Dis een van daai dae wat alles net regloop. Die son skyn, maar nie te fel nie, die koerante se voorblaaie skreeu nie ellendes in groot letters uit nie; die briesie ritsel net die blare so ligweg. So ‘n dag moet afgesluit word met iets wat jy met geur in herinnering kan hou.
So ‘n dag vra vir hoender in die oond gebak met suurlemoen, tiemie uit die kruiebedding, knoffel uit die erdepotjie en rooi uie uit die groente-mandjie.
Daar’s honderd en een maniere om oond-hoender te maak: hierdie een is van daai bestendige Delia-maniere wat altyd resultate lewer, selfs al is die hoendertjie maar aan die klein kant – en eintlik net genoeg vir 3 mense. Maar dan maak ek daarby my super-geurige sampioenrys: dan kan 4 mense aansit en daar’s oorskiet vir die hond en kat ook.
Hoender in die oond met suurlemoen, tiemie, rooi ui & knoffel
1 heel hoender, verkieslik een wat kon rondskrop vir sy kos
2 rooi uie, geskil en elk in 6 stukke gesny
4-6 knoffelhuisies, ongeskil
35 ml Olyfolie
2 suurlemoene en ekstra squirtjie sap
sout en peper
8 takkies tiemie
250 ml witwyn
25 ml crème fraîche of room
Metode
Haal hoender 30 minute voor die tyd uit die yskas. Voorverhit die oond tot 200 °C. Gooi sowat 2 eetlepels olyfolie in ‘n oond-roosterpan, plaas die uie, knoffel en suurlemoenskywe op die bodem en wikkel met die hande die olie in.
Skuif die groente na die een kant en sit die hoender in die pan, bedruip met 1 eetlepel olyfolie en vryf die hoender daarmee in. Geur hoender goed met seesout en growwe peper en rangskik die groente om die hoender. Strooi die tiemietakkies bo-oor hoender en groente.
Rooster die hoender vir 1 uur, en skep 2 keer tydens die kooktyd van die oondsappe oor. As jy skrik as die suurlemoen en uie se puntjies swart brand, ontspan want dis wat jy soek. Toets met ‘n pen om te kyk of die vleissappe helder uitloop.
Haal die hoender, die uie, suurlemoen en knoffel uit en plaas op ‘n snyplank, bedek met foelie en laat rus vir 20 minute (die hoender moet groot seblief hierdie rus inkry).
Terwyl die hoender rus maak jy die sousie van die oondsappe: plaas die oondroosterpan op die plaat, skep oortollige vet af, gooi die wyn by en kook met sowat die helfte af. As dit te min is kan nog wyn of selfs ‘n bietjie melk bygegooi word. Druk ‘n paar spatsels suurlemoensap oor met ‘n ligte hand. Roer crème fraiche of room by, laat effe opprut om te verdik. Proe en geur na smaak.
Sny die hoender op en bedien met die sous, stukkies gaar suurlemoen, knoffel en uie. Die gaar pulp van die suurlemoen is allerbegeerlik saam met die hoender. Die knoffel se binnemurg druk jy uit en meng so deur die sousie. En sorg dat elkeen sy stukkies gebakte rooiuie kry.
Bediening: Daarmee saam bedien ek ‘n lekker geurige rys wat ek maak met vars sampioene, botter, kruie en steranys. Dan net nog ‘n eenvoudige groen blareslaai met geroosterde sade vir ‘n bietjie tekstuur en krakerigheid.

My geurige sampioenrys vra dat gekapte sampioene saam met fyn uie in botter gebraai word, dan word die rys bygebraai en met sout, peper, neutmuskaat en steranys gegeur. 'n Skeut wyn en hoenderaftreksel by en kook tot rys in 'n umami-oordosis omskep is.
Jy sal die dag wat alles reggeloop het onthou elke keer as jy die geur kry van hoender wat in die oond bak. Dit het ook die magiese krag om ‘n dag wat nie goed was nie, te omskep tot een van happiness op vol volume.
Hierby drink ons Sauvignon Blanc uit die Durbanville Vallei. Self Pinot Noir gaan die hoendertjie geniet. en vir ‘n ekstra straal sonskyn sit ek die blompot op die tafel met suurlemoene in. (suurlemoen is immers my alter-ego).
Ek het ook dieselfde alter ego, Ek glo die mees ordnêre resep kan opdedollie word met ‘n bietjie suurlemoen sap en zest.
Ja, daar is beslis iets so koesterend oor Antjie die rooibruin hennetjie in die oond!!!
Nina, ek’s bly ek het nog ‘n suurlemoen-sielsgenoot. Ek sukkel net om my twee suurlemoenbome dragtig te kry en is maar aangewese op vriende se oes. Ek hou van daai regte huistuin-knewels met die ongelyke skille.