Terwyl ek die eerste bondeltjie waterblommetjies van die seisoen onder die lopende kraan afwas, hang Sonja Herholdt se stemmetjie soos soet stoom in my kombuis.
Ek neurie saam maar kom nie verder as die eerste versie nie:
‘Waterblommetjies in die Boland
Waterblommetjies van die Kaap
Maak die bredie net soos in die wynland
En sê jy is baie lief vir my, voor jy gaan slaap.’
Daar’s soveel meer aan Anton Goosen se lirieke as net die bittersoet deuntjie, dat ek dit eers móés gaan google voor ek kon verder kook. Ek lees van ‘drie skepsels wat by Dassiepunt na die ster gekyk en teen die wind in voet geslaan het; hoe hulle op Duiwelspiek vir die engel gewaai het. En die engel wat trane uit sy oë gevee het, want daar’s waterblommetjies in die Boland …..’ (volledige lirieke reg onderaan).
So mooi, hierdie eg-Kaapse vleibloeisel wat haar groen stingels van laat-winter tot mid-somer staan maak in die stil water van poele en damme. Sy het ‘n deftige doopnaam: Aponogeton distachyos en as iemand praat van wateruintjies, kan jy maar weet dis die einste waterblommetjie.
My waterblommetjiebredie kook ek lankal nie meer met ‘n resep nie, want hoe eenvoudiger hoe beter. Dis letterlik ‘n geval van ‘don’t gild the lily’. Net die waterblommetjies, ‘n paar stukkies vet ribbetjie (of skaapnek en selfs skenkeltjies) sout en witpeper; en ja, ‘n paar huisies knoffel vir volledigheid. Dan die smaak wat waterblommetjies op haar toontjies laat staan – ‘n surigheid om die vettige skaapvleisie te tem, soos die geelblom langsteel-suring as my geluk in is; anders suurlemoen of selfs ‘n bietjie tamaryn.
Waterblommetjiebredie is so ‘n heerlike ‘automatic pilot’ kosmaak-ritueel – daai gevoel van jou hand weet vanself hoe om die knippies en die knypies raak te vat, die kelkie dit en die skeppie se regte maattes te vind. Die uie weet instinktief wanneer dit genoeg ge-goudbruin is, die roomwit aartappels ‘n aanvoeling het dat hulle stukkend genoeg moet kook om die sousie te verdik. My hand glip vanself verby die swart peperkorrels na die getjipte peperpotjie met die fyn wit peper. Die waterblommetjies gee hul vrywillig oor aan die lang prutproses, maar hou hul waaier-kuiwe steeds naby aan hul lyf.
Hierdie keer is die waterblommetjie-seremonie anders, want ek het skaapstertjies raakgeloop toe ons die seisoen-lekkerny by AffiePlaas padstal duskant Robertson gaan koop het. Ek moes net weer vir ‘n slag besin of ek iets nuuts wou probeer en het gaan snuffel hoe ander kokke hierdie vleibloeisel benader.
- As Michael Olivier (wat voorheen groot naam gemaak het by Paddagang, Tulbagh)waterblommetjiebredie maak, voeg hy geurmiddels by soos brandrissies, allspace, naeltjies en neutmuskaat, en gebruik rooiwyn saam met biefaftreksel. Klink heerlik.
- Tannie SJA van Kook en Geniet faam se eenvoudige bredie vra vir skaaptjops of dikrib, en min ander smaakfieterjasies naas sout en peper– selfs nie eers knoffel nie. Baba-aartappels opsioneel.
- In Kook Suid-Afrikaans gebruik Magdaleen van Wyk skaap- of lamsrib, knoffel met ‘n ligte hand, droë wit wyn en water pleks van aftreksel en beveel ook groen appel aan as ‘n bossie suring ontbreek. Voor opdiening word neutmuskaat oor gerasper en peper gestrooi.
- In die Pasella-kookboek word die tradisionele bredie gemaak met ‘n gerasperde Granny Smith appel vir ‘n kenmerkende suur noot, saam met skaapnek, uie, droë witwyn en heelwat knoffel gebruik. Geen verwysing na suring nie – dis waarvoor die appel instaan.
- In Francois Ferreira se splinternuwe kookboek Okkasies sit hy gestoomde waterblommetjies voor met ‘n bronkors-Bearnaisesous: ‘n verfrissende manier om die waterblommetjie-seisoen ten volle te benut, maar bietjie uitgekuier is aan tradisionele waterblommetjiebredie. Hy gebruik ook graag waterblommetjies in roerbraai-geregte.
- Die AffiePlaas padstal duskant Robertson maak die lekkerste waterblommetjie- en feta pasteie.
- Byderwets met waterblommetjies: In die dae wat ek nog nou betrokke was by komitee-werksaamhede vir Slow Food se Kaapstad convivium, het ons ‘n opwindende ete saam met Letitia Prinsloo en die student van die ICA gedoen. Waterblommetjies het ‘n modern baadjie aangetrek:
Studente het gestoomde waterblommetjies met hollandaise sous voorgesit; waterblommetjie en asjovis gratin met ‘n vonkelwyn veloute; waterblommetjieparmesaan crème brulee met skaakbord sashimi en oestersap, asook ‘n dekonstruktiewe waterblommetjie bredie – beskryf as ‘n duet van terriens met aartappel-puree en breyani emulsie. Ferran Adria sou olé gese het vir waterblommetjies se future-forward hantering. (Pasella het die geregte in ‘n program met ‘n Seisoen-tema uitgesaai en die resepte ook in die kookboek Pasella 1 opgeneem.)
My manier: Waterblommetjiebredie met skaapstertjies-as-jy-wil
Hierdie resep is wat my hand gevind het om te doen en is in die tradisionele styl, ter ere van die Klein Karoo waar die skaapstertjies vandaan gekom het. Hanteer die skaapstertjies net soos enige lamsvleis – Dis ‘n cute vleisie, en heelwat minder intimiderend as beesstert waaraan jy maklik weglê.
4-6 porsie
1 kg lamskenkel (opgesny)
en/of
4-6 skaapstertjies, oortollige vet afgesny maar darem nog ietsie aan
2-3 knoffelhuisies
2 bondels waterblommetjies
2 E botter + 1 E sonneblomolie
1 vol glas droë witwyn
1 koppie goeie afreksel
Sout en fyn witpeper
Skil en sap van 1 groot suurlemoen (moenie diep rasper nie)
6 medium aartappels, geskil en in dik skywe gesny
Vir opdiening: gremolata (opsioneel)
Laat week die waterblommetjies vir 30 minute in goed-gesoute water. Spoel af onder lopende water.
Geur vleis met sout en peper. Verhit botter met die olie in ‘n kastrol, verbruin die vleis. Skep uit en hou eenkant.
Geur skenkels en skaapstertjies en braai in beurte goudbruin. Haal ui en hou eenkant. Soteer die uie en knoffel in dieselde kastrol tot goudbruin, sowat 8 minute. Sit die vleis , waterblommetjies by, gooi suurlemoenskil, sap, wyn en aftreksel by en roer deur. Prut met deksel op vir 50-60 minute. Indien nog vloeistof nodig is, voeg bietjie kookwater by. Op hierdie punt haal ek ‘n paar waterblommetjies uit wat al dente gekook is en hou eenkant (dit word aan die einde bo-op die gaar bredie gesit, en gee lekker tekstuur).

Haal halfpad deur die prut ‘n klompie al dente blommetjies uit om voor opdiening by te sit vir tekstuur
Plaas die aartappels bo-op, geur met nog ‘n bietjie sout en peper ‘ en neutmuskaat. Prut tot die aartappels sag is en die vleis van die bene loskom. Roer gremolata by Om geure op te vars.
Skep waterblommetjies in opdienbak, plaas die al dente waterblommetjies wat vroeër eenkant gehou is bo-op. Bedien met wit rys.
Wenke:
- Weerstaan die versoeking om die pot te veel te roer, anders tas jy die waterblommetjies se waardigheid aan en eindig met ‘n pappery wat soos damslyk lyk.
- As jy vermoed jou gaste gaan neus optrek by gedagte aan skaapstertjies, pos hulle stert(loos) tussen die bene huis toe. Ag, nie rêrig nie – laat ons gasvry wees en pluis die gaar vleis van die beentjies af vir die fiemies-eters.
Maak die tafel mooi.
- Freesias – my lente-gunsteling – laat my dink aan waterblommetjies. Ek dek my tafel eenvoudig met ‘n bos goudgeel freesias en ‘n bak suurlemoene as ons waterblommetjies eet.
- Vars waterblommetjies is self ‘n pragtige blom om as tafelversiering te gebruik. Hierdie idee het ek by Letitia Prinsloo, prinsipaal van die ICA gekry toe ons die Slow Food-shoot vir Pasella gedoen het in haar pragtige Banhoek-huis.
Lirieke: Waterblommetjie
Anton Goosen se lirieke gee mens hoendervleis.
Waterblommetjies in die Boland.
Waterblommetjies van die Kaap.
Maak die bredie net soos, in die wynland.
En sê jy is baie lief vir my, voor jy gaan slaap.
Daardie wind waai weer, by my voordeur in.
Hy maak my hart weer, lekker sing.
Dit is gaaf, om die kaap weer dag te sê.
En ek vat jou saam, na die koringland.
Wie ry saam, as my hart so brand.
Dit is lekker om die Boland lief te hê.
Van Hunks het al sy pyp gestop.
Tafelberg se hoed is op.
En die bergies begin al huis se kant toe staan.
Groenpunttoring knip sy oog.
Die Suidoos maak so ’n wye boog.
En die waalpad help jou, as jy huis toe gaan.
Oh, die luggie hier is vry waar my hart heeltyd wil bly.
En ek wil my langs Oumies Victoria neer gaan vly.
Laat ons deur die tuine loop.
By die parade, iets gaan koop.
As die wind so koud waai.
Laat ek eers gou jou jas vasknoop.
Want daar is.
Waterblommetjies in die Boland.
Waterblommetjies van die Kaap.
Maak die bredie net soos, in die wynland.
En sê jy is baie lief vir my, voor jy gaan slaap.
O, Kaap, o Kaap, o, mooiste Kaap.
Jy maak my hart weer baie seer.
Jou Ghantang, kom mos altyd weer en weer.
Die Mayflower het uitgevaar.
En gaan snoek haal daar by Houtbaai, waar Karbonkelberg die stormsee gewaar.
Drie skepsels, het by Dassiepunt, na die ster gekyk,
en teen die wind in voet geslaan, en die stralekrans aangegee.
Hulle het teruggekeer na Tafelbaai.
En op Duiwelspiek vir die engel gewaai.
En die engel het trane uit sy oë gevee.
Want daar is.
Waterblommetjies in die Boland.
Waterblommetjies van die Kaap.
Maak die bredie net soos, in die wynland.
En sê jy is baie lief vir my, voor jy gaan slaap.
(bron Liriekfabriek.co.za)
Waar in Johannesburg kan ons tans die blik Waterblommerjies koop, ASSEBLIEF🙏🙏🙏
UITSTEKENDE INSPIRASIE ! EK GAAN NOU VIR DIE EERSTE KEER IN MY LEWE WATERBLOMMETJIES KOOK!
Hanneke, jy MOET my laat weet hoe jou eerste kooksel was.Dis darem maar net die lekkerste lekker. Onthou net, genoeg surigheid, sout en peper. En ‘n vet vleisie.