Vanoggend is daar in die RSG-ateljee behoorlik gebak en (tee) gebrou! Sjef Nic van Wyk het kom kuier en spesiale geregte saamgebring wat voetjie-voetjie speel met rooibostee. As ek dink aan smake en geure wat vir my na aan die hart is, staan rooibos voor in die tou. Rooibos laat my dink aan my ma se kombuis, en tog is rooibos ook baie byderwets. Nic vertel juis dat tee, en veral verskillende geure en vermengings tee nou hoogmode is.
Nie dat ek of hy ons vreeslik aan modefoefies steur nie, maar as daar nou een trend is wat ons ondersteun is die belangstelling in unieke Suid-Afrikaanse produkte. Rooibostee is immers een van ons groot ikone. Nic is ook Kokkedoor-beoordelaar en ‘n kinkelkok in hart en siel – hy vat dinge uit die verlede die toekoms in, sonder om vreemd en te eksoties te gaan. Opwindend? Altyd.
Wat ek geleer het uit die tydjie saam met Nic is dat tee inderwaarheid ‘n baie goeie pasmaat is vir kos, en nou praat ek nie net van tee en skons nie. Rooibostee veral is ‘n baie goeie palet-verfrisser en bou ook ‘n brug tussen ander smake. En vir ‘n lekker huispartytjie is so iets natuurlik ook baie gepas sodat jou gaste nugter huis toe kan bestuur. Ek sal beslis so onthaal en net ‘n spesiale wyn met een van die gange bedien – die res word met tee voorgesit – elkeen in ‘n verskillende klein proekoppie.
Kyk net na hierdie indrukwekkende spyskaart. En as jou lus uithang vir die bergamot crème de pots met die sitrus-koekiekrummels gee ek die resep ook. Dan maak jy dit, skink vir jou gaste Carmien se Earl Grey rooibostee en drink die komplimente in.
Sjef Nic van Wyk se Tee en kos-pasmaat-spyskaart
Met Carmién Rooibostee
Makadamia-neut platbrood en spesery-heuningbotter
Vanilla Rooibos
*
Bronkorssop met posjeerde kwarteleier
Rooibos, sitroengras en gemmer
*
Gestoomde vis met vinkel compote en anyssaad room
Rooibos en Chai speserye
*
Merguez lamfrikkadelle met pampoenmoes en tamatiesous
Rooibos en boegoe
*
Bergamot pots de creme met sitrusbeskuitjies
Earl Grey Rooibos
NIC SE BERGAMOT CRÈME DE POTS MET SITRUS-KOEKIEKRUMMELS
Bestanddele
Pot de creme
1 liter room
12 Eiergele
100 g Strooisuiker
80g Wit Sjokolade
5 Druppels Bergamot essence of die skil van een groot lemoen, een suurlemoen en een pomelo
Sitruskoekie
300 g koekmeel
100 g suiker
200 g botter
Skil van 1 lemoen
Metode
Roompotjies:
Meng die eiergele en strooisuiker in ‘n mengbak. Verhit die room, voeg die sjokolade by tot dit smelt. Voeg dan die room mengsel bietjie vir bietjie by die strooisuiker –mengsel terwyl jy aanhou klits met die hand. Sodra alles saam gemeng is, gooi die bergamot of die vrugte skil by. Skep in in klein koppies, plaas in ‘n waterbad en bak in die oond op 140ºC vir 40 tot 50 minute. Laat afkoel.
Sitruskoekie-krummel:
Meng die bestanddele in ‘n mengbak en laat rus in die yskas vir ‘n halfuur. Rol dan uit in ‘n dun laag, sowat 3 mm en en bak in die oond op 180º C vir 10 minute tot bros en strooibruin. Laat afkoel en breek in krummels op. Strooi bo-oor elke potjie en bedien.
*Volg my op Twitter @ huiskok en vir Nic @NicvWyk
Leave a Reply