Jingle Bells en ‘n Oukersaandnagereg wat soos sneeu lyk: dis my tafeltradisie. Ek doen báie moeite. As dit nie ‘n Kerskrans van pavlova is, of ‘n meringue-en nektarien trifle met brandewynvla is nie, trek ek Jamie se Krismiskookboek nader vir hierdie banoffeetert Alaska. Hoop net beurtkrag werk vanjaar saam want dis regtig spesiaal vir ‘n feesete. Ek het juis twee Kersfeeste na mekaar met die familie gemis.

As Eskom nie gaan saamwerk nie, en die banoffee- belustigheid neem oor maak ek die veel eenvoudiger Banoffee-trifle met toffie skerwe. Die toffie skerwe maak ek voor die tyd en die res is uit pakkies en blikkies.
My ma Inez het in die sewentigerjare ‘n yskastert van gekookte kondensmelk, vars piesangs, koekiekrummel-kors en geklitste room. My broer Theo was mal daaroor – heerlik as jy nie skrik vir soet nie. Ek sou later jare eers uitvind dit word Banoffee-tert genoem (banana + toffie = banoffie)
Ek omskep die retro gunsteling in iets selfs meer feestelik en dramaties met tuisgemaakte toffieskerwe wat soos brandskilderglas lyk.
Banoffee- en toffieglas trifle

Genoeg vir 4-6 mense
Trifle
- 90 ml (6 E) botter, gesmelt
- 4 piesangs, in skyfies
- Omtrent 10 sjokolade of karamel gedoopte “digestive biscuits”
- 375 ml (1½ houers) vars room, verkoel en geklits
- 1 blik karamel kondensmelk
Smelt botter en laat afkoel. Rol beskuitjies fyn en voeg by die gesmelte botter. Die trifle kan in een groot glasbak of in individuele bakkies voorgesit word. Pak ‘n laag krummels, gesnyde piesang, karamel en endig met styfgeklopte room. Steek die skerwe toffieglas deur die roomlaag.
Toffieglas
- 125 ml (110g) strooisuiker
- 30 ml Demarara-suiker*
Verhit oond tot 180⁰C. Om die toffieglas te maak, sprinkel strooisuiker op ‘n bakplaat uitgevoer met kleefvrye bakpapier. Sprinkel die Demararasuiker bo-oor en bak vir 25-30 minute tot die suiker gesmelt het. Laat afkoel. Breek in skerwe.
* Demararasuiker is goudkleurige suiker met ‘n ryk molasse geur. Gebruik enige geelsuiker of bruinsuiker.

Banoffeetert Alaska met souttoffiestroopz
150 g botter (koud), plus ekstra vir smeer
* 1 lemoen
* 200 g koekmeel, plus ekstra vir strooi
* 100 g gemaalde amandels
* 6 groot eiers
* 1 x 500 g-houer vanieljeroomys van goeie gehalte
* 60 ml gekookte kondensmelk
* 300 g strooisuiker
* 2 ryp piesangs
* 1 lemmetjie
* 15 ml koffiestroop* (of maak jou eie gesoute toffie sous, my resep onder.
1. Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n diep, 25 cm-losboom tertpan liggies.
2. Om die deeg te maak, rasper die lemoenskil fyn in ‘n voedselverwerker, voeg die koue botter, die meel, amandels en 1 eier by, blits dan tot dit bymekaarkom in ‘n bol, draai in kleefplastiek toe en verkoel vir 30 minute .
3. Rol uit op ‘n skoon meelbestrooide oppervlak tot net minder as ½ cm dik, rol dan losweg oor die koekroller op en rol oor die tertpan af, laat dit insak en druk dit versigtig aan die kante in.
4. Sny enige oortollige deeg af, lap gaatjies toe, prik die basis met ‘n vurk, bedek en verkoel vir 30 minute.
5. Na 30 minute, voer die deegkors uit met kwaliteit kleefplastiek (nie-PVC), vul dan met rys, maak seker jy vul dit gelyk met die kante.
6. Bak blind vir 15 minute, verwyder die kleefplastiek en rys en bak vir nog 5 minute, of tot liggies goudbruin, laat dan afkoel. Laat die roomys sag word in die yskas.
7. Sodra die deegkors afgekoel is, smeer die karamel oor die basis, skep die roomys oor en vries tot hard – jy kan dit ‘n dag voor die tyd tot op hierdie stadium kry.
8. Draai die oond op tot 220°C.
9. Om jou meringue-bolaag te maak, skei die oorblywende 5 eiers (hou die gele vir nog ‘n dag). Klits die eierwitte met ‘n knippie seesout in ‘n vrystaande menger totdat dit sagte punte vorm.
10. Plaas die suiker en 80ml water in ‘n pan op ‘n hoë hitte. Gebruik ‘n suikertermometer om te monitor dat dit 110°C bereik, en verlaag dan die temperatuur tot laag. Laat dit liggies borrel totdat dit tot 120°C kom.
11. Verwyder van die hitte en laat die borrels vir 30 sekondes tot ruste kom, gooi dit dan baie geleidelik in die eierwitte, terwyl jy aanhoudend op ‘n lae spoed klits. Laat dit vir 10 minute klits om af te koel en die mengsel verdik.
12. Skil en sny intussen die piesangs, rasper die lemmetjieskil oor en druk die sap oor die piesang uit.
13. Haal tert uit die vrieskas, rangskik die piesangs oor die roomys, stapel dan die meringue in mooi punte op.
14. Drup die koffiestroop met ‘n vurk se tande oor. Bak onder in die oond vir net 4 minute, of totdat die meringue liggies goudbruin is, en die roomys binne-in gevries bly. Haal uit die tertpan, en bedien in snye.
Sout toffiesous: (vir oordrup, of om oor pavlova of appeltert en roomys te giet)


125 ml koue water
330 g strooisuiker
250 ml vars klitsroom (nie lae vet nie)
Goeie seesout
Sit suiker en water in medium kastrol. Laat stadig warm word tot die suiker gesmelt het. Verhoog die hitte na medium tot dit opkook, sonder om te roer. Nou en dan trek jy net so ‘n haal deur die mengsel sonder om te roer. Laat dit sowat 15-20 kook tot amber-bruin. Te bruin en dit raak bitter.
Hou ‘n kwassie byderhand. Doop dit in water en verf die wande van die kastrol om te keer dat die suiker kristalliseer. Sodra die karamel die regte bruin skakering het, haal van die plaat af en klits die room in. Wees versigtig want die gesmelte suiker kan jou lelik seermaak. Moet beslis nie die rand met jou vinger aflek nie!
Laat afkoel, voeg sout na smaak by en sit in flessie tot benodig.
Foto’s Ian Du Toit.
Leave a Reply