Karoo-smake – van Springbokskenkel tot rum en rosyne parfait

22 Nov

Ek is vandag presies ‘n week terug by die huis na my 5 weke-lange sabbatsreis in die Karoo. Maar kyk, die Karoo kry jy nie sommer uit jou lyf uit nie. Ek mis die mense, die kos en die ooptes. Daarom het ek die geleentheid aangegryp om gisteraand die opening van Taste of the Karoo se winkeltjie in die Woodmill Sentrum, Stellenbosch by te woon.

Ek het ook huis toe gekom met:

  • Karoo Ash – ‘n camembert wat in as bedek is;
  • ‘n Nuwe kookboek Veld to Fork, en  ‘n resep vir die outydse heerlikheid rum en rosyntjieparfait; (rese ponder)
  • Die fotograaf Obie Oberholzer se nuutste koffietafel-boek Karoo Long Time Passing.
  • ‘n Sak vol beskuit, lamskenkels, konfyte en lamsvleis,
  • Smaak-herinneringe en resep-idees
  • aa bertus 4 some blanquetteVir die geleentheid het Bertus Basson, die sjef van Overture, die lekkerste kos gemaak van kontreibestanddele uit die Karoo soos biltong, groenvye, Springbok en lamsvleis. Die nagereg, kaaskoek met groenvyroomys, bly my by, maar uit al die benewelende smake van die aand is my gunsteling sy blanquette van Springbok-skenkel.

    Blanquette is die kookterm vir ‘n stowegereg waar die vleis nie verbruin word nie – die blanquette verwys na die ligte kleur van die vleis, asook die sous. Dit word ook tradisioneel met kalfsvleis gemaak, maar Bertus gebruik Springbok skenkels. Hier volg sy vertelling hoe om dit te maak:

    BLANQUETTE VAN SPRINGBOK SKENKEL – DIE ESSENSIE VAN DIE KAROO

    Posjeer Springbokskenkel in water, witwyn, tiemie, peperkorrels, juniper berries (jenewerbessies) baie stadig vir 4 ½  ure. Kookvloeistof word deur ‘n sif gegooi en met die helfte afgekook.   Dis soos die essence van Springbok.

    Flertjies van die vleis word afgerond met dobbelsteentjiegrootte blokkies raap, gnocchi en parmesaan, met ‘n ligte roomsous gemaak van die aftreksel en ‘n titseltjie room.

    In jou glas: Bertus beveel ‘n ligte rooiwyn aan soos Pinot Noir of Cinsaut (verkoel)  Riesling of Gewurztraminer.

    Wat is die bekoring van die Karoo?

    Bertus vertel: “Dis ‘n deel van ons land wat half-vergete geraak het, maar waar Suid-Afrika nog Suid-Afrika is. Dis sonder stede, minder mense, die son skyn sterk, die mense is vriendelik … en die kos is goed en eerlik. Dis die probleem met verstedeliking: ons verloor die eenvoud en eerlikheid van kos. “
    aaaa rum en raisn parfait pic
    RUM EN ROSYN ROOMYS

    Uit die boek Veld to Fork van Gordon Wright, eienaar van die Andries Stöckenstrom Gastehuis en Gordon’s Slow Food restaurant in Graaff Reinet kom hierdie Rum en Rosyntjie parfait, wat op ‘n warm Karoodag soos manna sal proe.

    Bestanddele

    8 eiergele

    250 ml warm suikerstroop*, gemaak met 200 g suiker en 600 ml water, afgekook tot ‘n dik stroop

    100 g rosyntjies

    35 ml rum

    250 ml vars room, geklop

    Metode:

    Maak die warm suikerstroop*.

    Klits die eiergele en voeg dit by die warm suikserstroop. Verhit dit stadig vir 5 minute, terwyl jy aanhou roer. Die mengsel moenie kook nie.

    Haal van die plaat af en voeg die rosyntjies by. Hou eenkant tot ten volle afgekoel.

    Voeg die rum en die geklopte room by, roer tot goed gemeng. Giet in ‘n houer (‘n broodpannetjie is ‘n goeie idee) en vries oornag.

    * BESOEK TASTE OF THE KAROO BY http://www.tasteofthekaroo.co.za / Adres: The Woodmill, Shop 10A, Vredenburgstraat, Stellenbosch. Vra gerus ‘n pryslys aan. Interessanthede sluit in gekerriede kweperjellie en pampelmoes-konfyt. Daar is okkerneute en pekanneute, en natuurlik ‘n wye reeks lamsvleis, volstruis, plaasgrootgemaakte varkvleis, wildsvleis en ander Karoo-produkte.

    4 Responses to “Karoo-smake – van Springbokskenkel tot rum en rosyne parfait”

    1. lallie November 22, 2013 at 2:59 pm #

      Liewe Errieda

      Baie dankie vir die heerlike gesels eposse, geniet elkeen! In besonder hierdie spesifieke een omdat ek in die Karoo grootgeword het (Hanover) en omdat ek gistraand by die openingsaand was, nog gedink ek gaan jou pla (maar wou jou kansie gee), maar toe te lekker aan die eet -en kuier gegaan!

      Ek wil graag raad hê, ignoreer my maar net as ek uit my plek is asseblief.

      My huishulp hier op Stellenbosch se dogter het die afgelope drie jaar ‘n gasvryheidskursus by Boland kollege op Stellenbosch gedoen, goed gedoen.

      Sy wil nou graag ‘n chef kursus doen, sy wil graag kos maak. Hier by Stellenbosch is die Institute of Culinary arts en Private Hotel school, met verskillende “Culinary” kursusse.

      Sal mens vir so meisie die volle drie jaar ding laat doen of sal ‘n korter byvoorbeeld ses maande kursus voldoende wees om haar op die pad te sit.

      Kursusse kos heelwat, maar ons sal help!

      Enige aanbevelings wat jy kan maak asseblief?

      Baie dankie Lallie van der Merwe

      Sent from my iPad

      • huiskok November 22, 2013 at 3:22 pm #

        Hi Lallie, ek wens ek kon gister aand gepraat het. Dit was ‘n heerlike aand. Ek kan net met die hoogte lof van die ICA praat. Vind uit of hulle nog ‘n korter Kursus het as 3 jr.
        Dalk 1 jr City &
        Guilds Diploma. die stigter Letitia Prinsloo het hoë standaarde en geniet baie respect in die industrie. Praktiese ervaring saam met die diploma, tesame met Gasvryheidsagtergrond sal baie goed vir haar toekoms wees. Groete.

    2. Anette Ogden November 22, 2013 at 9:32 am #

      Ek gaan dit beslis maak…my man is dol ooor Rum & Rosyntjie roomys

      • huiskok November 22, 2013 at 9:34 am #

        Ek ook! hoop dit kom baie lekker uit dat manlief bederf voel!

    Leave a Reply

    Fill in your details below or click an icon to log in:

    WordPress.com Logo

    You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

    Facebook photo

    You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

    Connecting to %s

    This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

    %d bloggers like this: