Somer spaghetti met rocket en lemmetjie

My ou kosvriend Colin Steyn het altyd gesê “as jy nie 8 ure het vir jou bolognaise sous om te prut nie, dan maak jy iets anders”.  En tot vandag toe sal ek nie kortpad vat met spaghetti bolognaise nie.

Gelukkig is daar heerlike ander kwylbeksouse vir somerspaghetti – lig en geurig, vriendelik op die heupe en genadig met die huiskok se tyd, soos hierdie  resep vir spaghetti met lemmetjie en rocket.   Ek het dit ‘n dekade gelede geleer maak uit Marie Claire se Flavours en maak dit klokslag as die somer aanbreek.

Vir die sousie verhit jy  2 eetlepels olyfolie in ‘n groot pan  en braai die volgende saam :  1 E lemmetjieskil, 2 fyngekapte knoffelhuisies, 1 rooi brandrissie – opgekap en die saadjies verwyder,  en dan ook 2 E kappertjiesaad.  Dis vinnig – net so 1 tot 2 minute tot die geure goed uitslaan. Daarby gooi jy stukkies brosgebraaide gerookte spek, of as jy aan die begin van die maand nog nie platsak is nie kan jy prosciutto  ook gebruik.

Nou gooi jy die  klaargekookte spaghetti  in die pan  en roer dit goed deur sodat elke stringetjie pasta intiem kan kennis maak met die geurige lemmetjieskil, kappertjies en so aan. (Jy’t ‘n hele pak spaghetti nodig vir 4 persone.)

Net voor opdiening roer jy 60g rocket ( in lang dun repies gesny ) by tesame met 3 E lemmetjiesap – die sitrusgeur is heerlik saam met die sout van die kappertjies en die rokerigheid van die spek. (Donna Hay gebruik baie meer rocket, maar ek dink dit is bietjie te OTT om jou hele oes rocket in een gereg in te roer!)

En pleks daarvan om soos gebruiklik  parmasaan oor te rasper, rond jy elke opgeskepte bakkie pasta af met gemarineerde feta of bokmelkkaas. 

Dit marineer jy vooraf sommer self  soos ek gedoen het in die foto hierbo. Jy laat die blokkies feta ‘n paar uur lê in ‘n mengsel van olyfolie, suurlemoensap- en skil, heelwat peper, vars tiemie, roosmaryn en  droe rissievlokkies. (Die feta is sout genoeg, so ekstra sout is oorbodig). Ek hou ook daarvan om ‘n huisie gekneusde knoffel by te voeg. Wenk – wanneer die kaas op is, kan die olie gebruik word om allerhande geregte te geur, so moet dit tog nie weggooi nie!

En daar het jy dit – ‘n heerlike somerspaghetti met rocket en lemmetjiesap. Vir ekstra lekkerte kan jy lemmetjiekwarte op die tafel byderhand hou vir diegee wat die sitrusnoot- met nog ‘n paar squirtsies wil beklemtoon.

[Foto van pasta uit Flavours, Marie Claire, Murdoch Books.]

10 thoughts on “Somer spaghetti met rocket en lemmetjie

  1. Ek het eers verlede week sover gekom om hierdie pasta van jou te maak, maar dit gaan van nou af gereeld op ons spyskaart verskyn. Dit het my minder as ‘n halfuur geneem vandat ek by die kombuis ingestap het, totdat ek en manlief daar uit is met ons geurige bakkies kos. Al hou ek daarvan om kos te maak, is daar tog tye wat ek ‘n ‘hit and run’ wil doen in die kombuis, maar ek wil ALTYD lekker eet:) Dankie!

    1. dis darem net te lekker om ‘n nuwe dis by mens se repertoire te sit. En jy’s reg – hierdie een is perfek vir daai hit en run dae sonder dat jy hoef af te skeep. Pasta wil juis nie te veel gefief en gefaf mee word nie.

  2. Baie dankie vir hierdie treffer! Ek het dit gisteraand vir vriendinne gemaak en almal wou die resep hê. Maklik en vinnig met ‘n verskeidenheid geure wat almal om die tafel opgewonde sal maak.

    1. Rita, lemmetjies is wel meer subtiel, maar jy sal wel suurlemoen kan gebruik. Gebruik net minder suurlemoensap as wat die resep aandui. Suurlemoenskil is heerlik parfuumagtig, sonder die suur, so vermeerder dit gerus. Ek maak dit ook weer vanaand en het klaar die feta in die yskas besig om te marineer.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.