‘n Amerikaanse rubriekskrywer van ouds, Judith Martin, het só oor sop gepeins: “Is daar ’n gawer, meer aanpasbare vriend as sop? Is daar enigiemand wat verder uit sy pad sal gaan sodat jy heilsaam kan eet, maar ook op die oorvloedigste tafel sy man sal staan en die punteneurigste gas tevrede stel?”
Sop doen altyd sy lojaalste bes, dit maak nie saak watter onwaardige bestanddele jy daarop afdwing nie. En dan vra sy tereg: “het ‘n steak al ooit aan jou deur kom klop as jy platsak is of siek in die kooi lê?”

Harissagegeurde hoendersop met chermoulagebotterde krummels in my ouma se borde. Dis nou wel nie die tradisionele hoendersop van ons jeug nie, maar ‘n antidote teen winter-blues en koudkry soos min. Indrukwekkend.
Op ‘n druppend-koue wintersdag sorg ek dat die brood warm uit die oond kom en die wynglase vol bly. En dat daar ‘n mega-pot vol sop is as trooster, warmwatersak vir die siel en almal se vriend.
As ek aan sop dink, draai my gedagtes altyd by my vriend en kunstenaar Theo Kleynhans, sopmaker extraordinaire. “Sop is een van daai oergoed van die wêreld,” vertel hy. “Iets wat aan jou binnewand en aan jou genetika krap. As mens goeie sop eet, is dit soos om te onthou waar jy vandaan kom.”
Oor ‘n skeppie wortel, preie en aartappelsop -met ‘n sprinkel gekapte haselneut – vertel hy my, “met sop is daar nie wegkruipplek nie – as dit afskeep is word jy uitgevang. Vir iets soos sop wat allerweë as sussende trooster gesien word, is sop eintlik nie vergewingsgesind nie.”
Sop dra ‘n groot verantwoorderlikheid, as ek die filosowe reg lees. Sop is waar alle dinge byeenkom – die omnium gatherum, volgens Marthinus Versfeld, ons land se eie Sokrates. Hy skryf in ‘The Philosopher Cookbook’ dat jou eie wêreld in geen van jou ander potte met soveel harmonie bymekaar kom as juis in die soppot nie.
Wat van fyn kookkuns-sop? Ag nee wat, maak Theo beswaar. En hy kan van fyn kook. In sy jong dae het hy by die Groot Sjef Garth Stroebel sop se gastronomiese kant goed leer ken. “As ‘n sop eers deur ‘n moeseliendoek gedruk moet word; of sop so deursigtig is dat dit met die lepel weg van jou af geëeet moet word, laat dit my koud en kriewelrig.”
Dus: ongekunstelde sop is sop vir kuier. Hy maak ‘n broccolisop met twee tots brandewyn en ‘n tot old brown sherrie wat jou drie dae laat huil as dit op is. Dan gooi hy geroosterde neute ook oor wat jou nog meer laat snik van verlange as die soppot sy bodem wys. ‘n Resep kan hy my nie gee nie, dit word soos sy kuns met geïnspireerde hale van die kwas gemaak, nie met soveel lepels dit en koppiesvol dat nie.
Ek hou van hitsige soppe uit die warm lande – Mexico en Noord-Afrika. Soppe wat stewig genoeg staan vir die winter se wyne: Merlot, Pinotage, Cabernet. So ook romerige soppe, seekossoppe met gemmer gegeur, ander met vars sampioene geskep. Kortom, enige sop wat uit die kok se hart eerder as uit blikke kom, is welkom in my sopkommetjie.
Hier is ‘n paar resepte wat ek die afgelope winters bymekaar gemaak het. Doen moeite daarmee – onthou sop wat afgeskeep is, blaker dit uit aan die wêreld en sy maat.
Kyk uit: Volgende week vertel ek van brode wat geestesgenote vir sop is.

Meksikaanse ‘hiert jou rissipit sop’ met tortillas en sterk cheddar. Suurroom staan in om te lawe. Ag ek speel, dis nie so chili nie – jy’s in beheer van die byt.
Mexikaanse sop met rissies en tortilla skyfies
Hierdie Mexikaanse gemengde bone en rissiesop met tortilla tjips het behoorlik winterstewels aan. In die styl van chilli con carne sit jy dit voor met goed beleë cheddar, tamatie- en koljander salsa, gebreekte tortilla tjips vir kraak en suurroom vir lafenis.
45 ml olyfolie
350 g beesvleis, in blokkies gesny
2 uie, fyn gekap
2 knoffelhuisies, fyn gekap
2 vars groen brandrissies, fyn gesny
5 ml rooipeper
10 ml gemaalde komyn
2 lourierblare
1 blik gekapte tamaties
900 ml goeie biefaftreksel
2 x blikkies gemengde bone
Bossie vars koljanderblare
Sout en vars gemaalde swartpeper
Tortilla skyfies, gerasperde kaas en suurroom vir opdiening
Metode:
Verhit die olie in ‘n groot kastrol en braai die beesvleis tot goudbruin.
Voeg die uie, knoffel en rissies by en braai vir nog 5 minute.
Voeg die rooipeper en komyn by en braai vir nog ‘n paar minute.
Gooi die aftreksel, lourierblare en blik tamaties by, prut vir ongeveer 1 uur tot die vleis baie sag is.
Voeg die bone by en prut vir nog 30 minute.
Roer die vars koljander by net voor opdiening en sit voor met tortilla skyfies, gerasperde kaas en suurroom.

Marokkaanse hoendersop met chermoula-gebotterde krummels. Bedien met suurlemoenskyfies.
Marokkaanse Hoendersop met Chermoula gebotterde krummels
Die Marokkaanse harissa-gegeurde hoendersop maak mens eintlik vir die halsbandjie: pikante chermoulabotter met broodkrummels, gegeur met koljander, knoffel, komyn, paprika, rissie, saffraan en skil van 1 groot suurlemoen, word oor die sop gestrooi.
50 g botter
450 g hoenderborsies in repies gesny
1 ui fyngekap
2 knoffelhuisies gekneus
7,5 ml meelblom
15 ml harissa
1 liter hoenderaftreksel
400 g tamaties fyngekap
400 g blik kekerertjies, afgespoel (jy kan ook botterbone byvoeg, soos ek gedoen het vir die sop op die foto)
Sout en varsgemaalde swartpeper
Suurlemoenskyfies vir opdiening
Chermoula:
50 g gesoute botter by kamertemperatuur
30 ml vars koljander, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
5 ml gemaalde komyn
1 rooi rissie ontpit en fyngekap
‘n knippie saffraan
Gerasperde skil van ‘n halwe suurlemoen
5 ml paprika
1 koppie droë broodkrummels
Metode:
1. Smelt die botter in ‘n groot swaarboom pan. Voeg die hoenderrepies by
en braai vir 5 – 6 minute. Roer met ‘n houtspaan tot dit begin bruin word.
Verwyder die hoender met ‘n gaatjieslepel en laat staan eenkant.
2. Voeg die uie en knoffel in die pan en kook stadig vir 4 – 5 minute , tot sag maar nie bruin nie.
3. Roer die meelblom by en roer aanhoudend tot die mengsel begin bruin word.
4 Roer die harissa by en kook vir nog 1 minuut. Voeg die hoenderaftreksel geleidelik by
en kook vir nog 2 – 3 minute en die sop effens dikker word.Roer die tamaties by.
5. Voeg nou die hoender en die kekerertjies by. Plaas die deksel op en kook oor lae hitte vir nog 20 minute. Geur met sout en varsgemaalde peper.
6. Maak intussen die Chermoula botter. Plaas die botter in ‘n bakkie en klop die koljander, knoffel, rooirissie, komyn, safraan, suurlemoenskil en paprika by. Sodra die mengsel goed gemeng is word die broodkrummels bygeroer.
7. Skep die sop in warmgemaakte sopbakkies.Skep ‘n klein skeppie Chermoula botter-krummels bo-op en laat staan vir ‘n paar minute. Bedien met suurlemoenskyfies.
Marleen se Gemmer, Klappermelk- en Mosselsop
10 g Fyn gesnyde knoffel
70 g Fyn gerasperde vars gemmer
2 uie grof gekap
250 g botter
250 ml meel
6 blikkies klappermelk
500 ml melk
500 ml Durbanville Hills Sauvignon Blanc
1 kg mossels sonder skulp
1 kg mossels met halwe skulp
4 opgesnyde preie
Sout en peper na smaak
Braai knoffel, gemmer en uie in die botter tot deurskynend en roer dan die meel by.Voeg die klappermelk, melk en wyn by en laat dit kook.Voeg al die mossels by en kook 5 minute of tot gaar.
Braai 4 opgesnyde preie eenkant en voeg dan by die sopmengsel
Porcinisop
Bedien met Diemersdal Merlot
(Bedien 4)
2 groot uie, gekap
1 knoffelhuisie, gekneus
3-4 vars tiemietakkies
250 g bruin sampioene
50 g porcini*
1 k room
1 k rooiwyn
sout, peper, neutmuskaat & suurlemoen na smaak
Braai gekapte ui, knoffel en tiemie tot goudbruin. Voeg sampioene by en geur met sout en peper om ‘n aftreksel te vorm (die sout trek vloeistof uit die sampioene). Voeg room en rooiwyn by en kook 5 minute. Verpulp en gooi terug in die pot. Indien die sop te dik is, voeg nog room of melk by of meng ‘n eetlepel koekmeel met ‘n bietjie rooiwyn by die mengsel om dit dikker te kry. Proe en voeg suurlemoen en swartpeper by indien nodig. Sluit af met neutmuskaat. Bedien met vars brood.
*Indien jy nie vars porcini sampioene kry nie, kan jy dit vervang met ander wilde sampioensoorte (byvoorbeeld shiitake of oestersampioene), vertel Ladine Louw van Diemersdal. Of gebruik gedroogde porcini wat jy vir ‘n rukkie in kookwater week.
Lamskenkel, keker-ertjie en lensiesop
Die ideale maat vir De Grendel Merlot.
2 koppies keker-ertjies (chickpeas)
2 koppies rooi lensies
1 kg lambskenkels
1,5 l water
10 ml sout
2,5 ml swartpeper
45 ml olyfolie
1 groot ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
4 koppies spinasie, gekap
¼ koppie suurlemoensap
Soteer die uie, knoffel en lamskenkels tot die uie deurskynend is. Voeg water, lensies, kekerertjies en geurmiddels by. Prut sowat 2½ uur tot die skenkel van die bene afval. Voeg die spinasie by en kook 15 minute. Voeg suurlemoensap by. Geur na smaak. Bedien met die lamskenkel aan die kant of opgesny in die sop. Bedien met Marokkaanse platbrood.
Die chermoula gebotterde krummels van die Marokkaanse hoendersop resep is ook heerlik bo-oor hierdie sop.
{SOP, SIP EN BROODFEES, 2 en 3 Junie}
Weer die koue af saam met die wynplase in die Durbanville Wynvallei wat vanjaar die wynroete se vierde ‘Sop, Sip en Brood’ naweek aanbied. Elke wynplaas skep unieke sop-, brood- en wynervarings vir ‘n onvergeetlike besoek aan die vallei.
Vir nadere besonderhede oor Durbanville Wynvallei se Sop, Sip en Brood – wintergeleentheid, besoek www.durbanvillewine.co.za of skakel 083 310 1228 of epos info@durbanvillewine.co.za. Bespreek by die onderskeie plase
Like this:
Like Loading...
Tags: boontjiesop, chermoula botter, durbanville, harissa, huiskok, kaas, marokaanse sop, meksikaanse sop, Merlot, pinotage, rooiwyn, rsg, Shiraz, sop, suurrom, tortillas