Ons koskultuur is so ryk en vol wonderlike stories. Een van my gunstelinge is die verhaal van ons land se eie politieke koekies.
Hertzog-koekies (hertzoggies) is vernoem na J.B.M Hertzog, Eerste Minister van die destydse Unie van Suid-Afrika. Sy ondersteuners het gebakte tertdoppies gevul met ’n appelkooskonfyt-tussenlaag en klappermeringue bolaag.
Jan Smuts-koekies (of Smutsies) is ‘n variasie wat deur Jan Smuts se aanhangers gebak is. Dit het ’n konfyt-tussenlaag en deegbolaag.
Tweegevreetjies maak stem dik oor verbreekte beloftes in die parlement. Maleier-vroue wat nie stemreg gekry het soos hulle belowe is nie, het Hertzog teruggekry deur dieselfde konfyttertjies in proteskoekies te omskep met ‘n duidelike boodskap: die een helfte van die holte is met konfyt gevul en die ander helfte met die klapper-meringue. Die protes is afgerond deur die een kant met bleekpienk versiersuiker te bedek en die ander kant met bruin versiersuiker.
Wenke: Gebruik ‘n patty pan of kolwyntjiepannetjie – nie ‘n muffinpannetjie nie.
RESEP: Hertzogkoekies
(Bron Kokkedoor Kookboek)
Lewer 12 hertzoggies
Selfs die mees geharde tradisionaliste sal stem vir hierdie hertzoggie.
Kors
120 g botter
37,5 ml (2½ e) strooisuiker
3 eiergele
500 ml (2 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) sout
5 ml (1 t) vanieljegeursel
25 ml (5 t) water of melk
Bolaag
3 eierwitte
25 ml (5 t) kookwater
250 ml (1 k) strooisuiker
500 ml (2 k) klapper
5 ml (1 t) bakpoeier
fyn appelkooskonfyt, yskoud
Kors
- Klits die botter en suiker saam tot romerig, voeg die eiergele by en klits goed.
- Voeg die res van die bolaagbestanddele by en meng tot ’n deeg. Laat die deeg 30 minute lank rus.
- Rol die deeg tot ’n dikte van 2–3 mm op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Druk deegsirkel uit om in kolwyntjiepanne te pas en plaas dit in die holtes van die kolwyntjiepanne.
Bolaag
- Voorverhit die oond tot 180 °C.
- Klits die eierwitte en kookwater saam tot sagte punte vorm en klits die suiker bietjie vir bietjie by. Klits tot stywe punte vorm. Voeg die klapper en bakpoeier by en klits net tot gemeng.
- Skep lepeltjies appelkooskonfyt in die deegdoppies en skep die eierwitmengsel bo-op.
- Bak 15 minute lank tot gaar en goudbruin.
Foto: Spar.co.za
Hi Joey, net 3 eiergele. Lekker bak. Errieda.
Sjoe dit lyk lekker