Kom oms gee ou bekendes van die bordjie sout ‘n bak-Botox.
Die gebruik om ‘n bordjie eetgoed na ‘n kerk- of gemeenskapsbyeenkoms te neem is ‘n tradisie wat spruit uit ‘n tradisie van inspring en jou deel te doen. Dis die happies wat die tafels laat kreun vir vrolike affêres soos die kerksaal se inwyding, hartlike familiegeleenthede, of die hartseer van ’n begrafnis te salf. Jy bring ‘n bordjie vir die biduur en twee vir welwillendheid.
Niemand word voorgesê wat om na die tafel te bring nie en by sulke geleenthede verwag mens ook nie iets uitspattig of eksoties nie, eerder ‘n verskeidenheid van bekende smake.
Hierdie twee mooi-getooide southappies uit die Koekedoor 2 bakboek is die outydse souttert en sout soesies (kaas eclairs van choux deeg) in ‘n nuwe gedaante.
TANNIE HENNAH SE MOOI SOUTTERTJIES
Maak 12 klein tertjies
Nostalgie en rooipeper is die beste geurmiddel, reken die skoonheidsghoeroe Hannon. Sy tannie Hennah se souttert is sy gunsteling. Afhangende of jou bloeddruk die dag laag of hoog is gooi jy minder of meer rooipeper in die kors.
(Koekedoor Wessels van Vuuren het die souttertjies so mooi gemaak dat hy ‘n Kenwood gewen het.)
Souttertkors vir doppies
500 ml cheddarkaas, fyn gerasper
125 g koue botter
250 ml meel
Sout
2,5 ml rooipeper
• Voorverhit oond na 180 °C.
• Sif meel, sout en rooi peper saam. Rasper botter in en voeg gerasperde kaas by. Meng deurmekaar. Voer die holtes van ‘n 12-holte mini-muffinpannetjie uit met die deeg (daar kan dalk deeg oorbly).
• Bak die doppies leeg tot goudbruin en gaar.
Souttertvulsel
500 ml volroommelk, warm
50 ml koekmeel
50 ml botter
Sout en peper
180 g streepspek, fyn opgekap
30 ml fyn gekapte ui
3 eiers + 1 ekstra eiergeel, geklits
330 ml sterk Cheddarkaas, gerasper
3 Weense worsies, in dun ringetjies gesny en verder in kwarte gesny
10 ml pietersielie, fyngekap
Sout en peper na smaak
• Maak die witsous: in ‘n medium kastrol, smelt die botter, voeg die meelblom bly en roer. Voeg die warm melk by en roer tot dit klontvry is en die witsous gaar is.
• In ‘n pannetjie, braai die spek en die uie tot gaar. Roer dit saam met die res van die vulselbestanddele by die witsous in.
• Skep die mengsel in ‘n gesmeerde medium oondbak (16 cm x 25 cm) en bak by 180°C tot gaar en gestol, sowat 35-40 minute. Koel af.
• Druk of sny fatsoene uit die souttert en plaas op die doppies. Garneer met mikrokruie.
PARMESAAN ECLAIRS MET BILTONG-EN GEKLOPTE FETA
Een-happie sout eclairs, versier om soos eetbare juwele te lyk is vuurwarm modenuus uit Parys. Ek het hierdie resep met byderwetse vulsel van geklopte feta en fyn biltong ontwerp vir Rolene Strauss, Mej Wêreld 2014 en gas van Koekedoor 2 se openingsepisode.
100 g botter, in blokkies
150 ml kookwater
2 ml sout
Knypie droë mosterd
Stewige knypie rissiepoeier of cayenne
70 g meelblom
2 groot eiers
60 g gerasperde Parmesaan-kaas verdeel: ¾ vir die beslag en ¼ vir oorstrooi.
• Voorverhit oond na 220°C. Smeer ‘n bakplaat of plaas Silpat daarin.
• Smelt die botter in die water, saam met die sout, mosterd en rissiepoeier en laat opkook. Roer meelblom by, verhit en roer vinnig totdat die mengsel loskom van die kastrol se kant.
• Laat sowat 2 minute afkoel en roer die eiers een-een by en roer vinnig totdat die mengsel glad is. (Die stap kan in ‘n voedselverwerker of elektriese menger gedoen word.) Voeg ¾ van die kaas by en roer tot goed gemeng.
• Skep die beslag in ‘n spuitsak met ‘n spuitpunt van jou keuse en spuit eclairs vorms op die bakplaat of Silpat tot die deeg op is. (Jy moet 24 klein eclairs voorsit).
• Bak vir 10 minute by 220 °C, en verminder die hitte tot 180 °C en bak nog sowat 15 minute lank tot goudbruin en deurgaar.
Geklopte feta- en fyn biltongvulsel
250 ml feta, kamertemperatuur
125 ml roomkaas
75 g fyn biltongpoeier
10 ml vars pietersielie
10 ml Dijon mosterd
Brandrissie na smaak (ontpit, membraan verwyder, grofgekap)
15 ml suurlemoensap of na smaak
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
• Verwerk die bestanddele in die bak van ‘n voedselverwerker en pols op hoog tot glad. Roer nog biltongpoeier by indien te slap en geur vir regte sout-suur-balans. Die mengsel sal stywer raak in die yskas. Skep in spuitsak en verkoel tot benodig.
Balsemiek-asynreduksie
250 ml balsamiesasyn
65 ml bruinsuiker
Brandrissie, na smaak
• Plaas die bestanddele in ‘n klein kastrol en kook stadig af terwyl jy gereeld roer. Die stroop is loperig terwyl warm, maar taai as dit koud is. As dit hard raak, roer net bietjie water by. Drup in mooi patrone of strepe oor die eclairs.
Errieda du Toit is die skrywer van Koekedoor 2 wat uitgegee is deur Human & Rousseau in samewerking met kykNET. Die rakprys is R300.
Hier in Australië moet jy ook altyd ‘n “plate” bring. So het daar van ons Suid Afrikaners nie geweet wat dit beteken nie en het hulle letterlik ‘n leë bord gebring.
Hierdie lyk soooooo lekker en gaan beslis op my “plate” vir die volgende geleentheid wees.
Ozzie groete
Elzabe
Dit was vir my Só ‘n interessante storie, die ‘bring a plate’ van die Australiërs dat ek daaroor geskryf hét in die Koekedoor Boek! Nou is Dit vir my so lekker om te weet jy ervaar Dit self ook.
Lyk lekker