Tag Archives: neute

Marmalade Kersfeesbrood en Food Lover’s Market kompetisie

21 Nov

 

“Ek bring vir jou ‘n Kersfeesbrood en ‘n sonneblom uit Bethlehem”, sê my vriend Hannes van my sonnige vrugtekoekteebroodjie.

So beier die klokke en trek die Kersfees-elwe hul rooi  voorskote aan.

.

 

Ek trek weer saam met Food Lover’s Market die rooi emmertjie met hul luukse feestelike gemengde koekvrugte nader. Soos elke jaar het ek voor die Krismiskoek-kruispad gekom om te besluit watter styl en watse resep dit gaan wees:

  • Die tradisionele roete neem of afdraai na iets nuuts?
  • ‘n Beskonke of ‘n nugter koek?
  • Familieresep of iets trendy met gin of kombucha?
  • ‘n Kerktannie resep of iets raw en vegan uit ‘n moderne bakbybel?
  • Luuks en oordadig of iets eenvoudig en beskeie?
  • Iets diep en donker of goud en blond? Iets Latyns-Amerikaans soos Torte Navidad uit Venezuela, ryp gemaak op rum? Of ‘n drie-bestanddele vrugtekoek wat so ‘n Pinterest-darling is?
  • Geborduur met glansvrugte, stroperige gemmerstukke en blink robyne kersies? Of ‘n alledaagse, vriendelike vrugtekoekbroodjie wat met botter, tee en simpatie (en ekstra marmalade) ‘n teenvoeter is vir  die bittersoet van ‘n jaar.

Food Lovers Market het my geinspireer met die tema ‘om Kersfees huis toe te bring onder die Afrika Hemel’. Ek vertolk dit met die geel van sonneblomme, ‘n oranje-en-geel delikate doilie van my Ma Inez en die sitrusgeure van die lemoenboorde uit haar Clanwilliam-grootwordjare; sultana se goud en bruinsuiker se amber. Alles kleure van gasvryheid en warm mense wat sal hou van ‘n  ‘Kom-drink-by-my-Tee’ vrugtekoekteebroodjie.

Dis ‘n Plain Jane sonder slimstories en kreatiewe kinkels. En juis daarom kies ek vanjaar dit. ‘n Koek wat jy maak sommer net omdat dit lekker is om te lewe. ‘n Herinnering dat vieringskoeke nie net vir high days en holidays is nie. Haal vandág jou beste teekoppies uit. Draai vandág die deksel af van daardie flessie duur marmalade wat jy te jammer is om te eet. Maak ‘n blompot vol sonneblomme, nooi iemand oor wat dalk alleen en verlore voel en eet koek.

Dis so ‘n maklike koekbrood dat dit al jou verskonings wegneem om nie iets feestelik te bak nie. Als word in een bak aangemaak, geen rypmaak en maande se voer met drank nie, geen peperduur bestanddeke nie, geen geweek of opsny van vrugte nie.

Dis so ekonomies, so maklik, jy bak hom vanoggend en vanmiddag kan jy eet en uitdeel. Jy’t nie ‘n deftige Bundtpan nodig vir hierdie feestelike vrugtekoekbroodjie nie, ‘n broodpan doen die ding. Hierdie resep is genoeg vir twee koekbroodjies: een is vir jou en die buurvrou, die ander een gee jy weg. Eet dit met goeie botter, goeie tee en goeie geselskap.

Ek gee onderaan die resep inligting oor die groot #FoodLoversMarket Festive Luxury Fruit Cake Mix kompetisie.

Marmalade-Kersfeesbrood

700 g Food Lover’s Market Festive Luxury Fruit Cake Mix

100 g glanskersies, liggies In meel gedompel en afgeskud

250 g botter, kamertemperatuur

6 groot eiers

120 ml vars lemoensap of melk

60 ml goeie marmalade of konfyt van jou keuse

250 g sagte bruinsuiker

500 g bruismeel

20 ml gemengde speserye

2,5 ml sout

Fyngerasperde skil van 1 groot lemoen

  1. Voorverhit die oond tot 170°C of 150°C waaieroond. Stel jou oondrak net onder die middelste rak. Spuit 2 broodpannetjies met kleefvrye sproei, voer uit met bakpapier sodat die lang kante oorhang. Dit maak dit makliker om later die koekbroodjie uit te lig.
  2. Plaas die botter, eiers, lemoensap of melk, konfyt, suiker, bruismeel, gemengde speserye, sout en fyngerasperde skil in die bak van die staanmenger of voedselverwerker. (Ek gebruik die K-hegstuk van my Kenwood). Meng goed deur sonder om te oormeng, en skraap die kante halfpad.
  3. Voeg die koekvrugtemengsel en glanskersies by en meng dit met ‘n houtlepel deur die beslag. Verdeel die beslag tussen die twee panne, maak dit mooi gelyk bo en tik elke pan 5 keer op die werkoppervlak. Trek ‘n streep met ‘n mes deur die bokant, dit kan help dat dit nie met ‘n bult rys nie (hoewel ‘n heuweltjie my nie pla met iets so informeel soos hierdie tee-dingetjie nie.
  4. Bak vir 80 minute. Steek nou ‘n toetspen (my ma het ‘n dun breinaald gebruik) in die middel en as dit skoon uitkom is dit gaar. Indien nog nie deurgaar nie, bak nog 10 minute en toets weer. Herhaal tot gaar.
  5. Haal uit die oond, laat staan 15 minute en keer uit op ‘n draadrak. Borsel marmalade oor die bokant.
  6. Bêre In ‘n lugdigte houer en hou die bakpapier aan tot jy dit gaan sny. Dit kan ook in kleefvrye plastiek of waspapier toegedra word, maar net nie foelie nie. Die teebroodjie is op sy lekkerste na twee dae, maar wie wil wag om fees te vier as jy vandag al iemand wat tee en simpatie ndig het kan bederf?

Wenke: hierdie vrugtekoekbroodjie is ‘n lekker spanningsvrye storie, wat nie soveel drukpunte het soos ‘n swaarder, vrugtebelaaide tradisionele vrugtekoek gewoonlik het nie. So niks van ‘n toedraaiery van jou pan met lae bruinpapier of koerantpapier nie. Wat jy wel moet dophou is dat dit nie te donker bak aan die bokant nie.

  • plaas jou oondrak een verstelling onder die middelrak.
  • ruil die panne na 50 minute om en roteer ook dat die voorkante na agter wys.
  • bedek liggies met bakpapier of foelie as dit te vinnig bruin word.
  • as jy ligter kante verkies voer die pan met twee lae bakpapier uit.
  • die baasbakkers plaas ook gewoonlik ‘n bakkie water in die oond; die stoom help teen brand en uitdroog.

Ek gebruik Food Lover’s Market se legendariese Luxury festive cake mix in die  rooi emmertjie wat al vir 25 jaar ‘n Kerstyd-instelling is. Dis gerieflik, want die koekvrugte is alles klaar opgesny en gemeng. Dis ekonomies (R79. 99 per kg) en is eksklusief tot hul takke landwyd.

Food Lover’s Market Festive Luxury Fruit Cake Mix kompetisie.

Die prys is ‘n lieflike houtkrat vol Food Lovers Market produkte met baktoerusting soos die legendariese rooi emmertjie, so ook heerlike feestelike gebak en Kerslekkernye. Die wenner kry ook ‘n mengbak, handklitser én ‘n Bundtpan.

Skryf in deur hierdie skakel te volg 

https://foodloversmarket.co.za/win/

Resep en stilering: Errieda du Toit

Fotograaf: Ian Du Toit

Klassieke vrugtekoek op die kaasbord

13 Nov

’n Fees van glanskersies, speserye, neute en ‘n rooi emmertjie luukse vrugtemengsel…alles wat Kerskoek die mees gevierde koek van die jaar maak.

Met sulke weelderige bestanddele vat ek liewers nie kanse nie, en stel my vertroue in ’n klassieke resep wat van geslag na geslag oorgedra is.

Dis hoekom ek in die ou vergeelde gemeenskaps-resepteboekies met hul omkrulblaaie snuffel. Ek het vanjaar die ongelooflike ervaring gehad om deur honderde sulke boekies te gaan vir my nuutste boekieprojek. Hoe meer botter- en stroopspatsels op die blaaie, hoe beter …. asof die vorige kok wat daaruit gekook het vir ons leidrade los oor watter resepte die groot staatmakers is.

Daar was soveel resepte om uit te kies – diep, donker vrugtekoeke deurtrek van rum, molasses en kakao, ander skitterend van plomp goue sultanas, pynappel en appelkose. Hierdie resep kom uit ‘n ou fondsinsamelingsboekie wat 50 jaar gelede deur Saaiplaas Volkskool op Virginia uitgegee is. Sulke ou resepte dra wonderlike geheime en misterie tussen die lyne. Wie is Yvonne De Beer wat destyds die resep bygedra het, watter ander heerlikhede het uit haar kombuis gekom?

Sy stel my deur die nederige boekie bekend aan ‘n gemeenskap met ‘n groot hart, wat lekker kon kosmaak en lekker kon eet. Al ken ek haar nie, is dit asof sy my stilletjies herinner hoe kosbaar ons baktradisies is en hoe belangrik dit is om resepte te deel.

Maar het sulke ou tradisies werklik plek in moderne tye wat soveel nuwighede en oneindig baie aanlyn-resepte net ‘n kliek weg is? Ja, juis nou, reken ek. Ek sien hoe al meer mense, veral jongmense, inspirasie en egtheid in ou resepte soek en die storie agter die resepte waardeer. Sulke ou boekies is ‘n brug tussen gister en vandag wat ons kan oorsteek vir inspirasie of vir wysheid. Dis wat ek hierdie Kersfees doen – om kokke van gister se resepte uit die kas te haal, af te stof en ‘n nuwe lint om te draai. So raak ‘n resep ‘n geskenk wat aanhou gee.

{Dankie ook aan Food Lover’s Market vir die groot geskenk wat ek weer vanjaar kan weggee – sien onder vir besonderhede}

Nuwe idees met outydse vrugtekoek

My vernuwingsidee is eenvoudig…. Saaiplaas se vrugtekoek maak vanjaar sy debuut op my kaasbord. Sit snye daarvan voor met ‘n sagte kaas soos camembert of brie (lekker ryp) en ‘n goed beleë cheddar. Vul die kaasbord aan met makataanstukke, neute en bonkige splinters donker sjokolade.

Vir so ‘n feestelikheid maak jy vonkelwyn oop of jou beste whisky, port of brandewyn uit die drankkabinet. Koffie-lekkerbekke sal ‘n kelkie ‘cold drip’ koffie of sterk espresso saam met dit geniet.

Saaiplaas se klassieke vrugtekoek

Week die vrugte die vorige aand.

1 kg Food Lover’s Festive Cake Mix (rooi emmertjie)
250 g dadels, gekap
6 gemmerstukke in stroop, fyngesny
120 g glanskersies, gehalveer
60 ml brandewyn + 60 ml ekstra vir oorgooi
370 g botter
250 ml – 325 ml suiker
5 eiers
5 ml koeksoda
7,5 ml koffiepoeier (verkieslik ‘n sterk gegeurde soort)
750 ml koekmeel
7,5 ml bakpoeier
2,5 ml gemengde speserye
2,5 ml neutmuskaat
5 ml kaneel
3 ml sout
200 g okkerneute, grofgekap

Plaas die koekmengsel, dadels, gemmerstukke en glanskersies in ’n bak en giet die brandewyn oor. Bedek die bak met kleefplastiek en laat oornag staan.

Voorverhit die oond tot 150 °C. Voer ’n groot koekpan met bakpapier uit en smeer met botter (sien wenk onder). Klits die botter en suiker saam tot lig en romerig. Voeg die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging. Los die koeksoda en koffiepoeier op in ’n bietjie water en voeg dit by die eiermengsel.

Sif die meel, bakpoeier, speserye en sout saam. Voeg die geweekte vrugte by die meelmengsel en roer goed om al die vrugte te bedek. Voeg dit dan by die eiermengsel saam met die neute. Meng goed. Giet die beslag in die voorbereide koekpan en bak 3—3½ uur tot ’n toetspen skoon uitkom. Verwyder die papierkraag, giet brandewyn oor en laat afkoel in die pan. Sprinkel brandewyn oor.

Draai die vrugtekoek baie deeglik toe in kleefplastiek en dan in ‘n paar lae foelie.

Bakwenke

Om te voorkom dat die koek te donker aan die buitekant bak: Neem 2 velle koerantpapier en vou in drie. Draai die gevoude papier om die koekpan en bind vas met tou. Vou nog 2 velle koerantpapier in drie en sit dit onder die pan. Vou die papier op en om die pan se rand en bind dit ook vas met tou.

My standaard-wenk vir ekstra oemf, glans en klammigheid: verf die rante van die koek met ‘n sitrus-suikerstroop: verhit 125 ml suiker en 125 ml water oor medium-hoë hitte, voeg 4 breë stroke suurlemoenskil en 15 ml suurlemoensap by. Roer tot die suiker opgelos is , kook vir 2 minute en verwyder van die hitte. Verf dit aan. (Die stroop raak selfs lekkerder van staan so met die skil in.

As daar vrugtekoek oorbly

Maak Gekaramelliseerde vrugtekoek-roomystoeboordjies so: sny 8 dun snytjies vrugtekoek. Plaas 125 ml bruinsuiker in ‘n klein skinkbord en druk die koek daarin om beide kante te bedek. Smelt 50 g botter. Verhit ‘n kleefvrye pan oor matige hitte en borsel met die gesmelte botter. Braai die versuikerde snytjies vrugtekoek 1-2 minute aan ‘n kant, laat effe afkoel en plak opmekaar met vanieljeroomys. Druip heuning of esdoringstroop oor.


KOMPETISIE

Food Lover’s Market se Festive Fruit Cake Mix maak weer sy verskynsel. Die rooi emmertjie met Food Lover’s Market se vrugtekoekmengsel is al vir 23 jaar ‘n bekende gesig in kombuise reg deur die land waar gewoel word om die feesvere te pof.

Jy staan ‘n kans om die volgende prys te wen van R1 700.00, ter viering van Food Lover’s Market festive cake mix in die rooi emmertjie:

26 cm Mason Cash mengbak
• 6-stuk OXO 6 maatlepels
• Epicurean spatel
• Master Class afkoelrak
• Progressive meelsif
• R300 Food Lover’s Market geskenkbewys

Skryf so in:

Stuur vir my ‘n e-Pos aan errieda@edtpr.co.za en dui aan in die onderwerplyn Food Lover’s Market Luxury Festive Cake Mix kompetisie.  Gee jou kontakbesonderhede en antwoord op die kompetisievraag hoekom wil jy graag die kompetisie  wen.   Die kompetisie sluit op 25 November 2018 en die naam van die wenner word teen einde November bekend gemaak. Standaardkompetisievereistes geld. Die prys is nie oordraagbaar nie en kan nie omgeskakel word in kontant nie. Een inskrywing per persoon.

549DFF1B-C8FD-4531-8D70-C52D32E1E4C3@foodloversmarket # flmluxurycake

Foto en stilering: Ian en Errieda du Toit

Broccoli kamma-couscous slaai met lieflike kruie

14 Oct

Broccoli en Brusselse spruite. Nie juis iets wat op die lys van “Lekkerste Dinge Ooit” sal verskyn nie. Ek het nie veel fiemies as kind gehad nie en het geëet wat op my bord was. Maar selfs al het my ma dit onder ‘n kombers van kaassous verberg, het ek langtand deur dié groen goed gewroeg. “Monsters se kos,” het ek gedink.

Van bitter-groengoed tot broccoli kamma-couscous-slaai

Van bitter-groengoed tot broccoli kamma-couscous-slaai

Ons fiemies is nie altyd logies nie. Ek het blomkool verslind. Selfs spinasie het van my bord verdwyn sonder aanmaning van Ma of Pa. Hoe dit ook al sy, ek het gelukkig my nonsens laat staan en uit my fiemies gegroei. Maar ek verstaan die kleintjies wat kerm. Ek onthou nog die media-storm wat losgebars het om die kop van President George Bush destyds toe hy verklaar het:  “Ek hou nie van broccoli nie. Ek hou van my kleintyd nie daarvan nie ; my ma het my dit gemaak eet. En nou is ek die President van die VSA en ek gaan NIE meer broccoli eet nie.” (Obama sou daarvoor opmaak deur te verklaar dat dit sy gunsteling groente is.)

Die geleerde mense skryf die fiemies van sommige mense vir sekere groente soos brocolli toe aan genetika; ‘n spesifieke geen  (TAS2R38) wat jou persepsie van bitter smaak beinvloed.

‘n Ander verklaring is dat ons deur evolusie gekondisioneer is om instinktief bitter plante te vermy, omdat bitterheid ‘n aanduiding kan wees dat ‘n plant toksies is, vertel ‘n navorser aan die Universiteit van Pennsylvania in die Huffington Post.  “Of, dalk is dit net sommer omdat groente te lank gekook is in water tot dit pap en onaptytlike vaal is!” Dis dan seker instinktief dat ek altyd op die uitkyk is vir opwindende maniere om groente voor te sit. Soos nou weer vir hierdie resep vir broccoli-‘couscous’, ‘n kraakvars slaai wat met gerasperde rou broccoli gemaak word.

Krakerig. Vars. Geurig van die kruie. Harmonie tussen soet, suur, bitter en sout.

Krakerig. Vars. Geurig van die kruie. Harmonie tussen soet, suur, bitter en sout.

Dit het my oog gevang omdat dit my laat dink het aan ‘n slaai wat ek maak met broccoli, druiwe en pekanneute. Wat die broccoli-couscous slaai besonders maak is dat die rou broccoli fyngerasper word vir ‘n heerlike tekstuur. Die kombinasie van handevol fyngekapte pietersielie en kruisement, tesame met rosyne en geroosterde dennepitte is ‘n wenner. Dit het selfs vinniger van die bord verdwyn as die lamstjoppies!  Die geure van die kruie veral herinner my ietwat aan die Midde-Oosterse tabbouleh. Dankie Ma en Pa dat julle deurgedruk het om ons bloot te stel aan soveel verskillende smake. Vandag pluk ek die vrugte daarvan.

Brocolli kamma-couscous met lamsrak.

       Brocolli kamma-couscous met lamsrak is ‘n perfekte smaakkombinasie.

BROCCOLI KAMMA-COUSCOUS MET KRUISEMENT EN PIETERSIELIE

Heerlik met lamsvleis.

Bedien 4

 1 groot kop broccoli, goed afgewas en gedreineer (hou heel)

40 – g rosyne, geweek in warm water tot uitgeswel (ek verdubbel dit en gebruik ook soms geweekte bosbessies/cranberries(

40 g geroosterde dennepitte (kan ook amandels, pekanneute of okkerneute gebruik) Ek gebruik meer vir ‘crunch’

40 g fyngekapte vars kruisement

40 g fyngekapte pietersielie

Sap en skil van 1 suurlemoen

125 ml olyfolie

5 – 10 ml suiker (proe om seker te maak vir die balans)

Sout en peper

Metode Rasper die broccoli se groen dele tot net op die stingel. (Jy kan dit ook in twee sarsies verwerk met  ‘n voedselverwerker – pols versigtig tot die tekstuur soos couscous lyk. Plaas in in slaaibak en gooi die rosyne, neute, kruisement en pietersielie by. In ‘n flessie, skud die suiker, suurlemoenskil, suurlemoensap en olie saam en giet oor die slaai. Geur met sout en peper.

Variasies:

  • Voeg gerasperde appel, gedroogte bosbessies en okkerneut by die broccoli-couscous en bedien met ‘n romerige joghurt- en mayo slaaisousie.
  • Breek broccoli in stingels op en voeg rooi druiwe, pekanneute en rooi uie by. Bedien met ‘n mayonnaise slaaisousie, gegeur met wit of rooi balsamiese asyn en ‘n bietjie suiker vir die soet-suur balans.
  • Geskaafde brusselse spruite met pecorino en amandel.

                                          Geskaafde brusselse spruite met pecorino en amandel. (uit Bottega)

 ‘N LEKKER IDEE MET ROU BRUSSELSE SPRUITE

 Skaaf die brusselse spruite versigtig op ‘n mandolien in dun skaafsels (hou dit aan die stingels vas). Meng dit met:

  • Hardgekookte eiers, deur ‘n sif gedruk
  • Geroosterde amandels, fyngekap
  • Gerasperde pecorino
  • Sout en peper
  • ‘n Vinaigrette van suurlemoen, lemoen, fyngekapte salotte of rooi uie, en heelwat vars gemaalde swart peper.

Laat ‘n rukkie in die yskas staan en bedien koud.

Bronne:

“Why do some people love broccoli and others hate it?” www.Huffingtonpost.com

Smashing Plates, Maria Elia. Kyle Books.

Bottega, Michael Chiarello. Chronicle Books.

Meringuekoek met gedroogte vye, neute en gemmerstukkies (met sjokolade ook as jy wil)

14 Mar

Vandag is een van daai dae wat ek die soet terapie van my kombuis en koekpanne opsoek. Sommer in die middel van die werkdag.

Roxane pout haar pad deur die soet meringuekoek

Roxane pout haar pad deur die soet meringuekoek

Ek trek ‘n vertroude, maklike resep vir meringuekoek nader.  Saam met die gekonsentreerde soet van die blinkbruin gedroogte Smyrna vye en die knars-stroperigheid van die ingelegde gemmer breek ek ‘n hele plak donkersjokolade by die meringuemengsel ook nog in. Nog soeter gaan mos nog beter wees, dink ek.

Die koek was nog nie koud nie, toe sny ons hom. My kollega Roxy staan nader en vat ‘n groot hap. Sy pout haar lippe en eet ewe dapper voort aan die suikerbom. Sy glimlag, praat nie eintlik nie. Die bordjie kom leeg terug. My man Ian sny  ‘n allermintige stuk af wat in warm brokke sjokolade, stroop, neute, gemmerstukke, meringueflardes op die koekbord neerplatz.  Hy kou en ek vra wat hy dink. ‘Sjoe, oorweldigend.’

Meringuekoek om voor te swig

Meringuekoek om voor te swig

Ek stem saam. Om wat reeds lekker genoeg is, nog lekkerder te wil maak, laat ons dikwels die pad byster raak. Ek gee die resep dus soos hy MOET wees, en nie soos ek dit opgefoeter het nie. Maar as jy ook in soet waansin WIL wegsak, vou gerus die 100 g grofgekapte donkersjokolade blokkies by die meringue in. Dis soet troos op ‘n oorweldigende weeksdag.

Soet goed word ingevou by 'n wolk van soet meringue.

Soet goed word ingevou by ‘n wolk van soet meringue.

GEMMER, NEUTE EN DROË-VY-MERINGUEKOEK

110 g heel, gepelde amandels of pekanneute of okkerneute, vir 10 minute gerooster by 190C  en dan grofgekap

4 eierwitte, kamertemperatuur

225 g strooisuiker

150 g droë vye, grofgekap

70 g ingelegde gemmer stukke in stroop, grofgekap

(100g donker sjokolade in groot stukke gekap – as jy so voel – maar wees gewaarsku, dis oorweldigend dekadent en net vir geswore suikerbekke)

Voorverhit oond tot 170C. Maak meringue: klits eierwitte tot stywe punte vorm. Roer die strooisuiker geleidelik by en klits na elke byvoeging goed. Vou die neute,  vye en gemmerstukkies by en skep mengsel in ‘n gesmeerde 20 cm losboom-koekpan. Bak 35 minute. Sny los van die kante met ‘n mes en laat afkoel. Bedien  met vanielje- of sjokoladeroomys.  Lekker saam met sterk koffie (verkieslik bitter na dese).

Resepbron: Annie Bell se Baking Bible.

Pimperneut en amandel jogurtkoek met roosblare, witsjokolade- en kardomom-versiersel. S

8 Feb

stop shot jogurt koek mooiste RESIZE

Ek dood oor ‘n koek met vars rose. Om roosblare op ‘n eetding te gebruik moet jy weet waar jou blare vandaan kom; dat daar nie giwwe op gesprei is nie; dat dit met liefde versorg is, anders kom steek ‘n doring jou.

Toe ek onlangs in my ma se tuintjie staan en sien hoe haar rose onder haar hand gedy, het ek met nuwe ywer gesoek na ‘n koekresep wat haar rose waardig is. Die dag was die rooi rose op hul mooiste, maar dit was ‘n pienke wat my oog gevang het: donkerpienk om die randjie wat na roospienk en uiteindelik tot ‘n gelerigheid versag. Moenie my die naam vra nie; ek is sleg met sulke goed, maar my ma sal weet.

Ek kon uiteindelik my vintage-breekgoed uithaal vir 'n koek wat perfek daarby pas, alhoewel ek het neet 4 kleinbordjies, 4 pierings en 3 koppies!

Ek kon uiteindelik my vintage-breekgoed uithaal vir ‘n koek wat perfek daarby pas, alhoewel ek het net 4 kleinbordjies, 4 pierings en 3 koppies!

My soektog het my eers geneem na die kookboek vol Persiese resepte Pomegranates and Roses. Dit het die geur van belofte in sy titel gedra, maar naas ‘n wonderlike resep vir morabayeh goleh sorkh (roosblaar konfyt); kwartels gestop met roosblare en verskeie resepte vir geregte met rooswater, het dit nie ‘n koek vir die pienk roosblare opgelewer nie. Die reis deur Ariana Bundy se boek het my wel deur ‘n wandeling geneem deur ‘n Persiese roostuin en die spesiale verhouding wat Iranese met rose het – van hul kuns tot hul kos.

Daarna het ek Silvena Rowe, my liefling skrywer oor Midde-Oosterse kos (naas Greg Malouf, Claudia Roden en Diane Henry natuurlik) se boek Purple Citrus and Sweet Perfume getakel. Weereens lieflike resepte (haar resep vir die roosblaar konfyt skryf juis pienk rose voor). Ek word vir ‘n oomblik verlei deur haar roosblaar roomys; roos- en sjampanjejellie met gekristalliseerde roosblare; okkerneut- en rooswater baklava; klein pimperneut, rooswater en heuning ma-amoul koekies. Ek oorweeg ook vir ‘n wyle om weg te beweeg van my soetlus na die verkilde ertjie- en bronskorssop met roosblaarroom op die boek se voorblad. Nee, koek moet dit wees. Iets soets vir my Valentyn.

Dis in Silvena se nuutste boek Orient Express waar ek die koek van my roosgetinte drome raakloop: pimperneut- jogurtkoek met witsjokolade en kardomom-versiersel. Dit word bedien met roosblare.

Ek herhaal: pimperneut- jogurtkoek met witsjokolade en kardomom-versiersel! Dis werklik een van die resepte wat jou verhouding met jou koekpanne verander.  Ten goede.

halfkoek mooi RESIZE

Ek het haar resep bykans woordeliks gevolg (iets wat nie in my natuur is nie want ek neuk altyd in my eie rigting en lek my wonde daarna) want met koekbak moet mens maar by die voorskrifte hou. Waar die resep 200g gemaalde pimperneute (pistachios) voorgeskryf het, het ek 100g gepelde amandels en 100g pimperneute saamgemaal. Paar redes; minder neute om af te dop; amandels is goedkoper en ek wil ook nie die koek te groen hê van die pimperneute nie.

{Waar haar resep voorskryf dat ek die pan met bakpapier moet uitvoer sal ek byvoeg dat jy dit nie self hoef te doen nie; maak soos ek en vra jou Valentyn as hy of sy goed is met meet en pas. Dis egter maklik, ek is net soms te lui.}

Alhoewel die koek net so liggies met versiersuiker bestrooi word, het ek ‘n papierdoilie nader getrek om ‘n patroon te vorm en in die sirkel van die neute en repies van die roosblare gestrooi. Ek dink die Persiërs sou daarvan hou.

Hier dan:

Die lekkerste bestanddele wat van koekbak 'n plesierigheid maak.

Die lekkerste bestanddele wat van koekbak ‘n plesierigheid maak.

PIMPERNEUT- EN AMANDEL JOGURTKOEK MET WITSJOKOLADE EN KARDOMOM VERSIERSEL

8-10 snye

Vir die koek:

200 g pimperneute, gemaal (of gebruik die helfte fyngemaalde amandels)

½ t gemaalde kardomom (ek maal die peule in ‘n koffiemaler en sif dit om net die grootste blaarstukkies te verwyder)

150 g ongesoute botter, blokkies gesny

225 g bruismeel

185 g strooisuiker

3 eiers

125 ml ongegeurde jogurt (verkieslik volroom – ek het Griekse jogurt gebruik)

Vir die versiersel:

100 g wit sjokolade, gekap

200 g roomkaas (ek verkies Simonsberg s’n vir die veerligte tekstuur wat makliker is om geurmiddels deur te roer)

½ t rooswater

1 eetlepel versiersuiker

¼ t gemaalde kardomom

Roosblare van 1 of 2 klein eetbare rose, afgewas

1 eetlepel versiersuiker vir oorstrooi

Metode:

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 20 cm koekpan en voer uit met bakpapier (bodem en kante).

Gebruik ‘n voedselverwerker en meng die gemaalde neute, kardomom, botter, meel en suiker tot dit die tekstuur van broodkrummels het. Gooi dit uit in ‘n mengbak en meng met die eiers en jogurt. Gooi die mengsel in die voorbereide koekpan en bak 1 uur. Bedek die koek halfpad deur die bakproses met tinfoelie. Laat afkoel.

Versiersel:

Smelt die sjokolade in ‘n bak oor ‘n kastrol met lig-kokende water en laat afkoel. In ‘n aparte bak meng die roomkaas met die rooswater en voeg die afgekoelde sjokolade by. Sif die versiersuiker by en sprinkel die kardomom oor. Meng goed tot jy ‘n gladde room het. Bedien die koek met skeppies van die versiersel, strooi roosblare oor en sif versiersuiker oor.

OPGEDRA AAN MY VALENTYN

My Valentyn

My Valentyn, in die boekwinkel die dag wat ons Silvena Rowe se Orient Express gekoop het.

 *Dankie vir die inloer. Kyk uit vir my boek TUISTAFEL en my weeklikse rubriek in Die Burger Versnit op Woensdae.    Twiet saam @huiskok of lees my kosstories in Sarie Kos, Die Burger en Beeld. 

Foto’s: Ian en Errieda Du Toit

%d bloggers like this: