Ek het in die goue era van grootkoeke grootgeword. My bakvaardighede sal my nie ‘n VLV-roset ooit laat verdien nie, maar ek het die vermoë om ‘n koek te kan ‘spot’ wat met sekerheid groot lekkerte gaan waarborg. Dan maak ek ‘n dag daarvan en lok gewoonlik vir my man Ian om saam te bak. (In die geval van hierdie koek het ek my vriendin Annamie genooi – ingespan eerder – om die klitswerk te doen. Ian het help blomme maak en panne gesmeer).
My koekversiervaardighede is soos my naaldwerk en breiwerk – knit one slip one. Daarom hou ek van die nuwe neiging van meer minimalistiese, ‘naakte’ koeke met hul ontspanne versiering.

Die Hummingbird koek is ‘n spesiale okkasiekoek, soos wanneer my Ma Inez kom kuier. Sy reken dis die mooiste koek wat sy nog gesien het – sy is net te beskeie want sy het die mooiste koeke gebak op haar dag.
‘n Koek wat al hierdie dinge bymekaar bring: my herinneringe van die basaar-koeke wat my VLV-ma kon bak; indrukwekkende versiering en ‘n aanvaarbare moeilikheidsgraad is die Hummingbird-koek. Solank jy drie koekpanne het van dieselfde grootte, en ‘n paar pynappels om die lieflike oondgedroogte madeliefies te maak wat bo-op die koek kom is die saak reg. Dan soek jy net ‘n koekstaander om hierdie skepping te laat uittroon bo die cupcakes wat grootkoeke se kollig probeer steel.
Wat is ‘n Hummingbird-koek?
Die klam, neuterige koek uit die Diep Suide van Amerika (proe na ‘n verlangse niggie van die wortelkoek) se besonderse smaak kom van die pekanneute, pynappel, piesang en ‘n skeppie kaneel. Dit word versier met ‘n roomkaasversiersel.
Daar is verskeie teorieë oor die naam: sommige beweer dit kom van die hmmmm-geluide wat eters maak; terwyl ander meen die hoofbestanddele is alles waarvan die hummingbird, of te wel kolibri hou. Dit word ook Jamaika-koek genoem. Die kolibri is die nasionale voël van Jamaika, waar soortgelyke speserykoeke met tropiese vrugte, genaamd Doctor Bird-koeke gewild is.
Madeliefie-pynappelblomme
My ma het altyd al wat blom wat sy geskenk gekry het gedroog; of sy het dit tussen boekblaaie gepers en prentjies of groetekaartjies daarmee gemaak. Die meer gehardes soos proteas en fynbos het sy lank na hul ‘oorlye’ nog in groot blompotte aangehou. Ek het nie van die droe”-rangskikkings gehou nie, maar sy het vasgeskep en wou niks weggooi wat haar soveel vreugde gegee het ‘in lewe’ nie. Hierdie gedroogte pynappelblommetjies het my laat dink aan die fyn blommetjies wat ek altyd iewers in haar Gesangeboek opgespoor het.
Moenie die kans laat verbygaan om die gedroogte ‘blommetjies’ te maak nie – jy en jou koek sal ‘the talk of the town’ wees. Natuurlik is die blommetjies nie my idee nie – dis ‘n ou truuk van kampioen-koekmooimakers. My wenk is om dit liefs die vorige dag te maak, sodat dit baie goed uitdroog voor jy jou koek wil mooimaak.
So maak jy die pynappel-madeliefies: Skil 1 groot pynappel of 2 kleintjies en verwyder die ogies met ‘n spanspek-‘baller’ of skerp messie. Sny in baie dun snytjies. Voer 2 bakplate met bakpapier uit, plaas die skyfies pynappel daarop en droog dit in ‘n oond teen 110°C uit. Draai versigtig om na sowat 40 minute in die oond. Oppas dat dit nie te bruin raak nie, maar ‘n paar puntjies hier en daar is nie ‘n problem nie. Om die blommetjies ‘n mooi vorm te gee, plaas dit in klein muffinpannetjies as dit uit die oond kom. As die pynappelblomme te klein is, gebruik eierkelkies of iets soortgelyk om dit in neer te sit.
Nog wenke: kies pynappels wat ferm is en nie te ryp nie. Vir verskillende grootte blommetjies gebruik 1 groot pynappel en 1 kleiner pynappel.
Hummingbirdkoek
Bestanddele
Koek:
3 groot eiers
2 k suiker
¾ k sonneblom- of canolaolie
1 ½ t vanielje-ekstrak
3 k koekmeel
1 t koeksoda
½ t sout
1 ½ t kaneel (ek voeg ook mespuntjie fyn naeltjies en raspertjie neutmuskaat by)
1 blik ingemaakte fyn pynappel, sap ingesluit
6 ryp piesangs, fyngemaak *kyk wenk
1 k grofgekapte pekanneute
Roomkaas-versiersel
110 g sagte botter
2 houers roomkaas, kamertemperatuur
1 t vanielje-ekstrak
4-5 koppies versiersuiker (strooisuiker kan werk net as dit baie fyn poeier is – ek maak dit in versapper fyn)
Metode:
Voorverhit oond tot 180°C. Smeer drie 23 cm-koekpanne en voer die bodems met bakpapier uit. Klits die eiers en suiker tot lig en romerig. Voeg die olie in ‘n straaltjie by terwyl jy aanhou klits. Klits die vanielje by tot die beslag glad en romerig is. In ‘n aparte bakkie sif die meel, koeksoda, sout en kaneel saam. Klop die droë bestanddele, ‘n derde op ‘n slag, by die geroomde mengsel, elke keer net genoeg om dit goed te meng. Voeg fyn pynappel en sap, piesang en neute by en roer by. Verdeel die beslag tussen die drie panne. Bak 20-25 minute in voorverhitte oond tot gaar (‘n toetspen sal skoon uitkom en die koek trek weg van die pan af). Haal uit die oond en laat heeltemal afkoel in die panne.
*As jou piesangs nie lekker goed ryp is nie, kan jy dit sowat 10 minute in ‘n warm oond (180C) met skil en al bak tot die skilletjies swart is en die binnekant papperig. Dit verbeter die smaak en maak dit maklik om die piesang fyn te maak.
Versiersel:
Room botter en roomkaas tot baie glad en romerig, voeg vanielje by en meng goed in. Voeg suiker koppie vir koppie by en klits baie goed na elke byvoeging. As die mengsel te slap is om die koek te versier, sit dit ‘n rukkie in die yskas.
Om te versier: Plaas die eerste laag op die koekbord met die bakpapierkant na bo. Verwyder die papier en smeer met 1 koppie versiersel; herhaal met die volgende lae. Rond af met gedroogte pynappelblomme (of gekapte pekanneute as jy nie by die blommemaak uitgekom het nie).
Errieda du Toit is ‘n kosskrywer, die RSG-Huiskok en inhoudsvervaardiger van Kokkedoor. Kyk uit vir haar maandelikse rubrieke in Die Burger, Beeld en Sarie Kos.
Kan iemand my asb help? As ek appeltert bak en sous oor gooi sodra die tert uit die oond kom. Die tert is “toe” amper kluitjierig. Ek volg tog die resep. Wat doen ek verkeerd
Sonia, sonder om jou resep te sien is dit moeilik om kommentaar te lewer, maar dit kan wees dat dit nog nie behoorlik gaar is wanneer jy die sous oorgiet nie. Of dit rys nie genoeg nie. Kry dit net bakpoeier in? Kyk of jy dit nie langer kan bak nie; meet ook jou bestanddele deeglik af.
Kan ek twee 23cm koekpanne in plaas van drie gebruik? Ongelukkig sal 3 koekpanne nie gelyktydig in my stoof se oond pas nie? Ek wil bitter graag dié koek bak.
Jy kan 2 panne gebruik. Pas baktyd bietjie aan tot toetspen Skoon uitkom.
Baie dankie!!
HI DAAR ERIEDA EK WIL NET WEET DIE GROTE VAN DIE BLIKPYNAPPLE ASB.
240g blik waarvan ek opgehoopte koppie net bietjie vd sap gebruik.
Dit moet die mooiste koek wees wat ek nog ooit gesien het
Reblogged this on MY FOOD MEMORIES and commented:
Die koek der koeke nes Errieda du Toit kan maak.
Dis die eerste keer ooit dat ek van so ‘n koek hoor. En ek stem saam- dis ‘n pragtige koek. Vandag bak ek so ‘n koek, en ek wed jou voor die son sak vanaand is hy ook op! Baie dankie.
Laat weet my!
My Vriendin het gevra ek moet vir haar ‘n Wortelkoek vir haar verjaardag einde Oktober bak en ek gaan met trots die Hummingbird pragstuk waaroor u vanoggend gesels het op RSG, vir haar gee. Die koek lyk fantasties met die pynappel-blommetjies daarop – dit is ‘n puik nuwe idee wat ek nie kan wag om aan te pak nie. Doe zo voort! Groete en geniet die naweek. Annemarie du Plessis
Annemarie, kan jy glo – ‘n vriendin het vir my ook gevra of ek dit vir haar verjaarsdag kan bak – en ek bak dit vir my ma op har 85ste verjaarsdag. Dink net, ons begin ‘n hmmmmm-beweging!
Dis beautiful. Wil sommer my vinger oor die versiersel skraap en aflek.
Hein, dis PRESIES wat ek gedoen het!
pragtige koek. my ma het ook altyd ‘n spesiale koek vir my ouma vera gebak – dit was ‘n pynappel roomkoek. sy het die pynappel vulsel gekook in ‘n tipe vla mengsel.
Veralda, daai koek lui ‘n klokkie by my. Laat weet as jy die resep opspoor.
Hallo, my sussie, ek geniet dit so om daar vir jou te help bak en brou. Dankie dat jy my so vrye teuels gee in jou kombuis. Lief jou baie
My liefdesplesier! Ons bewys ‘too many cooks spoil the broth’ as foutief!
KLINK HEERLIK GAAN DIT DIE NAWEEK PROBEER
laat weet hoe dit gegaan het. Lekker bak.
Wat is die wenk wat langs die piesangs aangedui word?
Hi Karlien, as die piesangs nie lekker goed ryp is nie, kan jy dit 8-10 minute in ‘n warm oond (180C) met skil en al bak tot die skilletjies swart is en die binnekant papperig. Dit verbeter die smaak en maak dit maklik om die piesang fyn te maak.