Die heelal rus in ‘n korreltjie rys.
Rys is gróót in my lewe: rys-en-vleis, kedgeree, breyani, geelrys by die bobotie, basaar-kerrie-en-rys, rys-en-bone en my ma se tamatie-rooirys is deel van my identiteit.
In ‘n korreltjie rys lê goedvoelkos vir verlangendes, feeskos en confetti vir die trouendes en begrafnisrys vir die roubeklaers. Rys is stapelvoedsel en kultuurverteller.
Geniet die vars nuwe maniere om jou kosbakkie te vul met rys en vleis, soos lemmetjierys en peer-gemarineerde stukkies varkblad wat jy roerbraai.
Gebraaide sojasous met sensasionele yum-yumsous
Eet dit met bros sout-en-peper varkblokkies.
Vir die rys
Sojasousmengsel:
- 10 ml vissous
- 30 ml donker sojasous
- 30 ml ligte sojasous
- 10 ml Chinese kookwyn Shaoxing of droë sjerrie
- 5 ml suiker
- 5 ml canola-olie
- 5 ml oestersous
- Vir die gebraaide rys:
- 3 eiers, geklits
- 5 ml Chinese kookwyn Shaoxing , of droë sjerrie
- sout, na smaak
- 45 ml olie, verdeel
- 6 koppies gaar langkorrelrys, afgekoel
- 3 slaaiuie, gekerf
- Sojasous mengsel (resep bo)
Maak eerstens die sojasous-mengsel: Plaas al die sousbestanddele in ‘n kastrolletjie oor matige hitte en roer om suiker op te los. Bring tot kookpunt en draai die hitte af. Hou eenkant.
Voeg 5 ml kookwyn en ‘n knippie sout by die geklitste eier. Verhit 15 ml olie in ‘n wok of braaipan oor hoë hitte. Maak die roereiers en roer met ‘n vurk om op te breek. Skep uit en hou eenkant.
Verminder die hitte. Verhit 30 ml olie in die wok, voeg die rys by en roerbraai tot regdeur warm. Voeg die sojasous-mengsel en die gaar roereier by, roer tot goed gemeng. Gooi gekapte slaaiuie by, roer deur.
Skep die sojasousrys in ‘n bakkie met yum-yum-sous, bros sout-en-peper varkblokkies, gerasperde wortel, slaaiblare, kruie en suurlemoenskyfies. Bedien gekapte brandrissie apart. .
Yum-yum-sous
Yum-yumsous is ‘n heerlike doopsous, gemaak met ‘n mayonnaise-basis en alledaagse bestanddele, wat baie gewild is in Japanese hibachi (braai) restaurante. Dis nog lekkerder as dit oornag staan.
- 250 ml mayonnaise
- 15 ml sagte botter
- 5 ml tamatiepasta (nie tamatiesous nie)
- 5 ml suiker
- 5 ml speserymengsel (paprika, cayenne en knoffelsout; of braaispeserye)
- 2,5 ml droë mosterpoeier
- sout na smaak
- 15 – 30 ml water
Voeg al die bestanddele, behalwe die water, in ‘n bakkie en klits tot glad. Voeg water by na gelang hoe loperig jy dit wil hê.
Heerlike vleis vir rysbakkies
BROS SOUT-EN-PEPER VARKBLOKKIES
Die Sichuan-peper in hierdie resep van Food52 laat die tong te lekker tintel, maar jy kan dit vervang met gewone swartpeper.
Bedien 4 – 6
- 600 g varkvleis in 1 cm-blokkies (ontbeende varkblad is ideaal)
- 2,5 ml fyn sout
- 15 ml swartpeperkorrels
- 10 ml Sichuan-peperkorrels (vermeerder die swartpeper as jy nie Sichuan-peper het nie)
- 2,5 ml droë rissievlokkies
- 15 ml kookolie, soos canola-olie of grondboontjieolie (dit het hoë brandpunt)
- 5 ml seesoutvlokkies (soos Maldon of Khoisan sout)
- 125 ml sagte kruie soos vars koljander, kruisement, sprietui of basielkruid
- 1 vars brandrissie, sade verwyder en gekap
- Vir bediening: gebraaide-, lemmetjie, of gestoomde rys, doopsous, komkommer, wortelstokkies.
Meng die varkblokkies en fyn sout saam in ‘n bak.
Maal die swart peperkorrels, Sichuan peperkorrels en die rissievlokkies saam in ‘n speseryemeul of stamper en vysel. As jy elektriese meul gebruik, moenie dit te fyn maak nie, jy soek die pepertekstuur. Meng die gemaalde mengsel by die vleis in. Laat staan vir 20 minute by kamertemperatuur.
Verhit ‘n groot swaarboompan (nie kleefvrye soort nie) oor hoë hitte tot baie warm. Gooi die olie by en sodra die olie blinkerig lyk. Voeg die varkblokkies by en strooi soutvlokkies oor. Roerbraai tot die varkblokkies aan alle kante goudbruin is, 5-7 minute. Doen dit in sarsies om te verseker dat die vleis braai en nie begin stoom nie.
Skep vleis in skottel, bedien met kropslaai, komkommers, sojasousrys of lemmetjierys.
TIEN-MINUTE LEMMETJIERYS EN GEMARINEERDE VARK-ROERBRAAI
Ek maak die lemmetjierys chop-chop in ‘n drukkoker. Die geurige rys is ideaal vir die rysbakkie eetstyl, waar minder vleis gebruik word en meer groente. Die gerasperde appel (of peer) in die vleis-marinade werk as ‘n vleisversagter, ‘n metode wat die Koreane inspan vir hul nasionale vleisdis boelgogi (BBQ-vleis).
Vir die lemmetjierys
- 250 ml Spekko langkorrel witrys
- 310 ml water
- 30 ml kookolie
- 5 ml sout
- Sap en skil van 2 lemmetjies
- 45 ml vars gekapte koljander
Voeg rys, water, 15 ml olie en sout in die drukpot. Maak deksel toe en kook 3 minute onder hoë druk, draai die hitte af en laat die stoom vanself vrystel vir 7 minute. Pluis met vurk.
Meng koljander, lemmetjiesap/skil, en 15 ml kookolie in ‘n bak, meng rys by.
Skep die rys in bakkies, bedien met komkommer, geroosterde sesamsaad, boelgogi BBQ-vark-of beesvleis en ‘n rissie-doopsous.
Vir die appel-gemarineerde roerbraai varkvleis
(genoeg vir 4 mense as deel van Koreaanse ete, of twee as hoofdis )
- 600 g vark, in stukkies gesny vir roerbraai (ek gebruik graag varkblad)
- 1 Medium ui, in dun skyfies
- Geroosterde sesamsaad vir oorsprinkel
Marinade
- 60 ml mirin (soet Japanese ryswyn), of vervang met medium-soet sjerrie
- 1 geskilde groen appel (of peer), fyn gerasper
- 60 ml sojasous
- 60 ml bruinsuiker
- 2 slaaiuie , wit en groen dele, fyngekap
- 15 ml rissiepasta (vra vir Koreaanse gotsjoejang) of gebruik sambal oelek
- 15 ml fyngerasperde vars gemmer
- 2-3 knoffelhuisies, fyngerasper
- 30 ml sesamolie
- 7,5 ml ryswynasyn of appelasyn
- Swartgemaalde peper
- Vir bediening: geroosterde sesamsaad, komkommerskywe en ‘n doopsous van jou keuse.
Meng marinade-bestanddele saam en voeg stukkies vleis by. Laat die vleis minstens 30 minute in die yskas marineer.
Druk vleis droog met kombuispapier. Verhit ‘n groot swaarboompan oor medium-hoë hitte, gooi ‘n bietjie canolieolie in en flitsbraai die vleis tot amper gaar (5 – 7 minute), gooi die uie by en braai tot gaar. Skep in bakkies saam met rys, strooi sesamsaad oor en bedien met vars groente en slaaiblare.
- Kyk ook uit vir die blog-inskrywing vir ryspoedingresep wat met oorskietrys gemaak word en met gekaramelliseerde pere bedien word.
- Resepvoorbereiding en stilering: Errieda du Toit
- Fotograaf: Ian du Toit
- handmodel: kos vriendin Catherine Eybers
Leave a Reply