Vir die eerste verjaarsdag van my RSG radiorubriek “Die Kos wat ons Ken” wou ek iets spesiaals maak om aan te sluit by die kerrievis waaroor die eerste uitsending gegaan het.
In die plek van die hot cross buns, of te wel paasbolletjies, wou ek ‘n ander broodjuweel uit ons kultuurskat vir Paastyd maak. Rosyntjiebrood is so ‘n skat. ‘n Tradisionele rosyntjiebrood is ‘n gebak van allerprag, maar ek wou bietjie rondspeel met geure en smaakkombinasies en het ook ‘n vinniger metode gesoek. Inspirasie is ook gesoek in ons land se diverse kulture en die gedagte het ontstaan om rosyntjiebrood- en kerrievis bunnychow te maak.
Ek dra hierdie brood op aan my broer Theo Espost wat vanjaar nie meer hier is om Paasfees te vier nie.
SAFFRAAN-ROSYNTJIEBROOD MET LEMOENGLASERING
Geen, maar geen geknie nie! Die deeg kan ook gebruik word vir ander gebak, soos kaneelrolletjies, sticky buns of net in muffinpannetjies gebak word. Hierdie smaakkombinasie is spesifiek ontwikkel met die oog op Paastyd, maar die saffraan en lemoen kan uitgelos word vir ‘’n meer basiese gebak.
Maak sowat 4 brode.
Bestanddele
125 g rosyne
Stewige knypie saffraandrade
Skil van 2 lemoene
375 mℓ louwarm water
15 mℓ droë kitsgis
15 – 20 mℓ sout
8 groot eiers, liggies geklits (eiers teen kamertemperatuur)
125 mℓ heuning
340 g (1 ½ koppies) ongesoute botter, gesmelt
1 kg meel (ek meng helfte koekmeel, helfte broodmeel)
Eierwas:
1 eier lig geklits met ‘n bietjie water
Lemoenglasuur:
Sap van 1 lemoen
30 mℓ suiker
5 mℓ botter
Metode
Week die rosyne in sterk warm water vir 10 minute, dreineer.
In aparte bakkie, gooi 125 mℓ sterk warm water oor die saffraandrade.
Meng die gis, eiers, heuning, lemoenskil, gesmelte botter, 250 mℓ louwarm water en die 125 mℓ louwarm saffraanwater in ‘n groot bak of houer met ‘n lospassende deksel. (houer se inhoudsmaat 5 liter).
In ‘n aparte bak, meng die twee soorte meel en die sout saam, voeg die rosyne – meng dit deur sodat die rosyne goed met die meel bedek is. Meng die meel in by die gis-eier-botter en roer goed met ‘n houtlepel tot al die meel goed ingewerk is en ‘n slap deeg vorm.
Bedek (maar nie lugdig nie) en laat sowat 2 ure teen kamertemperatuur staan. Verkoel die deeg in die yskas vir ‘n paar uur – sodra die deeg koud is, is dit reg om te gebruik en hanteerbaar. Die deeg kan ook tot 5 dae in die yskas gehou word, so jy hoef nie alles op een slag te bak nie.
Smeer jou broodpanne of spuit met kleefvrye sproei. Verdeel die deeg in die panne, bedek en laat rys. Intussen voorverhit die oond na 190°C. Smeer die brood met eierwas en bak 35-40 minute tot gaar. Dit sal hol klink as jy daarop tik. Wenk: om te keer dat die brood te sterk bruin bak bo, kan jy ‘n laag foelie lossies bo-oorsit na sowat 25 minute.
Terwyl die brood bak, maak die glasuur deur die lemoensap en suiker te kook tot ‘n ligte stropie en botter in te roer. Haal die brood uit die oond en bestryk met die lemoenglasering. Laat 10 minute in die pan afkoel, haal versigtig uit en plaas op afkoelrak om af te koel.
Wenke:
- Die deeg kan gevries word. Ontdooi in yskas.
- Die brood is heerlik met kerrievis (piekelvis) vir Paastyd. Jy kan kleiner broodjies bak, die bokant uithol, met die vis vul en as bunny chow bedien.
- Die saffraan kan uitgelos word vir ‘n standaard rosyntjiebrood. Bosbessies (cranberries) kan ook met die rosyne gemeng word.
- Om rosyntjiebrood-brioche te maak, knyp stukkies deeg af tussen duim en voorvinger en plaas bo-op die rolletjies.
- Ek hou daarvan om my rosyntjiebrood in twee dele in die pan te sit – plaas twee bolle deeg (sowat 330 g elk) langs mekaar in die pan en druk deeg liggies in die hoeke in. Laat rys.
- Die brood is heerlik gerooster: Maak ‘n lekker geroomde heuning- en kaneelbotter daarby – roer bloot net heuning en fyn kaneel in by sagte botter en klop met die lepel tot dit romerig is. .
Ten slotte: baie dankie Hein van Tonder vir die heerlike gesels en kreatiewe idees. Volgende keer maak ek ‘n Kaapse kerrie- en lourierblaar rosyntjiebrood en noem hom Hein!
So mooi en klink so lekker! Ek kyk met bewondering sedert Sondag na die hele proses wat jy hier aangepak het.
en steeds die einde niet. daar is ‘n baie ou Toskaanse resep vir ‘n oesbrood wat ek wil bak wat die rosyne in vin santo geweek word. bo-op kom vars druiwe. saam simboliseer dit die verlede en die toekoms.