Sondag-braaiaartappels. Kan daar ‘n mooier gesig op aarde wees as ‘n skottel gelaai met bros aartappels, die kors uitlokkend met soutige krakerigheid. Die binnekant soos om in ‘n wolk te byt.
Braaiaartappels het ook gewoonlik ‘n maat wat bevestig dis Sondag: braaiboud, Sondaghoender, enige vleis wat in die oond gebak word. Ek hoef eintlik niemand te vertel hoe om dit te maak nie, want jou eie ma of ouma se braaiaartappels is die beste.
Ek het ‘n paar vriende in die koswereld uitgevra oor hul braaiaartappel-herinneringe en hoe die perfekte braai-aartappel proe. Oor een ding stem almal saam – en dit is dat die perfekte braai-aartappel ‘n softy aan die binnekant is, met ‘n goudbruin baadjie van bros, krakerigheid. Dis die kontras in tekstuur wat braaiaartappels verhef van iets alledaags tot adelliks.
Die gemene deler as dit by die kenners se raad kom is:
- Om die aartappels eers vooraf te kook tot halfgaar; te dreineer en af te droog;
- Om die aartappels bietjie te krap met ‘n vurk of dit in die pan te skud. Dit gee ‘n growwer oppervlakte en dis daai losserige stukkies wat die kors so krakerig maak.
- Om die pan waarin die aartappels gebraai gaan word eers goed warm te maak – dit gee die braaiproses ‘n ‘head start.’
- Om as jy jou hand op gansvet of eendvet te lê, jouself te treat – dit maak die geurigste, goudbruin braaiaartappels denkbaar; of gebruik sagte skaapvet.
- Om die geskikte soort aartappel te gebruik, maar wie het maklik toegang tot blus-aartappels of Sandveldaartappels?
- Om die aartappels aanvanklik met fyn sout te geur as dit in die oond ingaan, en daarna af te rond met goeie seevlokkies.
Ek het ook geleer dat dit goed is om die aartappels eers ‘n ruk in water te week om van die stysel ontslae te raak. Ander weer kook die aartappels eers ongeskil, en trek dan die skille af. By Ma het ek geleer om bietjie borrie of selfs klein bietjie kerriepoeier by die aartappels te sit om die goue kleur op te rev. By Nigella het ek geleer om bietjie semolina oor die aartappels te sprinkel.
‘n ANDER MANIER – BESTE VAN TWEE WERELDE
As braaiaartappels reeds so volmaak is, hoekom torring? ‘n Verandering is so goed soos ‘n vakansie en hierdie resep vat jou nie net op ‘n smaaktoer nie, maar lyk mooi. Fondant is bloot die Frans vir sag. Dit verwys na ‘n tegniek om aartappels deels te braai en deels in ‘n geurige aftreksel gaar te maak. Hierdie Youtube video is ‘n lekker-kyk voorbeeld hoe om dit te maak:
http://m.youtube.com/watch?v=XOatJPocjDo
Ek het egter in die Griekse kookkuns gaan loer, want hulle is net so lief om aartappels saam met hulle skaapboud gaar te maak. Ek het die perfekte bykos vir ons Sondag-ete gevind in Smashing Plates van Maria Elia. Sy noem dit Stifado Fondant aartappels en ek noem dit ‘Onder sag en bo bros braaiaartappels’. Die Griekse herkoms word verder verklap deur die kaneelgegeurde rooiwynaftreksel waarin dit gaar word, soos die Griekse stifado – ‘n beesvleisstowegereg wat tipies met wyn, kaneel en lourier gegeur word.

Die fondant-braaiaartappels toring bo die ander kos uit. Ek het die Mediterreense styl kos op ‘n roti geskep om al die souse op te vang!
ONDER SAG EN BO BROS BRAAI-AARTAPPELS
100 ml rooiwyn
200 ml hoenderaftreksel
1 pypkaneel
1 lourierblaar
4 groot aartappels, geskil
2 knoffelhuisies, gekap
2 takkies tiemie
50 g botter
Opdien:
Paar spatsels rooiwynasyn (opsioneel)
Handvol swart Kalamata olywe, pitte uitgehaal, grofgekap
Metode:
- Voorverhit oond tot 190C.
- Verhit die rooiwyn, hoenderaftreksel, kaneel en lourierblaar tot dit begin kook.
- Sny die aartappels in silinders – sowat 3,5 cm diep. Een aartappel hoort jou 2 sirkels te gee. Druk die aartappelsirkels met ‘n koekiedrukker sodat dit ‘n mooi uniforme vorm en grootte het.
- Pak die aartappels in ‘n vlak oondpan, klein genoeg sodat die aartappels snoesig in pas. Gooi die rooiwynaftreksel in die pan, net genoeg om die aartappels halfpad te bedek. Plaas die lourierblaar en pypkaneel in die pan, en ook die knoffel en tiemie.
- Sit ‘n klontjie botter bo-op elke aartappel en bak sowat 50 minute in die oond tot die aartappels die meeste van die aftreksel absorbeer het. Skep halfpad deur die bakproses van die pansouse oor die aartappels. Die baktyd gaan afhang hoe dik jou aartappels is. As die aartappels nog nie sag is onder wanneer die vog reeds op is nie, vul aan met ‘n klein bietjie ekstra aftreksel.
- Haal uit die oond, meng die gekapte olywe, pietersielie en rooiwynasyn (opsioneel) deur die aartappels. Bedien vuurwarm.
KENNERS EN HUL RAAD
Arina du Plessis, kookboekskrywer en kosredakteur Landbouweekblad:
My herinneringe aan braai-aartappels is Sondagmiddag-etes by die Hamlet hotel op Prince Alfred’s Hamlet of Belmont Hotel op Ceres saam met my ouers en broers. Op die Sondag buffet was daar altyd ‘n heuwel perfekte goue aartappels. As ons laat daar gekom het, was daar al ‘n duik in die heuwel en dan het die aartappels se bros korsies al taai geraak – maar vir my was dit dan eers lekker!
Ek hou van ‘n dikkerige bros buitelaag en die binnekant moet ‘fluffy’ en sag wees. Begin met blusaartappels (ek glo Sandveldaartappels is die lekkerste). Kook halfgaar, dreineer goed en druk droog. En ek weet dis vreemd, maar ek sprinkel fyn sout voor ek dit braai, en seesoutvlokkies agterna.
- Gansvet bly maar die beste om daardie goue, bros jas te kry.
Carmen Niehaus, kosredakteur van Huisgenoot en die Wenresepte-koningin
Braaiaartappels saam met Sondagbraaiboud – dit was elke Sondag op tafel saam met al die familie, sommer so 20 stuks tegelykertyd. En daar kon nooit genoeg aartappels wees nie – bros bros bros buite-om en moes-sag binne. Die lekkerste braaiaartappels is gemaak met aartappels vars van die land (Up to date as ek reg onthou) so vars dat mens nog amper die grond kon proe. ‘n Groot emaljekom aartappels is baie keer al Saterdagaand netjies geskil en het in water gelê en wag vir Sondag se grooteet. Pa het baie maal kom hand bysit met sy knipmes. Vroegoggend is die bakke aartappels al in die oond gedruk – enkellaag, lekker baie fyn sout oorgesprinkel en Lena was ook nie skaam met die olie nie. Die is gereeld met ‘n eierspaan omgedraai sodat hulle alkant kon bruinbraai en bros wees. Soms is daar uit tyd gehardloop, dan is die aartappels vooraf eers bietjie gekook, dan geskud om die buitekant so bietjie fluff te gee en dan was dit oond toe met lekker baie olie oor.
- Lekker wenk is om die oondpan vooraf eers warm te maak voordat jy die aartappels insit.
Daleen van der Merwe: Kookboekuitgewer, Human & Rousseau.
My herinneringe aan braai-aartappels is Sondag met heel braai-hoender of deurnag gebraaide Skaapboud.Braai-aartappels en skaapboud is onafskeidbaar. Braaiaartappels moet ‘n sy-sagte binneste he en ‘n goudbruin brosgebraaide buitekant.
- Kook die aartappels tot half gaar. Skil dit en skraap dit met ‘n vurk. Braai dit in skoon skaapvet of eendvet vir ‘n besonderse smaak en perfekte bros buitelaag.
Vickie de Beer: Kosredakteur Rooi Rose, stilis en kookboekskrywer
Braai-aartappels is ons groot bederf vir spesiale geleenthede. My ma se braai-aartappels:
1 kg aartappels, geskil en net-net saggekook. Halveer elkeen in die lengte. Krap die sykante met n vurk. Gooi in n groot oondpan met olyfolie en geur met Maldon sout. Meng deur. Stip met botter en braai in die oond teen 200 °C tot goedkleurig en krakerig!
Theresa De Vries: Kokkedoor onthoukok-naaswenner
As jy nie eendvet het nie, uitgebraaide sagte vet van skaap of bees is net so goed. Beste resultate as jy dit in die oond bak en gereeld omdraai, maar die geheim is maar om dit dadelik te eet, dit raak weer sag as dit staan.
Veralda Schmidt: Smulpaap met ‘n tuis-bistro
Ek maak Roald Dahl se braaiaartappels. Skil en kook hulle vir so 10 minute. Sit die oondbak met olie onder die rooster – natuurlik gebruik hy eendvet, maar ek gebruik sonneblom olie en gooi roosmaryn blare in. Sit die warm halfgaar aartappels versigtig in die olie laat dit nie spat nie en bak tot bruin – ek draai dit om want ek hou nie van diepvet nie.
My ma se skaapboud en gabakte aartappels is natuurlik iets om oor huistoe te skryf, soos almal se ma’s s’n. As die aartappels in dieselfde skottel as die vleis gaar word, proe alles vir my naderhand dieselfde en is al wat lekker is, die nostalgie. Daar is altyd die een wat nie ‘n stukkie gebakte aartappel kan weerstaan voor ete nie. My oupa Jackie Bezuidenhout se suster het eendag so ‘n warm aartappeltjie in haar kies gedruk toe almal se oë al toe was, maar oupa het haar gesien. Doodonskuldig vra hy toe “Sus, sal jy vir ons dank”, dit was vinnig sluk en brand al die pad onder toe en om nog ‘n gebed uit te kry. Voorwaar ‘n ‘hot potato’.
Johnny Hamman: Kokkedoor 2 Kinkelkok-wenner:
Par-boil. Butter poach.Deep fry.
Nicolene Burger: Facebook-kosvriendin
Kook aartappels tot amper gaar, krap gleufies in met vurk om stysels bietjie los te kry, braai pragtig bros. Ina Paarman het ons as studente geleer om bietjie borrie om die aartappel te smeer voor ons dit bak vir ‘n mooi kleur
Elizabeth Dockel: Facebook kosvriendin
Ek gebruik maar Nigella se resep: kook aartappels wat geskil en in 3 gesny is vir 4 minute, haal uit , dreineer in vergietes. Maak gansvet of iets soort gelyks warm in die oond tot baie warm, dis belangrik en plaas aartappels wat met bietjie semolina bestrooi is, in warm vet. Wees vesigtig, dis warm! Bak tot goudbruin in oond, ongeveer 25 minute aan elke kant, oond moet maksimum gestel wees 250 grade.
Ilse Roggeband: Facebook-vriendin, skrywer en boekemens
My ouma Suzie Schietekat kon baie goed kook. Ons het gepraat van ouma se skoon aartappels en vuil aartappels. Skoon aartappels was die wat sy in olie in die oond gemaak het en vuil aartappels was die aartappels wat saam met ‘n stuk beesvleis in ‘n pot gaargemaak het. Ek maak my oondaartappels so gaar: Kook geskilde aartappels vir ‘n paar minute tot die randjie sag is, gooi water af, sit deksel op kastrol en gee ‘n goeie paar skudde (is dit meervoud van skud?). Bak dan in olie wat reeds in die oond in ‘n oondpan warm gemaak is.
Sandveld aartappels. Hunkerkos.
O ja. En die heimat van ons herenbone ook.