Goujons?
Ag nee wat, dit klink te hoog-Frans, reken jy. Tog is goujons een van die maklikste, sorgvrye geregte denkbaar. Goujons is repies vis of hoender met ‘n krummelkors wat in diepvet gebraai word en gewoonlik met ‘n doopsous bedien word. Vergeet van daai betreurenswaardige bevrore visvingers of hoendernuggets wat nou in jou kop opkom… tuisgemaakte goujons is ‘n perd van ‘n ander kleur.
Vir my proe vis goujons na Desember-vakansies by die see – iewers by ‘n seekoseetplekkie op ‘n kaai waar jy ‘n rietmandjie vol van hierdie bros, pasgemaakte lekker happies geniet met goeie mayonnaise.
Ek het ‘n baie interessante resep vir vis goujons met ‘n soetrissie mayonnaise raakgeloop in die nuwe resepteboek van IDEES tydskrif wat pas op die rak verskyn het (terloops, IDEES is ‘n moet-aanskaf kookboek met sy 365 maklike resepte – letterlik een vir elke dag van die jaar.)
Wat IDEES se visgoujons anders maak is die gebruik van droë klapper in die krummellaag. Dit gee ‘n Oosterse geurtjie saam met die soetrissiemayo.
Jy’t nodig:
4-6 stokvismootjies in repies gesny
125 ml mielieblom (met bietjie sout gegeur)
100 ml droë broodkrummels gemeng met 100 ml droë klapper
2 groot eiers, liggies geklits
sonneblomolie vir diepbraai
Jy begin deur die visrepies eers in die mielieblom te doop, dan in die geklitste eier en laastens in die broodkrummel en klappermengsel. Pak die bekrummelde repies op ‘n bakplaat en los in die yskas tot jy dit wil gaarmaak. Dit help ook dat die krummels beter kleef.
Om dit gaar te maak verhit jy ‘n dik laag olie in ‘n pan oor medium hitte. Braai die repies vis ‘n paar op ‘n slag tot goudbruin en dreineer dit op kombuispapier. Dit moet onmiddellik so lekker warm bedien word.
Sit dit voor met ‘n maklike doopsousie gemaak met ‘n koppie goeie mayonnaise met 30 ml soetrissiesous en varsgekapte koljander. En natuurlik ‘n paar suurlemoenwiggies.
Ek belowe jy sal jou verbeel die seevoëls krys en die branders breek terwyl jy die bros goujons verslind.
Leave a Reply