Ek soek iets om die lyf om my dag te begin, met darem ‘n tikkie sondigheid en bederf by …. dus is ek en ‘n bakkie semels nie vriende in die oggend nie. Ek wil ook nie die roete gaan van W.C. Fields wat geskerts het: “I must have a drink of breakfast”. Maar ai, in die week hol ons van vroegdag al soos afkophoenders rond. Geen tyd om enigiets meer in die oggende te eet as weetbix of ‘n marmite roosterbrood nie. Maar dis waarvoor naweke is – om iets spesiaals vir ontbyt te maak, en dan rustig om die tafel te sit sonder ‘n sorg in die wêreld.
Karringmelk pannekoekies (en ‘n Crunchie vir ontbyt)
Hierdie heerlike pannekoek van die Australiese sjef Bill Granger is presies waarvoor ek hierdie naweek lus het. Ek noem dit eintlik eerder pankoekies – want dis halfpad tussen wat ons as pannekoek en plaatkoekies ken. Die karringmelk maak die pannekoekies besonder lig.
(maak 16 pannekoekies)
2 koppies koekmeel
15 ml bakpoeier
knippie sout
30 ml suiker
2 eiers, lig geklits
750 ml karringmelk
75 g ongesoute botter, gesmelt
ekstra botter om die pan mee te smeer
Sif die koekmeel, bakpoeier, sout en suiker saam in ‘n mengbak. Voeg die eiers, karringmelk en gesmelte botter by om dit net goed te meng.
Maak ‘n kleefvrye pan warm op medium hitte en borsel die bodem met ‘n smeersel van die gesmelte botter. Vir elke pankoekie skep jy so ‘n 1/3 koppie van die beslag in die pan – en bak 2 minute tot dit begin blasies op die oppervlakte maak en die onderkante goudbruin is, dan draai jy dit om en bak nog ‘n minuut. Stapel jou pankoekies op ‘n bord tot almal gaar is.
Jy kan dit voorsit met gekarameliseerde pruime – ewe maklik: maak ‘n braaipan baie warm, sny jou pruime in die helfte en besprinkel die gesnyde kante met suiker. Plaas die pruime suikerkant in die warm pan en laat die suiker smelt en karameliseer vir omtrent 1 minuut. Bedien die pankoekies in stapeltjies met die pruime, esdoringstroop en jogurt.
- Wat jy ook kan doen is om bloubessies oor die pannekoek te strooi net na jy die beslag in die pan gegooi het.
- ‘n Ander lekker bederfding bo-op pannekoekies/plaatkoekies is heuningkoekbotter: die heuningkoek wat ek hiervan praat is ‘honeycomb’ soortgelyk aan die binnekant van ‘n Crunchie. Om jou eie heuningkoekbotter te maak, gooi 250 g sagte botter en ‘n groot Crunchie (in stukke opgebreek) in ‘n voedselverwerker, verwerk tot dit glad is en draai die mengsel in kleefplastiek toe om ‘n worsie te vorm – dit sit jy dan in die yskas vir 2 ure, voor jy dit in skywe sny en op die warm pannekoek sit . Dis ook lekker op roosterbrood.
Hoeveel suiker in die plaatkoekie resep?
Nadia, jy’s ‘n doring! Dankie vir die skerp oog. Jy’t 30 ml suiker nodig.
Dankie baie, ek gaan dit definitief probeer!