Sonder ‘n stewige wok hinke-pink mens maar deur die roerbraaigeregte. ‘n Ware hardebaard-wok sal vir jou op die gasvlam ronddans, want dis ‘n pan met ‘n werkersiel. As jy nie ‘n wok het nie, kan jy hierdie kleurvolle roerbraaislaai steeds met groot sukses maak. En met mango nou in seisoen is daar nie ‘n beter tyd vir hierdie interessante roerbraai nie.
Maak 2 porsies
2 E canola-olie vir roerbraai
2 hoenderborsies in repies gesny
Gesnyde rooi ui
1/3 k wit wyn
1 knoffelhuisie
1 klein rooi brandrissie, fyngekap
1 klein mango, geskil en opgesny
handjievol geskeurde basielkruid en jong rocketblare
Verhit 1 E olie in die pan. Roerbraai die hoenderrepies sowat 2 minute of tot goudbruin. Skep die hoender uit. Voeg nog ‘n eetlepel olie in die pan en roerbraai dan die uie en soetrissie ook vir 2 minute – Voeg nou die wyn, knoffel en brandrissie by – laat dit opkook en voeg dan die gaar hoenderstukkies en mangostukkies by en braai verder. Haal die pan van die plaat af en roer die basielkruid en rocketblare deur.
Foto: Simply lite food
Hallo Errieda,
Het jy a’n rooi of groen soetrissie gebruik vir hierdie resep. Ek het van die foto afgelei dit was rooi. Maar jou bestandele lys sluit dit nie in nie.
Ek maak dit vanaand, maar omdat ek in Chillie land (KZN) bly, gebruik ek twee brandrissies.
Groete,
Judy
Howick
Hi Judy, rooi soetrissie gee ekstra kleur. Jy’s dapper met die twee brandrissies, maar dis wel so deel van ‘n suksesvolle roerbraai. Mango en brandrissie is ook fantastiese pasmaats – soos jy sal weet daar in KZN!
Ek is in die mark vir ‘n wok. Enige voorstelle?
Nicolene, As dit by woks kom, hoef jy nie iets duurs aan te skaf nie: om die waarheid te se^, vermy die ‘big brands’ waar jy meer vir fancy ontwerp as vir werkverigting betaal. Ek het myne gekoop vir spotgoedkoop by ‘n Chinese winkeltjie. “Season’ hom net deeglik voor jy hom die eerste keer gebruik en hou dit geolie daarna. Vermy BESLIS woks met ‘n kleefvrye (teflon-tipe) afwerking – die afwerkings dop meestal gou op weens die hoë hitte.
Woks werk ook net op ‘n gasplaat. As jy net ‘n elektriese plaat het, gebruik dan sommer ‘n enkel gasbrander op ‘n gasbottel – wees net versigtig, want dit is dalk lomp. Sorg dat jou pan baie goed warm is – en vermy olie met lae brandpunt soos olyfolie. Ek sluit ‘n web-link in waar jy meer oor wok-keuses kan lees. http://lifehacker.com/5554466/how+to-buy-a-wok-styles-materials-and-methods
Errieda
Jy is ‘n ster! Ek sal bietjie by China Town gaan loer – dalk kry ek daar die ware Jakob.