‘n Smaak wat by my spook is die heerlike warm lewerkoekies van die kafeetjie langs Pep Stores in Prins Albert se hoofstraat. Reg oorkant die statige kerk.
Dis ‘n propperse plattelandse kafee waar mense aandoen vir die oggendkoerant, tabak dalk ook en lekkers vir die kinders. Ek sal altyd daaraan dink as Die Plek van die Lewerkoekie. Die werklike naam was tot onlangs Wimpels kafee. Ek hoor by ‘n dorpenaar Annelie Rabie dat die kafee nuwe eienaars en ‘n nuwe naam Sommerso het . Die lewerkoekies het gebly – en gelukkig is die resep onveranderd.
My ander lewerkoekie-herinneringe is my ma Inez wat die lewerstukke bo in die vleismeultjie invoer saam met die uie en die gemaalde stukkies so wirrel-wirrel aan die voorkant uitpeul. Dan in die mengbak, bietjie dit, bietjie dat en die lewerkoekies was op die tafel. Ek kon nie genoeg kry nie. My ma se resep was baie eenvoudig, met ‘n baie slap lewerdegie: 500 g lewer, 1 ui, 1 e asyn, 10 mℓ sout, 5 mℓ peper, 2 geklitste eiers. Dis dan in hopies in warm vlak olie gebraai tot bruin. Ons het dit verslind met kapokaartappels, of sommerso koud met brood en baie botter. Soms het ma die tamatiesousbottel uitgehaal.
Een van die lewerkoekie-resepte wat gelukkig nog die rondte doen en met baie deernis gemaak word, is die resep van Esme en Jan, wat vir jare ‘So Maak Mens’ op Springbokradio aangebied het. Ek hoor al vir Jan sê “1 kg gemaalde skaaplewer” en Esme wat herhaal: “1 kg gemaalde skaaplewer”… Ek gee die resep, maar wonder self bietjie oor die baie bakpoeier, en reken dis nogals baie aartappels – maar so rek mens die vleis.
‘SO MAAK MENS’ LEWERKOEKIES
1kg gemaalde skaaplewer
4 groot aartappels gerasper
2 uie gerasper
2 eetlepels asyn
1 koppie koekmeel gesif
2 eiers
6 teelepels bakpoeier
sout en peper na smaak
Metode: Meng alles goed saam. Bak in bietjie olie tot gaar. Dit vries ook goed.
(Dankie Stompie Theron Borman dat jy die resep onder my aandag gebring het).
BRANDVLEI SE LEWERKOEKIES
Theresa de Vries van ‘n plaas in die Brandvlei-distrik is ‘n geoefende hand. Sy gebruik semels inplaas van die meel, wat sorg dat die lewerkoekies heerlik sag en lig is en jy nie bakpoeier hoef te gebruik nie.
1 kg lewer
200g sagte vet of vetderm,
1 hart of 250g maalvleis,
2 aartappels
1 groot ui
2-3kop semels beslag moet gebind wees daarmee),
4 eiers
12,5 mℓ fyn sout
30 mℓ Worcestersous,
2 t swart peper.
Maal alles behalwe die eier en semels. Voeg geklitste eier by en voeg semels by tot beslag gebind is maar nie styf nie, dit moet nog van die lepel afdrup. Skep dessertlepelsvol in vlak olie en bak beide kante tot bruin en gaar. Bedien met kapokaartappels.
HUISKOK SE LEWERKOEKIES
Waar op aarde gaan jy teen R29.99 per kg so ‘n lekker vleismaaltyd kan voorsit. Ek het uitgewerk dit kos net so oor R1.15 per lewerkoekie!
Maak sowat 30 medium groot lewerkoekies
1kg gemaalde skaaplewer (vra slagter om dit te maal, maar eers die are en geite uit te sny)
2 groot aartappels, gerasper
2 medium uie gerasper
2 eetlepels asyn
Skil van 1 suurlemoen
30 mℓ Worcestersous
1 koppie bruismeel,
3 eiers, geklits
Slaaiuie (sprietuie) fyngesny (of pietersielie)
10 mℓ sout of meer
5 mℓ peper
Paar skudde wonderpeper (allspice)
Olie vir braai (ek gebruik Olive Pride se olyf- en saadolie mengsel)
Metode: Meng alles goed saam. Braai in vlak olie tot gaar. Bedien warm. Ek sit dit voor met soetrissiesous, of blatjang. Volgraanbrood of aartappelkluitjies (gnocchi) met bruinbotter, salie en dennepitte.
WAT EK VOLGENDE GAAN MAAK:
Hierdie ou resep van SH Van Tulleken uit The Practical Cookery Book for South Africa is beslis wat ek volgende gaan maak. Ek is seker almal wat hulle monde trek vir lewer gaan heerlik saamsmul.
Smelt 3 teelepels botter oor die vuur, en roer 2 lepels meel by, en voeg geleidelik 1 koppie melk by. Kook die lewer vooraf vir 5 minute en maal dit dan met ‘n paar repe spek en 1 lepel fyngekapte pietersielie en 1 eetlepel fyngekapte uie. Voeg sout, peper en 1 lepel suurlemoensap by. Meng dit in by die witsous en laat afkoel. Vorm in koekies, doop in eier en krummels en braai in vet (‘drippings’)
Wenke:
- Ons Nama kok het altyd lemoenskil by die lewermengsel gerasper. (Nicolene Burger)
- Lewerkoekies vra om voorgesit te word met kapokaartappels, ertjies en beetslaai (Marika Moore)
Ek het die lewerkoekies gemaak, dit was heerlik! Baie dankie vir die resep!
Ek is nou so lus daarvoor!
My kinders het Lewerkoekies in hul kosblikke gekry..die resep uit Knuppeldik (ek dink dit was uit daardie boek). In Die resep is rou spinasie en aartappels ..saamgemaal. Die Graad 2 Juffrou het altyd gevra … “het jou ma nie dalk weer van die lewerkoekies ingepak nie?” Bogeplaasde foto laat mens darem watertand!
Spinasieblare en selfs groenboontjies kan bygemaal word.
Baie dankie my man wil al so lank lewer eet soos in sy kinderdae – hy sal baie impressed met my wees.
Laat weet my gerus hoe Dit gesmaak het.