Lentedag: alfresco en ooptoon-sandale

1 Sep

“Dis heerlike lente, die winter’s verby; weer nodig die velde vir jou en vir my.”  ‘n Ou volksliedjie se nostalgiese refrein maal vandag deur my kop. Lentedag.

Varkore, pienk ranonkels, graangras en gesiggies vir lente.

Lente is ‘n seisoen wat ‘n enkele jasmyntakkie, so terloops by die voorhekkie gepluk, as inspirasie dien vir ‘n spontane ete saam met vriende. Dis ook ‘n seisoen van oorgang – die gremolata wat in die grou maande die minestrone opgekikker het, geur nou wyn-gesmoorde swartmossels. (Kyk laer af vir die mossel-resep).

Waaroor ek die blyste is, is dat die ‘Boeing nou amptelik oor is’ om die witwynglase uit te haal en jou gunsteling resepte vir  al fresco-etes uit te diep.  Al fresco, wat letterlik beteken om in die vars lug te eet, laat veral reg geskied aan die ‘crispy’ geure van Sauvignon Blanc, my somergunsteling. Dié Mediterreense manier van eet word gekenmerk deur ‘n ontspanne luim, gestroop van reëls en etiket.

Die wyn se geure van groen appel, sitroengras, pere, appelliefie, lietjies, grenadilla en ander tropiese vrugtegeure sit nuwe skop in kulinêre kreatiwiteit. Die resultaat is ‘n spyskaart waar elke gereg halsoorkoop-verlief is op die witwyn uit my kontrei – geregte soos hoenderterrien met bosbessies en pistasieneute; mosbolletjie-foccaccia bedek met druiwe, gemarineerde feta en olywe, swartmossels met gremolata, bros bokmelkslaai met basilie-olie en pienk-getinte vrugte bedien met polenta-koek.

Gremolata mossels met mosbol focaccia op die bord en Sauvignon Rose in die glas

Mossels in witwyn met gremolata

Gremolata

30 ml gekapte pietersielie

30 ml basilieblare, gekap

2 knoffelhuisies, fyngekap

15 ml gerasperde suurlemoenskil

 

Mossels

125 ml sauvignon blanc

125 ml hoenderaftreksel

2 vars klein rooirissies, ontpit en gekap

4 uie, gekap

2 kg swartmossels, geskrop en ontbaard

Sout en peper

Goeie brood vir opdiening

 

Gremolata: Meng al die bestanddele en hou eenkant.

Mossels: Voeg die wyn, aftreksel, rissie en ui in ‘n groot kastrol en kook oor hoë hitte tot dit met die helfte afgekook het. Voeg die mossels by, bedek en laat prut oor medium hitte tot die mossels oopgaan. Gooi mosssels wat nie oopgaan nie weg. Skep die mossels in opdienbakke. Geur die kookvloeistof met sout en peper en giet bo-oor. Besprinkel met die gremolata.

Ietsie anders vir die lente-wynglas

  • Slaan ‘n nuwe blaadjie om met moderne mengeldrankies, soos ‘Nitida Martinis’ – ‘n heerlike konkoksie van sauvignon blanc gemeng met vars aarbeie en kardomom.
  • Kyk opnuut na Sangria, die klassieke Spaanse wyn-en vrugtepons: voeg sauvignon blanc saam met bosbessiesap en ysblokkies in ‘n mooi glasbeker. Geur dit met jenewerbessies, steranys, suurlemoenskil en kruisement.

    ‘’n Lente-spyskaart soek ’n mooi gedekte tafel – tussen die wingerdrye as jy kan. My kunstige blomvrou in ons buurt - Anneke Huyzer van die Daisy d’Vine – is altyd vol idees.

Vars idees vir ‘n vrolike lente-tafel:

Lente vra vir baldadige gebruik van blomme – vry en sorgloos. ‘n Formele, geordende rangskikking wat die tafel oordonder is uitgedien. Hoekom nie eerder die tafelrangskikking soos ‘n bedding veldblomme laat lyk nie!”

  • ‘n Swart tafeldoek sorg vir verrassing en kontras en skep tong-in-die-kies weelde tussen die wingerde.
  • Rond dit af met swart-en-wit gestreepde tafellopers van geskenkpapier en ronde  swart plekmatjies. Die papierlopers is ‘n lekker loslit, ekonomiese opsie. Volgende keer gebruik jy ander papier.
  • Hou by informele eetgerei soos Wonki Ware se handgemaakte borde. Bind ‘n vrolike polka-lint om die bord vir die eerste gang. Dis ‘n maklike manier om jou gaste te laat voel daar is moeite gedoen (en as die partytjie vrolik raak kan jy die lint in jou hare bind).
  • Bind elke gas se messegoed met ‘n nou lint van gestreepte swart-en wit materiaal.

Blink wenk: Koop ses-pak saailinge soos gesiggies by die kwekery:   haal dit uit die plastiek en sit elke plantjie in ‘n klein waterglasie. Die plant se fyn wortels het ‘n pragtige kant-agtige voorkoms.

  • DAGBOEK ‘n Lente-Makietie: Tydens die Seisoen van Sauvignon-fees gooi wynplase van 1 -2 Oktober hul kelderdeure oop vir ‘n fees van wyn, kos, musiek en aktiwiteite vir die gesin.  Kontak 083 310 1228 of www.durbanvillewine.co.za vir inligting.
(Foto’s geneem op D’Aria tydens ‘n shoot vir Huisgenoot)

2 Responses to “Lentedag: alfresco en ooptoon-sandale”

  1. Ian du Toit September 1, 2011 at 1:11 pm #

    Heerlike resepte! Maak mens lus vir die Lente…

    • huiskok September 1, 2011 at 1:19 pm #

      Jy’s gaaf Ian. Ek maak dit gou weer vir jou.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: