Juweelslaaie en yskelkies met pêrels van granaat

4 Feb

 

granate in blou bak uitgedop

“Daar was so vyf granaatbome tussen die agterdeur en die -hek wat die ganse en makoue uitgehou het op my grootouers se plaas. Elke middag na die 11h30 middagete  is die kombuis opgeruim en dan het my Ouma Bes die klein halfronde blou enamelbakkie gevat en vrugte van die seisoen is daarin geskil: ‘n enkel appel, perske, of wat ook al ryp was.  Met granaattyd was daar ‘n ekstra bakkie ingesluit. Sy het die sagte rooi skil (ja, dis sag as dit sonryp raak) perfek in die rondte gesny sonder om een enkel pit te beskadig, dit oopgebreek en dan pit vir pit uitgehaal, die geelwit velletjies sorgvuldig verwyder en in die helfde van die vrug in die ekstra bakkie gegooi. Teen die tyd wat Jan Blomerus die nuus gelees het, het ek omtrent geweet presies hoeveel pitte in daardie bakkie was – pure afwagting. “Bokstertjie, jy kan maar kom haal!” Dan het ek versigtig opgestaan van voor die bank waar my oupa geslaap het en ek sit en lees het, want hy het aan die einde van die nuus diep gesluimer – en dan het ek saggies oorgehuppel na my ouma en die bakkie pitte geneem waar sy op die lang sonstoep uitgestrek gesit het met haar voete “op” en die boonste deel van haar witvoorskoot losgeknoop – en met koperspeldjies weer vasgemaak. In haar hand die blou bakkie met die bloedrooi krale daarin. Een vir een het ek die vreemde wasagtige krale in my keel afgegooi. Elke jaar dieselfde storie. Dit was 1968. En vandag, 2015, sal ek baie betaal: vir die granaatpitte, en dalk ook vir die oomblik. “  (Pieter Arno Du Toit, 3 Feb 2015)

Groot granaat-oomblikke

Groot granaat-oomblikke

Ek het ook sulke robynoomblikke uit my kinderdae, toe ‘n hele middag sorgloos kon verbyvlieg met ‘n oopgebreekte granaat en voete in die koel leivoorwater. Die dieprooi granaatvlekke op my wit polkadot-rokkie was die stil verklikker van die middag se wegdroom. Dis egter oor die grootmens-genot van granaat waaroor ek vandag gesels – die oomblik wat granate se soet vrankgeit en die sensoriese ekstase van ‘n dag onder die somerson ‘n wonderlike kosmaak-wulpsheid in my losgewikkel het.

My Groot Grootmens-Granaat-Oomblik was laas Sondag by die eerste viering van Convivium, ‘n opwindende nuwe kossaamtrek geskoei op die MAD-simposium van Denemarke. By ‘n tafel met die mooiste uitsig oor die Swartland het Caro De Waal vir my ‘n yskelkie geskink – Shiraz druiwesap met roosmalva gegeur, geskink oor ysskaafsels en geborduur met roospienk granaatpêrels.

Convivium granaat-yskelkie

Convivium granaat-yskelkie

Ek dwaal vir ‘n oomblik af, want ek moet net meer vertel van die dag in die son op Kalmoesfontein,  die visionêre plaas van Adi en Cornelia Badenhorst. Die Convivium-saamtrek is die inisiatief van die kospersoonlikheid Andy Fenner en Wesley Randles van The Pot Luck Club om plaaslike sjefs, verskaffers (van slagters, bakkers, vissermanne, wynmakers, distilleerders en bierbrouers tot kaasmakers) bymekaar te kry. Dit was ‘n dag vol van kreatiewe energie en ‘n terug-na-die-aarde benadering met groot fokus op plante, kruie en ons plaaslike koskultuur.

En die een ding wat steeds by my talm is die ervaring van die goue glasie met die ysdrankie – ‘n granaat slush puppy – in my hand. Die gevoel om omring te wees met mense wat ‘n beeldskone passie deel, die natuurskoon, die bedwelmende kleure  en geure van die tuin met kruie en wilde als, en die klanke van sjefs wat kosmaak, ys wat in glasies klinge.

Die uitsig terwyl ek knibbel aan granaatpitte in 'n yskelkie.

Die uitsig oor Kalmoesfontein terwyl ek knibbel aan granaatpitte in ‘n yskelkie.

Hierdie twee granaat-inspirasie slaaie vang vir my die sensoriese ervaring van die dag vas. Deel van die genot is om self die granaat te skil en die pêrels los te breek. Kyk gerus op YouTube vir die vinnige, effektiewe maniere om ‘n granaat in ‘n oogwink te skil en die pitte los te maak.

Juweelslaai met granate, couscous en grondbone

Juweelslaai met granate, couscous en grondbone

Granaat en grondboontjie couscous-juweelslaai

Bedien 4

1 koppie couscous

1 hoender bouillon blokkie, aangemaak met 1 koppie kookwater

1 koppie platblaar pietersielie, grofgekap

1 koppie vars koljander, grofgekap

½ komkommer, in blokkies (verwyder skil en pitte indien verkies)

1 rooi of groen brandrissie, pitte verwyder en opgekap

½ koppe granaatpitte + ekstra vir oorstrooi

1/3 koppie geroosterde grondboontjies, grofgekap (of amandels)

½ t sout

½ koppie olyfolie

Sap van ½ suurlemoen

  • Plaas couscous in ‘n vlak bak, giet die warm aftreksel oor, bedek en laat 5 minute staan. Roer met vurk deur.
  • In ‘n mengbak, roer die couscous, pietersielie, koljander, komkommer, rissie, neute, granaatpitte en sout deur. Net voor opdiening, skud die olyfolie en suurlemoensap saam en giet oor die couscous. Sprinkel nog granaatpitte oor. Bedien teen kamertemperatuur.

    Eiervrug. Granaat. Dennepitte, Dik jogurt. Saffraan. Basielkruid. Hemels.

    Eiervrug. Granaat. Dennepitte, Dik jogurt. Saffraan. Basielkruid. Hemels.

Geroosterde eiervrug- en granaatslaai met saffraanjogurt

 Die kleurvolle slaai word afgerond met granaatpittte en dennepitte wat soos krale op die liggoue saffraansousie pryk. Dis ewe lekker as voorgereg, slaai of vleislose hoofgereg.  

5 medium eiervrug, in 2 cm snye of wiggies gesny

Olyfolie of sonneblomolie vir borsel

45 ml liggeroosterde dennepitte

Groot handvol granaatpittte

15 basielkruidblare

Saffraanjogurtsous:

Knippie saffraandrade

45 ml warm water

180 g Griekse-styl jogurt

1 knoffelhuisie, gekneus en fyngekap

Sap van 1 suurlemoen (sowat 30 ml)

45 ml olyfolie

  • Geroosterde eiervrug:Voorverhit oond tot 220⁰C. Smeer eiervrugringetjies aan beide kante met olyfolie, besprinkel kwistig met sout en peper en plaas op ‘n bakplaat. Bak  sowat 35 minute tot dit ‘n mooi ligbruin kleur is. Laat afkoel.
  • Saffraanjogurtsous: in ‘n klein bakkie gooi kookwater oor saffraandrade en week vir 5 minute.  Gooi die saffraanwater in ‘n mengbakkie met jogurt, fyngemaakte knoffel, suurlemoensap en olyfolie. Klop dit goed saam tot dit ‘n gladde, goudkleurige sous vorm. Geur met sout en peper na jou smaak.
  •  Opdiening: Pak eiervrug effe oormekaar in ‘n mooi plat opdienbak, bedruip dit met die saffraanjogurt, gooi 20 basielkruidblare oor en besprinkel  met die robynrooi granaatpitte en dennepitte. (Resep uit  ‘Ottolenghi: the Cookbook’)
Roospienk granate vir 'n yskelkie

Roospienk granate vir ‘n yskelkie

Ek het nie by Caro die resep vir die Convivium granaat-ysdrankie gekry wat so ‘n indruk op my gemaak het nie, My eie kelkie word gemeng met granaatsap, wit rum, suiker en lemoenskyfies oor ys. Ek klink ‘n glasie op Convivium 2015 in die maand van die liefde en tel my  seëninge pêrel vir pêrel.

Caro skink kelkie

4 Responses to “Juweelslaaie en yskelkies met pêrels van granaat”

  1. nita wilson February 4, 2015 at 3:28 pm #

    granate is definitief die natuur se robyne. ons kinders ken dit nie meer nie. ek gaan definitief hierdie slaai probeer. miskien kan dolfie vir my ‘n granaat of twee laat kry. of om sy pa se granaatboom te verewig, kan hy dalk vir my ‘n loot groei. sal dit baie waardeer. my granaatboom moes verwyder word want hy was so oortrek van die voelent toe ons hier ingetrek het, daar was geen vrugte vir 12 jaar aan nie, net klein blomme wat na so week of drie afgeval het.

    • huiskok February 4, 2015 at 7:04 pm #

      Geniet die slaai. Ek gaan vir my ook ‘n granaatbos plant.

  2. Dolfie February 4, 2015 at 11:14 am #

    Het jou praatjie oor granate baie geniet en my kinderdae herleef op die Noord Kaapse dorpie Marydale. My pa het natuurlik vir my een van daardie granaatlanin g se lote laat groei en bly vandag in Hartbeespoort met my eie granate. My boom dra reeds baie swaar aan sy vrugte hierdie jaar. Die takke sleep behoorlik op die grond.

    • huiskok February 4, 2015 at 11:21 am #

      Sien jouself as ‘n rykmens met jou eie granate!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: