Meringues met moerbeie, pienk peper en kardomom – Lannice sou hiervan hou

28 Oct

Ek kan nooit in ‘n meringue kon byt sonder om aan Lannice Snyman te dink nie. Dit was gister haar verjaarsdag – en ons wat vir haar so lief was kan haar sien in die hemel laggend besig om vir die engele haar amandel-pavlovas met lemoen compote – te maak. (Resep onder)

Ek is mal oor enigiets met meringue – van suurlemoen meringue tert tot daai heerlike deurmekaar nagereg Eton Mess wat van gebreekte meringues, aarbeie en room gemaak word.  Toe ek op my rak soek na Lannice se boek Posh Nosh vir haar amandel pavlovas, val my oog op Purple Citrus & Sweet Perfume deur Silvena Rowe. Haar resep vir meringues met ‘n Turkse streep is hemels. Ek weet Lannice met haar suikertand en sin vir die eksotiese sou dit verslind: pienk peperkorrel en kardomom meringues met moerbeie en wit sjokolade.

Wolkies meringue met pienk peper, kardomom, wit sjokolade en moerbeie uit die boek Purple Citrus & Sweet Perfume deur Silvena Rowe

Die pienk peperkorrels sal jy by ‘n spesialiswinkel of deli kry, en hopelik is daar ‘n moerbeiboom in jou omgewing. Die moerbeie kan met ander bessies in seisoen vervang word.

Om die meringues te maak klits jy 4 eierwitte tot dit styf is. Klits dan 220 g strooisuiker bietjie vir bietjie by en vou 1 t mielieblom en ½ t wit asyn by. Skep die mengsel in 6 hopies op ‘n bakplaat wat met kleefvrye bakpapier uitgevoer is.

Nou kom die interessante deel: maal 1 eetlepel pienk  peperkorrels in ‘n stamper en vysel fyn en sif dan ¾ daarvan oor die rou meringue hopies. Bak die meringues vir ‘n uur in teen 140°C – en ‘n wenk hier: moenie die oonddeur eers 1 keer oopmaak om te loer na jou mooi skepping nie! Die meringues sal nou so ‘n ligte strooikleur wees. Los die meringues om in die oond af te koel.

Smelt 100 g wit sjokolade in ‘n bakkie oor ‘n kastrol met liggies-kokende water. Bedruip die meringues met die gesmelte sjokolade, sif dan die  oorblywende fyngemaalde pienk peperkorrels oor en besprinkel met fyngemaalde kardomom. Rond dit af met moerbeie.   Sit onmiddellik voor. Siedaar – die ou bekende meringues in ‘n poeding-gedaante. (Resep en foto uit Purple Citrus & Sweet Perfume deur Silvena Rowe, uitgegee deur Hutchinsons.

Lannice se amandel pavlovas met lemoen compote uit Posh Nosh.

Lannice se amandel pavlovas met lemoen compôte

Die vryvorm meringues met hul sagte binneste lyk soos wolkies.  Dit is uit Lannice Snyman se boek Posh Nosh. Dit bedien 10.  

4 eierwitte

250g strooisuiker

15ml (1 eetlepel) mielieblom

7ml (1½ teelepel) wit wynasyn

2ml (½ teelepel) vanielje ekstrak

50g gevlokte amandels

lemoen compôte

4 lemoene

4 satsumas of nartjies

45ml (3 eetlepels) suiker

15ml (1 eetlepel) mielieblom

10ml (2 eetlepels) water

Maak pavlova so: Verhit oond tot 200ºC.  Sprei ‘n groot bakplaat met olie. Klits eierwitte tot baie styf met ‘n elektriese klitser.  Voeg strooisuiker by, eetlepels op ‘n slag, en klits goed na elke byvoeging. Meng die mielieblom in die laaste bietjie suiker wat ingeklits word. Voeg die asyn en vanielje ekstrak by en klits nog ‘n paar minute tot die meringue dik en blink is.

Skep tien groot lepels meringue op die bakplaat. Moenie die hopies te glad maak nie. Strooi die amandels op die meringues. Bak in die middel van die oond vir sowat 5 minute tot die pavlovas effe bruin word. Verminder die hitte tot 100ºC en bak vir 30 minute. Skakel die oond af en laat die pavlovas in die oond afkoel.

Maak lemoen compôte so: Rasper skil van 1 lemoen. Skil en segmenteer al die lemoene en satsumas (of nartjies) en sit in ‘n bak.  Druk sap van die skille in ‘n medium kastrol uit en voeg lemoenskil en suiker by. Bring tot kookpunt en roer tot die suiker opgelos is. Meng die mielieblom en water en gooi in die kastrol. Kook tot die sous helder en verdik is.  Meng die vrugtesegmente by en laat die compôte afkoel.

Bedien so: Plaas die pavlovas op die borde en skep die compôte langs dit.

Maak vooraf: Draai die ten volle afgekoelde pavlovas in foelie toe en bêre op ‘n droё plek (nie in die yskas nie) vir tot ‘n week. Die lemoen compôte kan drie dae voor die tyd gemaak word. Bedek en laat in yskas.

4 Responses to “Meringues met moerbeie, pienk peper en kardomom – Lannice sou hiervan hou”

  1. Rhona November 25, 2011 at 10:10 am #

    Liewe Errieda,
    Graag wil ek jou net bedank ek voel saam met Nina jy vul meesterlik die leemte gelaat met die heengaan van Lannice en as oud St Cyp’s skolier is ons baie trots dat die dogters van Lannice voortgaan met haar passie vir kosmaak.
    Rhona

    • huiskok November 25, 2011 at 10:55 am #

      Dankie Rhona, Ja – Tamsin is nou ook kosredakteur van Shape tydskrif. Errieda

  2. ninatimm October 28, 2011 at 10:24 am #

    Ja, sy het ‘n groot leemte gelaat, maar ek dink jy kan beslis die gaatjie vul!!!

    • huiskok October 28, 2011 at 1:12 pm #

      Hi Nina, dankie dat jy gereeld kom inloer. Ek is so bly om te sien hoe bedrywig en aan die woel jy is – en hoop om jou self ook gou in aksie te sien by een van jou optredes! Lannice was my kosmentor en ek – soos ons almal wat haar geken het – mis haar en haar man Michael verskriklik. Haar boeke is ook so tydloos en deur hulle leer ek steeds.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: