon Appetit tydskrif wat die resep so mooi inlei: “This cookie launched a thousand memories….” Vir geurmiddel word daar by die klassieke smaak van suurlemoenskil gehou. Gelukkig het ek ‘n flessie suiker, gegeur met ‘n vanieljepeul, anders is goeie vanielje-ekstrak voldoende.  Die raad wat ek verder het is om die madeleine-beslag sagkens te hanteer; dit so min moontlik te meng; jou panne behoorlik te smeer en meel oor te sif, sodat die gaar koekies uit die pannetjie kan glip.

Bestanddele

2 groot eiers

2/3 koppie suiker

5 ml vanieljegeursel (onthou Peter se woorde dat vanielje nie outentiek is in madeleins nie – as jy egte lemoenbloeisel essence het, gebruik dit)

skil van 1 suurlemoen

knippie sout

1 koppie (250 m) koekmeel

150 ml ongesoute botter, gesmelt en effe afgekoel

Maak so:

Verhit die oond tot 190C. Smeer die madeleine-pannetjie met botter en sif bietjie meel oor.

Klits die eiers en die suiker in ‘n mengbak tot net gemeng. Klits die vanielje, suurlemoenskil en die sout by. Klits die meel by tot net-net gemeng (sommige resepte beveel aan dat die meel net ingevou word). Voeg nou die gesmelte botter in ‘n straal by en klits net genoeg om dit te meng.

Klits net genoeg om die bestanddele te meng.

In die volgende stap wyk ek effe van die Bon Appetit af en laat staan die deeg vir ‘n halfuur voordat ek dit bak. Sommige resepte beveel selfs aan om die deeg tussen 4 tot 8 ure te laat rus. Of dit die eindresultaat wesentlik raak weet ek nie, maar ‘n bietjie wag is maar my madeleine-maak-manier.

Skep nou ‘n eetlepel vol van die beslag in elke panholte sowat 2/3 vol. Bak tot goed uitgerys en goudbruin – afhangende van jou oond en of jy petite of groter madeleines maak, kan die baktyd tussen 10 – 15 minute wees. Keer versigtig uit.  Herhaal die proses met die res van die beslag.

Sif versiersuiker oor die koekies net voor bediening.  Die koekies kan ‘n dag voor die tyd gemaak word; alhoewel ek verkies dit pas gebak – terwyl die reuk van die gebakte koekies nog in die lug hang terwyl ek die ketel aansit om die tee te maak.

Jy kan ook suurlemoen-gegeurde versiersuiker oorsif (1/4 koppie versiersuiker gemeng met die fyngerasperde skil van 1 suurlemoen). Dit sal die moontlikheid van jou eie ‘madeleine-oomblik’ verder versterk.

*Vir my eie madeleine-oomblik diep ek mooi ou teekoppies uit die rak.

*Errieda du Toit is die Huiskok wat weekliks saam met Francois op RSG gesels in die kos-insetsel Huiskok Glanskok. Kwetter saam met my op Twitter @huiskok.

*Die fotos is met iPad op Instagram geneem – ek het tog te lekker  met die verskillende filter-verstellings gespeel.

%d bloggers like this: