Net die ding vir Wêreld-eierdag. Oopgesig spek-en-eier pasteitjies* is maar een van die derduisende gebruike vir eiers. Ek kies dit omdat eiers se goeie maat – ontbytspek – ook ‘n verskyning maak. Die lekker pasteitjies is ideaal vir ontbyt, maar ek maak dit vandag vir ‘n ligte middagete saam met ‘n lekker slaai. Dit word in muffinpannetjies gebak en lyk so mooi as wat dit proe.
Al wat jy nodig het is:
een vel voorafgerolde skilferkorsdeeg
6 vryloop eiers (free-range)
6 strokies skouer-of rugspek – opgekap (die swoerd moet verwyder word)
vars gekapte kruie, soos dragon
60 g gerasperde kaas (verkieslik Emmenthaler wat lekker smelt)
½ t sout en peper na smaak
Verhit oond tot 180°C. Verdeel die vel skilferkorsdeeg in 6 ewe groot stukke. Smeer jou muffinpan liggies en voer dan die 6 holtes uit met die pasteideeg – die rante van die deeg gaan oorhang. Klits 6 eiers liggies en gooi die gekapte spek, kruie, kaas, sout en peper by. Nou verdeel jy die eiermengsel tussen die 6 deegnessies en bak in die oond vir 10-15 minute tot die deeg goudbruin en uitgepof is en die eier nog so lekker wobbly is.
*Resep: Nutmeg & Custard van Marcus Wareing, Bantam Press. Foto: yourdailyfacts.com
Klink Heerlik!!
en ek is mal oor jou mooi eier fotos op facebook