Oondgeroosterde groente op die Griekse manier

23 Jul

Ek snuffel graag in ander koskulture vir vindingryke idees om groente opwindend voor te sit. Dit het my pad laat kruis met briam, die Griekse metode om groente in die oond te rooster, soortgelyk aan die Franse ratatouille. Die groentegereg is die beste nuus vir enigiemand wat baie lekker EN baie gesond wil eet.

Dis ‘n viering van Mediterreense eenvoud, ‘en word tradisioneel gemaak wanneer die somergroentes op hul kruin is. In sy mees basiese vorm word dit gemaak met murgpampoentjies, rooi ui, aartappel en tamatie, soms ook soetrissies en eiervrug.

In hierdie weergawe word opgesnyde murgpampoentjies, aartappel, uie, knoffel, tamatie, gedroogte oreganum en vars pietersielie kwistig bespat met goeie olyfolie – dan word dit in die oond gebak tot die hitte die rante van die groente hier en daar swart brand. As jy eiervrug en soetrissie (veral die rooi vir die mooi) wil bysit – of geelwortels in stokkies gesny – gaan jou tafelmense baie dankbaar wees.

By tye ‘n bykos op my tafel en ander kere die middelpunt van die maal. Dis een van daardie vleislose geregte wat ‘vegetaries’ begeerlik maak.  Daarby maak ek ‘n besonderse sonneblomsaad-tzatziki, en bedien dit met platbrood, feta en olywe. Dis ewe tuis as ‘n warm slaai vir die braai.

Daar is kokke wat die groente in ‘n warmer oond bak met foelie of ‘n deksel op vir die eerste 30 minute, waarna dit oopgemaak en nog 30 minute gerooster word. Die bedeksel help dat die groente behoorlik gaar word en die laaste deel sonder bedekking is om die geroosterde smaak aan te help: die geheim is om nie die groente te laat stowe of waterig raak nie.

OONDGEROOSTERDE GROENTE OP DIE GRIEKSE MANIER (BRIAM)

Briam word ook tourlou-tourlou genoem – ‘n term van Turkse oorsprong wat ‘mengsel’ beteken; en eintlik meer van ‘n kookmetode vir seisoengroente as ‘n resep. Moenie suinig wees met die olyfolie nie.

2 groot murgpampoentjies (sowat 700 g), in dun ringetjies gesny

3 kleinerige aartappels, geskil, gehalveer en in dun halfmaan-skyfies gesny

1 soetrissie, ontpit en in skyfies gesny

1 medium eiervrug, in dun halfmaan-skyfies gesny (opsioneel)

1 ui, geskil en in dun skyfies gesny

80 ml of meer goeie olyfolie

2 knoffelhuisies, gekneus

200 g geblikte gekapte tamatie (of so 2-3 ryp, heerlike tamaties, gerasper)

80 ml fyngekapte pietersielie

15 ml gedroogte origanum (of 125 ml vars gekapte origanum)

5 ml elk sout en swartpeper

*Wenk: geelwortels in stokkies gesny werk goed in die plek van die aartappels.  

Voorverhit die oond na 190° C terwyl jy die groente voorberei. Plaas al die groente saam met die olyfolie, sout, peper en kruiepietersielie in ‘n groterige oondpan, meng dit goed deur. Die groente moet nie te beknop in die pan wees nie, en verkieslik in ‘n enkellaag lê.

Bak vir 30 minute, dolwe die groente om en bak nog minstens 30 minute tot gaar en die plek-plek swart gebrand. As dit in die bakproses te droog raak, giet ‘n klein bietjie water by. Die vog in die bak moet souserig wees, nie waterig nie.

Laat sowat 10 minute afkoel voor dit bedien word. Sprinkel nog ‘n bietjie olyfolie oor. Jy kan stukkies feta oorstrooi.

Briam kan ook teen kamertemperatuur geniet word.

Wenk: kyk ook uit vir die resep vir ciambotta – ‘n Italiaanse groente-stowegereg wat jou kombuis in ‘n cucina sal omtower.                     

Foto en stilering: Errieda en Ian du Toit                                                                                                                 

                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                      

One Response to “Oondgeroosterde groente op die Griekse manier”

  1. Lin Themelis Julie 23, 2021 at 11:33 nm #

    Ek is geleer om kruisement by te sit, vars of droog en partykeer sit ek n bietjie sumak en a lepeltjie suiker by.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.