Daar’s soveel hemelse smaakpaartjies wat soos Romeo en Juliet bymekaar hoort. Pynappel en klapper is sulke gedugte tropiese smaakvrinne. Pynappel is ook lief vir kruisement, rissie, donker sjokolade, vark en hoender. En ja, daar’s natuurlik diegene wat dol is oor pynappel op hul pizza (die huiskok swyg liefs hieroor …. aartjie na sy vaartjie).
Terloops, ek lees onlangs in my liewe Jamie se tydskrif dat pynappel en feta ‘n heerlike slaai maak – gooi net gekapte kruisement en lemmetjiesap by. Dis ‘n verfrissende opsie vir die mode-voorlopers vir wie feta en waatlemoen bietjie holrug gery is.
Terug na klapper as pynappel se ‘prom-date’. Veral in gebak – een van die lekker geregte in ons boek ‘Huiskok Glanskok’ – is plaatkoekies met geblikte pynappelmoes, klapper in die beslag en goue stroop vir agterna oordrup iets vir die Groot Vergrype.
Selfs al is jy nie ‘n kranige bakker nie (join the club) sal die volgende resep vir pynappel en klapperkoek jou na die meelsif en klitser laat gryp, veral omdat die koek met vars pynappel gemaak word. Suurroom word ook bygevoeg wat die koek ‘n heerlike smaak en tekstuur gee.
Pynappel-klapperkoek
Stel jou oond op 180°C.
Room 110g sagte botter en 110g strooisuiker tot dit lig en fluffy is.
Klits 2 eiers een vir een by. Klits 250 ml suurroom by.
Sif 200g bruismeel , ¼ t koeksoda en ‘n knippie sout by die beslag en vou goed deur.
Voeg 200g fyngekapte vars pynappel en 150g klapper by (die desiccated soort …. alhoewel desiccated het nog altyd vir my geklink na iets uit ‘n zombie-fliek.)
Skep die beslag in ‘n gesmeerde 18 cm koekpan wat liggies met meel beskud is.
Bak die koek vir tussen 60-70 minute tot dit goudbruin en gaar is – en of jy wil of nie …. gebruik maar daai toetspen om te kyk of dit skoon uitkom as jy dit in die koek druk.
Al ruik dit so lekker dat jy dit onmiddellik jou kieste wil vol prop, laat dit eers effe afkoel in die pan sodat dit makliker uitkom. Soek jou afkoelrakkie en laat die koek heeltemal afkoel daarop. Sif versiersuiker oor.
Wenk: Om die tropiese tema verder te neem kan jy die koek ook voorsit met room of dubbelroom Griekse jogurt wat met grenadillapulp en 1-2 eetlepels versiersuiker gegeur is.
Well done!