Ek aan my naamgenoot, liewe dogter Errida: ‘eet eers jou wortel voor jy poeding kry’.
Piepjonk geelworteltjies, gerooster tot bros en soet, romerig-ryp avokados en komyn… ‘n meer verruklike vennootskap kry jy nie sommer nie. Dis ook die begin van baie ander moontlikhede en variasies, solank jy die hoofrolspelers toelaat om die storielyn te lei.
As daar ‘n slaairesep is wat van kombuis tot kombuis geswerf het tussen Britse, Ierse en Frans-Amerikaanse kokke is dit hierdie skepping met sy kontras tussen die worteltjies warm uit die oond en die avokado koud uit die yskas! Maar moenie dat die slaai se pedigree jou skrikkerig maak nie (sjef April Bloomfield van Spotted Pig-faam en meestersjef Jan-Georges Vorgerichten, Food 52 en Sur lê Table het almal ‘n hand daarin), want dis glad nie cheffy nie.
Ek het dit juis opgespoor in die kookboek Simple van Diana Henry toe ek ‘n showstopper-slaai vir ons feestelike Kerstafel gesoek het. ‘n Paar veranderinge in bestanddele (moskonfyt vervang die voorgeskrewe granaatstroop en bosbessies die peperduur granaatperels), ‘n kortpad deur die stappe en die slaai voel soos my eie.
Showstopper Geroosterde wortel-, avokado- en komynslaai
Met moskonfytslaaisous.
30 jong wortels (verkieslik met stukkie stingel aan)
60 ml ekstra suiwer olyfolie
10 ml komynsaad, lig gerooster in droë pan
7,5 ml koljandersaad, gestamp
5 ml rissievlokkies
Sout en peper
3 ryp avokados
60 ml pekan- of okkerneute, gerooster (of vervang met sonneblomsaad en/of pampoenpitte)
Gemengde slaaiblare (bronkors as jy dit kan kry, Andersen’s fynerige blare)
Handvol vars koljanderblare
Vir bediening: 250 ml dik jogurt, gegeur met 1 gekapte knoffelhuisie; pitte van ½ granaat of bosbessies
Vir slaaisous: 15 ml moskonfyt of granaatmolasse, 1 gekneusde knoffelhuisie, 2,5 ml Dijon mosterd, 80 ml olyfolie, 2.5 ml heuning, spatsel suurlemoensap – skud saam in flessies.
Metode
Voorverhit oond na 200ᴼC. Skrop die jong worteltjies. As jy nie skraal wortels in die hande kan kry nie, sny groot wortels in die lengte af in kwarte. Pak dit in ‘n enkellaag op ‘n bakplaat, voeg die olyfolie, speserye en sout en per by, meng dit deur om goed te bedek en rooster sowat 30 minute tot net-sag. Dit sal effe krimp.
Halveer die avokadopeer, verwyder die pit en sny versigtig in skywe. Pak die blare, worteltjies en avokadopeer op ‘n bord, sprinkel ¾ van die slaaisous oor en meng liggies deur. Meng die knoffel by die jogurt in en skep lepetjies daarvan tussen die slaaibestanddele. Strooi bosbessie (of granaatpitte) en neute oor en drup die orige slaaisous oor.
Foto’s: Ian Du Toit
Leave a Reply