In die wyse woorde van Nic van Wyk, mede-beoordelaar van Kokkedoor: “Ek het al baie brood gebak, ek het ook al baie flops gebak, maar ek het nog nooit ‘n slegte tuisgebakte brood geproe nie.”

Goue stroop, ‘n outydse tuisgemaakte lekkerte, is ‘n goeie verskoning om brood te bak. (Foto Roxy Laker by Huiskok HQ)
Kokkedoor, die deurbraak-kookprogram op Kyknet wat oor onthoukos handel, was vol outydse heerlikhede en natuurlik ook interessante moderne kinkels. Baie geluk aan Mynhardt Joubert en Tiaan Langenegger wat gewen het; asook vir naaswenners Ida Klopper en Theresa de Vries wat hulle ‘n goeie ‘run for their money’ gegee het!
Hierdie is ‘n voorbeeld van hoe iets alledaags uit die ou dae vandag meer plesier kan gee as wat die moderne winkel met al sy geriefskos ooit kan doen. Hoekom ek dit kies is omdat dit my so aan my ma laat dink, vir wie sagte vet en goue stroop op plaasbrood in haar kinderdae een van die lekkerste ding op die hele aarde was. Die broodjie is maklik om te maak en jy roer dit tot elasties, pleks van om te knie.
Kokkedoor-Witbrood met tuisgemaakte gouestroop
Vir die bakdag-piekniek episode het Ida Klopper en Theresa De Vries hierdie broodjie gebak. Winkelwitbrood kan nooit kers vashou by ‘n heerlike tuisgebakte broodjie nie. Maak daarby jou eie goue stroop vir ’n ware onthousmaak.
Bestanddele
500 g witbroodmeel
1 pakkie kitsgis
50 g gesmelte botter + ekstra gesmelte botter om oor die brood te smeer vir glans.
5 ml suiker
5 ml sout
Ongeveer 300 ml sterk lou water of melk en water gemeng
Metode
Plaas alle droë bestanddele in ‘n groot mengbak. Voeg die botter by die louwater en roer die helfte van die mengsel by die meel.
Voeg die res van die water bietjie vir bietjie by tot ‘n sagte elastiese deeg gevorm is..
Maak met kleefplastiek toe en laat rus op ‘n warm plek tot dubbel die grootte. Vorm ‘n brood en plaas in ‘n pan. Laat weer rys in die pan en bak by 200ºC vir 30 minute.
Smeer gesmelte botter oor vir glans.
Goue Stroop
Tuisgemaakte gouestroop is ‘n groot bederf. Jy kan self gourmet-gouestroop maak deur neute of sade daarby te voeg.
Bestanddele
6 x 250 ml suiker
500 ml water + 250 ml water ekstra
5 ml kremetart
5 ml sout
Metode
Plaas suiker, 500 ml water, kremetart en sout in ‘n kastrol en kook tot dit ‘n amber stroop vorm. Haal van die plaat af en voeg 250 ml koue water versigtig druppelsgewys by terwyl jy aanhou roer. As stroop afgekoel het, kan pistasieneute, haselneute, granaatpitte of ‘n vanieljepeul bygevoeg word.
Kyk uit vir die Kokkedoor Kookboek wat September 2013 op die winkelrakke verskyn.
Tuisgemaakte goue stroop? Ek is nou vrek opgewonde! Het vriende in Pole wat SA toe gekom het vir ‘n slag, en dit is die een ding waaroor hulle die meeste nostalgies is.
Laat weet hoe dit uitdraai, Liezl.
Hi Errieda, miskien is dit biki ongeskik om sulke liplekker goete te post hiri tyd vani aand. maar dit bly lekker!
Ugh. my mond water!
Ek sit self nou met ‘n lang lus.