Vrystaat lamskenkel in tamatie- uie en appelsous

4 Apr

Edit-0316 SKENKELS SKUINS

Lamsvleis op die been is lisensie om jou vingers aan tafel af te lek. Dit het ek onlangs weer ontdek in Bloemfontein met ‘n Tuistafel-kuier by die Fynproewersgilde. Die gulhartigheid waarmee gekook word is die deurslaggewende geurmiddel.

Met die eerste hap aan gasvrou Retha Joubert en haar man Willem se tafel kon ek die gasvryheid proe in die bak skaapkneukels wat stadig gaargemaak was in ‘n tuisgemaakte tamatie-, uie- en appelsous.

Dalk was dit die aandlug en die vrolike gekwetter aan tafel van mense met gedeelde belange wat die eenvoudige oondgebak tot versamelstuk verhef het. Of dalk die tafelversierings van oopgebarste granate en kerslig wat  ‘n Renaissance-fees van die ete gemaak het.

Teen die tweede skeppie het ek geweet die resep hoort in die ‘onvergeetlike’ koskategorie met smake wat my herinner aan die bindende krag van saam-eet. Ek het gedreig om nie weer my ry te kry tot sy die resep vir my gegee het nie.

Die geheim is in die sous, verklap Retha. Die Bloemfontein Fynproewers hou almal ‘n fles of twee van die tuisgemaakte tamatiesmoor op gereedheidgrondslag in die yskas.

Edit-9614 TAMATIESOUS IN FLES

Terug by die huis was dit die eerste resep wat ek gemaak het om te wys hoekom ek altyd ‘n geleentheid aangryp om in Bloemfontein te gaan koskuier.  En nee, ‘n kortpad deur geblikte tamatie gaan nie werk nie. Dis die ekstra bietjie toewyding aan varsgemaak wat dit uitsonderlik maak.

Edit-0331 RESIZE GAAR SKENKELSBLOEMFONTEIN LAMSKENKELS IN JOU EIE TAMATIE-, UIE EN APPELSMOOR

Maak sommer ‘n ekstra flessie sous, wat jy ook kan gebruik vir skaapnek, blad of boudtjops.

Bedien 6

  • 1,5 kg skaapkneukels
  • Roosmarynsout (Retha gebruik Ina Paarman s’n; ek het net sout en lourierblare gebruik)

Sous (genoeg vir 1 liter tamatiesous)

  • 6 medium (1.1 kg) tamaties, geskil en fyngekap
  • 2 medium (300 g) uie, fyngekap
  • 2 medium (300 g) appels, geskil, pitte uit, fyngekap
  • 7,5 ml sout
  • 5 ml gerasperde suurlemoenskil
  • 5 ml droë mosterd
  • 5 ml garam masala
  • 30 ml matige kerriepoeier
  • 250 ml bruinsuiker
  • 125 ml asyn
  • 60 ml suurlemoensap
  • 15 ml tamatiepasta

Voeg al die sousbestanddele in ‘n groot kastrol, prut stadig sonder ‘n deksel, roer af en toe tot die mengsel goed dik is, sowat 45 minute. (As jy die warm sous nou in warm gesteriliseerde glashouers skep en onmiddellik seël hou die sous vir 2 maande in die yskas).

Voorverhit oond na 160°C. Plaas die vleis in ‘n bakpan, bedek met die tuisgemaakte tamatiesmoor. Die Bloemfonteiners strooi Ina Paarman se roosmaryn sout oor. (Ek het net sout en lourierblare as geurmiddel gebruik). Maak toe met foelie en bak tot die vleis sag is, 3 – 4 ure. Bedien met kapokaartappels.

Ek het my lamskenkelvleis by Deli-Co gekry, wat dit mooi opgesny het.  Benut Deli-Co se afleweringsdiens vanaf Riebeek Kasteel na ‘n sentrale punt naby jou; of vul jou vleisvoorraad aan by die Deli-Co slaghuis- en padstal by Potbelly, Klapmuts. Vind op www.delico.co.za meer uit.

  • Kosvoorbereiding en stilering: Errieda du Toit
  • Fotografie: Ian du Toit

2 Responses to “Vrystaat lamskenkel in tamatie- uie en appelsous”

  1. Mandi Botha April 5, 2017 at 8:39 am #

    Ek stuur die skakel vir almal wat ek liefhet! En druk die resep uit vir myself om agterin Tuistafel te gaan woon.

    • huiskok April 5, 2017 at 10:25 am #

      Kyk, ons twee moet gou saam om ‘n tafel sit, ‘n behoorlike tuistafel!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: