Granaatseisoen is al ‘n ruk lank verby. Ek treur steeds daaroor, soos wanneer geelperskes, koejawels en kwepers buite seisoen raak – ek mis hulle soos ou vriende. Maar gelukkig is daar deesdae granaatsap heeljaar te kry, en ek knyp selfs oë toe en koop die klaar-uitgedopte pitte by jy-weet-waar.
Granate raak ‘n kunssinnige snaar in my. Ek sou soos Cezanne wou skilder om doek na doek aan granaat-stillewes te wy. Maar skilder kan ek nie. Dig ook nie. Dit los ek vir digters wat kon, soos Ina Rosseau wat na my mening die mooiste liefdesgedig in my taal geskryf het:
ERKENNING
Jy bepleit die lewe se saak:
jy ontpit vir my die granaat,
jy ontgraat vir my die brasem,
jy ontstrik vir my die knoop,
jy ontkern vir my die knop,
jy ontkroon vir my die kwaad,
jy neem uit my hande ferm
en ontleed,
ont-leed en ontleed en ont-leed vir my,
in jou liefde, elke leed.
(‘Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte’, saamgestel deur Fanie Olivier en uitgegee deur Human & Rosseau).
Jy kan maar weet as iemand aanbied om jou granaat te ontpit is daar toewyding, liefde, en BAIE geduld ter sprake. Om saam met iemand aan elk van ‘n granaat se 800 pitte te smul is soos om oor sewe sakke sout ‘n ewige bondgenood te snoer – net baie, baie smaakliker. Daar’s wel die beswaardes wat sê ‘n granaat is nét vir die mooi. Die lekker te gekompliseerd. Eers die geswoeg deur die leer-dik vel, dan die vlesige velletjies, alles net vir ‘n klomp pitte.
Granaat en sulke bitterbekke is nie maats nie. Granaat soek die ware warmbloediges, die diepdenkendes, die romantiese siele. Mense wat die 17de eeuse Italiaanse kunstenaar Giovanna Garzoni se granaatstillewe kan bewonder en besin hoe die drie oopgebarste dele van die granaat lewe, dood en wedergeboorte ontbloot.

17de eeuse skilder Guiseppa Garzoni se granaat op die marmerbord stel lewe, dood en wedergeboorte voor.
Granate koop ek nie een-een nie. Nee, ek wag my kans af tot ek ‘n granaatbos sien en bied ruilhandel aan. Met genoeg granate in die huis kan jy ‘n heerlike granaatkelkie maak van granaatsap, wit rum, sodawater, suiker en lemoenskyfies oor ys. Hieraan teug jy terwyl jy hierdie kwartels vir jou geliefdes aanmekaar slaan.
Kwartel en granaatgereg uit Majorca: Soteer kwartels in botter of varkvet. Maak ‘n sous van gekapte uie, ontpitte tamaties, hoenderaftreksel en granaatpitte in die pan waarin jy kwartels verbruin het. Laat die sous goed deurkook, sit kwartels terug, kook tot die kwartels sag is. Gooi die sous deur ‘n sif voor opdiening en strooi vars granaatpitte en pietersielie oor. (foto deur Maura McEvoy vir Saveur).
Kwartels met granaatsous
Hierdie soet-sout-frank smake is my ding; ‘n smaak-kombinasie wat al saam met Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het. Hierdie resep het moontlik ‘n Persiese invloed en kan met eendborsies ook gemaak word, maar as mens nie kwartels in die huis het nie, dan’s dit onwaarskynlik dat jy eend het. Gebruik dan klein braaikuikens of hoenderstukke.
4 kwarteltjies
45 ml fyn olyfolie
1 ui, gekap
250 g grof gekapte okkerneute
*Sap van 6 granate of 250 ml gebottelde granaatsap
Sap van 2 kleinerige suurlemoene
15 ml bruinsuiker
Sout en peper
Garnering: handvol granaatpitte
Braai die kwartels tot goudbruin. Haal uit die pan en braai uie in dieselfde olie tot ligbruin. Voeg die gekapte okkerneute by en soteer oor lae hitte vir sowat 3 minute.
Gooi die granaatsap, suurlemoensap, bruinsuiker saam met sout en peper in die pan.** Verhit die sous en voeg die kwartels of braaikuikens by. Laat saggies prut , sonder deksel, vir minstens 1 uur. Proe en vul geur aan met ekstra suiker, suurlemoensap of sout en peper om die smaakbalans perfek te kry. Besprinkel met granaatpitte (of kruisement), bedien vuurwarm en tel jou seëninge, pit vir pit.
*Maak so granaatsap: versap die pitte van 6 granate vir ‘n paar sekondes in ‘n versapper. Gooi deur ‘n moeseliendoek in ‘n bak. Druk die laaste sappies uit. Dit lewer sowat 250 ml granaatsap.
**Variasie: voeg 1 kaneelstokkie, 3 kardomompeule by. Bedien dit dan met kruisementblare, soos die Persiërs dit sou doen.
Jy het tog te mooi geskilder met woorde Errieda. En is granate nie net en van die ‘sexyste’ vrugte nie.
Dankie! Ek wens ek het ‘n granaatbos gehad. Vroeer dae het almal mos ‘n granaatboom, perskeboom, vyeboom en suurlemoenboom gehad.
Ons het ‘n stuk of drie granaatbosse in die tuin maar die wind verniel hulle elke jaar en is ons gelukkig om een of twee van die dekadente vrugte per seisoen te kry.
dit maak daai twee vruggies nog meer waardevol, windverwaaid of te not!