Vuurwerke en Fifty shades of flames

17 Aug

‘Laters babe’, ek sien jou  in die Rooi Kamer van Plesier vir

siepsop-bekbrand lekkerte, vuurwerke en piri-pirisous.  

 Ag nee wat, EL James – hou jou Fifty Shades of Grey. Gee my ‘n boek wat my behoorlik laat vlam vat. Nie in die Red Room of Pain nie, maar die Rooi Kamer van Plesier – die braaikamer pleks van die binnekamer,   my wange gekleur deur gloeiende kole van swart wattel of rooikrans.

Vuurwerke met Jan se Lamsribbetjie

Ek sê al lank ons vroue moet die volgende glasplafon deurbreek. Vroue werk al jare as paneelkloppers en helicopter pilots; as hartsjirurge en ingenieurs. Vroue maak wyn. Hulle boer, hulle bou en hulle breek deur die glasplafon van verskillende terreine. Maar daar is die een plek waar ons vroue nog ons deurbreek moet maak, en dis by die braaiplek.

Nou kan ons dit doen. En wie moet ons bedank? Ene Jan Scannel. Jy ken vir Jan. Die Lekker Jan met sy braaigoed. Die aan-die-brand Jan agter die Nasionale Braaidag. Jan van die televisieprogram; die rekordbreker; die amptelike gesig van Suid-Afrika se mees geliefde tydverdryf. Ek dink al aan hom as Onse Jan.

Nou deel  hierdie Jan sy omvattende kennis van vuurmaak en vleisbraai in ‘n boek Vuurwerke.

Loop verby Fifty Shades of Grey in die boekwinkel reguit op hierdie man af.

Alhoewel gemik op manne (kom ons erken dit maar – die vuurtjie en die kring om dit is manne-domein), sien ek dit as ‘n gedugte wapen vir vrou om die lingo te leer ken; om die geheime van daai brandende sirkel te verstaan. Om as’t ware die siel van die vlam te verstaan. Om vuur te tem, sit kastig in die manne se broek.

Dankie, Jan, jy het dit dalk nie so beplan nie…. maar jy’s ons vroue se beste wapen om die manne te onttroon, om as vurige kampvegters op te trek na die braaikamer, die man-oonde, die Webers en die kampvuur. “Staan terug manne, hier kom ’n vrou met die braaitange, sweishandskoene, twee toeklaproosters en ‘n waterpistool. Ons het nie ’n kans nie. Sy’t duidelik Jan se boek gelees!”

Dis mooi van Jan om ‘n Braaidag wêreldwyd te wil laat vlam vat; maar wat julle manne nie weet nie is dat ons met Jan se boek so goed gaan raak dat ons sommer Vrouedag in Braaidag gaan laat omskep. Hel wat, ons omskep sommer die hele Augustus in Nasionale Braaimaand.

Die boek bevat Jan se duidelike en deeglike instruksies vir die braai van steak, lamstjops, sosaties en beesstert-potjie. Daarvandaan kan jy jouself bevordering gee na die groter braai-ikone: braairibbetjie, lamsboud of spitbraai. Die ander boustene van die lekker braai, soos braaibroodjies, stywe pap, mielies en my gunsteling: marshmellows oor die vuur met ‘n Bar One sous.

Die vrou wat hierdie boek soos ‘n ernstige student benader sal selfs die slagter kan beindruk: laat Jan jou leer hoe om vleis in die supermark of slaghuis uit te soek, dit voor te berei  en dan perfek te braai.

Dis deels resepteboek en deels reëlboek. Ja, daar’s baie reëls aan braai, seg Jan. Die boek begin en eindig met ‘n manifes van Jan Braai se tien braaireëls. Soos….’n braaibroodjie is jou kans in die lewe om jou brood aan albei kante gebotter te hê – gebruik dit! Daar’s die ernstiger reëls ook, soos om liefs nie inheemse hout vir kole te gebruik nie; en die dier wat sy lewe gee vir ons braai te respekteer en dit nie dood te braai nie.

Die ou vervelige vlamroman 50 Shades of Grey het drie boeke nodig om die kamstige bed-eskapades te onthul. Nee wat, Jan doen sy ding in 200 blaaie. En nog mooi foto’s ook. En glo my, dan ken jy elke kunsie in die boek. Elke geheimpie om die vuurwerke te laat spat. Jan onthul selfs wat in daai liefdesdoepa ingaan wat die tong laat brand en die bloed deur die are laat pomp: Peri-peri sous.

Jan Braai se gedugte Peri-Peri doepa uit Vuurwerke

Hier’s Jan se resep vir Peri-Perisous: iets wat jy in resepte soos Prego Steak rolletjie uit die boek kan gebruik en sommer permanent in die yskas kan aanhou vir wanneer die groot lus vir iets vurig jou beetpak. (Jan se resep is baie beskrywend – die manne het mos maar baie leiding nodig); ek het sy lekker vertelling ietwat verkort.)

{Jan Braai se Peri-Peri sous uit Vuurwerke}

Dit maak ’n groot hoeveelheid, maar hou vir weke in die yskas. Die smaak verbeter ook oor tyd.

8 huisies knoffel, fyngekap

½ koppie olie

½ koppie druiweasyn

½ koppie suurlemoensap

½ koppie water

1 sopie* paprikapoeier

1 sopie chilli-poeier

1 sopie sout

’n paar klein sterk chilli’s opgekap (Jan gebruik Piri-Piri, of te wel African Bird’s Eye)

Gooi fyn knoffel in glasfles met olie, asyn, suurlemoensap, water, paprika, chillipoeier en sout. Skud goed. Proe en pas aan as jy meer skop soek. Gooi nou vars chilli’s by. Jan se raad is om ingedagte te hou dat jou gaste nie almal die brand kan hanteer nie.

  • Moenie aan jou oë of sensitiewe dele vat nie. (dis natuurlik tensy jy na 50 Shades of Grey hou van bietjie pyn!)
  • ‘n Sopie is 25 ml.
  • Jan Braai se Prego rol uit Vuurwerke

Vir steak Prego roll het jy kruissnit of lendesnit steaks nodig (150 g tot 200 g elk*), broodrolletjies, botter, tamaties, slaaiblare en peri-peri sous. Jan slaan die vleis met die vleishamer sag. Die vleis word dan in die peri-peri marinade gesit (maar nie daarin swem nie) om die peri-peri karakter te kry terwyl jy die kole regkry. Die steaks word oor baie warm kole gebraai – vir dun steaks is net so 5 minute nodig. Stel dan jou rolletjie saam, maar laat die gaste self verder nog peri-peri sous oorgooi.

*Jan beveel ook aan dat jy uitkyk vir vakuumverpakte kruissnit of rump of sirloin in 300 g pakkies wat jy self kan sny in dunner steaks vir Prego rolls.

*Vuurwerke – in Afrikaans, word deur Human & Rousseau uitgegee. Fireworks word deur Bookstorm uitgegee. Dis in hardeband en kos R250.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: