Wie sou kon dink mens kan suurlemoenbotter (lemon curd) met olyfolie maak?
- Doop sommer soetkoekies in die suurlemoen-0lyfolievla. Foto: Ian du Toit
Die anti-botter brigade gaan hande klap en smulpape ook, want die olyfolie gee ‘n heerlike vars, groen, amper sitroengras-agtige smaak daaraan. Dit kan dalk misleidend wees om steeds van suurlemoenbotter te praat, en noem ek dit eerder suurlemoen-olyfolievla.
Die metode is ongewoon, maar doodmaklik en vinnig. As jy ‘n bietjie wil uithang aan die onthaaltafel kan jy suurlemoenpoffertjies en oondgedroogte suurlemoenringetjies daarby maak. Sit die suurlemoen- lyfolievla dan as doopsous voor.
SUURLEMOEN-OLYFOLIEVLA
(MET OF SONDER SUURLEMOENPOFFERTJIES EN OONDGEDROOGTE SUURLEMOENWIGGIES)
Bestanddele
3 eiers teen kamertemperatuur
125 ml suiker
125 ml suurlemoensap, deur siffie gegooi
½ t vanieljegeursel
30 ml suurlemoenskil
125 ml topgehalte Suid-Afrikaanse fyn olyfolie
Plaas die eiers, suiker, suurlemoensap, vanieljegeursel en suurlemoenskil in ‘n versapper en meng dit teen die hoogste spoed tot lekker skuimerig, sowat 1 minuut. Gooi die olie in ‘n baie dun straaltjie by terwyl jy aanhou meng. Plaas die mengsel in ‘n bak of kastrol oor sag kokende water (dubbelkoker) en roer tot dit ‘n dik vla vorm, amper soos mayonnaise.*
Die suurlemoen-olyfolievla hou drie dae in die yskas en dit kan met gemak gevries word.
Gebruike vir suurlemoen-olyfolievla
- Dipper vir suurlemoenpoffertjies of blokkies vars vrugte
- Toebroodjievulsel vir brioche-‘French Toast’
- Pavlova
- Limoncello tiramisu
- Smeer dit op brood of paasbolletjies
- Gebruik as tertvulsel
- Maak roomys
- As ‘n tussenlaag vir ontbytmuesli met vrugte
- In ‘n trifle
- Saam met snytjies sponskoek, jogurtkoek of olyfolie-koek
- Bedien met roomkaas en kraakbeskuitjies
*NOTA: As jy een van die gelukkige siele is wat ‘n Vitamix als-in-een versapper/voedselverwerker het, kan die vla net in die versapper gemaak word, sonder die dubbelkoker-stap (die draaiende lemme wek hitte op wat die vla ‘kook’. As jy wil weet hoe, google Caroline J. Beck se ‘6 minute- Meyer Lemon Olive Oil Custard’ resep.
Maak ‘n suurlemoen-nagereg duisend: Bedien die suurlemoenvla met suurlemoenpoffertjies en oondgedroogte suurlemoenringetjies.
Droog suurlemoenskywe so:
1 groot suurlemoen, in 3 mm ringe gesny, pitte verwyder
15 ml strooisuiker
Voorverhit die oond tot 80°C. Plaas die suurlemoenringe op ‘n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is, sif die suiker oor albei kante en pak in ‘n enkellaag uit. Bak vir drie ure sonder om dit om te draai. Laat afkoel.
Suurlemoenpoffertjies
Fyn olyfolie, vir braai
190 ml meel
30 ml ligte bier
5 ml suiker
1 eierwit
6x 6 mm suurlemoenwiggies, ontpit
62,5 ml strooisuiker
Gooi olie sowat 2,5 cm diep in ‘n klein swaarboomkastrol en verhit oor medium-hoë hitte tot 160 °C . Skep intussen 62,5 ml meel in ‘n plat bak en hou eenkant. Plaas die oorblywende meel, bier, gewone suiker en 75 ml (5 E) water in ‘n medium mengbak; meng tot ‘n gladde beslag.
In ‘n aparte bak, klits eierwit tot stywe punte vorm. Vou die eierwit versigtig by die beslag in sonder om dit te veel te meng. Druk die suurlemoenwiggies liggies in die meel, dan in die beslag, laat oortollige beslag bietjie afdrup en braai 2 minute of tot goudbruin (draai een keer om). Dreineer op kombuispapier, besprinkel met strooisuiker en bedien warm met gedroogte suurlemoenringe en die suurlemoen-olyfolievla as doopsous.
*Gek oor olywe, olyfolie, kosfeeste, die platteland en om uit die stad uit te kom? Besoek Prins Albert se Olyffees wat vir die 20ste keer op die pragtige Karoo-dorpie gehou word van 26 – 27 April. Skakel +27 (0)23 541-1366 vir navrae.
Baie besonders!! Ek is mal oor suurlemoen en saam met olyfolie? Gaan dit beslis prober!
Probeer gerus en laat weet/
Now this is something that I will definitely try, thank you Errieda. I adore anything olive or lemon…putting the two together? Yes please 😉 xx
I’ve been back to the fridge, spoon in hand to help myself to the delicious combination. You can taste the olive oil, which is a good thing if it is good olive oil!
Hierdie is briljant! As die suiker vervang word met heuning sal dit by die Paleo leefstyl inpas. Vindingryk dankie!
En die heuning gaan dit nog ‘n smaaklaag gee.
wat n unieke idee en natuurlik baie gesonder 😉
Klink en lyk heerlik!! Lekker naweek, jy het seker ‘n ruskansie broodnodig!
Dankie Nina, ek het so ‘n begeriggheid vir suurlemoensmake, dat dit seker ‘n begin van ‘n golf sitrusgeregte gaan wees!