Koffierig, sjokoladeryk, klam en aangenaam bittersoet. ’n Koek vir grootmense. Gooeylicious, fabulooslik. ‘n Koek van oordaad en bederf. Dis woorde wat hierdie resep, geskoei op Nigella Lawson se espresso-koek, beskryf.
Ek kan ‘n klam sjokoladekoek nie weerstaan nie – selfs ons bruin Labrador dra die naam Tjoklit.
So dikwels hoor ek dat mense bang is vir koekbak; dat dit sal kraak en inval. Wel, met hierdie koek is die kraak nie net begeerlik nie – jy soek eintlik ‘n krater van ‘n kraak en dat die koek tog seblief ‘n holte maak. Want dis daai einste holtes en krake wat jy met die koffieroom gaan vul.
Die kraak deur die koek laat my ook dink aan Nigella en haar decolletage – en daai cleavage wat sy so graag wys. So, as jy wil – noem dit die sjokolade-koffie-cleavage koek.
Ironies genoeg sal die kraak/krater/cleavage jou sommige dae ontwyk (net soos die lewe mos maar is). Aanvaar dit so, stapel die room selfs hoër op die koek. Die origes bedien jy in ‘n bakkie.
SJOKOLADE- EN KOFFIE KRATERKOEK MET CAPPUCCINO ROOM
Koek:
150 g donker sjokolade
150 g botter
6 eiers, teen kamertemperatuur
250 g strooisuiker
5 ml vanielje ekstrak
75 g koekmeel
25 ml kitskoffie-poeier
60 ml koffielikeur
Cappuccino room:
75 g wit sjokolade
375 ml slagroom
10 ml kitskoffie-poeier (verkieslik espresso-kitskoffie)
Kakao vir oorsprinkel
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 23 cm losboom-koekpan en voer boom uit met gesmeerde waspapier. Bestuif dit liggies met koekmeelblom. Smelt donker sjokolade en botter oor lae hitte – ek vind die mikrogolfoond werk lekker hiervoor. Jy kan ook ‘n dubbelkoker gebruik. Laat effens afkoel. In ‘n mengbak room eiers, suiker en vanielje tot lig en donsig tot dit verdubbel in volume, ongeveer 7 minute. Vou meel en koffiepoeier liggies in die mengsel, daarna die gesmelte sjokolade mengsel. Giet die beslag in die uitgevoerde koekpan en bak 35 – 40 minute. Die bokant moet ferm wees, maar nog bietjie ‘modderig’ onder. Haal uit die oond en gooi dadelik die koffielikeur oor. Laat koek heeltemal afkoel in die pan voor dit uitgehaal word.
Room: smelt witsjokolade in mikrogolfoond of oor dubbelkoker en laat afkoel. Vou die room en koffiepoeier daarby in en klits die cappuccino-room saam tot effe styf. Skep ‘n poel van die room in die koek se krater.
Kan jy my se wat is slagroom? Ons het wel ‘n slagkamer op die plaas, maar ek twyfel of dit daaruit sal kom. Marietta
Hi Marietta, dis ‘whipping’ cream. Kloproom dus.
Die foto van die koek het my teen die bak daarvan laat besluit 😦
Daar was ‘n tegniese fout wat ek hoop nou uitgesorteer is. Dankie dat jy dit onder my aandag gebring het. Op my skerm lyk als hunky dory, terwyl dit op lesers se skerms heeltemaal anders gelyk het.
Hallo, ag kan julle dalk vir ons ‘n foto laat kry van die Koffie en tjoklits krater koek. Ek het gegoogle maar kry nie ‘n foto nie. Ek sal so graag ‘n foto wil hê by die resep wat ek van die website afgelaai het. Baie dankie byvoorbaat.
Martie, daar was ‘n tegniese probleem met foto’s oplaai – kyk net weer na die post.