Tag Archives: roomkaas

Kiri-roomkaas, my hart se punt

20 Nov

Hap aan ‘n bagel mildelik gevul met roomkaas en gerookte salm of ‘n stewige sny gebakte New York-kaaskoek en jy verstaan hoekom die geregte EN roomkaas opgeneem is in die ensiklopedie ‘1001 Foods – the greatest gastronomic sensations on earth’. Roomkaas het net die vermoë om alles waarmee dit in aanraking kom, te verhef. Dis deels die fluweelgladde tekstuur – sag, glad en romerig maar ferm; deels die subtiele smaak en aangename sweempie surigheid wat die vars wit kaas so geskik maak vir sout en soet geregte.

Roomkaas se wortels

Ek hou van kos met ‘n storie – en dit het roomkaas ook. Frankryk se kaaskundigheid is so legendaries mens sou reken dis roomkaas se geboorteland. Die roomkaas wat ons vandag ken is egter ‘n Amerikaanse uitvindsel en die storie daaragter is dat ‘n Amerikaanse kaasmaker van die staat New York dit ‘per ongeluk’ in die 1870’s ontdek het terwyl hy eintlik probeer het om die sagte, krummelrige Franse kaas Neufchâtel na te maak. Die Franse het wel die kuns van roomkaas vervolmaak en te oordeel aan hoe geesdriftig hulle daaraan smul, dit deel van hul kaasidentiteit gemaak.

Noudat die Franse suiwelmaatskappy die Bel Group hul 200 g bakkies Kiri-roomkaas in George op die Tuinroete maak, kook ek geesdriftig daarmee, wetende dat dit uit ‘n streek van ons land kom wat self spog met ‘n ryk suiwelgeskiedenis.

Roomkaas die kokvriend

As iemand wat altyd op die uitkyk is vir maniere om weeksaand-familiegunstelinge op te kikker of iets makliks vir ‘n oor-en-weer-kuier te maak, vind ek hierdie bakkies roomkaas ‘n veelsydige kosvriend.

So kry my bobotie ‘n roomkaas-vlabolaag, maak ek beetslaai trendy met roomkaas-croutons wat ek rol in gegeurde geroosterde broodkrummels; ek vervang die bottervulsel van hoender Kiev met ‘n ligter weergawe van gekruide roomkaas en maak skeurbrood met ‘n knoffel-en-jalapeno-gegeurde roomkaashart. Heerlike dinge gebeur ook as jy roomkaas deur pasta roer, want soos dit smelt maak dit alles romerig en ryk, ‘n eienskap wat ek aanwend in die resep vir gnocchi met boerewors en murgpampoentjies in ‘n roosgetinte roomkaas-tamatiesous. Ek kombineer ook graag die beste van twee wêrelde in my Kiri-roomkaas marmerbrownies. Dit bring die romerigheid van gebakte kaaskoek en die fudgerige lekkerte van die klassieke brownie in een hap bymekaar.

HUMMINGBIRDKOEK, HEUNINGVERSOETE KIRI ROOMKAAS-EN-JOGURTVERSIERSEL en pynappelblomme

Die klassieke hummingbirdkoek kry vlerke met ‘n heuning-versoete versiersel van roomkaas en jogurt. Die tropiese geure word afgerond met oondgedroogte pynappelblomme.

Koek:

450 g blik fyn pynappel in stroop

150 g (250 ml) koekmeel

75 g (125 ml) bruismeel

2,5 ml koeksoda

5 ml fyn kaneel

2,5 ml fyn gemmer

1 ml varsgerasperde neutmuskaat

220 g (250 ml) bruinsuiker, ferm gepak

45 g (125 ml) klappervlokkies

250 ml fyngemaakte piesang

2 eiers, liggies geklits

180 ml canola-olie

Kiri-roomkaasversiersel met heuning en jogurt:

1 x 200 g houer Kiri-roomkaas, kamertemperatuur

60 ml volroomjogurt

15 ml heuning

2,5 ml fyn kaneel (opsioneel)

Gerasperde skil van 1 lemmetjie

  • Klop die roomkaas, jogurt, heuning, kaneel indien gebruik, en lemmetjiesap met ‘n houtlepel tot donsig en sag. Smeer oor die afgekoelde koek. Indien te loperig, verkoel vir 30 minute.

Beslag:

  1. Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n diep 20 – 22 cm losboomkoekpan. Voer uit met bakpapier.
  2. Dreineer die pynappelmoes oor ‘n bak en druk met ‘n lepel om soveel moontlik van die sap uit te druk, reserveer 60 ml sap.
  3. Sif die meel, koeksoda, speserye en suiker in ‘n groot bak. Roer die gedreineerde pynappel, gereserveerde sap, klapper, piesang, eier en olie met ‘n houtlepel by. Giet die beslag in die voorbereide pan en bak 35-40 minute. Dis gaar as ‘n toetspen wat in die middel ingedruk word, skoon uitkom. Laat staan 5 minute in die pan, keer op ‘n afkoelrak uit en laat heeltemal afkoel.
  4. Versier met roomkaasversiersel en gedroogte pynappelblomme.
  5. Nota: indien jy ‘n tweelaagkoek-verkies, sny die koek horisontaal in die helfte deur en vul. Dis heeltemal in die hak as die vulsel bietjie uitloop.

Pynappelblomme:

Kies ferm pynappels wat nie te ryp is nie. Kies 1 groot en 1 kleiner pynappel sodat die blommetjies nie almal dieselfde grootte is nie.

  1. Skil die pynappels, sny die ogies uit met ‘n skerppunt-messie. Sny in baie dun skyfies. Voer twee bakplate uit met bakpapier, rangskik die pynappel bo-op en droog uit by 110°C. Draai versigtig om na 40 minute en kyk dat dit nie te bruin raak nie.
  2. Om die vorm te gee as dit afkoel, plaas die blometjies in mini-muffinpannetjies of eierkelkies.

KIRI ROOMKAAS & JALAPENO DEELBROOD

Of jy dit deelbrood, skeurbrood of partybrood noem, hierdie tuisgebakte brood sê ‘kom ons kuier saam’. Al kan jy klaargemaakte deeg by die bakkerstoonbank koop, is die maak van die deeg eintlik die helfte van die pret (twee keer se rys gee soveel geur en ‘n veersagte tekstuur); die ander lekkerte is om die veerligte rolletjies uitmekaar te trek en die pikante roomkaasvulsel binne te ontdek‘. Gemengde sade word oorgesprinkel vir ‘n neuterige smaak en kraakkontras. Bedien dit met doopsouse en peuselgoed.

Brooddeeg:

10 ml kitsgis

10 ml suiker

500 ml koekmeel

3 ml sout

60 ml warm melk

125 ml warm water

1 eier, liggies geklop

10 ml olyfolie

Kiri-roomkaasvulsel:

1 x 200 g bakkie Kiri roomkaas, by kamertemperatuur

250 ml gerasperde cheddarkaas of helfte cheddar en helfte mozzarella

30 ml botter, gesmelt

gerasperde skil van 2 lemmetjies of 1 suurlemoen

stewige knippie rooirissievlokkies of rooipeper

sout en varsgemaalde swartpeper

6 groot heel jalapeno rissies

Gemengde saadsprinkel:

olyfolie of gesmelte botter om aan te smeer

20 ml sesamsade

20 ml poppiesade of nigella sade

5 ml growwesout 

Deeg:

  1. Smeer ‘n 20 cm ronde losboomkoekpan. Smeer die buitekante van ‘n ramekin en plaas dit in die middel van die koekpan.
  2. Sif die gis, suiker, meel en sout saam in die groot mengbak van jou staanmenger. Voeg die warm water, warm melk, eier en olyfolie by. Meng tot ‘n growwerige deeg vorm, voeg bietjie meel by as dit te klewerig is; knie dan met die hand of met ‘n deeghaak in die menger tot glad. Dit neem 7 – 8 minute op medium spoed in ‘n staanmenger of 10 – 12 minute per hand.
  3. Plaas die deeg in ‘n groot, lig-geoliede mengbak en bedek met kleefplastiek (ook geolie sodat dit nie vassit nie). Plaas op ‘n warm plek om te rys tot dit verdubbel in grootte, sowat 90 minute.
  4. Sny die jalapeno rissies in die lengte deur, hou die stingeltjie heel aan die een helfte. Verwyder die sade en vlesige membraan, en plaas dan gesnydae kant na onder op ‘n bakplaat. Plaas onder die oond se voorverhitte roosterelement en rooster tot die vel begin borrel en verrimpel, sowat 7 minute. Hou fyn dop – dit moet nie te donker raak nie, en laat dit dan afkoel.
  5. Vir die roomkaasvulsel kombineer die roomkaas, gerasperde kaas, gesmelte botter, suurlemoenskil en sout en peper in ‘n bakkie. Sit eenkant.
  6. Wanneer die deeg gerys het, keer uit op ‘n meelbestrooide oppervlakte en knie dit liggies af. Verdeel die deeg in 12 eweredige stukke. Druk elke stuk plat en plaas ‘n afgekoelde rissie-helfte bo op met 1cm wat oor die kant hang. Skep ‘n mildelike bolling van die roomkaas vulsel in die middel. Vou die deeg om dit toe om ‘n balletjie te vorm en knyp die kante saam – die bokant van die rissie moet uitsteek. Plaas die balletjie deeg in die koekpan met die toegeknypte kant na bo. Herhaal met al die deegstukke, en pak hulle om die ramekin. Bedek met geoliede kleefplastiek en laat dit rys op ‘n warm, trekvrye plek, 30 – 45 minute.
  7. Voorverhit die oond tot 180 °C. Bestryk die deeg met gesmelte botter; meng die sade en sout en strooi bo-oor. Bak tot goudbruin, 40 – 45 minute. Dis gaar as dit hol klink as jy daarop klop. Laat dit binne in die pan vir 10 minute op ‘n draadrakkie afkoel voor jy dit uitkeer. Op sy lekkerste as dit warm is.

Ons het hierdie verrassingspakkies met die kase wat nou in George gemaak word en tuisgemaakte roomkaasmarmerbrownies by kosmense laat aflewer. Mynhardt Joubert was so in sy noppies dat hy dadelik ‘n foto geneem het voordat dit verorber word. Hannes Koegelenberg wat ook my Boek SAAM se stilering gedoen het, het die pragtige illustrasie op die geskenkboks gedoen wat wys waar die kaas nou gemaak word.

 Goeie nuus: Die gewilde Franse kaasprodukte, Kiri-roomkaas en The Laughing Cow kaaswiggies en smere word van November af in George op die Tuinroete gemaak. Hierdie twee vlagskipprodukte in die stal van Die Bel Group is tot nou toe ingevoer. Die Franse suiwelmaatskappy met die slagspreuk For all. For good. is in familiebesit en het sy pioniersgees behou sedert dit in 1865 begin is. Ander Bel-produkte sluit die gewilde mini-Babybel, Bel Cubes en Boursin-kase in.

Sosiale media: #ForAllForGood #BelSouthernAfrica #kiricreamcheesesa #thelaughingcow

  • Resepte en stilering: Errieda du Toit vir Bel Southern Africa
  • Foto’s: Ian du Toit
  • Kosvoorbereiding: Daleen van der Merwe

Deelbrood, skeurbrood, partytjiebrood – hoe jy dit ookal noem, die lekkerte is om hier ‘n verrassende vulsel binne jou afgeskeurde stukkie te kry.

Sanet se vonkelwyn koek met soutkaramel en roosmarynspringmielies

3 Aug

‘Kom ons bak ‘n ding’ is die strydkreet waarmee Sanet Eigelaar haar plek as die land se top-drie amateurbakker verdien het in Koekedoor, kykNET se werklikheidsreeks wat ‘n bakrewolusie ontketen het.

image

Met ‘n reputasie as smaak-avonturier en haar speelse, plesierige styl was die uitnodiging om ‘n koek te skep vir Versnit se eerste verjaarsdag so in haar kraal. Die jong koek-entrepreneur se Cup of Cake-handelsmerk en koffiewinkel in Saldanha trap reeds diep spore met sy babaskoene.

Haar man Andre en haar twee jong spruite Derik (5) en Henkie (1) is ook aan die gelukkige ontvangkant van haar kreatiewe gebak.

image

Met sy eerste verjaarsdag-kolwyntjie nog vars in die geheue word Henkie uitgevat met ‘n strikdas en partytjiehoed uit koerantpapier, vir die onthulling van die Versnit-verjaarsdagkoek.

Die koek dra duidelik haar eie ‘Sanna van Saldanha’-stempel, eerder as om net te herhaal wat op Instagram of Pinterest te sien is.

Dit bring elemente soos vonkelwyn, soet en sout bymekaar; ook springmielies – ‘n simbool van kinderpartytjies, wat hier vriende maak met grootmenssmake soos roosmaryn en soutvlokkies.

Die gesoute karamel wat sy deur die springmielies roer en kwistig oor die vonkelwynkoek spat is meer as net mode.

image

image

“Dit vertel iets van Weskus-seelug en Velddrif se sout. Die roosmarynsmaak van die springmielies maak dit ook meer volwasse, en ‘n ongewone nuwigheid om aan te peusel saam met ‘n glas vonkelwyn.”

In pas met die ontblote voorkoms en haar informele sjiekstyl pleister sy die kante net liggies met roomkaasversiersel. Die kleiner koekpanne skep ‘n nouer koektoring, op ‘n omgekeerde koekpan geplaas; die pan se rand versier met letters  vryhand uit Versnit-koerantpapier geknip.

Sy stapel die taai springmielies ongëerg bo-op die koek, en laat dié wat aftuimel lê waar dit val. ‘n Groot hout-kaasbord word die koekstaander. 

Pleks van die gebruiklike kerse steek Sanet twee vonkstokkies aan. “Een vir die jaar wat verby is, en een vir die jaar wat voorlê.”

image

SANET SE VERSNIT-VONKELKOEK MET WESKUS-KARAMEL EN ROOSMARYNSPRINGMIELIES

Vonkelwynkoek

250g botter
2 ¼ k suiker
4 eiers
250ml suurroom
5ml vanillageursel
3½ k koekmeel
5ml koeksoda
2,5ml bakpoeier
5ml sout
250ml vonkelwyn

Voorverhit oond tot 180°C.Voer 4 X 15cm koekpanne met bakpapier of smeer met botter, strooi liggies met meel.
Room botter en suiker tot romerig en liggeel in ‘n mengbak met die spaanhegstuk.
Voeg eiers een op ‘n slag by en meng goed na elke byvoeging. Voeg suurroom en vanilla by en meng goed.
Sif meel, koeksoda, bakpoeier en sout in ‘n apart bak.
Voeg gesifte bestanddele in 3 dele by die mengsel, afwisselend met die vonkelwyn (begin en eindig met die droë bestanddele). Verdeel beslag tussen die 4 voorbereide panne. Bak vir 45 minute tot gaar en laat afkoel vir 10 minute en keer uit op ‘n afkoelrak.

Roomkaasversiersel:

250g botter
250g roomkaas
2 k versiersuiker
5ml vanillageursel

Klits botter tot romerig en sag, Voeg roomkaas by en klits tot gemeng.
Voeg versiersuiker by, klits tot goed gemeng en roer vanilla by.

Gesoute Weskuskaramel:

1 k suiker
90 g botter
125ml room
5ml soutvlokkies

Verhit suiker in ‘n medium pot oor matige hitte, roer aanhoudend. Die suiker maak klonte en begin verkleur.
As al die suiker opgelos hét, voeg die botter by en roer tot al die botter gesmelt is. Voeg room stadig by terwyl jy roer en kook vir 1 minuut. Haal sous van die hitte af en roer sout by. Laat afkoel.

Roosmaryn-karamel springmielies

½ k springmielies
30ml olie
⅔ k suiker
½ k donker bruinsuiker
¼ k melasse
⅓ k vonkelwyn
5ml seesoutvlokkies
30 g botter
30ml vars gekapte roosmaryn

Springmielies

Verhit olie in groot pot oor mediumhitte en voeg springmieliepitte by.
Plaas deksel op pot tot al die mielies gespring is.
Haal van hitte af en gooi springmielies in ‘n groot skottel

Karamel

Voer 2 bakplate met bakpapier.
Kook suikers, melasse, vonkelwyn en sout in ‘n medium pot op hoë hitte sonder deksel
Moenie roer nie.
Gee die pan n effense skud om alles te meng en kook tot 140°C op suikertermometer. Haal van hitte af en roer botter en roosmaryn in.
Gooi karamel oor springmielies en roer met houtlepel sodat elke pit met karamel bedruip is
Plaas springmielies op uitgevoerde bakplate en koel effe af.
Breek springmielies los van mekaar.

Saamstel van koek
Sny die koeke se bokant af sodat al die koeklae ewe dik is. Smeer of spuit versiersel tussen die lae en plaas lae op mekaar. Smeer versiersel aan die kante met paletmes en skraap dit weer effens af. Spuit horinkies bo-op koek met ronde punt.
Bedruip koek met karamelsous en versier met springmielies, vars roosmaryn en seesoutvlokkies.

image– Cup of Cake, Hoofweg 37, Saldanha. Oop Dinsdae tot Vrydae 9:00 – 17:00 en Saterdae 9:00 – 13:00

– Sanet doen praatjies, demonstrasies en spanbou-cupcake-versiersessies. Kontak die besprekings agentskap Talentspens by info@edtpr.co.za

Spesiale Dankie aan Cathrienke van den Bergh, Sanet se suster vir die warm ontvangs by Cup of Cake.

image

Foto’s: Ian du Toit

Stilering: Errieda du Toit en Sanet Eigelaar

Die blogskrywe is aangepas uit my rubriek ‘Aan Tafel’ in Die Burger Versnit wat Woensdae verskyn.

Paaslam en pashka

22 Mar

Paastyd is ‘n goeie tyd om die kosboek The Supper of the Lamb, deur die teoloog-kok Robert Farrar Capon te lees. Hy herinner die kosliefhebber dat eet ‘n sakrament is waarmee ons daagliks die wonderwerk van die lewe kan vier. Vandag is lamsvleis te duur vir die alledaagse, maar ons kan dit steeds feestelik eet en die uitsonderlike soos die Opstanding vier met ‘n lamsboud of blad. Om die simboliek daarvan te verstaan laat mens net ietwat met nadenkend eet.

Eet nadenkend op Paas-Sondag aan lamsblad of lamsboud.

Eet nadenkend op Paas-Sondag aan lamsblad of lamsboud.

 Simboliek en die Paastafel:

Kostradisies word oor eeue heen gevestig, maar dikwels vervaag die oorsprong en die simboliese waarde word in moderne tye oor die hoof gesien. Lamsvleis is ‘n welkome gesig op Paas-Sondag as feeskos vir die siel.

Hoekom lamsvleis verbind word met Paasfees:

Die diepgewortelde assosiasie van die Paaslam met Jesus as die Goeie Herder, Agnus Dei, die lam van God, laat die betekenis van tradisiekos soos skaapboud op Paas-Sondag voortleef.

Lamsvleis se diep verbintenis met die Pase gaan baie ver terug, voor die geboorte van Christus, toe die Jode in Egipte die deurkosyn gemerk het met die bloed van die geofferde lam, om hul eerste gebore seuns te spaar. Ons lees hiervan in Eksodus. Jode wat tot die Christendom bekeer is, het met die tradisie om lamsvleis op Paassondag voor te sit aangegaan.

Paaslam in ander vorme:

Die simboliek van die Paaslam word nie beperk tot die vleisbord nie. In Poland word botter op die feestafel gesit, gevorm om soos ‘n lammetjie te lyk. Die Franse agneau pascal  (spreek uit anjo) en die Duitse osterlamm is geliefde Paaskoeke wat in spesiale ‘lammetjie’-vormpanne  gebak word, en met strooisuiker of meringue versier word wat soos lamswol lyk. So word kinders aan die Paassimbool bekendgestel.

Viering van Paasfees met lamsvleis aan die Griekse tafel:

Ek sou op Paas-Sondag graag ‘n gas aan ‘n Griekse tafel wou wees, waar geloofsgebruike steeds ‘n baie sterk invloed op die kos het. Eers word die vas gebreek met gevlegte Paasbrood en rooi-gekleurde hardgekookte eiers wat simbolies van lyding. Daarna word die Paaslam van snoet tot stert gevier – die grootste deel daarvan op die spit gebraai. Magiritsa, ‘n suurlemoen-gegeurde Paastyd-sop en kokoretsi  gemaak van die hart, lewer en niertjies (soos ons lewer in netvet oor die kole gebraai) vier ook die opstanding.

Raad met oorskiet-lamsvleis:

Maak só met oorskietvleis wat oorbly na Paas-Sondag. Druk dik snye plaasbrood in sirkels uit met ‘n medium-grootte koekiedrukker. Bestryk die brood liggies met olyfolie en bak dit in die oond tot bros en goudbruin. Smeer die bokant met ‘n jogurt-okkerneutdoopsous of skordalia, sit ‘n stukkie beet, spinasieblaartjie en happie gaar lamsvleis bo-op.

Ander geliefde Paasfeeskos aan my Huiskok-tafel:

My allergunsteling is natuurlik piekelvis, waaroor ek al geskryf het. Pashka, my ander gunsteling kom uit Rusland wat ek met rosyntjiebroodbrioche eet. Ek vind die tradisie en rituele rondom pashka baie besonders.

Pashka, Russies vir Paas, word gemaak van ‘n vars kaas, amper soos maaskaas,  wat versoet word en in ‘n vorm geset word. Die tradisie is om die kaasmengsel te giet in ‘n piramied-houtvorm, simbolies van Christus se graftombe. Die Ortodokse tradisie is steeds om die letters XB op die sykante van die pashka uit te pak met neute en versuikerde skil. Die letters beeld uit ‘Christos voskres’ – Christus het opgestaan. Die gebruik is om die pashka op die Donderdag en Vrydag voor Paassondag kerk toe te neem om geseën te word deur die priester.

Tradisioneel word dit ge-eet met Kulich, ‘n koek-brood, deurspek met rosyne, amandels en speserye. Volgens gebruik word die kulich bedek met wit versiersuiker, afgerond met ‘n wit roos wat dan ook deur ‘n priester geseën word. Die gees van ‘n Russiese Paasfees kan geniet word met ‘n kortpad deur die kombuis. Ek vervang kulich met my rosyntjiebrood-brioche. Paasbolletjies is ook geskik.

Ek gebruik graag lamsblad, wat ietwat meer ekonomies as lamsboud is. Hier het ek dit (met die been steeds in) gesmeer met botter wat met speserye en roosmaryn gegeur is.

Ek gebruik graag lamsblad, wat ietwat meer ekonomies as lamsboud is. Hier het ek dit (met die been steeds in) gesmeer met botter wat met speserye en roosmaryn gegeur is.

ERRIEDA DU TOIT (HUISKOK) SE LAMSBOUD IN JOGURT

‘n Eenvoudige manier om ‘n feestelike lamsboud op Paassondag te maak. Dit het ‘n Griekse oorsprong. Die resep is opgeneem in my en Francois se boek Huiskok Glanskok.

Maak 6 porsies

  • 1 lamsboud van ongeveer 1.2 kg, ontbeen en gevlek
  • 500 ml dubbelroom (Griekse) jogurt
  • 4 knoffelhuisies fyngekap
  • 60 ml vars origanum, gekap
  • 5 ml fyn komyn
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Meng die jogurt, knoffel, origanum, komyn, sout en peper saam. Marineer lamsboud in mengsel vir ongeveer ‘n uur. Voorverhit die oond tot 240ºC. Haal lamsboud uit marinade en plaas in oondpan. Bedek met tinfoelie en bak vir 20 minute by 240ºC, draai dan die hitte laer na 180ºC en bak nog 30 minute. Haal uit oond en laat vir 10 minute rus. Sny vleis in skywe.

ERRIEDA SE OONDGEBAKTE ARNI

Arni is Grieks vir skaapvleis. Die eg-landelike oondgebakte skaapdis is in Griekeland ‘n simbool van herontmoetings, wat veral op Sondae voorgesit word. Die aartappels absorbeer die olyfolie en kruiegeure. Die resep is een van my gewildste resepte uit Huiskok Glanskok-boek.

Maak 4 porsies

  • 2 heel knoffelbolle, huisies geskil
  • 1.5 kg lam- of skaapboud
  • 2 uie, grof gekap
  • 60 ml olyfolie
  • sout en peper
  • 2 suurlemoene
  • takkie elk tiemie, roosmaryn en lourierblaar
  • 1.5 kg aartappels, geskil en ‘n groot stukke gesny
  • 2 groot tamaties, in kwarte gesny
  • 30 ml botter (opsioneel)

Voorverhit oond tot 180⁰C. Maak kepies in die vleis en druk ‘n knoffelhuisie in elke snytjie. Plaas uie op die boom van ‘n oondpan en besprinkel met olyfolie. Geur vleis met sout en peper, plaas dit bo-op die uie, bedruip met sap van 1 suurlemoen en gooi kruie by. Gooi 20 ml olyfolie en 200 ml water oor. Bak in oond vir sowat 40 minute. Plaas die gesnyde aartappel in ‘n bak met die oorblywende olyfolie en suurlemoensap, meng deur en voeg by die vleis saam met nog 200 ml water. Bak nog 20 minute. Pak tamaties in die oondpan en stip met botter. Bak tot vleis gaar is en die aartappels sag is.

Pashka is 'n heerlike Paasgenot uit Oos-Europa wat ek graag op geroosterde rosyntjiebrood, brioche of paasbolletjies geniet.

Pashka is ‘n heerlike Paasgenot uit Oos-Europa wat ek graag op geroosterde rosyntjiebrood, brioche of paasbolletjies geniet.

PASHKA RESEP – iets simbolies om saam met rosyntjiebrood of paasbolletjies te eet.

Gebruik ‘n meelsif as vorm, of ‘n terracotta blompot vir ‘n meer tradisionele vorm. Ek het die resep oorspronklik gebruik van Letitia Prinsloo, hoof van die ICA.

  • 150ml vars room, geklop tot sagte punte vorm
  • 2 houers Parmalat gladde maaskaas of Simonsberg roomkaas
  • 150 g strooisuiker
  • Gerasperde skil van 2 suurlemoene
  • 5 mℓ suurlemoensap
  • 60g versuikerde lemoenskil, fyngekap
  • 60g versuikerde gemengde skil
  • 30g geroosterde amandels, gekap
  • Vir afwisseling kan gedroogde appelkosies, dadels of goue sultanas ook bygevoeg word.

Voer ‘n meelsif uit met kaasdoek. Klop room tot sagte punte vorm. Plaas in yskas. Kombineer roomkaas, neute, versuikerde skil, strooisuiker, suurlemoenskil en sap.  (As die roomkaas te dik is, verdun met ‘n bietjie lemoensap). Vou room in. Skep in die voorbereide vorm. Verkoel vir 8 ure.  Haal uit die vorm en bedien verkieslik teen kamertemperatuur saam met tradisionele paasgebak.

Wenk: Jy kan ook maaskaas of ricottakaas gebruik, pleks van die roomkaas. Die vars room kan met suurroom vervang word, maar los dan die suurlemoensap uit die resep.

 

Koffiepere op piesangbrood-toast gesmeer met koffieroomkaas vir Moedersdag

6 May

‘Al wat ek op Moedersdag wil hê is my familie om die tafel; ek gee nie om om die kos self te maak nie.’ Só antwoord die meeste ma’s wat ek gepols het oor hul spesiale-dag begeertes.  Alhoewel uit-eet nie te versmaai word nie, is dit die gedagte aan ‘n lang tafel  met eie kinders, hul eie ma, skoonma, susters en skoonsusters wat moederharte bly maak.  Die wenslysie is maar kort, iemand om die tafel mooi te dek, en agterna af te dra en skottelgoed te was.

Pere in koffie en kardomom

Pere in koffie en kardomom

My wynmaker-vriendin Elzette Du Preez het een wens vir Moedersdag. “’Laatslaap of  ‘n middagslapie is die grootste Moedersdag-geskenk wat ek as ma van klein kindertjies kan kry,” skerts sy. Die kosskrywer Sonia Cabano droom van ontbyt in die bed, ‘n halfuur van opera luister met  ‘n groot vars bagel, dik gesmeer met roomkaas en gerookte salm, diepgebraaide bros kappertjiesaad en ‘n skeppie blitsgepiekelde rooi uie daarop. En espresso.

Op Moedersdag dink ek aan my pa wat vir Ma ‘n liefdesbriefie geskryf het omdat hy vergeet het van ‘n Moedersdag-geskenk of om planne te maak sodat sy nie hoef te kook nie. Ma het nooit iets verwag nie, solank sy haar kinders by haar kon hê was die saak reg. Vir haar maak ek koffie-gestoofde pere en bedien dit op geroosterde piesangbrood gesmeer met kofie- en heuninggegeurde roomkaas. As koningin van hierdie dag moet die bederf al vroegdag begin.

As jy self die ma is, laat hierdie ‘poeding-vir-ontbyt resep hierdie week in die huis rondlê. Ek hou saam met jou duim vas dat ons huismense Sondag hul soetste voertjie vir ons sal voorsit.

aa pere in koperbak

Hoekom pere vir Moedersdag:

Net soos ma’s kom pere in baie vorms: elegante ma’s met Audrey Hepburn nekke, soos die mooi geel-groen beurre bosc, of die eiervormige beurre hardy wat so lekker ruik, en meer dikvellig is. Packham met die onreëlmatige lyf en groen skil eet jy die oomblik wat die stingeltjie begin mee gee – teen die tyd wat sy geel is, is sy melerig, so moenie dat sy talm in die vrugtebak nie.

Bon chretien met die liggeel sproeteskil is ovaal van lyf. Al laat haar kort nekkie haar kort voor beeldskoon, is sy sag en vol sap …. ietwat van ‘n dienende Marta. Bruin Forelle is ook so ‘n spikkelpeer; op haar soetste wanneer sy ‘n blos op die wang het. Die lekkerse eetpeer vir my is die Comice –haar soet, sagte tekstuur maak op vir haar windverwaaide voorkoms. Dan is daar ook die Winter Saffraan, ‘n groterige peer met ‘n realtiewe lang, slanke nek – die eerste peer wat in Suid-Afrika geplant en gepluk is. Lees meer oor hierdie wonderlike herfenis-vrug en Trucape se herdenkingstuin.*

Pere en simboliek: Vir Homer was pere die gode se geskenk aan die mensdom.  ‘n Peerboom is dikwels in die middel van die sultan se tuin geplant – ‘n anker vir die res. Pere is ‘n simbool van ‘n geseënde lang huwelik, hul knoetsige stamme staan vir ‘n lang lewe. Daarom het die Duitsers glo ‘n peerboom geplant as ‘n dogtertjie gebore is om haar vrugbaar en sterk te maak; haar lewe lank te laat hou.

aa 4 collage pere vir blog

KOFFIE- EN KARDOMON PEER EN HEUNING ROOMKAAS OP GEROOSTERDE PIESANGBROOD

Pere met ‘n verskil. Roosterbrood met ‘n verskil. Elke element kan die vorige dag gemaak word. Die pere lê soos waaiers op die koekbrood met die lekkerste koffiestroop denkbaarbo-op.  Die piesangbrood se mengmetode is die maklikste ooit met ‘n fyn tekstuur wat die koffiestroop opslurp. Dit kan ook voorgesit word as poeding vir middagete (wat Ma waarskynlik self gekook het).  Jy kan ook geroosterde sesamsade by die beslag gooi en oorsprinkel voor jy dit bak, vir ekstra neuterigheid.  Jy kan ook gekoopte piesangbrood gebruik of die koekbrood afwissel met madeirakoek of ‘n gemmerbroodjie. Solank jy dit rooster!

Piesangbrood:

  • 100 g sagte botter
  • 175 g strooisuiker
  • 2 groot eiers
  • 2-3 ryp piesangs (fyngemaak)
  • 225 g bruismeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 30 ml melk

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n broodpannetjie, voer uit met bakpapier en spuit weer. Meet al die bestanddele direk in die mengbak af en klits 2 minute tot goed gemeng. Skep in die voorbereide pan, maak die bokant van die beslag gelyk en bak 1 uur tot goed uitgerys, gaar en goudbruin. Die beslag sal ‘n kraak bo-op maak, wat deel van die karakter van piesangbrood is. Laat 5 minute in die pan afkoel, lig uit en plaas op afkoelrak.

Pere in koffiesous

  • 1 ½ k (330 g) strooisuiker
  • 100 ml sterk espresso of 60 ml kitskoffie-korrels aangemaak met 10 ml kookwater
  • 6 ferm pere met stingels aan, (nie te ryp nie)
  • 4 kardomom peule, gekneus
  • 6 dik snye piesangbrood, gerooster

Plaas die suiker, koffie, kardomom en 1 liter water in ‘n kastrol en verhit oor matige hitte tot dit net saggies begin kook. Skil die pere af en verwyder die klokhuis versigtig om die stingel steeds te behou. Sny die pere in die lengte amper tot by die bokant. Prut vir sowat 30 minute of tot vurksag. Lig die pere versigtig uit die kookvloeistof met gaatjieslepel en hou eenkant om te dreineer. Gooi die kookstroop deur ‘n siffie om van enige los stukkies en die sade ontslae te raak en gooi terug in die kastrol. Laat die vloeistof  10-15 minute afkook tot die stroop verdik. Laat afkoel.

Heuning- en koffie roomkaas

  • 230 g Parmalat ‘plain’ roomkaas, kamertemperatuur
  • 30 ml van die koffiestroop

Opsioneel: die roomkaas kan ook met heuning na smaak versoet word.

Klop die koffiestroop by die roomkaas in tot goed gemeng.

Voorsit: Sny die piesangbrood in dik snye en rooster. Laat afkoel, plaas op koekbordjie en smeer ‘n dik laag roomkaas op. Rangskik die peer in waaiervorm op die brood en giet koffiestroop oor. Sit voor met ‘n koekvurkie.

aaa blou bord vir blog

Om die pluk van die eerste appels aan die Kaap op 17 April, 353 jaar gelede, te herdenk, het Tru-Cape Fruit Marketing’n Winter Saffraan-peer in sy erfenis-boord op die Oak Valley-landgoed in Grabouw herplant.

By die plant van die boom in die erfenis-tuin het Buks Nel, Tru-Cape se variëteitskenner en mede-skrywer saam met Griessel van Early Apples At The Cape (Vroeë Appels aan die Kaap), ’n boek oor die erfenis-variëteite, gesê die Winter Saffraan is die oudste peerboom suid van die Sahara en leef steeds voort in die die Kompanjiestuin in Kaapstad na 350 jaar.

“Danksy die joernale van mense soos François Valentjn, wat die Kaap in 1685 besoek het en weer in 1714, weet ons die Winter Saffraan-peer het floreer. In 1855 is die boom weer beskryf, hierdie keer deur ’n Russiese besoeker.” Nel, wat die boom wat Tru-Cape geplant het, gekweek het van ’n steggie van die oorspronklike boom, sê die Winter Saffraan is ’n groterige peer met ’n relatiewe lang, slanke nek. Hoewel Van Riebeeck die boom saam met hom van Nederland af gebring het, lys rekords uit 1485 die peer as afkomstig uit Italië na Frankryk.

Tru-Cape bemark meer as 1 376 470 875 appels en pere elke jaar, gelyk aan 224 Jumbo Jets of 950 blouwalvisse. Besoek www.Tru-Cape.co.za, volg @TruCapeFruit en besoek www.Facebook.com/TruCape vir meer inligting. Die boek Apples In The Early Apples At The Cape is beskikbaar by Tru-Cape se kantore of by www.Tru-Cape.co.za teen R250 per eksemplaar, afleweringskoste uitgesluit. 

 Belange verklaar: Ek is betrokke by die bekendstelling van Parmalat se nuwe reeks roomkase. Dis ‘n produk wat ek in my persoonlike hoedanigheid ook aanbeveel.

 

Hummingbird koek laat jou hmmmmm

4 Oct

Ek het in die goue era van grootkoeke grootgeword.  My bakvaardighede sal my nie ‘n VLV-roset ooit laat verdien nie, maar ek het die vermoë om ‘n koek te kan ‘spot’ wat met sekerheid groot lekkerte gaan waarborg. Dan maak ek ‘n dag daarvan en lok gewoonlik vir my man Ian om saam te bak.  (In die geval van hierdie koek het ek my vriendin Annamie genooi – ingespan eerder – om die klitswerk te doen. Ian het help blomme maak en panne gesmeer).

Die Hummingbird Koek laat almal mmmmm wat dit eet.

Die Hummingbird Koek laat almal mmmmm wat dit eet.

My koekversiervaardighede is soos my naaldwerk en breiwerk – knit one slip one. Daarom hou ek van die nuwe neiging van meer minimalistiese, ‘naakte’ koeke met hul ontspanne versiering.

Die Hummingbird koek is 'n spesiale okkasiekoe, soos wanneer my Ma Inez kom kuier. Sy reken dis die mooiste koek wat sy nog gesien het - sy is net te beskeie wat sy het die mooiste koeke gebak op haar dag.

Die Hummingbird koek is ‘n spesiale okkasiekoek, soos wanneer my Ma Inez kom kuier. Sy reken dis die mooiste koek wat sy nog gesien het – sy is net te beskeie want sy het die mooiste koeke gebak op haar dag.

‘n Koek wat al hierdie dinge bymekaar bring: my herinneringe van die basaar-koeke wat my VLV-ma kon bak; indrukwekkende versiering en ‘n aanvaarbare moeilikheidsgraad is die Hummingbird-koek.  Solank jy drie koekpanne het van dieselfde grootte, en ‘n paar pynappels om die lieflike oondgedroogte madeliefies te maak wat bo-op die koek kom is die saak reg. Dan soek jy net ‘n koekstaander om hierdie skepping te laat uittroon bo die cupcakes wat grootkoeke se kollig probeer steel.

Wat is ‘n Hummingbird-koek?

Die klam, neuterige koek uit die Diep Suide van Amerika (proe na ‘n verlangse niggie van die wortelkoek) se besonderse smaak kom van die pekanneute, pynappel, piesang en ‘n skeppie kaneel. Dit word versier met ‘n roomkaasversiersel.

Daar is verskeie teorieë oor die naam: sommige beweer dit kom van die hmmmm-geluide wat eters maak; terwyl ander meen die hoofbestanddele is alles waarvan die hummingbird, of te wel kolibri hou. Dit word ook Jamaika-koek genoem. Die kolibri is die nasionale voël van Jamaika, waar soortgelyke speserykoeke met tropiese vrugte, genaamd Doctor Bird-koeke gewild is.

aaaa koek van bo af kleur skerp blog BLOG RESIZE

Madeliefie-pynappelblomme

My ma het altyd al wat blom wat sy geskenk gekry het gedroog; of sy het dit tussen boekblaaie gepers en prentjies of groetekaartjies daarmee gemaak. Die meer gehardes soos proteas en fynbos het sy lank na hul ‘oorlye’ nog in groot blompotte aangehou. Ek het nie van die droe”-rangskikkings gehou nie, maar sy het vasgeskep en wou niks weggooi wat haar soveel vreugde gegee het ‘in lewe’ nie.  Hierdie gedroogte pynappelblommetjies het my laat dink aan die fyn blommetjies wat ek altyd iewers in haar Gesangeboek  opgespoor het.

Moenie die kans laat verbygaan om die gedroogte ‘blommetjies’ te maak nie – jy en jou koek sal ‘the talk of the town’ wees. Natuurlik is die blommetjies nie my idee nie – dis ‘n ou truuk van kampioen-koekmooimakers. My wenk is om dit liefs die vorige dag te maak, sodat dit baie goed uitdroog voor jy jou koek wil mooimaak.

So maak jy die pynappel-madeliefies: Skil 1 groot pynappel of 2 kleintjies en verwyder die ogies met ‘n spanspek-‘baller’ of skerp messie. Sny in baie dun snytjies. Voer 2 bakplate met bakpapier uit, plaas die skyfies pynappel daarop en droog dit in ‘n oond teen 110°C uit. Draai versigtig om na sowat 40 minute in die oond. Oppas dat dit nie te bruin raak nie, maar ‘n paar puntjies hier en daar is nie ‘n problem nie.  Om die blommetjies ‘n mooi vorm te gee, plaas dit in klein muffinpannetjies as dit uit die oond kom. As die pynappelblomme te klein is, gebruik eierkelkies of iets soortgelyk om dit in neer te sit.

Nog wenke: kies pynappels wat ferm is en nie te ryp nie. Vir verskillende grootte blommetjies gebruik 1 groot pynappel en 1 kleiner pynappel.

Die madeliefies maak die koek!

Die madeliefies maak die koek!

Hummingbirdkoek

Bestanddele

Koek:

3 groot eiers

2 k suiker

¾ k sonneblom- of canolaolie

1 ½ t vanielje-ekstrak

3 k koekmeel

1 t koeksoda

½ t sout

1 ½ t kaneel (ek voeg ook mespuntjie fyn naeltjies en raspertjie neutmuskaat by)

1 blik ingemaakte fyn pynappel, sap ingesluit

6 ryp piesangs, fyngemaak *kyk wenk

1 k grofgekapte pekanneute

Roomkaas-versiersel

110 g sagte botter

2 houers roomkaas, kamertemperatuur

1 t vanielje-ekstrak

4-5 koppies versiersuiker (strooisuiker kan werk net as dit baie fyn poeier is – ek maak dit in versapper fyn)

Metode:

Voorverhit oond tot 180°C. Smeer drie 23 cm-koekpanne en voer die bodems met bakpapier uit. Klits die eiers en suiker tot lig en romerig. Voeg die olie in ‘n straaltjie by terwyl jy aanhou klits. Klits die vanielje by tot die beslag glad en romerig is. In ‘n aparte bakkie sif die meel, koeksoda, sout en kaneel saam. Klop die droë bestanddele, ‘n derde op ‘n slag, by die geroomde mengsel, elke keer net genoeg om dit goed te meng. Voeg  fyn pynappel en sap, piesang en neute by en roer by. Verdeel die beslag tussen die drie panne. Bak 20-25 minute in voorverhitte oond tot gaar (‘n toetspen sal skoon uitkom en die koek trek weg van die pan af). Haal uit die oond en laat heeltemal afkoel in die panne.

*As jou piesangs nie lekker goed ryp is nie, kan jy dit sowat 10 minute in ‘n warm oond (180C) met skil en al bak tot die skilletjies swart is en die binnekant papperig. Dit verbeter die smaak en maak dit maklik om die piesang fyn te maak.

Versiersel:

Room botter en roomkaas tot baie glad en romerig, voeg vanielje by en meng goed in. Voeg suiker koppie vir koppie by en klits baie goed na elke byvoeging. As die mengsel te slap is om die koek te versier, sit dit ‘n rukkie in die yskas.

Om te versier: Plaas die eerste laag op die koekbord met die bakpapierkant na bo. Verwyder die papier en smeer met 1 koppie versiersel; herhaal met die volgende lae. Rond af met gedroogte pynappelblomme (of gekapte pekanneute as jy nie by die blommemaak uitgekom het nie).

Errieda du Toit is ‘n kosskrywer, die RSG-Huiskok en inhoudsvervaardiger van Kokkedoor. Kyk uit vir haar maandelikse rubrieke in Die Burger, Beeld en Sarie Kos.

Paasbolletjies, pashka en simnelkoek

30 Mar

Met Paasnaweek skaars ‘n week weg word die kostradisies van hierdie geestelike tyd tafel toe gebring. – van pashka en  kulich in Rusland tot Simnelkoek in Engeland – en natuurlik die  wêreld deur word paasbolletjies (hot cross buns) geniet.

             Pashka op paasbolletjies 

Ek het nie grootgeword met spesiale Paasgebruike nie – behalwe stringetjies sjokolade-paaseiers van marshmallow wat my ma by Grand Basaars gekoop het.  Pa het nie paaseiers in die tuin weggesteek nie (my drie broers en ons hond Wagter sou dit in elk geval lank voor my uitgesnuffel het), maar Ma het gesorg dat die huis oor Paastyd na die soet warmte van kaneel en korente geruik het.  Paasvrydag het ons  haar tuisgemaakte paasbolletjie (nog warm van die rooster) geëet met botter wat in geel strome oor die vingers drup.

As kind het die lekkerte die voorhand gehad bo simboliek en ek het die kruisie bo-op die paasbolletjies stukkie vir stukkie afgetorring, sonder om werklik te weet dat dit ’n diep geestelike betekenis het.

{Paasbolletjies}

‘n Mens kan jou dit skaars indink dat die blink-wang spesery-bolletjies ‘n bron van politiese konsternasie kan wees. In die 16de eeu in Engeland het die Protestante beswaar gemaak teen die paasbolletjies wat hulle as Katolieks beskou het. Elizabeth I het toe ‘n wet gemaak dat dié geurige gebak net tydens Paasfees, Kersfees en begrafnisse geëet mag word. Paasbolletjies het ‘n paar jaar gelede weer die nuus gehaal in Brittanje toe sekere skole nie meer dit aan hul leerlinge wou voorsit nie – oor die kruis!

 Jy het nodig:

4 x 250 ml meelblom

3 ml sout

5 ml fyn kaneel

5 ml gemengde speserye

65 g koue botter

125 ml korente, rosyntjies of sultanas (of mengsel)

1 pakkie gis

125 ml suiker

250 ml melk

1 eier, geklits

Kruise:

100 ml meel

25 ml suiker

Genoeg melk om ‘n pasta te maak

30 ml stroop, verhit*

Maak so:

Sif die meelblom, sout en spesery saam in ‘n groot mengbak. Vryf die botter in en voeg die korente (of ander) by. Voeg die pakkie gis en die suiker by.  Maak die melk louwarm en voeg dit by die bestanddele in die bak en meng tot dit ‘n deeg vorm. Knie vir 3-5 minute tot glad. Laat rys sowat 30 minute in ‘n warm plek tot die deeg verdubbel het.  Keer deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlakte en knie goed tot glad. Verdeel die deeg in 12 dele en vorm elke deel in ‘n platterige balletjie. Sny diep kepe in ‘n kruisvorm op elke bolletjie. Laat rus vir 15 minute. Verf die bolletjies met die geklitste eier.

Kruise: Meng die meel, suiker en melk saam met die orige geklitste eier om ‘n  pasta te vorm.  Rol die deeg in lang dun worsies en plaas op die kepe van die kruis. Bak 20 minute by  200º C. Haal uit en smeer die warm stroop oor.

* Maak die glasuur-stroop deur 15 ml strooisuiker en 5 ml gelatien in 15 ml water te verhit tot dit opgelos het, maar nie kook nie.  Smeer oor die bolletjies wanneer dit uit die oond kom.

{Pashka}

Bevind jy jou oor Paastyd iewers in Rusland, kruis pashka dalk jou pad. Pashka is Russies vir Paas.  Die pashka word gemaak van kaas soortgelyk aan maaskaas,  versoet en in ‘n vorm geset. Die tradisie is om die kaasmengsel te giet in ‘n piramied-houtvorm, simbolies van Christus se graftombe. Die Ortodokse tradisie is steeds om die letters XB op die sykante van die pashka uit te pak met neute en versuikerde skil. Die letters beeld uit ‘Christos voskres’ – Christus het opgestaan. Die gebruik is om die pashka op die Donderdag en Vrydag voor Paassondag kerk toe te neem om geseën te word deur die priester.

En die kulich? Kulich is ‘n koek-brood, deurspek met rosyne, amandels en speserye. Volgens gebruik sal die kulich bedek wees met wit versiersuiker, afgerond met ‘n wit roos wat dan ook deur ‘n priester geseën word. Die gees van ‘n Russiese Paasfees kan geniet word met ‘n kortpad deur die kombuis. Vervang die kulich met paasbolletjies, rosyntjiebrood of brioche.

Pashka resep

Pashka pas uit die vorm gehaal.

Gebruik ‘n meelsif as vorm, of ‘n terracotta blompot vir ‘n meer tradisionele vorm.

 150ml vars room, geklop tot sagte punte vorm

2 houers Simonsberg tradisionele roomkaas (dis ’n lekker veerligte roomkaas)

150 g strooisuiker

Gerasperde skil van 2 suurlemoene

5 mℓ suurlemoensap

60g versuikerde lemoenskil, fyngekap

60g versuikerde gemengde skil

30g geroosterde amandels of pistasie neute, gekap

Vir afwisseling kan gedroogde appelkosies, dadels of goue sultanas ook bygevoeg word.

Voer ‘n meelsif uit met kaasdoek. Klop room tot sagte punte vorm. Plaas in yskas. Kombineer roomkaas, neute, versuikerde skil, strooisuiker, suurlemoenskil en sap.  (As die roomkaas te dik is, verdun met ‘n bietjie lemoensap). Vou room in. Skep in die voorbereide vorm. Verkoel vir 8 ure.  Haal uit die vorm en bedien verkieslik teen kamertemperatuur saam met tradisionele paasgebak.

Wenk: Jy kan ook maaskaas of ricottakaas gebruik, pleks van die roomkaas. Die vars room kan met suurroom vervang word, maar los dan die suurlemoensap uit die resep.

Dankie Simonsberg vir die foto van pashka met paasbolletjie.

{Simnelkoek}

Paasfees Simnel koek (Foto Waitrose.com)

Paasfees-Simnelkoek (Waitrose.com)

Simnelkoek is ‘n gewilde paasgebak met simboliek so ryk as die koek self. Die  gebruik het in Engeland onstaan om dié  ligte vrugtekoek op Paassondag voort te sit. Dogters het die koek gebak vir hul ma’s op die sogenaamde ‘Mothering Sunday’  – terloops, dis  ‘n dag op die kerkkalender wat nie verband hou met die hedendaagse Moedersdag nie).

Soos met tradisionele Kerskoek, word simnelkoek ook met marsepein, die klassieke wit amandelgegeurde koekversiering, bedek. Wat die simnelkoek onderskei van ander feesgebak is die elf marsipeinballetjies waarmee dit afgerond word. Hoekom elf? Elke balletjie verteenwoordig ‘n dissipel, met die uitsondering van Judas.

Resep – Simnelkoek

Die resep bak ‘n familiegrootte koek, genoeg vir 15 snye.

Jy het nodig:

500 ml suiker

250 g botter

4 eiers

500 ml meelblom

Knypie sout

500 ml korente

375 ml Sultanas

125 ml fyngemaalde amandels

5 ml gemengde speserye

Gerasperde skil van ½ suurlemoen

Paar druppels amandel-geursel

3 ml koeksoda

190 ml melk

Gekoopte marsepein vir versiering

Metode

Voorverhit die oond to 150ºC. Smeer 2 groot koekpanne. In ‘n groot mengbak, voeg die suiker by die botter en verroom. Klop die eiers een op ‘n keer by saam met ‘n bietjie van die meel en meng tot die beslag styf en glad is.  Voeg die oorblywende meel, sout, vrugte, neute, speserye, amandelgeursel, koeksoda en melk by. Meng goed. Plaas die helfte van die mengsel in elke koekpan en maak die oppervlakte goed gelyk.  Bak nagenoeg 2½ uur. Die koek is gaar as jy ‘n metaalpen indruk en dit skoon uitkom. Haal koek uit die oond en laat behoorlik afkoel. Versier met marsepein tussen die twee lae en bo-op. Rol 11 marseleinballetjies (so groot soos okkerneute) en plaas in ‘n sirkel bo-op.

%d bloggers like this: