In ons koskultuur is daar ‘n beskeie poeding wat verdien om vir ‘n dag die prinses van poedings te wees. Voor die winter om is. Hierdie kosstorietjie is oor so ‘n poeding.

Suikerbekkie se moses. Die groenvye maak lekker nog lekkerder. Ek skep sommer tuisgemaakte appelliefiestropie ook oor. Skeppie jogurt daarby sorg vir balans.
Weg, winter! Skoert, koue! Om my wil almal die seisoen van nat ruite, sneeu op die berge en skaapvelpantoffels verbywens. Nie ek nie, want daar is nog ‘n paar winterpoedings wat ek eers wil maak voor die somer-slaaibakke uit die kas gehaal word.
Noem dit my ‘wil-eers winter-bucket list’. Karringmelkpoeding is een van die dinge wat ek nog wou maak en afmerk van die lys. Sagopoeding was ‘n ander. So seker wou ek wees die somer betrap my nie onkant nie, dat ek laasnaweek sommer altwee poedings in een naweek gemaak het.
- Die sagopoeding is Saterdagaand dubbel-aangemaak , want die koue oorskiet is net so lekker (ek blog later oor hierdie hemelse troospoeding uit my kinderjare).
Die karringmelkpoeding het ek vir Sondagmaal gemaak. Ma Inez en Annamie haar huisverpleegster (en nou een van die familie) het kom kuier. Sy’t met haar hekelwerkies gesit en glimlag terwyl ek met die kosvoorbereidings besig was, want dis een van haar gunstelinge wat sy te lank laas kon geniet.
Ag jinne, dis so eenvoudig om karringmelkpoeding te maak dat ek verstom staan dat ons hierdie beskeie poeding nie meer gereeld ‘n kroontjie op die kop sit en as Prinses van Poedings aan tafel paradeer nie.
En as die winter verby is, troos ek my dat ek altyd iets soos karringmelk panna cotta kan maak. Maar ai, dit sal nooit aan my hart kan ruk soos die poeding waarmee Ma en Ouma my kleintyd tafel toe gelok het nie.
Lemoen Karringmelkpoeding
1 k suiker
3 eiers
1 k melk
Skil van 1 lemoen
30 ml koekmeel
500 ml karringmelk
Vars gerasperde neutmuskaat
Botter vir stippel
Vir voorsit: ‘n streep moskonfyt , groenvye konsef of lemoenkrulle-in-stroop of ‘n streep moskonfyt.
Verhit jou oond tot 180°C. (Die voorbereidings is so vinnig dat jy die oond liefs vroeër moet aansit.)
Klits die suiker en eiers goed saam tot romerig en lig van kleur. Klits die melk, lemoenskil, meel en karringmelk by. Rasper ‘n bietjie neutmuskaat in as jy wil. (lekker!).
Skep in ‘n gesmeerde oondvaste poedingbak. Of maak ‘cute’ individuele poedings in vuurvaste koppies of bakkies. (Gooi dan die mengsel in ‘n beker wat makliker is om dit tussen 4 kleiner bakkies te verdeel). Rasper neutkuskaat oor, stip met botter en bak teen 180°C vir 30 minute tot goudbruin en gestol.
Bedien direk uit die oond uit – lekker warm en die bolagie nog effe ge-souffle. As ek moskonfyt gehad het, sou ek dit oorgedruip het (lekker die suursoet). Gelukkig het ek ‘n flessie groenvyekonfyt in die spens gehad. Onder die goudbruin korsigheid wag die troostende sagte fluwelerige binnegoed van hierdie Prinses-vir-‘n-dag poeding.
Toe eet ek en Ma Inez, en Ian en Annamie dat ons skoon stil raak. Dit was Annamie se eerste ontmoeting met hierdie kultuurpoedinkie. Vir my het dit my kinderjare teruggebring.
{Karringmelk byderhand}
Onthou net mens kan nie karringmelkpoeding op ‘n impuls kan maak op ‘n koue aand as jy nie die amper-outydse bestanddeel op jou inkopielys sit nie. Koop sommer ‘n paar bottels: wat jy nie vir karringmelkpoeding gebruik nie, kan jy karringmelkbeskuit of ‘n vinnige karringmelk-en kaasbroodjie mee bak, volgraanmuffins of woepsie-koekies mee optower of wildsvleis in marineer (nog iets vir die winter-bucket list.) Gebruik dit in plaatkoekies en pannekoek of vir Sarie se verleidelike Karringmelk-sjokoladekoek wat op my moet-probeer lysie is.
Maak jou eie karringmelk volgens ‘n resep wat ek op die webwerf Kookkuns.com gekry het. Ek het nog nie self karringmelkpoeding met tuisgemaakte karringmelk gemaak nie, maar het nou aanmoediging om voor die winter uit is, die heerlikheid weer te maak (as jy dit maak laat weet hoe die resultate is.)
Tuisgemaakte karringmelk
Een koppie melk met 1¾ eetlepels kremetart of 1 eetlepel wit asyn of 1 eetlepel suurlemoensap. Die melk sal begin skif. Roer goed voor gebruik.
of
‘n Mens kan gewone ¾ koppie jogurt met ¼ koppie melk meng en dit gebruik om karringmelk te vervang.
{Wonder jy wat’s karringmelk? Hier’s ‘n Wiki-kykie}
“Karringmelk is ‘n geurige, suur melkdrank wat as neweproduk van die bottervervaardiging ontstaan. Danksy die baie lae vetgehalte van minder as een persent is karringmelk een van die mees gesonde suiwelprodukte en ‘n belangrike bron van proteïne, kalsium, die vitamienaanvuller lesitien en melksuiker (laktose).
Karringmelk word reeds sowat 4 500 jaar lank vervaardig. Gewoonlik is melk in houers, wat van bokleer, erdewerk of pampoene gemaak is, geskud tot die room (die bottervet) van die melk begin afskei. Die bottervet is daarna geklits en geknee totdat botter ontstaan – en tegelykertyd karringmelk begin uitvloei.
Later word bottervate gebruik om botter te vervaardig. Vandag word karringmelk op ‘n meer higiëniese manier in houers van vlekvrye staal industrieel vervaardig. Vir ‘n lang tyd kon karringmelk egter slegs binne ‘n paar dae na sy bereiding geniet word, aangesien die laktobakterië die karringmelk vinnig begin versuur.
Teen1970 begin ‘n Duitse suiwelfabriek daarmee om eerder soetroom as suurroom vir die vervaardiging van karringmelk te gebruik en kan sodoende die houbaarheid van karringmelk tot sowat vier weke verleng. By hierdie metode word soetroom-karringmelk versigtig verhit en deur middel van verdamping ontwater. Deur byvoeging van spesiale laktobakterië word die kenmerkende geurige, suur smaak van karringmelk verkry.”
Is 30ml koekmeel die regte mate?
Moet dit nie dalk 300 ml wees nie\/
Hi Goghie, dis korrek die 30 ml. Jy kan as jy wil bietjie meer meel bysit, maar dis ‘n eierige poeding soos Japie se Gunsteling waar baie min meelblom gebruik word.
Groete, Errieda
Baie dankie vir heerlike resep – het veral vir my man lekker herinnernige terug gebring.
Vraag van my kant:
* Die poeding is baie soet – hoe kan ek dit minder soet maak? Sal dit werk as ek die suiker halfveer?
* Die poeding trek so lang soet watertjie – is dit korrek of doen ek iets verkeerd? Hoe vermy/verminder ek dit?
(Het nie met Karringmeldpoeding grootgeword nie maar dink dit is heeeeerlik en wil dit nog baie maak.)
Hi Mara, soms maak die poeding met my ook so dat hy ‘water trek’. Ek het agtergekom as ek diep potjies gebruik om dit in te bak dat dit meer geneig is om die stroopwater te maak. Die verklaring kan ook wees dat die eiers dalk groter is, of die oond nie al warm genoeg is as dit ingesit word nie. Bak hom ook maar langer – so 30 minute.
Kyk, dit IS ‘n soet poeding. Probeer met 1/4 minder suiker. Of bedien dit met ongegeurde GRiekse jogurt wat die soet balanseer.
Dankie – Karringmelkpoeding hier kom ek, winter of somer…