My oog val onlangs op geblikte waterkastaiings toe ek op ‘n drafstap die winkelrakke aandurf. Dit was jare laas wat ek hierdie Chinese stapel ingespan het. Ek onthou wel die aangename kraakvars tekstuur, wat – alhoewel dit nie ‘n uitsonderlike smaak het nie – tog ‘n bydrae maak om iets ‘knarserig’ na die tafel te bring.
Waarmee die waterkastaiing spog is juis hierdie krokante karakter wat behoue bly deur die gaarmaakproses – iets wat min groentesoorte beskore is. Dis juis vir hierdie heerlike krakerigheid dat ek daar en dan besluit om weer ‘n slag ‘n blikkie waterkastaiings in die inkopiemandjie te sit. Dit gaan gebruik word om geblikte salm te omskep in heerlike viskoekies – so maklik en gesond as wat dit ietsie anders is. Die idee het ek gekry op die program van die Amerikaanse tv-sjef en dieetkundige Ellie Krieger. (Kyk gerus uit vir haar op Food Network).
Die resep span smake aan twee pole van die smaakspektrum in: vir die viskoekies die neutrale smaak van waterkastaiing en vir die jogurt- en gemmerdoopsous die rokerige, pikante byt van geroosterde sesamolie. Die bruinbroodkrummels maak ook ‘n bydrae tot die lekker tekstuur van die viskoekies.
Salm-en waterkastaiing viskoekies met sesam-sousie
Maak 12 viskoekies (halveer vir 6 viskoekies)
2 blikke salm
4 snye bruin- of volgraanbrood, korsies afgesny
4 stingels slaaiuie, in ringetjies gesny
1 k vars koljander, fyngekap
½ t koljander
½ t komyn
½ t cayenne-peper (opsioneel)
sout en peper na smaak
1 koppie geblikte waterkastaiings
skil en sap van 1 suurlemoen
5 ml ligte sojasous
2 eiers, liggies geklits
Sonneblom- of canolaolie vir vlakbraai
Garnering: Koljanderblare en suurlemoen- of lemmetjieskyfies
Doopsous *
½ k lae-vet ongegeurde jogurt
4 e lae-vet mayonnaise
5 cm knobbel vars gemmer, geskil en fyngerasper
1 t geroosterde sesamolie
sout en peper na smaak
1 t sojasous
*die viskoekies kan ook voorgesit word met soet rissiesous (sweet chilli sauce)
Metode: viskoekies
Spoel die waterkastaiings onder lopende water af om van die inlê-vloeistof ontslae te raak. Dreineer en kap dit grof. Maak die snye brood fyn in die voedselverwerking. Plaas die salm in ‘n mengbak en vlok fyn met ‘n vurk. Gooi die broodkrummels, slaaiuie, koljander en gekapte waterkastaiing by en meng liggies met vurk deur. In ‘n aparte bakkie klits die eiers liggies, roer sojasous, suurlemoen-sap en skil by. Roer dit by die vismengsel. Geur na smaak met sout en peper. Vorm palmgrootte viskoekies met die hand. Verhit dun lagie olie in die pan en bak die viskoekies 6 minute aan elke kant tot goudbruin. Bedien warm met doopsous en/of soet rissiesous, vars koljanderblare en suurlemoen- of lemmetjieskywe.
Metode: jogurt doopsous
Klop die jogurt en mayo goed deur met ‘n vurk om deeglik te meng. Roer die gemmer en sojasous by. Voeg sesamolie by (begin eerder met die helfte en voeg nog na smaak by). Geur met sout en peper. Skep in aparte opskepbakkie.
Baie interessant. Ek moet bieg, het nog nooit waterkastaiings probeer nie. Sal dit nie weer mis in die supermark nie. Ek is mal oor viskoekies!
Laat weet as jy iets daarmee maak. Ek wil ook my repertoire uitbrei! Iets wat ek nog by die oosterlinge moet leer is om dinge spesifiek vir hulle tekstuur te aanvaar en nie altyd smaak daarvan verwag nie. Dis soos bamboo-shoots ook: smaak nie na iets nie, maar dra ander smake en gee ‘n anderse ervaring op die tong en tand!