Jy ken daai gevoel. Die allesoorheersende lus vir ‘n soetigheid slaan oor jou toe. Jy krap in die kaste rond, eet uit belustigheid sommer ‘n skep appelkooskonfyt op ‘n Marie biscuit.
Dan onthou jy van die plak donkersjokolade iewers in die kas, wat jy laas nóg gekoop het vir ganache of pots Au chocolat. Jy kan die blok sjkokolade net so verslind of jy kan die ekstra myl loop, mededeelsaam wees en ‘n mede-lekkerbek baie gelukkig maak met hierdie meringuebollings vol Post Toasties en sjokoladestukkies. Ek weet nie of mens nog Post Toasties kry nie. Kellogg’s doen ook die ding.
Graanvlokkies-skuimpiebollings met sjokoladestukkies
4 eierwitte
Knippie sout
1 k suiker
110 g donkersjokolade, grof gekap
750 ml graanvlokkies
5 ml vanilla essens
Voorverhit oond tot 150C. Voer bakplaat (plate) met bakpapier uit.
Klits eierwitte tot skuimerig, voeg knippie sout by en klits suiker stadig by om stywe meringue te vorm. Vou gekapte sjokolade, graanvlokkies en vanielje by. Skep eetlepels vol hopies 2,5 cm uitmekaar op gevoerde bakplaat. Bak sowat 20 minute tot bros buite. Laat goed afkoel.
Ek wed jou jy’s spyt jy het dit nie dubbeld aangemaak nie.
My ma het ‘n Post Toastie tert (toe Graanvlokkies nog Post Toasties genoem is!) gemaak. Ek verlang skielik daarna. Gaan hierdie reseppie uittoets.
Ek wil ook noem dat ek die Koekedoor bakboek verlede maand gekoop het. Ek lees feitlik elke dag die resepte en eet met my oe. Ek kan nie wag vir die volgende reeks nie!
Groete
Dalene