Patat, vye en asynstroop-slaai; vye in port-peperstroop

8 Mar

Hoe kan mens ‘n somersdag in Prins Albert deurbring en nie tot vyedom  bekeer word nie?

a bak vye resized

Met die skiet van ‘Kokkedoor’, Kyknet se nuwe kookprogram, het ek die afgelope maand ‘n hele paar keer die lieflike Karoo-dorpie met die vriendelikste mense en vye-oorvloed besoek. Op die markies, in kafees en koffiewinkels – oral is daar vye. (Terloops, ek neem nie deel aan die kompetisie nie; ek is agter die skerms betrokke!*) 

Oor vye het ek al baie geskryf, vye warm van die boom af verslind, vye in winkels en stedelike ‘plaasmarkte’ teen die prys van robyne aangekoop. Maar nêrens was die vye ooit so stroperig, heuning-deurdrenk en sinne-verdowend as een Sondag op Akkedissie se stoep nie.

Nic en ek op die stoepie.

Nic en ek op die stoepie.

Die informele alfresco Sondag-ete was deels ‘n huis toe verlang bymekaarkom en deels om Mariëtta Kruger (Kokkedoor aanbieder) se verjaarsdag te vier. Die Sondag-ete het eintlik oor ander grootnaam kosse gegaan: my kosvriend/Kokkedoor-beoordelaar Nic van Wyk se skaap-pens-en-pootjies afval met koring; soutribbetjie met 30 jaar verouderde hanepootasyn besprinkel; en ‘n uitbundige slaai vol vars plaasgoed wat Nic en Hetta van Deventer (ook Kokkedoor-beoordelaar) die vorige dag by die dorpsmarkie gekoop. Maar dis met die bak vye wat stilweg op die tafel verskyn het na almal ietwat bedwelmd van al die son en gesels was, waarmee ek my vraatkant gewys het.

Die eerste prys is om vars, ryp vye net so te eet, eerder as om dit te vervorm in allerhande outlandish geregte.  Met die vye van daardie warm somersdag durf mens peuter nie. Jy kan hoogstens besluit of jy die vye versigtig gaan afskil en dit talm-talm eet tot net die stingel in die hand oorbly; en of jy dit eerder soos ek maak, met een hap verslind, skil en al.

aa IMG_1583 slaai met drup RESIZED

Patat- en vyslaai met asynstroop. Foto: Ian en Errieda du Toit

 

‘n Tweede beste behandeling vir vye is ‘n slaai wat die liriese vrug laat opteam met geroosterde patatskywe, rissie, druiwe en asynstroop. Vir ‘n sterk soutblêr, voeg bokmelkkaas by. Derde op die lekker-lys is om die vye in ‘n port en peperstroop te prut en met roomys te eet. Dis nou lekker, blêrrie lekker. Amper so lekker soos die son-warm vye op ‘n Sondagnamiddag op ‘n koel stoep in die Karoo.

PATAT, VYE EN ASYNSTROOPSLAAI

4 klein soetpatats (1 kg)

3 e olyfolie + 2 e ekstra

40 ml balsamiese asyn

20 g strooisuiker

12 sprietuie

1 brandrissie, pitte verwyder, in ringe gesny

6 vars, ryp vye, in kwarte

150 g sagte bokmelkkaas (opsioneel)

Seesoutvlokkies – ek beveel Khoisan sout van die Weskus aan.

Metode:

Sny die soetpatats, skil en al in die lengte middeldeur, dan elke helfte in drie. Meng die patatskywe met 3 e olyfolie, 2 t sout en heelwat peper. Sprei uit op ‘n bakplaat met die velkante na onder en bak in ‘n baie warm oond (240°C) tot die patat sag is (sowat 25 minute).

Maak die asynstroop: Sit  40 ml balsamiese asyn en 20 g strooisuiker in ‘n kastrolletjie en bring tot kookpunt, en laat dan oor laer hitte vir sowat 4 minute kook tot dit stroperig is – haal van die hitte af en laat afkoel – soos wat die stroop afkoel sal dit dikker raak. As dit t dik raak, gooi ‘n bietjie water by.

Net voor opdiening halveer 2 bossies (12) sprietuie in die lengte en sny in 4 cm stukke. Roerbraai dit in 2 e olyfolie saam met die brandrissie vir sowat 4 minute.

Plaas die soetpatat op ‘n plat slaaibord, gooi die warm sprietuie, rissie en olie oor die soetpatats. Rangskik die vye tussen die patatskywe en bedruip dit met die asynstroop.

Resep: Jerusalem, deur Yotam Ottolenghi.

  • Vye in gepeperde port uit ons kookboek Huiskok Glanskok. Foto: Samarie Smith

    Vye in gepeperde port uit ons kookboek Huiskok Glanskok. Foto: Samarie Smith

VYE IN GEPEPERDE PORT

Vir hierdie maklike resep uit ons kookboek Huiskok Glanskok, word port saam met die vye ingespan. Die pers van port en die soet van die vye word op ‘n dramatiese manier nog lekkerder gemaak deur die swartpeper.   Bedien dit met roomys: die kontras van soet, pikant, warm en koud is verkwikkend.

Bedien 2-4

4  groot vars vye, middeldeur gesny

250 ml port

7 ml varsgemaalde swartpeper

Vanieljeroomys

Metode:

Prut die vye, peper en port vir 3 minute. Lig die vye versigtig uit die stroop met ‘n gaatjieslepel en laat die peperige portstroop effe afkook. Gooi oor die vye en bedien met vanieljeroomys.

  •  Skakel Sondag 10 Maart om 13:00 op Kyknet in om die 20 Kokkedoor-deelnemers te ontmoet.  Die nuwe kookkompetisie speel in Prins Albert af en gaan oor onthoukos met ‘n moderne kinkel.

9 Responses to “Patat, vye en asynstroop-slaai; vye in port-peperstroop”

  1. My Food Memories April 1, 2013 at 8:55 pm #

    Ek wens ek het n vyboom in my tuin, en hy moet die heel jaar dra sodat ek al jou fantastiese vy resepte kan maak

  2. My Food Memories April 1, 2013 at 7:35 pm #

    Vye, liefste vye, jy ly in die versoeking, jy laat my kwyl, jy maak my knië lam.

  3. Ambelene March 26, 2013 at 3:50 pm #

    Wat ń smaak-sensaie, genoeg om ń mens te laat voel asof jy in die Hemel is.

    • huiskok March 26, 2013 at 4:38 pm #

      Dankie Ambalene!

      • Ria March 29, 2013 at 6:24 pm #

        Hierde twee vye resepte is wenners in ons familie- hemels!!! Dis so jammer die vye tyd gaan verby en ons moet wag tot volgende jaar.

      • huiskok March 29, 2013 at 10:31 pm #

        Hi Ria, seisoenvrugte is vir die rede nog meer spesiaal. Ek hoop Om vir oulaas nog weer die resepte te maak voor die winter!

  4. Mariaan van Wyk March 15, 2013 at 8:57 pm #

    Erieda, jy skryf so goed, dat ek die vye kan proe. Jou entoesiasme vir alles wat jy aanpak kikker my sommer op

  5. flippenblog March 9, 2013 at 2:19 pm #

    Baldadig! Daardie kontrei se donker oranje appelkose is ook net iets anders. Dit maak so donker diep oranje konfyt. Ai tog…..

  6. Nina March 8, 2013 at 1:35 pm #

    Kannie meer wag vir al die lekkerte op Kokkedoor nie!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: