Japie se gunsteling: sitruspoeding met sy eie sous

21 Jun

‘n Wêreld sonder suurlemoene? Geen lemoene meer nie? Nie eers ‘n nartjieskil nie?As dit moét kan ek leef sonder pomelos, clementines én lemmetjies, maar sonder my skattebol-sitrusvrugte sien ek net ‘n bleek bestaan.

Suurlemoene, lemoene en Spier-eiers reg vir bak van Japie se Gunsteling.

Suurlemoene, lemoene en Spier-eiers reg vir bak van Japie se Gunsteling.

My hartsvriende verstaan dat my siel ‘n sitrusgeurtjie het. ‘n Week gelede warrel kosvriendin Marinda hierin met twee sakkies plaasjapie-suurlemoene, vars van die boom af. Ek het selfs nou soos ek hier sit – op ‘n grou wintersdag in Junie – my gunsteling dag-‘reukwater’ aan, geskenk deur vriendin Inez wat ook my suurlemoenliefde verstaan: Davidoff se Summer Fizz. Eerder as reukwater, parfuum of eau de cologne word dit ‘cool water’ genoem; en dis ene lemoen en suurlemoen. Daarin lê die wonder van sitrus vir my: sonstraal en koel briesie in een.

So is dit met my gunsteling poeding. ‘n Gebakte sitruspoeding (met lemoen en suurlemoen) wat die vermoë het om jou op ‘n wintersdag van jou koue kleintoontjie tot jou kroontjie op te warm; maar jou ook na ‘n swaar winterbredie verfris en lig agter te laat.aa enkel skepping mooi IMG_8980 resize vir blog

Dalk ken jy die poeding: Japie se Gunsteling. Ek sê dit met huiwerigheid, want dalk ken jy dit nie. Ek het gedink die hele wereld weet van Japie se Gunsteling, tot ek onlangs deur my betrokkenheid by Kokkedoor, ‘n Afrikaanse kookprogram oor onthoukos, agtergekom het dat ‘n jonger generasie sjefs (en huiskokke), nou in hul twintigs en vroeë dertigs,  nog nooit van Japie se Gunsteling gehoor het nie.

Ek begin rondvra by ander jonger kokke en besef die on-glo-bare is waar. Japie se Gunsteling, eens die goue treffer van ons poeding-skatkis, gaan onder ons oë wegkwyn as ons nie die heerlikheid daarvan betyds besing nie. Vreemd, want dis ‘n poeding wat nie veel langer vat as poeding-uit-‘n-boks nie; onder ‘n uur dan’s Japie geklits, gebak en reg om te eet. En die sous ook.

Vir diegene wat nog nie ‘n Japie-aanhanger is nie – ‘n bietjie agtergrond.  Dis ‘n ligte, sitrusgegeurde gebakte poeding (a) met ‘n sponsige, soufflerige bo-laag; en (b) steek die lepel in dan ontdek jy die heerlike, fluweelsagte sitrussous onder. ‘Self-saucing’ noem die Engelse dit.

Ek hou van Japie lekker donker gebak.

Ek hou van Japie lekker donker gebak.

Alhoewel nie ‘n unieke Suid-Afrikaanse skepping nie (soortgelyke sitruspoeding kry jy van Australië tot Amerika, van Brittanje tot België maar nêrens kry jy ons skatkis-weergawe van met ‘n romantiese storie agter die naam nie. Hetta van Deventer-Terblanche, ‘n kenner van kosgeskiedenis, vertel my dat die poeding sy naam gekry het by Mev SJA De Villiers, skrywer van Kook en Geniet, gewildste resepteboek ooit in ons land. Mev SJA se man Japie moes die resepte proe nadat sy dit getoets het en hierdie poeding was sy gunsteling. En daar word die poeding na hom gedoop.

Al klagte wat ek teen die resep in my 1970’s uitgawe van Kook en Geniet gehad het is dat ek altyd die resep in my kop moes verdubbel, omdat die oorspronklike resep te min is. In die volledige hersiene uitgawe van 2009 is die oorspronklike resep met ‘n derde vermeerder sodat 4 mense wat matigheid voor oë hou, tevrede sal wees. Amper daar. (Ek verdubbel steeds my oorspronklike resep. Die bietjie wat oorbly is lekker vir later se gesnuffel in die kombuis.)

Ek het nog nooit iemand ontmoet wat nie van Japie se Gunsteling hou nie. Probeer dit as jy dit nog nie gemaak het nie. Maak dit gerus weer as jy dit lanklaas gemaak het. En leer iemand na aan jou om dit ook te maak. ‘Let’s spread the sunshine!’

Twee spierwit eiers onder die 12 bymekaar gemaak op Spier se plaas

Twee spierwit eiers onder die 12 bymekaar gemaak op Spier se plaas

Japie se Gunsteling

Hierdie is die aangepaste weergawe soos dit in Kook en Geniet se hersiene 2009-uitgawe verskyn.

4 porsies

3 groot eiers, geskei

190 ml – 375 ml strooisuiker (afhangende van hoe soet jy dit verkies)

375 ml melk

100 ml meelblom

310 ml lemoensap

30 ml suurlemoensap

Gerasperde geel skil van 1 lemoen

Gerasperde geel skil van 1 suurlemoen (my eie byvoeging)

45 ml botter, gesmelt

Metode:

Voorverhit die oond tot 180°C.

Klits die eiergele, voeg die suiker daarby en klits tot lig en donserig.

Voeg die helfte van die melk by en klits tot die suiker opgelos het.

Klits die meel en dan die orige melk by.

Voeg die lemoen- en suurlemoensap, die skil en die gesmelte botter by.

Klits die eierwitte styf en vou in.

Skep die mengsel in ‘n gesmeerde oondvaste bak. Plaas in ‘n pan met kookwater en bak sowat 45 minute tot mooi bruin. Dit vorm ‘n fyn kors bo-op en ‘n sous onderin.

Wenke:

  • Ek hou daarvan om dit met ‘n bietjie geklopte room voor te sit.
  • Om die sitruskarakter te verhoog, klits marmalade by die beslag in.  

Gebakte suurlemoenpoeding

Hierdie Kook en Geniet-poeding is vir die dag wat jy smag na die lieflike skerp karakter wat net suurlemoen kan gee, of vir die dag wat die lewe jou te veel suurlemoene (sonder lemoene) gegee het.  Die poeding vorm ook, soos Japie se Gunsteling, sy eie sous.

90 ml sagte botter

320 ml strooisuiker

4 eiers, geskei

500 ml melk

125 ml meelblom

125 ml suurlemoensap

10 ml fyngerasperde geel suurlemoenskil

Metode: 

Voorverhit oond tot 180°C.

Klop die botter en suiker tot romerig. Klits die eiergele en voeg by. Meng goed.

Meng die melk en meelblom om die beurt saam met die suurlemoensap- en skil by. Klits die eierwitte styf, vou in en giet die beslag in ‘n gesmeerde oondvaste bak.

Sit die bak in ‘n pan met kookwater en bak 45 minute lank of tot goudbruin. Die poeding vorm, net soos Japie se Gunsteling, sy eie sous.

 Ietsie meer oor sitrus:

 Volgens Sarah Woodward, skrywer van Oranges & Lemons, kom lemoene en suurlemoene oorspronklik van die oostelike deel van die Himalayas, waarna dit deur China en toe Indië gereis het tot in die Mediterrene. Tydens die More van Noord-Afrika se besetting van Mediterreense lande is lemoen- en suurlemoenboorde aangeplant.

 Volgens HW Claassens, skrywer van Die Geskiedenis van Boerekos, is suurlemoene in Jan van Riebeeck se tyd in die Kaap aangeplant. Op 25 Julie 1661 skryf hy in sy dagregister dat hy twee suurlemoene gepluk het. Amper genoeg vir ‘n gebakte suurlemoenpoeding!

14 Responses to “Japie se gunsteling: sitruspoeding met sy eie sous”

  1. Christel Dodunski July 2, 2021 at 10:29 am #

    Grote griet . . . so as ek vir ongeveer 16 mense Japie wil maak, gaan ek die resep x4 moet maak?? (12 eiers??)

  2. Nina July 19, 2017 at 11:17 am #

    Dit laat my sommer verlang Ceres toe, ons het die ou skurwe-skil suurlemoene in die tuin gehad, so wintertyd was altyd Japie se Gunsteling poeding……. en dan die middagslapie!

    • huiskok July 19, 2017 at 11:23 am #

      Sitrusgeure het ‘n magiese kwaliteit om ons terug te vat in tyd!

  3. misstrixxx July 18, 2017 at 1:26 am #

    ek wou vra …kan ek suurlemoen en lemoen gebruik vir Japie se poeding. Ek het dit gesien op die kook en geniet program op my showmax app….en dis nou lekker koud en nat in NZ…

    • huiskok July 18, 2017 at 7:23 am #

      Lekker om te hoor Japie se Gunsteling gaan in NZ gemaak word. Jy kan suurlemoen saam met lemoen gebruik.

  4. Frederik de Jager February 2, 2017 at 4:03 pm #

    Ek maak vanaand ‘n soort hibried tussen die twee resepte vir vriende hier in Griekeland. Ek weet nie of Japie al hier was nie.

    • huiskok February 2, 2017 at 4:06 pm #

      Jy moet laat weet wat hulle kommentaar is van jou hibried. Suurlemoensmake is mos baie gewild daar. Alhoewel Japie is eintlik mos lemoenpoeding, maar ek suurlemoen hom! NOu is ek darem lus vir ‘n hap.

  5. Mrs Huffle Puff July 8, 2015 at 5:04 pm #

    Dit is wonderlik om te lees van ons Suid-Afrikaanse resepte wat die wye wereld deurreis en byval vind by so baie “uitlanders” ons gebruik weer van hulle resepte en almal eet heeerlik saam! Wees mededeelsaam, dit raak almal.

  6. C October 12, 2013 at 12:35 am #

    Ek sit hier in Kanada enis so lus vir Japie se gunsteling!! Ek gaan dit die Thanksgiving ete deinaweek vir my fgaste maak hier ni Kanada !

    • huiskok October 12, 2013 at 4:03 am #

      Dis nou seker ‘n eerste vir Japie!

  7. Deon Maree June 21, 2013 at 10:35 am #

    Errieda, ook my gunsteling. My baie ou Kook en Geniet se bladsye waar die poeding verskyn is vol lemoensap en suurlemoenskil kolle soos ek die resep al gemaak her – Sondag middag sal dit weer so wees. Dankie dat jy ons herinner het. Groete, Deon Maree

    • huiskok June 21, 2013 at 2:12 pm #

      Dis goeie nuus – Ons ‘Red Japie’-veldtog het nou nog ‘n ekstra hupstoot gekry! Geniet dit.

  8. sardinesontoast June 21, 2013 at 9:37 am #

    My gunsteling ook!

    • huiskok June 21, 2013 at 9:41 am #

      O dankie tog, ‘n jongmens wat dit ken! Dankie, Kobus

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: